Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
‘Bergmonarge’ van Giant’s Castle
’n Nabyskoot van die baardaasvoël. Hy is onmiskenbaar met sy swaar swart “wenkbroue” en rooi kringe om sy heldergeel oë.Foto: iStock

Wanneer voëls in die sentrale deel van die uKhahlamba-Drakensberg Park (“UDP”) verby ’n ander soort gevleuelde wese vlieg, sal hulle dit meesal doen sonder om te groet en met hul snawels in die lug.

Wanneer hulle egter ’n baardaasvoël teëkom, dink ek graag dat hulle die elegante aasvoëls sal groet as “u keiserlike hoogheid” of ’n soortgelyke eretitel.

James Stevenson-Hamilton, die Ierse natuurbewaarder en die eerste hoofbewaarder van die Sabi-natuurreservaat, het opgemerk dat enigiemand wat ’n aasvoël op die grond sien, skaars sal glo dat hulle so elegant en grasieus in die hemele kan rondsweef.

“Hulle sweef majestueus, daar doer bo in die blou, sonder dat ’n mens enige beweging in hul slagvere waarneem.

“Hulle klief deur die lug, sonder enige moeite. Vir die aardlinge op die grond is hulle die ideaal van poëtiese beweging.”

Toegegee, in die lug lyk ons ander aasvoëlsoorte net so indrukwekkend as die baardaasvoël. Laasgenoemde is egter nie net in die lug ’n vernuftige meestervlieënier nie. Op terra firma is hy ewe elegant. Hy is onmiskenbaar met sy swaar swart “wenkbroue”, rooi kringe om sy heldergeel oë, swart vlerke en wit kop. Die res van sy lyf en sy “kardoesbroek” (vere om sy bene tot by sy pote) is roesbruin.

Baardaasvoëls broei in holtes op basaltkranse waar die rotse verweer het teen ’n hoogte van ongeveer 2 500 meter bo seespieël.

’n Baardaasvoël in vlug.Foto: Johan de Villiers

Slegte naam

200 jaar gelede is baardaasvoëls in alle Suid-Europese gebergtes aangetref, van die Weste van Spanje tot in die destydse Balkanlande.

Die benaming “baardaasvoël” word doelbewus in Afrikaans en Engels gebruik, pleks van die woord “lammergeier” wat ons uit Duits/Nederlands geërf het en “lamsaasvoël” beteken.

Tans is dit egter die mees seldsame aasvoël in Europa weens ’n gebrek aan kos en hul onverdiende slegte naam weens die bygeloof dat hulle lammers en selfs klein kindertjies vang. Baardaasvoëls is oor ’n baie lang tydperk met mening gejag en in die Alpe-streek is daar selfs lospryse op hul kop geplaas, wat daartoe gelei het dat die laaste lewende een in 1913 geskiet is.

Sedertdien is nuwe broeipare darem weer in die Alpe hervestig en hul getalle word gereken op sowat 20 broeipare in die streek.

Die uitsig vanaf die restaurant by Giant’s Castle se ruskamp.Foto: Johan de Villiers
Beroepsfotograwe beskou die voëlskuiling as een van die beste in die land en een wat werklik ’n besoek werd is.Foto: Johan de Villiers
Die verweerde basaltkranse waar die baardaasvoëls graag nes maak.Foto: Johan de Villiers

In Griekeland en Frankryk is daar slegs ’n handjievol broeipare op die eilande van Korsika en Kreta, en ongeveer 100 broeipare in die Pireneë.

By ons is dit ook maar ’n droewige prentjie, waar soortgelyke uitwissing plaasgevind het weens die mite dat hulle kleinvee vang. Baie vrek ook weens vergiftiging of hulle vlieg in kragdrade vas.

Inderwaarheid jag baardaas­voëls nie graag lewendige prooi nie – 80 tot 90% van hul dieet bestaan uit bene van karkasse wat in die son verbleik het. Op Engels was die baardaasvoël voorheen bekend as ’n “Ossifrage” (van die Latynse “ossifragus” of “beenbreker”).

As die bene wat hulle optel, te groot is (’n been so groot soos die femur van ’n lam kan ingesluk en verteer word), lig die baardaas­voël dit van die grond en laat dit dan van ’n hoogte van tientalle meter bo die grond op rotse val sodat dit breek.

Hy vlieg dan af en ondersoek die been om te kyk of dit klein genoeg versplinter het en indien nie, word die been weer opgetel en laat val.

Hoewel dit tot soveel as sewe jaar kan neem om hierdie gewoonte te vervolmaak, dui hierdie gedrag van ’n baardaasvoël tog op ’n gesofistikeerde denkproses.

