Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Amalfi-kus ’n vertikale skildery
Positano van die see gesien. Die dorpies aan die Amalfi-kus is so steil teen die berg op gebou sodat ’n mens bykans van oral uit die dorpies ’n pragtige uitsig het.Foto’s: Zarine Roodt

Aan die Amalfi-kus in Italië gebeur alles allermins teen ’n stadige tempo. Zarine Roodt van Bloemfontein het haar lank gekoesterde droom bewaarheid en hierdie mooi streek besoek.

Die dorpe aan die Amalfi-kuslyn klink soos iets wat jy aftas op ’n bidsnoer aan jou pols: Positano, Praiano, Furore, Conca, Amalfi, Atrani, Ravello, Scala, Minori, Maiori, Tramonti, Cetara, Vietri . . .

Daar is 13 van hulle, die een so mooi soos die ander.

’n Blik op die strand van Conca dei Marini. Daar lei 292 steil trappies af tot by die strand.

Die landskap is ’n vertikale skildery met die berge aan die een kant en die see aan die ander – en die twee word verbind deur ’n doolhof van stegies, trappe der trappe, huise wat klim tot onmoontlike hoogtes, met duidelike tekens van verskansing teen die Sarasene se invalle sedert die Bisantynse tydperk. Verder is daar die aanloklike inhamme en baaitjies al met die kuslyn langs.

My reisbybel vir die week lange besoek voordat ek via Rome teruggekeer het na Suid-Afrika, was Amanda Tabberer se memoire, My Amalfi Coast (2009). Amanda en haar liefdesverhouding met Amalfi is ’n storie uit eie reg, maar ek volstaan daarmee dat sy ’n waardevolle bron van eerstehandse voorkennis is en dat die foto’s in haar boek my reislus na haar geliefkoosde dorp, Positano, en die ander verder aangewakker het.

Die betroubaarheid van Amanda se inligting word bevestig deur knaphand Rosalba by die Praiano-toeristekantoor. Praiano is Positano se introverte sussie en die dorpie waar ek ’n Airbnb-bespreking gemaak het omdat ek (en my beursie) nie kans gesien het vir een van Tabberer se aanbevelings (die peperduur historiese 5-ster-
Il San Pietro di Positano is maar net een van vele voorbeelde), en nog minder vir Positano se immer-plesiersoekende skares nie.

Toeriste en plaaslike inwoners wag op die bus wat hulle tussen die dorpe aan die Amalfi-kus vervoer.

Want níks kan jou voorberei op die ongekende, rustelose – selfs koorsagtige – energie wat alkant van dié strook kuslyn kenmerk nie.

Adagio (stadig) is dit allermins, hoewel dié aanmaning hier en daar op ’n padteken, of in ’n hotel se sprokiesagtige tuin, opduik. Verder, ten spyte daarvan dat slegs ’n nou kuspad van dorp tot dorp kronkel, en dat toeriste meestal aangewese is op busvervoer, is daar nogtans ’n geroesemoes van verkeer wat die oningewyde telkens na jou asem laat snak, veral wanneer die groot busse by mekaar verby maneuver en ’n afgrond al té sigbaar onder wink.

Twee torings van die Dell’Annun­ziata op die voorgrond met die dorpie Maiori in die verte.

Oral is daar lang toue toeriste wat wag op ’n bus, wat verbasend genoeg by die skedule hou. Aanvanklik is die buie gemoedelik en vreemdelinge knoop geselsies aan, maar namate die dag vorder en die busse toenemend verbyry sonder om te stop – die enigste verduideliking twee hande wat lakonies in die lug opgegooi word – raak die gemoedere toenemend onstuimig en elkeen wat vorentoe in die tou skuifel of selfs voor inval om ’n onskuldige vraag te vra, word met agterdog bejeën. Ek dink heelparty busbestuurders is eintlik gefrustreerde Italiaanse renjaers en dit verklaar die opbruising van testosteroon wat ek meermale tydens ritte op die SitaSud-busse opgemerk het.

Vir my lê die bekoring van die Amalfi-kus in Europa se geskiedenis, in oud-Europese dorpspleine en kerke, in ou, donker en verskuilde stegies wat jou na ongekende verrassings lei.

Daarby is ek mal oor die Mediterreense dieet. En oor die rituele wat ingebed is in die Italiaanse siel, soos die aperitivo italiano. Dié is nie sommer net ’n sonsakverposing nie, maar eerder ’n geleentheid om die dag af te wen, om te sosialiseer, en aan iets te knibbel terwyl jy wonder oor aandete . . . en tussendeur te teug aan ’n Prosecco Spritz, nuut vir my en verrassend lekker. Dit bestaan uit ’n derde Prosecco, ’n derde Aperol (oranjekleurige Italiaanse bitters), ’n derde sodawater, heelwat gebreekte ys en ’n skyf lemoen in ’n groot wynglas waarteen die kondensaat alte gou afbiggel. Verruklik anders, veral wanneer jy dit geniet by Café Mirante wat ’n jong Italiaanse entrepreneur op die dak van sy ouerhuis gevestig het en wat ongetwyfeld die beste uitsig van die sakkende son oor die kobaltblou Tirrheense See bied.

Meer oor:  Lande  |  Bestemming  |  Italië  |  Reis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.