Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Bergbekoring vir siel

Kies dié winter koers na die Oos-Kaap en gaan geniet die natuurskoon én die mense van Rhodes en die uniekheid van Tiffindell.

Tiffindell, sy skihange, asook die bergpaaie vanaf die Ben McDhui-kruin. Foto: Coreli Roos

Die R396-bergstofpad slinger 60 km ver van Barkly-Oos na Rhodes.

Hierdie Oos-Kaapse hoogland-roete, wat deur valleie en oor riviere teen die suidelike hange van die Drakensberge digby die Lesotho-grens loop, duur ’n uur lank met my gewone sedanmotor.

’n “Rubicon”-bordjie uit Mullerstraat beduie my regs bult op waar ek Elizma den Heyer ontmoet, inboek, afpak en padvat dorp toe.

Elizma bestuur haar sake vanaf die Rubicon-Restaurant op dieselfde perseel as die ou sandsteenskool wat in 1924 gebou is en omskep is in die Rubicon-selfsorgakkommodasie.

My besoek val aan die einde van ’n maand, van ’n Donderdagmiddag tot Saterdagoggend.

Dis buite seisoen en besonder stil, maar gelukkig is RhodesInfo tot vyfuur oop.

Kunsvlieghengel is ’n groot tydverdryf vir besoekers aan Rhodes. Foto: Coreli Roos

Ouwêreldse rustigheid

Xolelwa Yaleko, die vriendelike toerismebeampte, vertel die Bizarre Bazaar word uit ’n vertrek in die Rhodes-hotel oorkant die straat bedryf. Hulle verkoop plaaslike handwerk en ek kan die eienaar bel as ek wil gaan rondkyk. Die hotel self is toe. Dis glo in die mark.

Die NG kerk, so ’n katspoegie verder om die draai in Church­straat, se hoeksteen is op 15 Junie 1892 gelê. Sowel die kerk as die ou rooidak-poskantoor skuinsoor die straat is sandsteengeboue.

Ek drentel verby die pastorie en dorpsbiblioteek, tot waar Mullerstraat teen die polisiekantoor in Naudéstraat doodloop. Die son sak agter die berge wanneer ek Mainstraat toe mik. Daar is gratis toegang by die Rhodes River Park tussen hierdie straat en die Bellrivier. Die park het uitgestrekte groen grasperke en ontspanningsgeriewe waaronder ’n paar kinderfietsies, ’n trampolien, braaiplek, asook ’n houtdek met ’n Mexikaanse kaggel. Besoekers kan van November tot Februarie op Woensdagaande hul eie wyn en versnaperinge bring en saam met die Rhodiane by hul “Bring ’n Wine”-geleenthede kuier.

Rhodes se munisipale woonwapark. Foto: Coreli Roos

In 1997 is die hele dorpie tot ’n bewaringsgebied verklaar. Sy atmosfeer is karaktervol en ouwêrelds. Netjiese stofstrate en baie bome skilder ’n idilliese prentjie van kalmte en rustigheid. Baie huise, Victoriaans, met of sonder stoepe, asook die plaas-/skuurtipe en tipiese Karoo-huise is pragtig gerestoureer. Die meeste is vakansiehuise wat verhuur word as selfsorgverblyf.

Daar is glo slegs 24 permanente inwoners.

Op my verkenningstog sien ek ook ’n bouval of twee. Nêrens sien ek enige plastieksakke rondwaai of rommel lê nie. Dit is moontlik daaraan te danke dat daar geen gewone winkels of drankwinkels in die dorp is nie. Besoekers wat kos wil koop, kan aanklop by klein geriefswinkeltjies by Rubicon, Alpine Swiss, RhodesInfo of by een van die spazawinkels in die Zakhele-woonbuurt.

Ek loop ’n gryskopman raak wat saam met sy vrou op ’n skemerwandeling naby die Rhodes-roospark is.

“Ek was tot st. 4 (gr. 6) hier op skool en dis die eerste keer ná 40 jaar dat ek weer hier kom,” laat hy nostalgies hoor voordat ons groet.

Rhodes lê knus in ’n kom tussen die berge en is 1 821 m bo seespieël. Foto: Coreli Roos

’n Paar ysterperde staan voor die restaurant toe ek daar kom. Rubicon is uiters gewild onder motorfietsryers. Elizma se man, Maarten den Heyer, is die Tiffindell-ski-oordbestuurder.

