Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Barrydale: Poort na die hemel

Daar is min dinge so bekoorlik as ’n Karoodorpie wat op ’n Saterdagmôre ontwaak. En as Barrydale jóú nie roep nie, is jy suf gewerk of geleef en het jy juis die wegbreek nodig, skryf Ilse Zietsman.

Barrydale is ’n tipiese Klein-Karoo-dorpie wat naweke ontwaak. Foto’s: Ilse Zietsman.

Die storie van Joseph Barry

Die dorp Barrydale – asook ’n vlytbrandewyndistilleerdery – is na ene Joseph Barry vernoem.

Barry was ’n Brit wat in die vroeë 1800’s in die Kaapkolonie aangekom het. Hy was ’n ware entrepreneur wat in die Klein-Karoo begin handel dryf het. Kort voor lank het hy die Breederivier ingespan om goedere te vervoer.

Skepe het die voorraad vanaf Kaapstad na die Breederiviermond vervoer, van waar ’n stoomskip genaamd die Kadie, wat aan Barry behoort het, die goedere met die rivier op geneem het.

Om in Barrydale uit te kom, ry jy met Roete 62 langs. In 2017 is dié einste roete as een van die tien beste langpadreise (road trips) ter wêreld aangewys.

Boonop kom drie verskillende paaie by Barrydale bymekaar: benader die dorp vanaf Montagu, die Tuinroete of Oudtshoorn. Dit voel amper asof alle paaie in hierdie kontrei na Barrydale lei.

Dit ontlok net een vraag: Waarvoor wag jy nog?!

Doen jouself ’n guns en loer in by elke oop deur van die Karoo Art Hotel, jy weet nooit wat jy gaan raaksien nie.Foto:

Als-in-een-hotel met plesierige styl

Die vierster-Karoo Art-hotel in Barrydale se leuse is “Keeping it country, keeping it funky”. Of soos die eienaar, Theo Nel, dit in Afrikaans stel: “Lekker plattelands, lekker koel.”

Om plattelandse gasvryheid met ’n goeie skeut speelsheid te vermeng, kry hulle uitmuntend reg. Elke kamer, insluitende die ontvangsportaal en eetkamer, is volgens verskillende temas of ’n vermenging van style – heelwat daarvan guitig – ingerig; niemand op hierdie werf steur hulle aan konvensionaliteit nie. ’n Goue spieëlkas, rooilipkussings, ’n boomtak-feetjielig, ’n Marilyn Monroe-paneel, Indiese marionette, ’n kanariegeel kunsleersofa, ’n peutergrootte keramiekvark en ’n gemakstoel met boomstompdik vingers ontlok telkens ’n glimlag, gevolg deur ’n (gewoonlik stuitige) opmerking.

By die bekroonde The Gallery-restaurant – met sy diamant-eerbewys van Diners Club vir sy uitstekende wynlys, een van net 42 restaurante in die land wat dié bekroning ontvang het – kan jy gerus jou jaspante laat loswapper. Die restaurant spesialiseer in tradisionele Suid-Afrikaanse kos soos lamstjops en –bredie en volstruisgeregte, vanaf die Karoo natuurlik.

Alternatiewelik is Bistro Blues, skuins oorkant die hotel in ’n systraatjie, ’n goeie opsie.

Op die oomblik is daar nóg meer rede om by The Gallery te gaan aansit, aangesien ’n rits feesetes (sien kassie vir meer inligting) as aanloop tot die Muskadelfees aangebied word. Binnekort word boonop ’n nuwe Muskadelmuseum by die Karoo Art-hotel ingewy.

By laasnaweek se feesete saam met “Twee Karoo-susters in een kombuis sonder om stry te kry” het sus Marietjie Koekemoer Swanepoel en sus Annatjie Reynolds my erg beïndruk. Hulle het onder meer Karoo-biltongkrokette, geïnspireer deur ’n Viëtnam-besoek, wildsvleissaaltjies van ’n Richmond-plaas, gebraaide aartappels met kaiings en ’n murgbeen in die lengte deurgesny voorgesit – dit álles sonder om te stry! Dit was voortreflik en daar is nog tot laat in die gesellige kroeg ge-oe en –aa oor die smake en die herinneringe wat die smaakkombinasies losgemaak het.

Agter die Monroe-paneel skuil ’n outydse bad in een van die Karoo Art-hotel se unieke kamers.

Vir versamelkraaie

Skuins oorkant die hotel is MagpieArtCollective, waar versamelkraaie hulle aan blinkgoed (en helder kleure) kan verwonder. Alles by Magpie – van teepotkandelare tot dekoratiewe voëlnessies, van versierings vir gloeilampe tot plafonvlinders en uitspattige staanlampe – word van herwinbare materiaal gemaak; hul kreatiwiteit laat almal wat instap in totale verwondering. Loer by magpieartcollective.com.

Boekpraatjies

Soos jy met die straat af in die rigting van die NG kerk stap, kan jy by The Hub Café Unplugged inloer. The Hub is ’n kuns-en-koffiewinkel én ’n internetkafee.

Aan die oorkant van die straat is House of Books. Dié boekwinkel is ’n skatkis vir boekwurms en bleeksiele.

Die boeke is só netjies opmekaar gestapel en in rye gerangskik dat jy eers jou huiwering om daaraan te raak, moet oorkom. Hier is boeke der boeke en as jy met die boekhandelaar, Anton de Villiers, begin praat, neem dit ’n tydjie voor jy jou kan wegskeur.

The Country Pumpkin is al jare lank ’n instelling op Barrydale.

As jy eers hoor van ’n swart Mercedes waaruit ’n ou klim wat deur veiligheidswagte bewaak word en wat al die boeke oor sosialisme, kommunisme en rebelle uit die geskiedenis met een slag opkoop, is dit neusie verby. Jy wil nóg hoor.

