Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Athene: ’n stad sonder pretensie

Athene is verwaarloos, vervalle en vuil, maar die plek het ’n siel en jy gaan ver soek vir vriendeliker gashere. Moenie wegbly nie, skryf André Brink. 

Die koddige wagte buite die Griekse parlementsgebou.

Liefde met die eerste oogopslag gebeur wel. Die Fransman Pierre Loti het dit in ’n oogwink in Istanbul geleer, skryf Ilse Zietsman.Dis een van die lelikste stede in Europa: verwaarloos, stowwerig, vuil, vol vervalle geboue, bedelaars en graffiti. Vlieg soontoe en vat die eerste die beste veerboot na ’n eiland.

Dis die “raad” wat ek van vriende en kollegas kry toe hulle hoor ons gaan op ’n Trafalgartoer na die gewilde Griekse eilande Mykonos en Santorini, en dat ek ná die toer ’n paar ekstra dae in Athene wil oorbly.

Ook my reismaat, my vrou, Rina, is nie lus vir die plek nie, maar ek skop vas. Iets omtrent Athene prikkel my belangstelling.

Eerste indrukke van Athene is heel positief. Die Eleftherios Venizelos-lughawe, wat spesiaal vir die Olimpiese Spele van 2004 gebou is, is doeltreffend en goed ontwerp met hope natuurlike lig. Dit is sowat 35 km uit die middestad in ’n landelike omgewing met olyfbome. Daar is ’n snelweg en spoorlyn wat jou tot in die hartjie van Athene vat.

Die jokkie van Artemision.

Maar sommer gou nadat ons in die taxi geklim het, sien jy hierdie plek kort hope liefdevolle aandag. Ons taximan ry nie met die snelweg nie (dalk omdat hy nie die tolgeld wil betaal nie), maar met ’n pad wat ons die laaste ent teen die see langs verby die ou lughawe neem. Jy kan nie die onvoltooide woonstelblokke en ander wat leeg staan en die verwaarlosing miskyk nie.

Ja, vertel ons spraaksame taximan, hierdie woonstelle is voor die groot geldkrisis as uitstekende beleggings bemark. Baie mense het hulle in die skuld gedompel en gekoop. Toe kom die krisis en nou is die woonstelle tot 60% en minder van die oorspronklike waarde werd. Die eienaars kan nie meer die verbandpaaiemente bekostig nie en moes uittrek. As jy die geld – én die waagmoed – het, kan jy nou winskopies kry. Maar dit klink en lyk nie of daar juis kopers is nie.

Die ou lughawe, baie nader aan die stad, is ’n plakkerskamp. Dis nou die tuiste van derduisende vlugtelinge, veral uit Sirië. Beslis geen mooi gesig nie.

Ons toerhotel, die Ambassador, is kilometers ver van die middestad, naby die Olimpiese sportgeriewe wat nou meestal onbenut staan. Die hotel het vyf (dowwe) sterre – dit kort ’n ernstige skoonmaak. Die matte in die gang en kamer is vol vlekke. (Ek moet hier noem dat TripAdvisor meld dat die hotel nou heeltemal opgeknap is.)

Die Parthenon op sy dramatiese uitkykpunt oor die stad.

Vervalle, maar die hart klop nog

Die hotel bied ’n gratis pendeldiens na die Syntagma-plein, daar waar die Griekse parlement is en waar die Grieke gaan betoog as hulle opstandig raak.

Die heelpad soontoe sien jy naas geboue wat in ’n redelik goeie toestand is ook dié wat soos vrot appels uitstaan, wat lyk of hulle enige oomblik inmekaar kan tuimel. Die Syntagma-plein en die parlementsgebou – dis mos die moeder van alle demokratiese parlemente – is nie juis indrukwekkend nie. Niks in vergelyking met byvoorbeeld Boedapest s’n daar langs die Donaurivier nie. Maar die wagte met hul koddige wit rokkies en tossels aan die skoene is darem ’n aardigheid om te aanskou, veral as hulle daai bene in die lang kouse hoog optel.

Ons stap af met Ermoustraat – waarvan ’n groot deel ’n wandellaan is – na Monastiraki toe. Ermou is glo dié winkelstraat in Athene, maar jy kan dit nie vergelyk met byvoorbeeld Oxfordstraat in Londen nie. Daar is niks wat lyk soos ’n Harrods nie.

Maar dan kom jy by Monastiraki, die vlooimarkbuurt. Ons koop giro’s (die goed wat ons in Suid-Afrika shwarmas noem) by een van die talle wegneemplekke in Mitropoleosstraat. Dis goedkoop, net meer as €2 (sowat R32). Ons sit op ’n muurtjie, sluk dit met Coke af en ek verwonder my aan die malende menigte, my gunsteling-tydverdryf. Dis dan dat jy besef, hier onder die marmerstof klop ’n hart, ’n siel.

