Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Alle (voet)paaie lei na Rome . . .

Van Siëna tot Rome stap Hetta Havenga in die spore van die jaar 990 n.C. se aartsbiskop van Kantelberg.

Romulus en Remus. Volgens legende is Siëna gestig deur Senius, die seun van Remus en die neef van Romulus. Daarom is die wolf wat hulle grootgemaak het die simbool van die stad Siëna.

In 990 ná Christus stap die aartsbiskop van Kantelberg na Rome, Italië. Op sy terugtog hou hy noukeurig dagboek van die roete. Hy maak melding van 80 moontlike oornagbestemmings wat in die toekoms deur pelgrims gebruik kan word. Só ontstaan die roete wat vandag bekend staan as die Via Francigena.

Ek, my man Don. dogter Donett en vriend Lukas Grunewald vlieg na Venesië om eers twee dae daar deur te bring en neem dan die Italiarail-sneltrein na ons eintlike bestemming, die Toskaanse stad Siëna, die beginpunt van ons staptog van 14 dae.

Die Middeleeuse dorpie Siëna met sy smal strate en indrukwekkende geboue is die tuiste van Italië se kleurryke perdewedren, die Palio di Siena (lees berig op bl. 3).

Dit is ook hier waar ons disse vanuit die streek, soos cinta senese (vleis van ’n spesifieke varkras met dié naam), panforte (’n taai lekkerny met vrugte en neute) en cantucci (ook bekend as biscotti) vir die eerste keer probeer. Ons leer gou dat maaltye gepaardgaan met ’n Italiaanse bier, ’n glasie prosecco of die gewilde aperol spritz.

Uitgegroude paaie by Viterbo waarvan die oorsprong onbekend is. Daar word beweer dat dit deur ’n beskawing voor die Romeine uitgegrawe is.Foto:

‘Alle paaie lei na Rome’

Ons gesin is lief vir avontuurvakansies. Die piek van Kilimandjaro, Everest se basiskamp, die ruïnes van Machu Picchu, die Camino de Santiago, die Camino Portuguese, ons het dit alles al afgetik.

Dus weet ons al uit vorige ervaring dat ’n mens voor sonop moet begin stap. Later in die staptog sal ’n hittegolf ons dwing om al hoe vroeër weg te spring.

Op dag een stap ons vroegoggend uit Siëna. Die roete neem ons op stil plaaspaaie en jy stap lang afstande op of langs die historiese Via Cassia, ’n Romeinse pad wat in ongeveer 187 v.C. gebou is.

Die golwende Toskaanse landskap van geel koringlande en groen lusernlande strek so ver as die oog kan sien. Dit word onderbreek deur lanings sipresbome en honderde “fotogeniese” bale.

Dag ná dag stap jy van die een antieke dorpie na die ander, elkeen met sy eie karakter, maar wat al die dorpies in gemeen het, is kleurryke plante en blomme, veral rooi malvas. Hoewel die staproete mooi gemerk is, is dit belangrik om te weet of jou verblyf reg op of dalk ’n ent van die roete af geleë is.

Padlangs naby San Quirico d’Orcia.

Die derde nag slaap ons in die prentjiemooi Buonconvento by La Sosta a Casa Anita. Ons stap deur ’n nou straatjie in die antieke deel van die dorpie en eindig by huis nr. 80. Die wit deur staan oop, ons stap op met ’n paar stelle trappies in ’n klein gangetjie tot by die boonste verdieping. Die tipiese ou Italiaanse huis is modern ingerig met ’n volledig toegeruste kombuis met gratis koffie. Die Italianers verrig wondere met beperkte ruimte, en die uitsig op die straatjies is prentjiemooi. Die Italiaanse atmosfeer waarvoor ons gehoop het, is om elke hoek en draai tasbaar.

Die vierde nag se blyplek in die Val d’Orcia-distrik, ’n Unesco-wêrelderfenisgebied, lewer een van die mooiste uitsigte op. Ons slaap in die dorpie San Quirico d’Orcia en kyk uit oor die prentjiemooi Montalcino op ’n heuwel aan die horison. Ons geniet die uitsig saam met Brunello di Montalcino-wyn en plaaslike olyfolie, pecorinokaas en Mozzarella di Bufala Campana.

