Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Beelde van Berlyn

Tim du Plessis het in 1987 self by Checkpoint Charlie deur die Berlynse Muur na Oos-Duitsland gestap vir ’n mediatoer. Meer as 30 jaar later staan hy langs die oorblywende kamertjie en paal en dink terug aan die somber verlede.

Tim du Plessis by ’n oorblywende stuk van die muur wat eens Oos- en Wes-Berlyn geskei het. Foto’s: Inge Kühne

Toe ons in Junie 1987 by Checkpoint Charlie op die grens tussen die destydse Oos- en Wes-Berlyn opdaag, het die Koue Oorlog nie meer so kwaai gewoed nie. Al was dit nog nie oor nie.

Checkpoint Charlie was toe nie net ’n besienswaardigheid nie. Dit was ’n regte, egte funksionerende grenspos met stroewe lede van die Oos-Duitse grenspolisie wat elke voertuig gestop, deursoek en die bestuurder en passasiers se dokumente sorgvuldig bestudeer het.

Jou paspoortfoto is nie net een vlugtige kyk gegee nie; nee, jy (en jou foto) is minstens drie keer heen een weer bekyk.

Die murasie van die Kaiser Wilhelm-gedenkkerk dien as ’n herinnering aan die tragedie van die Tweede Wêreldoorlog.
Twee rye plaveistene merk die plek waar die muur Berlynse muur eens gestaan het. Foto:
Die Reichstag waar die Duitse parlement deesdae weer sit.

Al wat vandag, 32 jaar later, oor is van dié ikoniese simbool van die Koue Oorlog is ’n eensame kennisgewingbord aan ’n paal wat lui “Jy verlaat nou die Amerikaanse sektor”. In vet letters in Engels, Frans en Russies. En, veelseggend, in kleiner, skraler letters, in Duits.

Ek was deel van ’n groep van vyf Suid-Afrikaanse joernaliste wat Wes-Duitsland besoek het op uitnodiging van die Wes-Duitse ministerie van buitelandse sake.

Ons was vol grappies op pad na Checkpoint Charlie vir ’n besoek aan Oos-Berlyn. Maar toe die bus verby “You are now leaving the American Sector” ry, het ’n somber stilte oor ons neergedaal.

Ons moes die lieflike Frau Gisela Linz, ons gids van die ministerie, in Wes-Berlyn agterlaat. Die bus was onder beheer van die Oos-Berlynse owerhede. Wes-Berlyners is nie in Oos-Berlyn toegelaat nie.

Dit het anderhalfuur gekos om die bus met sowat 40 mense deur Checkpoint Charlie te kry.

Nomavenda Mathiane, ’n medewerker van die destydse Suid-Afrikaanse nuustydskrif Front Line, het meer as dubbel soveel aandag gekry as die res van die groep, almal wit mans. Sy is bekyk en nogmaals bekyk en langdurig uitgevra.

“Racial profiling” was aan die orde van die dag, al het die term destyds skaars bestaan.

Checkpoint Charlie, waar Tim in 1987 die grens tussen Wes- en Oos-Berlyn oorgesteek het.
Poskaarte met koerantvoorblaaie oor die val van die muur.
’n Vrou stap deur van die 2 711 donkergrys betonblokke wat die vermoorde Jode van Europa uitbeeld.

Die somber kant

In Oos-Berlyn was die toergids op die bus bondig en kortaf. Ons ry nou in Unter den Linden, hoor ons. Danksy ’n voorgeskrewe boek in matriek weet ek Unter den Linden was voor die oorlog ’n breë, elegante straat, Berlyn se Champs-Élysées. In Junie 1987 is dit steeds breed en die lindebome is nog daar, maar nie veel meer nie. Geen winkelvensters, geen advertensieborde, geen niks van daardie kommersiële gewoel en werskaf so eie aan wêreldstede nie.

Die geboue is swart van die roet, die vensters wasig en klein. Die mense loop stadig en kyk stip voor hulle. Hier en daar ry ’n Trabant. Die Trabant is ’n motortjie wat daai tyd in Oos-Duitsland gebou is en wat, weens sy primitiwiteit en swak gehalte, simbolies van die kommunisme geword het.

Terug by Checkpoint Charlie ’n paar uur later, met die polsende Wes-Berlyn ’n straatblok ver, klim ons somber van die bus af. Ons sou dieselfde somberte ’n paar dae later beleef ná ’n daglange besoek aan Dachau, die Nazi-konsentrasiekamp, so 30 km buite München.

Die 20ste-eeuse geskiedenis van Duitsland is nie jou speelmaat nie.

In Junie 1987 kon ons Duitsland se majestieuse parlementsgebou, die Reichstag, net vanaf die ander kant van die muur bekyk. Dit was in onbruik, verwaarloos en op pad na verval.

Die Brandenburg Tor (poort), seker Berlyn se bekendste argitektoniese baken, kon ons net vanaf die “agterkant sien”. Die “voorkant”, aan die begin van Unter Den Linden, was verboten vir ons.

