Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Belgrado is net Belgrado . . .

Raak meegevoer in die strate van Belgrado terwyl jy jou verkyk aan straatkuns en smul aan tipiese Serwiese lekkernye. 

Die ingang na die Kalemegdan-Fort in Belgrado, Serwië. Foto: IlseZietsman

Nie elke stad in die wêreld is ’n Aspoestertjie wat reeds ontluik het nie. Sommige stede – en daar is heelwat van hulle in die voormalige Oosbloklande – het nog nie hul glaspolvye aangeglip en met ’n koets na die prins se bal vertrek nie.

Dáárin lê hul sjarme. Dit skuil in verweerde geboue, ongekunstelde inwoners en bekostigbare pryse – asook dat jy nie voortdurend omring is deur ’n roese­moes van ander toeriste nie. Jy’t die plek ’n bietjie vir jouself – veral as hordes mense jou die bewerasies gee.

So ’n stad is Belgrado, die hoofstad van Serwië, wat voorheen deel van die ou Joego-Slawië was. Deesdae ontvang dié stad toeriste met ope arms, hoewel min mense nog soontoe reis.

As jy – soos ons – by die treinstasie aankom en per taxi na die stadskern ry, wonder jy eers waar op dees aarde jy jou nou bevind.

As jy eers verby die woonstelgeboue uit die kommunistiese era en die verwaarloosde geboue gekyk het, kom jy agter dié stad het ’n hart wat warm klop.

Belgrado is geleë waar die Donou- en die Sawarivier inmekaar vloei.

As jy by die Kalemegdan-fort op ’n heuweltjie in die middel van die stad staan, kyk jy af op dié twee riviere, die Srem-vlakte en Sumadija-heuwels.

Orals waar jy in Belgrado ronddrentel, is daar plek om te sit en die mense dop te hou terwyl jy ’n bier of glas wyn geniet. Foto: IlseZietsman

Die keiser – nee, die oorwinnaar – het nie klere nie

’n Paar treë verder is die oorwinnaar-standbeeld, ’n bronsbeeld van ’n kaal man met ’n valk in sy een hand en ’n swaard in die ander. Die oorwinnaar staan bo-op ’n pilaarplatform van etlike meters hoog.

Die mense van Belgrado is trots op hul land en hul stad. Foto: IlseZietsman

In 1912 het die idee van ’n monument ontstaan om Serwië se oorwinning oor die Ottomane te gedenk. Oorspronklik sou ’n reusefontein wat op die rûe van vier leeus rus, opgerig word. Die oorwinnaar sou in die fontein staangemaak word. Die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog het egter die stadsvaders se planne ontwrig.

Ná die oorlog was daar nie genoeg geld om so ’n monumentale projek aan te pak nie. Die oorwinnaar, steeds kaalbas, sou sonder sy leeus en fontein moes klaarkom.

Sy probleme was egter nog nie op ’n einde nie.

Inwoners van Belgrado – veral ’n paar vroueorganisasies – was in rep en roer toe besef is dat ’n naakte man op een van die hoofpleine van Belgrado ’n staanplek sou kry.

’n Standbeeld van ’n kaal man in die middel van die stad sou “onbeskof” wees en die “morele waardes van jong meisies” aantas, is betoog.

Dus is hy toe op die Kalemegdan-heuwel staangemaak.

Deesdae is die oorwinnaar een van die mees besoekte besienswaardighede in Belgrado.

Van die Kalemegdan-fort af kyk jy oor die Donou- en Sawarivier uit. Foto: IlseZietsman

Op jou merke, gereed, koes (en smul)

Van die standbeeld af drentel jy deur die tuine van die Kalemegdan-fort tot by die Stambol-poort, wat van 1750 dateer. Aan die ander kant van die poort begroet weermagtenks, kanonne en vuurpyllanseerders jou.

Speelse katskilderye op koerantpapier te koop in Knez Mihailova-promenade. Foto: IlseZietsman

Vir ’n oomblik voel dit of jy ’n karakter in ’n oorlogfliek is en jy wil-wil koes.

Die militêre museum, wat Joego-Slawië se geskiedenis uitbeeld, is ook gewild onder toeriste. Die uitstalling van martelinstrumente is nie vir sissies nie; ek erken ruiterlik ek sou in ’n huilbalie ontaard het en het dus nie my voet in daardie deel van die museum gesit nie.

Belgrado se mense is lief vir kuier en klets. Hulle is ook versot op hul stad, maar erken al die gebreke van hul lewensruimte. En oordryf dit soms.

Die Serwiese skrywer Momo Kapor beskryf sy tuisstad soos volg: “Belgrado is Belgrado. Dis nie Parys wat daarvan hou om met kunstenaars te kafoefel nie. Dis nie Rome met ’n magdom van aandenkings om huis toe te neem nie. Dis nie Moskou, ’n stad wat mooi vertoon in sneeukoepeltjies met drywende sneeuvlokkies nie.

“Belgrado is (net) Belgrado – en dis die woorde wat die Belgrado-inwoners sugtend uiter as hulle op die Nikola Tesla-lughawe land – dit maak nie saak hoe lank (of kort) hulle weg was nie.”

Kapor het ook ’n waarskuwing vir toeriste. Dit lui so: “Belgrado hou nie daarvan om afgeneem te word nie. Belgrado haat dit om te poseer. Dis ook omdat Belgrado voortdurend verander.” Dus gaan die stad op jou foto’s ná jou besoek heel moontlik nie meer herkenbaar wees nie.

Regdeur die hoofstad is ’n lewendige sypaadjiekafee- en restaurantkultuur. Aan die onderpunt van die Kalemegdan-heuwel lê die Knez Mihailova-promenade, waar die kuierplekke ingeryg is.

