Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Bederfnaweek in Riebeek-Kasteel

Die wintermaande het ’n ander bekoring vir besoekers aan Riebeek-Kasteel en sy omliggende streke. Daar is talle opsies beskikbaar om die beste van ’n naweek-winterwegbreek in dié deel van die Swartland te maak.

Winter in die Swart-land is beslis die streek se bes bewaarde geheim, sê Jolene Janse van Rensburg, bestuurder van die Santam Swartland Wyn- en-olyfroete.

“Die vaal stowwerigheid van die somerlandskap word omgetower in golwende groen koring- en goudgeel kanolalande. Niks is mooier as ’n sonnige wintersdag in die Swartland nie.”

Hier ontvang wynboere en -makers jou soos ou vriende en is die ervaring baie meer intiem en outentiek as by van die groter wynprodusente, waar ’n assistent in ’n swartraambril en snyerspak jou deur die kelder se verskillende wyne jaag, voordat die volgende toerbus sy opwagting maak.

“Besoekers aan die streek kan by die meeste van die wynkelders en olyfprodusente in die streek bladskud met die wynmakers en boere. Swartlanders hou daarvan om lekker te gesels en hul ervaringe met hul gaste te deel – hier gebeur dinge teen ’n stadiger pas.”

Gee hulle net so twee dae kennis voor die tyd, sodat hulle die vonkelwyn op ys kan sit en die olywe vir jou uitlê.

’n Lugfoto van Riebeek-Kasteel. Foto’s: Daréll Lourens

48 uur in die Swartland

14:00

Begin jou middag met ’n wyn-en-olyf-proesessie by die Kloovenburg-landgoed, Riebeek-Kasteel. As jy haastig is om by jou blyplek uit te kom en net te ontspan, kan jy die gewone wyn-en-olyfproe bespreek (R45 per persoon; 022 448 1635).

Vir ’n meer diepte-ervaring van Kloovenburg se olywe en wyn, bespreek eerder die informatiewe sessie (R95) wat jou hul bekroonde olyfolie, wyn en skoonheidsprodukte laat ervaar.

Besoek www.kloovenburg.com vir meer inligting.

15:00

Die Pastorie, Kloovenburg se amptelike verblyf, is die ideale plek om jou te vestig in Riebeek-Kasteel. Die gastehuis – wat regtig eers die dominee se blyplek in Riebeek-Kasteel was – lyk soos iets uit ’n Victoriaanse sprokie, met ’n ruim stoep, tierlantyntjies soosbroekiekanten ’n lekker kuierkaggel in die gemeenskaplike sitkamer.

Vir die snikhete somersmaande is daar ’n sprankelblou swembad om in af te koel. Dit is ook stapafstand van al Riebeek-Kasteel se winkels en restaurante af.

Die uitsig oor Riebeek-Kasteel en die NG kerk.

As jy nie lus is vir uitgaan nie, stook die kaggel en bestel een van Kloovenburg se befaamde peuselborde, gelaai met fynproewerskase, charcuterie-kouevleis en olyflekkernye (bestel dit egter voor die tyd by die Pastorie). Geniet dit saam met die komplimentêre bottel wyn wat by die prys van die kamer ingesluit is.

Om te bespreek, kontak Allison Coetzee by 072 596 6239 of stuur e-pos na guesthouse@kloovenburg.com. Dubbelkamers kos vanaf R1 500, wat ’n bottel Kloovenburg-wyn en ’n ontbytbewys by die koffiewinkel Beans About Coffee insluit.

18:00

As jy wel die dorp wil rooi verf en lus is vir uitgaan, begin jou aand met ’n jenewer-kelkie op die stoep van die Royal Hotel (Hoofstraat 33; 027 22 448 1378). Die hotel spog met een van Suid-Afrika se grootste jenewer-versamelings (meer as 100!) en jy sal wel iets op die spyskaart vind wat in jou smaak val.

Bespreek aandete by The Blue Room. Hul sesgangmaal-spyskaart (R495 per kop, wyn uitgesluit) sluit bederwe soos koningklip-gravlax, ravioli gevul met kreef en lamsboud in.

Om te bespreek stuur ’n e-pos na info@royalinriebeek.com of gee hulle ’n lui. Besprekings is noodsaaklik.

In die winter is die streek ’n lushof van groen, golwende koringlande.

20:00 tot laat

Is jy lus vir ’n goeie jol saam met die Swartland se inwoners? Mik dan na The Alchemist Wine Bar (in Shortstraat, oorkant die Royal Hotel; 027 83 290 7990).

Daar is elke Vrydagaand ’n band wat optree en hier kuier jy die nag om met ’n bottel wyn van een van die Swartland se boetiek­wynkelders, wat jy nie elders sal kry nie.