Hulle word selfs vermeld in die Bybel. In Levitikus 11:13 staan daar pertinent: “In die geval van diere met vlerke is die volgende soorte verbode en hulle mag dus nie geëet word nie: arende, lammervangers en visarende.”

Plek van die bergmonarge

Een van die beste plekke om plaaslik die aasvoëls te sien is by die Giant’s Castle-reservaat in KwaZulu-Natal.

Die reservaat bestaan reeds sedert 1903. Dit is oorspronklik opgerig om kwynende getalle elande te beskerm. Dis geleë in die sentrale deel van die UDP, een van Suid-Afrika se tien Unesco-wêrelderfenisgebiede, en bied vir elande en baardaasvoëls ’n veilige tuiste. Daar word geskat dat daar nog ongeveer 100 broeipare van die baardaasvoël rondom Giant’s Castle oor is en die totale aantal broeipare in die Drakensberg en Maluti-gebergtes word op meer as 250 gereken.

Johan de Villiers

By die bekende “aasvoëlrestaurant” se skuiling kan jy ure deurbring om hulle, maar ook kransaasvoëls en soms witkruisarende en rooibruinjakkalsvoëls, te besigtig.

Die voëlskuiling is hoog bo die Giants Castle-ruskamp onder ’n rotshang gebou en in die wintermaande, wanneer kos skaars is, word vleisbene hier gestrooi op ’n rots aan die voorkant van die skuiling.

Beroepsfotograwe beskou dit as een van die beste voëlskuilings in die land en een wat werklik ’n besoek werd is.

Pak ’n piekniekmandjie en bring ’n heuglike dag hier deur terwyl jy soos ’n paparazzo ’n monarg afloer en foto’s neem terwyl hy en ook ander gaste in ’n restaurant eet.

Slaap hier

Bespreek ’n selfsorgkothuis in die Giant’s Castle-ruskamp.

Die personeel hier was baie vriendelik en behulpsaam. Ek het die geriewe baie netjies gevind en die ligging van die ruskamp is werklik besonders – die omgewing is skouspelagtig mooi.

Jy kan die kamp jou basis maak en van hier verskeie pragtige voetslaanpaaie aandurf en jouself verlustig aan die voëllewe binne en buite die ruskamp. In die rotsagtige heuwels agter die ruskamp vind jy ’n “kunsgalery” in ’n grot met meer as 400 San-rotstekeninge.

Die “menserestaurant” (genaamd Izimbali) bied heerlike etes en die kothuise is skoon, netjies en snoesig in die winter. Die omgewing is skouspelagtig mooi. Kothuise is vanaf R1 300 per nag vir 2 persone wat deel.

Die park en ruskamp word deur Ezemvelo KZN Wildlife bestuur. Die organisasie het ook tot 30 November ’n Kickstart KZN-promosie waar reisigers tot 30%-afslag by uitgesoekte Ezemvelo-parke, -reservate en -oorde kan geniet. Om te bespreek, besoek hul webwerf by www.kznwildlife.com of bel die sentrale besprekingskantoor by 033 845 1000.

Werd om te weet

1. As jy van Gauteng kom, is die roete via die Oliviershoekpas en Bergville na Giant’s Castle ’n langer, maar meer skilderagtige opsie (neem die afrit van die N3 by Harrismith). Die padoppervlak in die pas is ’n paar jaar gelede herstel.

As jy eerder tyd wil bespaar, neem die Estcourt/Ntabamhlope/“White Mountain”-afrit. Vanaf laasgenoemde loop die pad oor Rockmount na Giant’s Castle (die GPS-koördinate is S 29.26905 en E 29.51995).

2. Vanaf Durban is Giant’s Castle ongeveer 48 km vanaf Nottingham Road op die Kamberg-Giant’s Castle-pad.

3. Die grot met rotstekeninge agter die ruskamp mag slegs saam met ’n plaaslike gids besoek word. Daar is toere elke uur en die koste beloop R50 per persoon.

4. Om die skuiling vir die dag te bespreek kos R1 200 per dag vir vier mense en daarna R300 vir elke ekstra persoon. Die skuiling is sowat 4 km vanaf die ruskamp en kan slegs met ’n viertrekvoertuig bereik word. Dis baie gewild en moet lank voor die tyd bespreek word. Bespreek vir jou die aand voor die tyd verblyf in die ruskamp sodat jy vroegoggend reeds in die skuiling kan wees wanneer die lig sag is vir die beste foto’s.


Meer oor:  Drakensberge  |  Reis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.