By Chips&Love Amsterdam wag slaptjips in 20 verskillende geure op jou; Georpaa Café (die Cyrilliese letters lyk nie presies so nie, maar dis hoe ons dit gelees kry) is gewild by koffiedrinkers, wat nader gelok word deur teekoppies wat aan linte in die vensters hang; Snezana het heerlike pizza en Koketa (kyk op Facebook) verkoop prettige juweliersware.

Tussen al die kroegies en uithangplekke is daar talle kunsgalerye, en straatmusikante speel om elke hoek en draai. Jy kan jou verkyk aan die graffiti – en dis oral – hoewel ’n mens natuurlik glad nie kan uitmaak wat daar staan nie.

Knez Mihailova was nog altyd ’n gewilde bymekaarkomplek in die stad. Waar die sigeunermusikante nou kitare tokkel, het jafels in die destydse Joego-Slawië soos Clark Gable, Humphrey Bogart of veral James Dean aangetrek en op en af geparadeer. Nie om ’n aalmoes (in dié geval ’n dinar) te verdien nie, maar om die meisies te beïndruk of sommer net ’n bietjie aandag te kry.

Wapentuig is deel van ’n permanente uitstalling by die Kalemegdan-fort. Foto: Ilse Zietsman

Vertoef in die stadskern

In Beograd, die stadskern, is alles naby genoeg om daarheen te kan stap. Van Knez Mihailova af loop jy verby nóg koffiewinkels en restaurante tot by Skadarlija (ook genoem Skadarska), die boheemse buurt van die stad. Moenie dat die vervalle geboue jou afskrik nie – dis ook oral.

Belgrado wemel van die kunsgalerye. Foto: Ilse Zietsman

Dit gaan knor om te kies waar jy tyd wil verwyl om rakija (Serwiese brandewyn) te proe. Rakija word van amper enige vrug gemaak – pruime, kwepers, pere, appelkose en natuurlik druiwe.

Knoop ’n geselsie met die mense by die tafel langs jou aan – die kans is goed dat dit ’n skrywer, dramaturg of kunstenaar is.

Caffe Bar Perka se naambord met ’n wulpse meisie, ’n kersie en ’n veer in ’n skemerkelkieglas verlei jou; by Jelovnik sit jy onder ’n prieel van rooi sambrele; en by Sesir Moj (My Hoed) is geen hoofbedekking in sig nie – pleks daarvan voel dit of jy ’n blomtuin binnestap met plantbakke waaruit rooi, wit, pienk en pers gesiggies en petunias tuimel.

Voordat jy te veel rakija in jou lyf het, moet jy eers aanstap na die Zeleni Venac-mark, hoewel dit glad nie op toeriste gemik is nie. By dié mark verkoop boeretannies op wie se gesig jy kan sien dat die lewe nie altyd maklik was nie, plomp rooi aarbeie, blink eiervrugte, die soetste vars kersies, heuning en rooirissies so lank soos ’n man se arm wat jy net so rou kan eet. Daar’s toonbanke met kaas en vleis – en ’n hanetree weg hang bra’s in bondels langs kombuispanne aan kettings.

Die son sak oor Belgrado

Belgrado het sy eie waterfront aan die Sawarivier. Aan die bopunt van Knez Mihailova-promenade draai jy af in Karadjordjevastraat en loop bult af na waar jy die rivier kan sien blink.

Op die Sawa-promenade is verskeie restaurante en skemerkelkkroeë. Terwyl die son oor die rivier sak, word hier land en sand gekuier.

’n Mede-joernalis wat sy eie reistydskrif publiseer, vergesel ons na die Ambar-restaurant, sy gunsteling aan die waterfront. Ook maar goed so; ons sou gesukkel het om ’n eetplek te kies, want almal het ’n uitsig op die rivier, eiesoortige dekor en interessante spyskaarte.

Ilse Zietsman

Die Ambar-restaurant se leuse is “Balkan-kreatiwiteit” (die Balkanstate, waaronder Serwië, is in die suidooste van Europa).

Die geregte wemel van wildesampioene, aarbeie wat in die woude gepluk word, suurroom, rooirissies, beet en prsuta, ’n tipiese Serwiese gerookte ham wat jy eenvoudig móét proe. Daar word selfs jaarliks ’n prsuta-fees in die land gehou.

In elke restaurant waar ons was, was die personeel kinderlik opgewonde om ’n toeris te kon bedien. Nie almal kan Engels praat nie, maar sodra hulle agtergekom het dat ons wel Engelssprekend is, is die kelner wat die beste kon Engels praat nader gehark en het ons wonderlike diens ontvang.

By Ambar smul ons aan gibanica (veerligte pasteitjies met ’n feta-en-eiervulsel), ’n beesvleisgereg met kajmak (’n tipe roomkaas) en kacamak (die Serwiese weergawe van polenta) as bykos.

Die laaste woord behoort ook aan Momo Kapor: “As jy in Belgrado woon, is jy vir altyd ’n vrywillige gevangene van die stad. Die stad betower, maar verklap nooit die geheim agter die betowering nie.”

Dis dié betowering wat ’n besoeker aan dié stad ervaar.

Baie van die ou geboue is beskilder omdat dit goedkoper is as om dit heeltemal te restoureer.
Op die Zeleni Venac-mark word vars produkte, kombuisware en selfs onderklere verkoop.
Die martelmuseum is nie vir sissies nie??.?.?.
Hotelverblyf in Belgrado is goedkoop; ons hoor hostelverblyf waarby ’n bier by jou bed ingesluit is, is spotgoedkoop.
Serwië is ’n vrugbare land – blomme en groente groei welig, en wyndruiwe word ook verbou.

Meer oor:  Belgrado  |  Serwië  |  Reis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.