Terwyl ons aan haar heerlike aandete smul, hoor ek hulle het 22 jaar gelede van Switserland, waar Maarten ski-instrukteur was, teruggekeer Suid-Afrika toe om by Tiffindell te kom werk.

Toerisme is Elizma se groot passie. Buiten die Oos-Kaapse Hoogland-Camino wat verlede jaar in Augustus deur haar Eastern Cape Highlands Camino Route Facebook afgeskop het en reeds gewild is, koördineer sy ’n verskeidenheid aktiwiteite waaronder vlieghengel-, bergfiets-, skilder- en ander vakansiepakkette.

Maarten en hul seun, Jaco, is motorfietsentoesiaste en sy sê sy kan ook lekker met die motorfietsryers saamgesels en raadgee – dit is alles wat sy al by hulle twee geleer het.

Vrolike voëltjiesang maak my vroeg wakker. ’n Bloemfonteinse paartjie stap met hul honde toe ek teen sonsopkoms die stil dorpie binnevaar.

“Dáár eet jy die beste burgers!” laat die man hoor toe hy uitvind ek is by Rubicon tuis.

Hulle is gereelde besoekers, en het die man se verjaardag kom vier en saam met vriende in een van die dierevriendelike selfsorg-huise gekuier.

Die Rhodes River Park grens aan die Bellrivier en bied heerlike ontspanningsgeriewe. Foto: Coreli Roos

’n Kuiertjie by Tiffindell

Dis 25 km Tiffindell toe. Ná ontbyt ry ek saam met Maarten. “Die somer is ’n goeie bemarkingstyd,” sê hy. “Baie mense wat kom kyk, kom in die skiseisoen terug.” Dis ’n gewilde tyd wanneer 4x4-entoesiaste en motorfietsryers die omgewing se uitdagende bergpasse kom aandurf. Tiffindell het ook staproetes, blommekyk- en uitstekende vlieghengelgeleenthede.

“Die beste tyd vir ons Alpynse blomme is in Desember en Januarie, maar met die droogte was dit ’n slegte blommejaar,” sê Maarten. Hy is ’n Switsers-gekwalifiseerde ski-instrukteur met ’n graad 3-noodhulpgradering. Omdat hy ook goed onderlê is in argitektuur en konstruksie, is hy persoonlik betrokke by instandhouding, veranderings, verbeterings en bouwerk wat hulle in die somer doen.

Ontspanne besoekers verken Rhodes. Die netjiese strate is breed en skoon met baie bome, en die dorp rustig en veilig. Foto: Coreli Roos

Ons ry verby Loch Ness, Suid-Afrika se hoogste foreldam.

By die Tiffindell-ontvangs, sluit Mike Visser en Lee Cronjé hulle by ons aan.

“Dis ons tradisie,” sê Maarten toe hy vir ons elkeen ’n shooter ingooi. “Het jy sonskerm aan?” gee hy vir my die SPF30+ voordat Lee, ’n Durbaniet, my op die terrein begin rondwys. Lee is ook kroegman en een van die permanente personeel. Ons loop verby hul mediese stasie, wat net in die winter operatief is. Die skiwinkel is tjokvol met alle groottes ski’s, stewels en ander ski-benodigdhede. Op pad na die chalets, stap ons verby ’n troppie merino-skape wat die groen gras op hul onderste helling kort afwei, want die oppervlak moet egalig-glad wees voordat hulle hul ski-matte kan uitrol. Terwyl ons in die restaurant oor ’n cappuccino kuier, sluit Maarten hom by ons aan.

Hy gee vir my ’n ekstra warm baadjie vir my 4x4-uitstappie saam met Mike na die Ben McDhui-kruin. Terwyl ons die laaste trek na bo aandurf met dieselfde klipperige tweespoorpaadjie waarmee ons later terugry, hoor ek hoe knars die klippe. Ben McDhui vorm deel van Suid-Afrika se vyf hoogste bergpasse – die Extreme High Five, asook van die tien bergpasse bekend as die Ben 10 Eco Challenge. Op 3 001 m, is dit die hoogste bergpas in Suid-Afrika. Dis koud en winderig op sy kruin van waar ons ’n 360 ° panoramiese uitsig geniet. Met die terugkomslag, klim ek uit en loer onder die bakkie in om seker te maak die onderstel is hoog genoeg van die klippe af.

