Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Al padstal langs tot in George

Die pad van Kaapstad na George neem gewoonlik skaars ’n halwe dag per motor.

Maar toe ek onlangs weer die rit van die Moederstad na die Tuinroete onderneem, het ek besluit om groot vulstasies en kitskos te vermy – en eerder rustig van padstal na padstal gery.

Só het my dagreis verloop:

Ontbyt: Peregrine-padstal

Die Peregrine-padstal is meer soos ’n winkelsentrum as die ou, tradisionele padstalle. Foto’s: Daniëlla van Heerden
By die Peregrine-padstal word boeke uit ’n ou brandweerwa verkoop.

Ek vertrek net voor 09:00 uit Kaapstad, en stop ’n uur later by die Peregrine-padstal in Grabouw. Al wat Kapenaar is het dadelik gesê dié plek hoort op my lys toe hulle van my padstalplanne hoor.

Om Peregrine mis te kyk, sou moeilik wees – dis amper meer ’n winkelsentrum as ’n padstal van ouds. Hoewel dit al sedert die 1960’s bestaan, is dié een die luuksste van al die padstalle op my reis. Daar’s selfs ’n wegneemhoekie as jy nie tyd vir sit en eet het nie.

Buite is snuistery-winkeltjies en klimrame vir die kleinspan. Ek verkyk my aan Burning Books, ’n boekwinkel in ’n outydse brandweerwa!

Die winkeldeel het ’n groot verskeidenheid tuisgebak en plaaslike produkte – die rakke kreun behoorlik onder die konfyt, beskuit, speserye, gebak en biltong.

In die moderne, ruim restaurant eet ek rogbrood, eiers, avokado en spek; en drink my eerste kafeïen vir die dag – ’n lekker sterk cappuccino.

Ek bekyk die heerlike varsgebakte koeke by die betaalpunt en wil-wil ’n stuk koop, maar bedink my – die pad is nog lank en ek gaan nog baie stop en snoepgoed eet!

  • Reg langs die N2. Besoek peregrinefarmstall.co.za.

Teetyd: Moerse-padstal

’n Kleinhuisie het vele name. By die Moerse-padstal word jy herinner aan elkeen.

Ek draai nou weg van die N2 en vat ’n ompad Napier se kant toe via die R316 – ek het mos tyd!

Ek ry my bestemming, die Moersepadstal, die eerste keer mis. (Dis effens weggesteek onder ’n boom by die ingang van die dorp, maar vriendelike plaaslike inwoners help my vinnig reg.)

“Moerse welkom,” groet die plakkaat buite die geboutjie.

Dié ouwêreldse padstal staan in skrille kontras met die moderne Peregrine, en dis ook goed so. Verskeidenheid maak die reis net soveel beter.

Nóú gaan ek nie weer nee sê vir soetgoed nie, en bestel melktert en ’n koppie tee. Dit word keurig bedien in ’n antieksjiek koppie, -piering en -bordjie, baie soos dié wat in my ouma se huis was.

Op die rakke is tweedehandse boeke en handgemaakte produkte van plaaslike inwoners. Die skilderye teen die mure is volgens die kennisgewings ook almal te koop: “Maak ’n aanbod,” staan daar geskryf. Van die dorpsmense kom drupsgewys in en bestel middagete, wat hulle sommer hier sit en eet.

Toe ek opstaan, groet almal vriendelik en die eienaar wuif my vaarwel: “Ry veilig, ry rustig!”

  • Sarel Cilliersstraat 2, Napier. Hulle is op Facebook onder Moerse Farmstall & Overberg Nursery.

Middagete: Skeerhok-padstal

Die Skeerhok-padstal is in ’n ou skuur – vol skilderye en ou skaapskêre.

Ek ry van daar af rústig, nes ek beloof het, terug in die rigting van die N2. Sowat 10 km voor Heidelberg dui die GPS aan ek moet links draai op ’n grondpad na my volgende bestemming: die Skeerhok-padstal.

Dié boeresjiek skuurgebou voel omtrent of jy by vriende op die plaas kuier – ’n kaggelvuur knetter in die hoek en jy kan jou selfs neervly op rusbanke en van die tydskrifte begin lees.

Maar hier wil jy eintlik nie jou neus in ’n boek hê nie, want dié gebou doen die naam gestand en moet waardeer word: Daar’s interessante ou skilderye teen die muur en outydse skaapskêre wat deel vorm van die dekor.

Op hul webblad word ek wys die sitkamer kan ook dien as ’n verhoog; of die hele plek kan in ’n dansvloer omskep word! Ek hoop ek kan eendag terugkom vir ’n plaasopskop!

Ek bestel op die kelnerin se aanbeveling die hoenderpastei en slaai, saam met lemoensap, en ook dít smaak nes hartlike huiskos.

Van die ander besoekers sluit heelparty gesinne in – die kinders blyk veral opgewonde te wees oor die ketties wat in die winkel te koop is. En diegene wat wil braaivleis koop vir hul vakansie, kan ook sommer by die Hooikraal-slaghuis op dieselfde perseel stop.

  • Op die N2 net buite Heidelberg. Besoek www.dieskeerhok.co.za.

Koffie: Rooi Aalwyn-padstal

By Die Rooi Aalwyn-padstal moet jy ook tyd opsy sit om te snuffel deur die handgemaakte dekorartikels en snuisterye.

Teen dié tyd begin die pad al lank voel, en daarom is dit goed dat my volgende – en laaste – stop nie ver is nie.

Net sowat 40 km vanaf die Skeerhok is Riversdal en Die Rooi Aalwyn, ’n geliefde padstal onder diegene wat gereeld hier verbyry.

Moet beslis nie reken om hier net vinnig ’n happie te eet nie – jy moet tyd opsy sit vir inkopies! Die Rooi Aalwyn is in dieselfde sentrum as die Bali Trading-dekorwinkel, ’n ervaring op sy eie. Dis die ideale plek om oulike geskenke te koop, of unieke artikels wat jy nie in kettingwinkels sal vind nie.

Die padstal se spyskaart het eenvoudige, lekker etes soos roosterbrood, quiche en pasteie; maar ook ’n verskeidenheid gebak en soetgoed.

Dis amper toemaaktyd, maar niemand jaag my aan toe ek pannekoek met kaneelsuiker en ’n koppie tee bestel nie.

Die musiek van Elvis en Abba is die klankbaan terwyl ek ’n pakkie koffiekoekies uitkies voordat ek koers kies George toe – ’n goeie afsluiting vir my padstal-avontuur!

  • Op die N2 net 1 km voor Riversdal.
Meer oor:  George  |  Kaapstad  |  Tuinroete  |  Ry  |  Padlangs
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.