Hierdie stad lééf.

Luukse motors staan verlate in die straat nadat die eienaars net nie meer die paaiemente kon bekostig nie.

Verlate restaurante en Duitse motors

Die aand eet ons in die restaurant Barba Lazaros naby ons hotel. Dis ’n mooi, groot plek – kan seker 150 mense huisves – maar ek en Rina is die aand die enigste gaste. Die kos is smaaklik verby en die prys billik. Hoekom is hier nie mense nie? vra ons die kelner. Omdat die Grieke nie meer geld het om uit te eet nie, sê hy. Voorheen was die plek saans vol.

Op pad terug loop ons verby ’n klomp motors wat verlate langs die straat staan. Dis BMW’s, Mercedesse . . . almal met pap bande. Baie se ruite is stukkend geslaan en die binnekante geplunder. Mense wat nie meer hul rygoed kon bekostig nie, het dit net daar gelos, vind ons later uit.

Die volgende oggend douvoordag vat ons die veerboot na Mykonos en Santorini. Dis ’n heel ander belewenis. Alles skoon, kraakwit en blou geverf, geen vervalle geboue nie. Maar dis te verstane. Dis plekke wat hul bestaan uitsluitlik uit toerisme maak, en toeriste is daar volop van.

Die ingang na ons hotel is in ’n varsproduktemark en lyk ook soos ’n groentewinkel.

Hotel in ’n mark

Terug in Athene ná ’n week op die eilande trek ons na die Athens Centre Square Hotel.

Gelukkig het ek vooraf op Google Street View die plek en omgewing bekyk en dis toe nie vir my ’n skok toe die taxi ons om die hoek in Sokratousstraat aflaai nie. Maar Rina kyk benoud na die vervalle geboue, graffiti, vullisdromme en houers in die straat. En dan is die ingang na die hotel boonop reg in die middel van ’n varsproduktemark. Jy sukkel om die voordeur te sien, want daar is groot foto’s van vrugte en groente op – dit lyk nes die voordeur van ’n Fruit & Veg City!

Maar dis ’n wonderlike hotelletjie en die ligging is eintlik puik, want dis ’n kort entjie se stap van Monastiraki en die Plaka af. En dit léwe by daardie mark. Dis die mooiste en rooiste aarbeie en tamaties wat ek nog gesien het, om nie te praat van die kraakvars wortels, lemoene, paprika en komkommers nie. Daar is ook melkkratte vol lewende slakke waaroor ek nou nie so mal is nie.

Reg oorkant die varsproduktemark is die sentrale mark waar vleis en vis verkoop word. Dis een van die plekke wat jy eenvoudig móét sien en beleef as jy ooit in die Griekse hoofstad beland. Pasop net in die vismark – moenie jou beste skoene aantrek nie. Die vloer is bitter glad en vol visbinnegoed. Dit word saans skoongespuit.

Die vleismark is ’n belewenis. Dit raas en skreeu soos elke slagter sy vleis uitveil – vark, bees, hoender, konyn – noem maar op. En hulle is vriendelik; poseer maklik vir foto’s en praat met jou.

In Athene moet jy ’n draai gaan maak by die sentrale mark waar vleis en vis verkoop word. Foto’s: andré Brink

Athinasstraat het iets van alles, van blommewinkels en plekke wat parfuum verkoop tot die een ysterwarewinkel op die ander. Maar stap een straatblok verder tot by die parallelle Aioloustraat, en dis asof jy in ’n ander wêreld is. Dis ’n wandelstraat met koffiewinkels, eetplekke, ’n kerk of twee en ’n Marks & Spencer.

Jy kan dae lank in die Plaka met sy nou straatjies ronddwaal. Ja, daar is winkels soos elders wat allerlei snuisterye – wat een van ons vriende “kaggelkakkies” noem – verkoop, maar daar is ander winkeltjies wat die moeite werd is om te verken, en boonop léwe dit daar. Veral in Adrianoustraat.

Op so ’n wandeling begin jy later wonder of die Grieke veel meer doen as eet, want daar is letterlik op elke hoek en draai ’n restaurant of taverne. Uiteet is dan ook een van dié hoogtepunte van ’n besoek aan Athene. Ek het nooit ooit een slegte bord kos gekry nie. Die porsies is ruim, die slaai kraakvars en die kelners is vriendelik. Trouens, ek het lank laas sulke vriendelike mense soos die Grieke van Athene teëgekom. Hulle verwelkom jou – en natuurlik jou euro’s – met ope arms. En vertel jou, as jy hulle vra, hoe swaar hulle kry en hoe hulle Angela Merkel, die Duitse kanselier, haat.