Dit lyk selfs of Anton hartseer raak as te veel van sy boeke tegelyk opgeraap word. Teen sy pryse is dit ook nie ’n wonder dat ’n mens met armsvol daar uitstap nie. Ook nie as jy kyk na die uitgebreide versamelings op sy rakke nie.

By die Barrydale-handwewers kan jy baie mooi linneware koop.

Ry bolangs

Dis onmoontlik om met die bopad deur die dorp te ry sonder om meer as een keer af te trek. Met die verbyflits trek ’n moddergalery, ’n reuse-pampoen op ’n geverfde wa en ’n geel donkieskuur jou aandag.

Stop by:

  • Barrydale-handwewers is in die gebou waarop staan Mud. Gaan kyk op hul webblad watter mooi geweefde linne jy daar kan aanskaf (barrydaleweavers.co.za).
  • The Country Pumpkin is al van toeka se dae hier en bedien ontbyt en noenmaaltye met landelike oorvloed. Deesdae is net die boerpampoen op die wa oranje; vantevore het die hele gebou soos ’n Halloween-pampoen gegloei.
  • By die Donkey Shed word iets van alles – geskenke, wegneemetes, koffie, plaasprodukte en plante – verkoop.
  • Die Dung Beetle Barskink vir rugsakreisigers ’n dop.
  • Diesel & Crème het vandat hulle ’n paar jaar gelede hul deure oopgemaak het, harte verower. Oor naweke sit mense van heinde en verre bankvas binne en buite. Hier word jou oë en jou smaakpapille verlei. Die kroegstoeltjies is trekkersitplekke; outydse ketties word in ’n Cobra-politoervertoonkas uitgestal en verkoop; ’n versameling badeendjies loer vanaf die vertoonkas aan die oorkant.

Op die voorstoep staan ’n muntstuk­outomaathaas met lang ore. Bestel ’n melkskommel! By die sjokolademelkskommel word brokkies sjokoladekoek gemeng; pasop egter vir die melkskommel waarvan die naam Chilli Bang Bang jou al attent maak daarop dat dié rissies nie vir sissies is nie.

  • By The Maker’s Craft Brewery’n paar deure weg kuier die dorpenaars en besoekers knus oor ’n glas vlytbier of wyn. Op die eerste Vrydagaand van elke maand is daar musiekkonserte. Sorg dat jy vroeg opdaag om tafelsitplek te kry.

Poort na die hemel

Op die gedenksteen van die NG kerk in die middel van die dorp staan “Gelegd 28 Maart 1908 door Ds. W.J. Louw” en “Huis Gods – Poort des Hemels”.

Die dorp Barrydale – en die kos wat si­noniem aan die omgewing is – voel so ietwat na een van die poorte na die hemel.

Laasnaweek se feesete by die Karoo Art-hotel het begin met Karoo-biltongkrokette wat in my mond gesmelt het.

Die omtrek

Die Joubert-Tradauw-wingerde-en-kelder is minder as tien minute se ry vanaf Barrydale. By hul R62 Alfresco-deli proe jy die ware Klein-Karoo. Beate Joubert, die trotse eienaar van die Alfresco-deli, is bekend vir haar Karoo-tapas.

Beate bedien gul borde wat deur almal aan tafel gedeel kan word. Die borde lyk soos stillewes waarop vars vye, neute, beet met feta en kruie, basiliepesto, tamatierissiekonfyt, saadbrood, olyftapenade, vyepatee, ingelegde kwepers en tzatziki met pampoensade pryk.

As jy eers eenmaal aan so ’n bord gepeusel of haar beesstertbredie geproe het, kom jy keer op keer terug.

Die wyne van die plaas word daarmee saam bedien. Twee van my gunstelinge is die Joubert-Tradauw Chardonnay en die Joubert-Tradauw Syrah.

Terwyl jy by die Karoo Art-hotel is, kan jy ook ’n rieldansvertoning van 30 minute lank deur die Net-vir-Pret-rieldansers bespreek, ’n bier- en wynproe doen, ’n historiese staptog deur Barrydale meemaak, die Tradouw-pas met sy rotspoele gaan bekyk, gaan kyk waarom almal oor die kroeg genaamd Ronnie’s Sex Shop praat, by die Barrydale-kelder gaan wynproe, by Buffeljags gaan foefieslaaid en in die Grootvadersbosch-natuurreservaat gaan bergfietsry.

  • Ilse was ’n gas van die Karoo Art-hotel.
  • Saterdagaand 17 Augustus:Vir “Die kruispad van koskulture” kook die meestersjef Johan Odendaal kos van die Arabiese woestyn en Indië met ’n Suid-Afrikaanse kinkel daarby. Jy sal heelwat leer oor die gebruik van speserye.
  • Saterdagaand 31 Augustus: Vickie de Beer, kosredakteur van Rooi Rose, beloof ’n aand van grasie en elegansie met geregte soos eendlewerpatee met muskaatjellie en tarte tatin met gorgonzolaroomys.
  • Saterdagmiddag 12 Oktober: Die inwyding van die Muskadelmuseum. Die ikoniese Peter Veldsman saam met die personeel van die Karoo Art-hotel en ’n verrassingsbesoek van ’n sjef of twee wat later onthul sal word, gaan die potte laat prut. Teug aan ’n keur van Suid-Afrika se muskadelwyne. Peter gaan vir die inwyding van die museum die Ridders van die Muskadelstok, die gerekende muskadelmakers van Suid-Afrika, inhuldig.

Besoek die hotel se webblad vir die volledige spyskaarte: karooart­hotel.co.za

Meer oor:  Barrydale  |  Karoodorpie  |  Besoek  |  Reis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.