Ná twee dae se harde voetslaan en ’n verdere 30 km se stap, oornag ons in Radicofani. Soos die meeste Toskaanse dorpies lê dit bo-op ’n heuwel, met ’n indrukwekkende toring. Hoewel dit Sondag is, stap ons deur die mooiste straatjies en ontdek die supermark Alimentari Cesaretti Silvana. Hulle is eintlik al toe, maar is bereid om ons te help. Weer eens praat elkeen sy eie taal, maar ons “verstaan” mekaar. Hierdie piepklein “supermark” bestaan uit twee nou gangetjies, maar hier is iets van als te koop.

Radicofani is een van die vele dorpies op die roete versier met kleurvolle blomme. Malvas is veral gewild.

Ons koop oudergewoonte ’n paar birra (plaaslike Italiaanse bier) vir €0,50 elk (sowat R8), Coke Zero teen €2 vir 660 ml (sowat R33) en acqua frizzante (water met gas) teen €1,70 vir 1,5 l (sowat R28). Toe ons later die aand deur die klein straatjies wandel, loop ons die eienares van die supermark weer raak, sy herken ons en soengroet sommer op elke wang van opgewondenheid. Dit bevestig weer: ’n Camino-staptog gaan nie net daaroor om ’n land te verken nie, maar oor die bande wat gesmee word, mense wat ons ontmoet en liefde wat oor taalgrense strek.

Italiaanse dorpies is vol verrassings en Acquapendente is een van hulle. Hier tref ons asemrowende straatkuns aan. Ons kom ook soos die plaaslike inwoners laatmiddag by die stadsplein bymekaar om saam te gesels oor die dag se gebeure en eet heerlike gelato.

Bolsena was seker een van die dorpies wat ons die meeste verras het. Dié baie gewilde vakansiedorpie is reg langs die Bolsena-meer geleë. Ons word begroet deur lanings krismisrose, elkeen groter en kleurvoller as die ander. Hier bly ons in die Hotel Royal met uitsigte oor die pragtige meer. Ons geniet yskoue prosecco saam met varswatervis-geregte op die strand en verwonder ons aan die natuurskoon van die dorpie.

Min van die Italianers kan Engels praat, maar hulle maak ’n plan om te verstaan en niks is te veel moeite nie.

Via Cava naby Viterbo. Foto:

Warm, maar lekker

Die hittegolf in Italië dwing ons om al hoe vroeër te begin stap en die hotel reël goedgunstiglik met die portier om vroegoggend, net ná 05:00 in die statige ontbytkamer vir ons cappuccino te maak. Natuurlik word dit bedien met vars croissants.

Ons volgende bestemming is Montefiascone, ’n stad bekend vir die basiliek van Santa Margherita, wat teen die berg hang en pragtige uitsigte oor die meer oplewer. By Da Paolo Al Miralago, een van die vele restaurante wat op die meer uitkyk, eet ons geurige truffelolie-pasta.

Montefiascone is ook waar die verhaal vertel word van ’n Duitse biskop wat in die 12de eeu op pad na ’n vergadering met die pous ’n wynverkenner vooruit gestuur het om die gehalte van die wyne te toets en dan Est! ( Latyn vir “daar is”) op die deure waar die beste wyne is, te skryf.

Een van die standbeelde in Montefiascone met die inskrywing: Vergeet die treë wat jy reeds geneem het, onthou die merk wat jy gelaat het.

Dit was juis hier in Montefiascone waar die wynverkenner so beïndruk was met die wyn dat hy glo “Est! Est!! Est!!!” geskryf het. Volgens legende was die biskop self so ingenome met die wyn dat hy nie verder gereis het nie. In ’n kerk op die dorp is ’n graf met die inskrywing: “Est est est – Propter nimium est – Johannes de Foucris – dominus meus – mortuus est” (Daar is, daar is, daar is – en omdat daar te veel is, liewe Here, is Johannes de Foucris – dood.)

Ons bly ongelukkig net een aand daar en durf die pad die volgende dag aan na Viterbo. Ons stap deur landerye en op oorspronklike Romeinse klippaaie wat afgewissel word met kilometers van Italië se beroemde wit paaie.

Vanuit Viberto stap ons op die Via Cava, ’n indrukwekkend pad wat uit die omliggende gesteentes uitgegrawe is. Die loodregte wande toring tot 30 m bokant ons uit. Klaarblyklik is dit so diep uitgegrawe om te dien as beskerming vir inwoners van die streek.