Die varsproduktemark buite ons hotel. Foto:

Want dit was veral Duitsland wat aangedring het op erge besnoeiings (onder meer aan die Grieke se pensioene) in ruil vir die miljarde euro’s wat die Europese Unie die Grieke geleen het om te keer dat hulle bankrot raak. Van die sowat €320 miljard wat hulle geleen is, het die Grieke tot in Januarie vanjaar nog net sowat €42 miljard terugbetaal. Hulle sal nog tot ná 2060 afbetaal.

Al gaan dit nou ’n bietjie beter en al het Griekeland ’n klein oorskot op sy begroting, wurg die Grieke steeds aan die skuld. Meer as 22% is werkloos en een derde van die bevolking leef onder die broodlyn. G’n wonder die Grieke verwelkom die miljoene toeriste – wat tot 20% van hul bruto binnelandse produk bydra – met ope arms nie.

Maar al kry hulle swaar, die Grieke het nie moed opgegee nie. Tekenend daarvan is ’n uithangbordjie in Adrianoustraat wat lui: “Greek Creativity Not In Crisis.”

Maar hulle “mors” nie geld op onnodige dinge nie. Hulle sny nie die gras op die sypaadjies en tussen die tremspore nie; openbare tuine soos die een buite die indrukwekkende nasionale argeologiese museum, moet maar sien en kom klaar. Nêrens sien jy ’n hyskraan waar ’n nuwe gebou gebou of stellasies waar een opgeknap word nie.

Aanvaar my soos ek is

Maar benewens eet, jou verkyk aan die mense en deur die straatjies van die Plaka dwaal, wat doen ’n mens nou eintlik in Athene? Wel, daar is oorgenoeg eeue oue oorblyfsels uit Athene se roemryke verlede – die ou Olimpiese stadion, die triomfboog van Hadrianus, die Toring van die Winde, die antieke Agora en vele ander. En natuurlik hope museums. Ek is ná jare se reis nie meer so mal oor museums nie, maar ek sou tog sê een wat jy nie moet misloop nie, is die argeologiese museum. Dis ietwat oorweldigend, soos die Prado in Madrid en Louvre in Parys, maar beslis die moeite werd. Verwonder jou aan die bronsperd van Artemis met die klein jokkie op sy rug.

Die Bisantynse museum is ’n juweeltjie. Dis veel kleiner en meer “hanteerbaar” en het die wonderlikste versameling ikone.

Maar die hoofrede waarom baie mense Athene toe kom, is die Akropolis. Die heuwel waar jy letterlik die geskiedenis in die hartjie van Athene kan ruik. Hoog is die heuwel nie, maar dit oorheers Athene bykans soos Tafelberg Kaapstad oordonder.

Die etes is ’n hoogtepunt tydens jou besoek aan Athene. Die kos is lekker en die porsies ruim. Foto:

Die Akropolis en sy beroemdste ruïne, die Parthenon, is van haas oral in Athene te sien. Saans veral wanneer dit met spreiligte belig word, is dit skouspelagtig. Op sigself is die Parthenon nie so indrukwekkend soos Efese en Rome se Colosseum nie, maar nie een van hulle se ligging is so dramaties soos dié van hierdie tempel ter ere van die godin Athena nie. Dis deur die jare geplunder, platgeskiet, aan die brand gesteek en verniel. Sy “kroonjuwele”, die wonderlike marmerbeelde, is vroeg in die 19de eeu deur die Brit lord Elgin gesteel en Brittanje toe weggevoer waar hulle vandag nog in die British Museum pryk. Die Grieke soek daai beelde met ’n seer hart, maar die Britte klou vas daaraan. Maar met of sonder die Elgin-beelde, dit het ’n aura wat jy op min ander plekke sal kry. Dis waarlik die hartklop van Athene.

Dis hoe ek voel toe ons op ’n lome agtermiddag vanaf Monastiraki se kant met die kronkelpad opstap tot bo. En toe ons twee oues moeg geklim – pasop die marmertrappe by die ingang is bitter glad – gaan sit en oor die stad uitkyk, kan jy amper voel en hoor hoe praat die stad met jou – ’n pretensielose stad wat sê: “Aanvaar my soos ek is.”

Alitalia se vlugte is een van die goedkoopste opsies. Vir sowat R8 000, buite seisoen in Oktober, vertrek jy die aand uit Johannesburg en land teen 11:00 die volgende oggend in Athene. Jy vertoef net vinnig in Rome.

Meer oor:  Besoek  |  Reis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.