Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Rondrits:
Van gebaande weë af

Leon van Nierop verken die paaie rondom Hoedspruit en ontdek rus, vrede, ongelooflike uitsigte en ’n piepklein kerk en dorp.

Die spoorwegbrug laat ’n mens dink aan Richard van der Westhuizen se liedjie “Tussen treine, tussen stasies”. Foto’s: Werner Klopper

Ek kommunikeer met ’n vrou agter ’n afskorting by die inligtingsdiens in Hoedspruit. Ek sien haar nie, hoor net haar stem, maar kry bruikbare brokkies wat my soos P.J. Schoeman van ouds op ver paaie lok waar daar nie te dikwels spore getrap word nie.

“Die afdraaipad naby die Olifantsrivier waarna jy soek, is by ’n wit bord digby Mica op die R40!” roep sy.

“Jy bedoel soos waar mens boumateriaal koop?” wonder ek.

“Die dorpie! Die dorpie!” beklemtoon sy.

’n Vriendelike inwoner van Hoedspruit kom ingestap en groet hartlik. Ek vertel hom van die Southern Cross School in Hoedspruit wat die radioverhaal Ratels geïnspireer het. Hier gaan kinders ook in die natuur skool. Hy ken die plek en ek gaan kyk net gou weer hoe dit daar lyk.

Dit is redelik aan die begin van die dorp as ’n mens van die Abel Erasmuspas op die R36 inkom. Die eerste ding wat jou begroet, is ’n groot ruimte waar die leerlinge soggens bymekaarkom en op tromme slaan om in die regte ritme vir die dag te kom.

Die klaskamers lyk oor die algemeen soos die klaskamers waaraan ’n mens gewoond is, maar die vensters is groot sodat die leerlinge gedurig in aanraking met die natuur is. Die lekkerste van hierdie skool is egter dat baie klasse in die natuur gegee word. Ek het jare gelede saam met ’n onderwyser en sy klas in die natuur by die skool uitgegaan. Ons het toe spinnekoppe in die bome beskou. En in plaas daarvan om ’n foto van ’n spinnekop op ’n skerm te gooi, kon kinders die ware Jakob, harige pote met agt oë en al, van nader beskou en aantekeninge maak.

’n Asemrowende uitsig oor die Olifantsrivier.

Die mees gewaardeerde stilhouplek

My helper in Hoedspruit, die vriendelike man wat by Inligting ingestap het, se volgende aanbeveling was: “Jy moet 24 Degrees South toe gaan, jy kan dit nie mis nie!” Hy beduie na die R531 Blyderiviers­poort se kant toe. “Jy sal nie glo wat jy sien nie. Jy moet dit op ’n skaal van 1 tot 10 gradeer soos altyd met die flieks!”

Hierdie klein oase – waar dit so warm is jou roomys smelt nog voordat jy daaraan begin dink het – bestaan uit ’n reeks winkels, ’n spa, ’n syfabriek, ’n kunsgalery en restaurante wat jou katswink slaan. Dit is een van hierdie gebied se mees gewaardeerde stilhouplekke, wat ook spog met ’n motormuseum, ’n kafeekat wat aan jou enkels snuffel en ’n restaurant wat uitkyk op die Blyderiviers­poort se berge. En tussenin spat impala­lelies rooi en wit vlekke oor die bosveldgrond.

As jy naby Hoedspruit is, genoem na die spruit op Dawid Johannes Joubert se plaas (sy hoed het op die Zandspruit afgedryf en hy moes toesien hoe sy kosbaarste besitting, beskerming teen die son, verdwyn), gaan kuier by 24 Degrees. Dit maak rondsnuffel lekkerder as Brakanjan wat ’n been kry.

Leon van Nierop ontdek juwele in Hoedspruit.

’n Troue vir vyf

Wat die omgewing nog meer stimulerend maak, is om van die gebaande weë af te wyk en die omgewing te verken. Ry op die R40 in die rigting van Mica en draai net voor die dorpie links by die bord wat beduie na die Umfula Estate. Dis ’n netjiese en goed versorgde grondpad en neem jou na my gunstelingplek: ’n spoorwegbrug waaronder ’n plaaspad kronkel. Mooier kry jy nie. Al wat kortkom, is die tjoeke­paffa van ’n lokomotief en die slaaptydliedjie-klik-klak van treinwiele.

Ry verder en parkeer aan die einde van die vliegveld net voor die ingang na ’n reeks private wildtuine (jy moes in een van die wildtuine soos die Bushriver ­Lodge bespreek het om deur die groot hekke toegelaat te word) en stap op ’n grondpaadjie soos jy nog van jou oom se plaas destyds onthou. Dit loop parallel met die vliegveld. Hier annekseer wildevye en maroelas die plek rondom die Olifantsrivier. Bosbokke spits hul ore wanneer jy deur die gras loop.

Wees net versigtig om dit te naby aan die rivier te waag, omdat seekoeie en krokodille dikwels daar gesien word. Jy wil nie deel van hul piekniek word nie.

Skielik verskyn hy tussen die huilboerbone: ’n piepklein kerkie, ’n klipgooi van die rivier af langs die grondpaadjie digby die vliegveld. Dit huisves vyf mense. As jy “weg van alles” wil trou en net met jou intiemste pelle wil nabetragting hou, is hierdie die ideale plek.

Hoër op, in die rigting van die Bushriver Lodge, is ’n houtdek wat op die rivier afkyk, en wat skynbaar maande laas gebruik is. Hier kan jy jou piekniekmandjie oopmaak terwyl seekoeie eentonig onder saampraat. Enige voëlkyker sal hier ’n oorvloed van voëllewe vind. Die rivier word omring deur private wildtuine en is nie te ver van Phalaborwa af nie, waar daar toegang tot die Krugerwildtuin is. Terwyl ons op die verlate dek sit, het twee visarende kom kyk wat ons daar maak – hul uitroepe duideliker as op enige televisieadvertensie.

’n Kwikstertjie soek rond vir kos in die Laeveld.

Vyfster-kaasbroodjie

Ry terug na die R40 en draai links, want hier skuil ’n dorpie so klein, jy het ’n vergrootglas nodig om hom raak te sien. Dit lê tussen spitskoppies wat lyk soos puisies vol bome. Daar is eintlik meer padtekens rondom Mica wat waarsku dat olifante oor die pad kan loop as wat daar huise is. Net voor Mica is ’n baken waar menige fotograaf al die beste uitsig op die ou treinbrug oor die Olifantsrivier probeer afneem het: die Three Bridges-restaurant. ’n Geroosterde kaastoebroodjie wag hier op ’n vyfstergradering.

Draai ná die ete terug op die R40 en lank daarna regs en kies die langpad op die R36 Strydomtonnel en Abel Erasmuspas toe, waar dit so groen is, dit maak jou oë seer. Stalletjies met mango’s, lietsjies en krabbel-Afrika-doeke oor drade lyk soos Kersboomversierings.

Ontgin die omgewing rondom Hoedspruit. Te veel mense jaag net verby op pad na die volgende olifant toe.

Meer oor:  Hoedspruit  |  Paaie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.