Hul koeng foe-hoendervlerkies (R65) is legendaries en in die winter kan jy die ergste koue verdryf met hul #FondueFridays (R165 vir twee mense).

Sigaar-afficionado’s kan ook trek aan ’n vet Cohiba- Kubaanse sigaar; hulle het ’n wye verskeidenheid van sigare op hul spyskaart.

Saterdag

07:30

Dis winter, wat beteken dat die son hier ’n bietjie later opkom en jy nie douvoordag hoef op te staan om die sonsopkoms te sien nie.

As jy by Kloovenburg se Pastorie oorslaap, het jy eksklusiewe toegang tot staproetes op die wynplaas. Gesels met die personeel; hulle sal vir jou ’n aanbeveling kan maak na aanleiding van jou fiksheidsvlak en belangstelling. Pak ’n fles koffie, stap tot by die uitkykpunt by Kasteel-Berg en kyk hoe die son sy eerste strale oor die Swartland gooi.

10:00

Gaste van die Pastorie kry ’n komplimentêre bewys vir ’n ontbyt by Beans About Coffee (Fonteinstraat 15; 022 448 1653). Selfs al bly jy nie by die Pastorie nie, is dit die plek in Riebeek-Kasteel waar jy die lekkerste koppie koffie sal vind. Hulle rooster hul koffiebone in klein hoeveelhede om varsheid te waarborg.

Hul “bou-jou-eie-ontbyt” bied uitstekende waarde vir geld. As jy ’n gaatjie oor het, bestel hul New York-styl-kaaskoek – dit word deur die plaaslike inwoners aanbeveel.

Anton Espost, die eienaar van The Wine Kollective.

12:00

Drentel deur die strate van Riebeek-Kasteel. Kyk kuns by The Gallery (Hoofstraat 32; 083 653 3697), ’n galery wat kunstenaars uit die streek verteenwoordig.

Still Pure (Sarel Celliersstraat; 082 407 3858) het ’n lieflike versameling badolies en bederfprodukte.

As olywe jou opgewonde maak, mik na Olive Boutique (Kerkstraat 49; 022 448 1368) waar jy fynproewers-olyfprodukte soos kalamata-olywe in ’n bloubessie-sous en ekstra-suiwer olyfolie kan koop.

As jy meer wil uitvind oor die Swartland-wyne of jou wil bederf met ’n Columella van die Sadie Family Wines-kelder, mik na The Wine Kollective (Hoofstraat 32; 022 448 1008), ’n wynwinkel met sekerlik een van die beste Swartlandse wynversamelings.

Die eienaar, Anton Espost, is ’n selferkende wyn-geek en sal al jou vrae oor die streek kan beantwoord. Oor naweke word daar ook gratis wynproeë aangebied.

15:00

Teen dié tyd is jy seker al lus vir ’n laterige middagete. Herlaai jou batterye by Mama Cucinas (Sarel Celliersstraat 20; 022 448 1676) Riebeek-Kasteel se geliefste Italiaanse restaurant. Bestel die Sofia Loren-pizza met bros spek, bokmelkkaas, songedroogde tamatie en avokado (R98) of die Mafioso (R95), met regte Italiaan­se salami, feta, sampioene, peppadews en vars basielkruid.

Hulle het ook ’n verskeidenheid wyne wat hulle per glas bedien as jy en jou metgesel nie kan ooreenkom of julle lus is vir wit of rooi nie. Die pryse is ook billik; ’n glas Kloof Street Rouge, ’n Mullineux-versnit, kos byvoorbeeld R50.

Die Pastorie is van die verblyfopsies met die mooiste en beste ligging, en gaste het eksklusief toegang tot staproetes op die Kloovenburg-wynlandgoed.

16:00

Voordat jy na jou oornagverblyf by Adi Badenhorst se Kalmoesfontein mik, gaan koop eers fynproewers-proviand by Het Vlock Casteel (Kerkstraat; 022 448 1488), maar wees versigtig om nie hier weggevoer te word nie. Hulle verskeidenheid olyfprodukte kan jou kop laat draai. As jy ’n suikertand het, is daar lekkernye soos tuisgemaakte Turkse lekkers en ingelegde vrugtestroop. Die olyftapenades (my gunsteling is die songedroogde tamatie-geur) is so lekker, jy eet dit sommer net so (maar dis ewe smaaklik saam met kaas of ’n stukkie brood).

Die personeel hier is vriendelik en behulpsaam, niemand gaan jou skeef uitkyk as jy jouself aan een olyf te veel by die proe-areas help nie.

17:00

Die selfsorgeenheid by Adi Badenhorst se Kalmoesfontein lyk asof dit op ’n voorblad van ’n dekortydskrif moet wees, maar dis die klein bederfies wat jou weer en weer sal laat terugkeer. Met jou aankoms wag ’n varsgebakte brood en tuisgemaakte botter op die eetkamertafel, terwyl ’n bottel Secateurs in die yskas afkoel.