Lee Cronjé, die Tiffindell-kroegman in die winkel wat ski’s verhuur. Op die voorgrond, met die groen rollers, is grasski’s. Foto: Coreli Roos

As IT-spesialis doen Mike, ’n boorling van Mosselbaai, deurlopend navorsing sodat Tiffindell die beste en jongste beskikbare tegnologie het. Hy sorg onder meer dat hul kameras op die skihange wat die sneeu-beelde na die wêreld uitstuur, goed werk. Hy het ook al mense as gids vergesel op Tiffindell-staproetes.

In die somer rus hul vloot massiewe sneeukanonne naby die ski-hysers waar ons stop dat ek hierdie reuse van naderby kan bekyk. Tiffindell herwin bergwater in opvangdamme en hergebruik dit wanneer hulle in wintersnagte sneeu maak.

Tiffindell se sjef staan nader voordat ek en Maarten terugkeer dorp toe, maar ek het nie planne om daar te eet nie, want ek wil nog ’n paar plekke op die dorp besoek.

Naweek-doendinge

’n Gesellige groep kuier om braaivleisvure in die park toe ons terugkom op die dorp.

Skuins oorkant sluit Jill Steynberg die Linecasters Fly Shop vir my oop. Ek het haar pas gebel oor die perderitte, en vind uit belangstellendes moet vroegtydig bespreek. Haar perde loop in die dorpsmeent en moet eers daar gesoek en aangekeer word. Haar man, Fred, bied vlieghengel-werksessies aan en die winkel het ’n wye verskeidenheid vir hengelaars te koop.

Die Tiffindell-ski-oord. Die skihange en die sigsag-bergpas wat uitdraai na Ben McDhui is sigbaar. Foto: Coreli Roos
Maarten Den Heyer vlieghengel in Rhodes se Bellrivier. Foto: Coreli Roos

’n Paar spelers geniet hul potjie Vrydagmiddag-tennis op die bane oorkant RhodesInfo. Drie geboue verder loop ek ’n bloutjie. ’n Handgeskrewe nota op die deur sê dat Irene Walker se Clay Café-pottebakkers-en-koffiewinkel vir die dag gesluit is.

Dis ’n instelling: Vrydagaande is steak-aande by Rubicon, en van die Rhodiane kom dit ondersteun. Maarten braai die sappigste biefstukke volgens elkeen se voorkeur, en Elizma gee persoonlike aandag en sorg vir die res.

Sean en Liz de Wet is my tafelgenote. Dis Sean wat die voormalige stortingsterrein langs sy huis in die rivierpark ontwikkel het. Hy spog ook met ’n mooi groentetuin en ’n rekord-groenbone-oes.

“Jy moet kom kry voordat jy môre ry,” nooi hy.

Met Rhodes se naaste vulstasie in Barkly-Oos, kan mense in noodgevalle ook by hom en Liz petrol koop.

Saterdagoggend steek ek en Maarten die park oor na die Bellrivier, een van sy vlieghengelplekke. Die reënboogforelle spring tergend, pluk ’n paar keer aan sy lyn, maar weier om te byt. Dan moet hy sy motorfiets regkry vir ’n uitstappie saam met ’n groep motorfietsryers wat op pad is.

Sean se vars geplukte groente-verskeidenheid kos my ’n appel en ’n ei. Dis oggendspitsverkeer en motorfietsryers wag vir die troppie skape wat Mullerstraat stoftrappend oorsteek. Die plaaslike kunstenaar Gail Machanik staan in die deur van haar en haar lewensmaat, Tony Kietzman, se kunsgalery en kwekery en lag oor haar hond se groot skrik vir die skape.

Coreli Roos

Met my laaste stop by Gail, bewonder ek hul kunswerke. Sy wys ook vir my van die etswerkplaatjies wat sy maak, asook die rollerpers waarmee sy haar eie afdrukke doen.

Voordat ek haar en Rhodes groet, help sy my om die plante wat ek aangeskaf het, kar toe te dra.

Die dorpie met sy skoon berglug en helder sterrenagte, is verfrissend goed vir die siel.

Daarby is daar ook ’n verskeidenheid geleenthede in die omgewing vir adrenalienverslaafdes wat aan ekstreme sport wil kom deelneem.

  • Vir meer inligting besoek www.rhodesinfo.co.za, skakel 045 971 9003 of stuur e-pos na contacts@rhodesinfo.co.za. Kontak Rhodes Reservations by 083 659 3271 of edh@cnx.co.za.
  • Roos se verblyf en etes is geborg deur Rubicon.
Meer oor:  Rhodes  |  Oos-Kaap  |  Vakansie  |  Reis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.