Die parke van Monte Mario met ’n asemrowende uitsig op Rome en die Vatikaanstad.

Italiaanse sjarme

Een van die laaste aande slaap ons in Campagnano di Roma by Ristorante Hotel da Righetto. Hierdie hotel met sy imposante restaurant word reeds deur die vyfde geslag van ’n familie besit. Die kamers op die tweede vloer se uitsig is oor die straat van die ou dorp en die ou klipdakke.

Die Toskaanse landskap by Benconvento op sy mooiste.

Jy weet sommer jy is in Italië.

Die restaurant is vol Italiaanse sjarme en baie netjies en gesofistikeerd.

Die laaste aand slaap ons in La Storta, ’n voorstad van Rome.

In plaas daarvan om die laaste dag in spitsverkeer langs die besige Via Cassia te stap, neem ons liewer die trein tot by die Monte Mario-stasie.

Monte Mario is die hoogste heuwel in die stad. Ons stap deur die parke met ’n asemrowende uitsig op Rome en die St. Petrusplein.

Die einde is in sig.

Nader aan die plein is ons skielik deel van duisende toeriste, ’n skreiende kontras teen die platteland waar ons ure aaneen alleen gestap het en die natuurskoon en stiltes deel van ons was.

Ons neem die oomblik in, want ná amper 300 km het ons uiteindelik ons eindbestemming bereik.

Ons pelgrimspaspoorte word vir die laaste keer uitgehaal en die vriendelike en behulpsame klerk by die toeristekantoor stempel dit vir ons. ’n Priester oorhandig ons sertifikate met ’n stewige handdruk en ’n vriendelike glimlag.

Met die woorde van die Britse politikus Benjamin Disraeli sluit ons ons reis te voet na Rome af:

“Like all great travellers, I have seen more than I remember, and remember more than I have seen.”

Weet voor jy gaan stap

Hoe kom ek daar?

Ons het met Emirates via Dubai na Venesië gevlieg.

Ons poog om altyd ons besprekings lank voor die tyd te doen en dus het ’n retoerkaartjie ons slegs R7 600 per persoon gekos.

Van Venesië na Siëna het ons met die Italiarail se sneltrein gery en omdat ons met Emirates gevlieg het, het ons 7% afslag op ons treinkaartjies gekry.

Wat kos dit?

Die stap kos niks – jy betaal slegs vir verblyf en kos. Die meeste stappers maak gebruik van albergues, goedkoop herbergverblyf spesiaal vir stappers, maar ons het ons verblyf vooraf self deur www.booking.com bespreek.

Verblyf

Oorspronklik het pelgrims in die kloosters van die verskillende dorpies op die roete oorgeslaap. Dis steeds ’n moontlikheid, maar jy kan self kies. Ons het hoofsaaklik in hotelle geslaap wat ontbyt insluit. Pryse wissel van dorpie tot dorpie, maar ons het tussen €100 en €150 (sowat R1 600 tot R2 450) per aand betaal vir vier mense in twee dubbelkamers of ’n kamer met vier beddens.

Die dorpies op hierdie roete is tipiese ou Middeleeuse (soms selfs ouer) dorpies. Die sentrale kern is steeds omring met ’n hoë muur en daar is net ’n paar poorte wat jou toegang gee toe so ’n ou stad. Binne die mure is dit ’n ander wêreld van nou gangetjies, keisteenstraatjies wat dateer uit die Romeinse era, alles gesentreer rondom een of soms meer sentrale pleine. Dis gewoonlik waar die mooiste kerke met hul besonderse torings en kerkklokke staan. Natuurlik is die dorpies bo-op die hoogste berg of koppie gebou en dit lewer ongeëwenaarde uitsigte oor die omgewing.

Dis hier, in die middel van sulke ou stadjies, waar ons elke keer ons verblyf bespreek het.

Hoe moeilik is dit?

Die afstande wat ons gestap het, het gewissel tussen 16 km en 28 km per dag. Dis nie ’n tog vir beginnerpelgrims nie. Doen eers die Camino de Santiago of Camino Portuguese voordat jy die Via Francigena aandurf.


Meer oor:  Rome  |  Stap  |  Besoek  |  Reis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.