Die kombuis is uitstekend toegerus met goeie koffie, ordentlike eetgerei en plaasbe­skuit. ’n Gesin of ’n groep vriende van vier kan The Winemakers Cottage bespreek met ’n stoep waar jy dae en nagte om kan kuier. As dit koud raak, skuif binnetoe voor die kaggel. Die ondervloerse verhitting sal seker maak jy kry nie koud nie.

As jy van Adi Badenhorst se wyne wil proe, laat weet ook vooraf sodat die personeel dit by jou kuier kan inwerk.

Paartjies op ’n romantiese wegbreek kan The Silo bespreek, ’n ou silo wat in luukse verblyf omskep is. Bespreek direk by semma@aabadenhorst.com of bel haar by 079 652 6101.

Die Winemakers Cottage (vier mense kan hier slaap) kos vanaf R2 500 per aand, en The Silo (vir twee mense) vanaf R1 600. Besoek aabadenhorst.com/kalmoesfontein vir meer inligting.

By Kalmoesfontein kan jy dae lank op die stoep kuier.

Sondag

10:00

Die Royal Hotel in Riebeek-Kasteel het van die grootste jenewer-versamelings in die land.

Hier kan jy lekker laat inlê, koffie en beskuit op die stoep geniet of op die plaas gaan rondloop. Die verblyf hier is so mooi, jy wil dit so lank as moontlik uitrek. Die uitkloktyd is 10:00, maar Semma Badenhorst sê hulle is so ’n bietjie meer buigbaar oor naweke as hulle nie gaste vir daardie dag verwag nie.

12:00

Op ’n Sondag is daar ’n straatmark in Malmesbury, die Bill & Co Swartland Street Market (Pleinstraat 1, Malmesbury; besoek billandco.org.za), vertel Anna-Bet Bester, ’n skrywer en taalpraktisyn van Malmesbury. “Geniet hier ’n varsgebakte croissant en stomende koppie koffie. Jy bly dalk sommer vir middagete!

“Die bestemming is kindervriendelik en jy kan ook sommer ’n lekker bottel Swartland-wyn en ingelegde lekkertes by die deli kry voordat jy huis­waarts keer.”

14:00

Pulpit Rock is die enigste wynlandgoed wat op ’n Sondag in die Swartland oop is. Gaan stap die naweek se lekkerleef-plesiere af op die wynplaas se staproete; dis ongeveer 2 km lank en nie te steil nie. Ná die tyd kan jy vir oulaas ’n glas vonkelwyn geniet. Bestel ’n bottel Louisa MCC Chardonnay Brut 2017 (R120) en hul Pinotage Platter vir twee met soetgebak, vrugte en konfyt.

Besoek www.pulpitrock.co.za vir inligting. Die wynkelder is op die De Gift-plaas op die R311, 1,5 km buite Riebeek-Wes.

  • Carla Lewis was ’n gas van die die Santam Swartland Wyn-en olyfroete.
Jolandie Fouché, hoofwynmaker by Kloovenburg, by een van die uitkykpunte op die plaas.
Wenke vir Swartland

Jolene Janse van Rensburg, bestuurder van die Santam Swartland Wyn-en-olyfroete, gee die volgende wenke vir mense wat ’n besoek aan die Swartland beplan:

  • Baie van die kleiner produsente en kelders doen slegs keldertoere en wynproeë per afspraak. Gee die wynkelder minstens 48 uur kennis as jy ’n besoek wil aflê. Die lekker ding van die Swartland is dat gaste dikwels die wynmakers kan ontmoet, en ’n meer intieme en persoonlike proesessie saam met hulle kan ervaar.
  • Los jou sportmotor by die huis. Sommige van die wynkelders is in gebiede geleë wat net met grondpaaie bereik kan word – jy het nie ’n 4x4 nodig nie, maar ’n sportmotor sal beslis klippe kou.
  • Die Santam Swartland Wyn-en-olyfroetekantoor is geleë in Malmesbury, die Swartland se grootste dorp. Die personeel hier sal al jou vrae beantwoord en ’n kaart vir die area verskaf. Die kantoor is op die hoek van Kerk- en Voortrekkerstraat, Malmesbury. Kantoorure is weekdae van 08:00 tot 17:00 en Saterdae van 09:00 tot 12:00. 

    Besoek

    swartlandwineandolives.co.za vir meer inligting of skakel 022 487 1133.

Meer oor:  Carla Lewis  |  Riebeek-Kasteel  |  Swartland  |  Doendinge  |  Wegbreek  |  Toerisme  |  Naweekwegbreek  |  Reis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.