Van die 2 711 donkergrys betonblokke wat die vermoorde Jode van Europa uitbeeld. Foto:
Aandenkings met die bisarre foto waarop die destydse sowjetleier Leonid Brezhnev en voormalige Oos-Duitse leier Erich Honecker mekaar klapsoen, word verkoop by Checkpoint Charlie se museum. Foto:
Tim du Plessis by die gat in die muur waar hy eens in 1987 die grens tussen Oos- en Wes-Berlyn oorgesteek het. Foto:
Die Unter den Linden wat lei na die Brandenburg Tor in die agtergrond. Foto:

Kies Berlyn

Sedert dié besoek in 1987 was ek al drie keer terug in Berlyn, in 1993 op uitnodiging van die Friedrich Naumann-stigting, in 2000 op ’n regeringsuitnodiging ter viering van tien jaar van Duitse hereniging en in 2008 vir werk.

En nou, in die Europese winter van 2019, weer. Die stad praat steeds met my. Van Checkpoint Charlie, waar my hart in 1987 vinniger begin klop het, is daar vandag net ’n kamertjie en ’n paal oor met die berugte waarskuwing. Ja, daar is uitstallings – en die nabygeleë museum waar die mees dramatiese ontsnappings uit Oos-Berlyn gedokumenteer is, is nou veel groter. Onder meer is daar nou ’n vertrek waar oudpres. Ronald Reagan van Amerika vereer word. Hulle wys tot sy kettingsaag en ’n stuk paal wat hy op sy ranch in Santa Barbara in Kalifornië afgesaag het.

Ander epogmakende gebeurtenisse sedert die val van die Berlynse Muur in 1989 is bygewerk, maar niks oor die vrylating van Nelson Mandela nie, ’n gebeurtenis wat ten nouste verband hou met die einde van die Koue Oorlog. Maar moenie dat dit jou afskrik nie. As geld of tyd jou beperk tot net een stad in Duitsland, kies Berlyn.

Hier is die beste plekke om Berlyn se geskiedenis te sien:

1. Die Kaiser Wilhelm-gedenkkerk is grootliks vernietig in bomaanvalle tydens die Tweede Wêreldoorlog. Die Duitsers het die beskadigde kerktoring behou as ’n herinnering aan die pyn van oorlog. Dis roerend om die murasie so in die middel van die besige stad te sien staan. Dit is ná die oorlog omskep in ’n uitstalruimte.

2. Gedenkplek vir die vermoorde Jode van Europa. Jy kan nie onaangeraak hier wegstap nie. ’n Argitek en ingenieur het 2 711 donkergrys betonblokke, elkeen min of meer so groot soos ’n graf, in rye op ’n stuk grond van 19 000 m2 neergesit. Die trefkrag is onthutsend. Namate jy tussen die blokke deurstap sak die paadjie onder jou voete al laer, met die gevolg dat die kunswerk jou as’t ware insluk. Daar is geen manier om te beskryf hoe disoriënterend dit is om tussen die betonblokke weg te raak nie – ’n emosiebelaaide uitbeelding van die onregte wat die Nazi’s aan Jode gedoen het.

3. Die Mauermuseum by Check­point Charlie het meer inligting as wat jy in ’n dag kan lees. Die museum is redelik deurmekaar, deels omdat daar dalk te veel inligting oor alles en nog wat ingeprop is. Teen €14,50 (sowat R230) vir ’n volwassene en nog €5 vir ’n oudiogids en €5 vir die voorreg om foto’s te neem, is dit kwalik waarde vir geld.

4. Dertig jaar later is die punt van die muur natuurlik dat hy nie meer daar is nie. Nadat die muur in November 1989 geval het, het die Berlyners twee rye stene op die grond ingemessel oral waar die muur geloop het – meer as 40 km lank. Die beste plek om nog die oorspronklike muur te sien, is sowat 600 m van Checkpoint Charlie. Hier het ’n straatblok-lengte van die muur behoue gebly.

5. Neffens Unter den Linden en die skouspelagtige Brandenburg Tor, staan die Reichstag. Die gebou is in 1894 in gebruik geneem as die setel van die Duitse keiserryk. In 1933 is dit erg beskadig in ’n brand wat waarskynlik deur die Nazi’s gestig is. Ná die oorlog het dit in onbruik gelê. En toe bou die Duitsers in die 1990’s ’n massiewe deursigtige koepeldak oor die ruïne. Deesdae sit die Duitse parlement weer in die historiese raadsaal, terwyl toeriste amper 50 m bo die parlementslede vanuit die koepel op hulle afkyk. Van hier het besoekers ’n 360°-uitsig oor die hele Berlyn.– Inge Kühne

Meer oor:  Wes-Berlyn  |  Oos-Duitsland  |  Koue Oorlog  |  Berlynse Muur  |  Besoek  |  Checkpoint Charlie  |  Reis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.