Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Besoek dié lande sonder duur visum

Om te reis is ’n duur storie, en vir baie internasionale bestemmings het Suid-Afrikaners nog die ekstra uitgawe van ’n peperduur visum.

Suid-Korea is ’n land wat Suid-Afrikaners sonder ’n visum kan besoek. Foto: iSTOCK
Gaan ontdek die kastele en natuurskoon van die Republiek van Ierland, sonder ’n visum! Foto: Gerrie Janse van Vuuren

Gelukkig is daar ’n hele paar lande waarvoor jy net jou paspoort nodig het. Beplan gerus in die nuwe jaar ’n reis na een van die volgende:

  • Kenia: Gaan op ’n onvergeetlike safari in die Maasai Mara, ’n gewilde bestemming vir toeriste van regoor die wêreld heen. Suid-Afrikaners kan vir tot 30 dae die land besoek sonder ’n visum.
  • Réunion: Wie kan nou nee sê vir helderblou tropiese water en ’n eilandavontuur soos min? Réunion spog met ongelooflike reënwoude, koraalriwwe, pragtige staproetes tussen onaktiewe vulkane en lekker plaaslike cuisine met invloede van Afrika, Asië – en natuurlik Frankryk. Besoek dié eiland sonder ’n visum vir tot 90 dae.
  • Senegal: Dié land kan spog met vele Unesco-Wêrelderfenisgebiede, natuurreservate en nasionale parke, nie te ver van die land se interessante hoofstad, Dakar, nie. Senegal se kultuur is ’n vermenging van Wes-Afrikatradisie, Islamitiese invloede en oorblyfsels van die land se Franse koloniale verlede. ’n Moet-sien-plek is die buitengewoon pienk Retba-meer (of Le Lac Rose, die pienk meer in Frans). Besoek Senegal vir tot 90 dae sonder ’n visum.
  • Ierland: Verdiep jouself in die Smarageiland se vele kastele, strande en interessante dorpies. Proe Guinness in Dublin en ontdek die prag van die Ring of Kerry aan die weskus. Die Republiek van Ierland is ’n onvergeetlike bestemming, maar onthou, as jy Noord-Ierland wil besoek en die Giant’s Causeway en Belfast wil sien, moet jy ’n Britse visum hê. Besoek die Republiek vir tot 90 dae sonder ’n visum.
  • Georgië: Hierdie oulike klein landjie aan die Swartsee is ’n smeltpot van Eurasiese kultuur en beskawings, en is ’n absolute plesier om te besoek. Georgiërs is waarskynlik die oudste wynmakers in die wêreld, en tradisionele wynmaakmetodes word steeds hier gebruik. Dié wyn is die perfekte pasmaat vir die plaaslike kookkuns, ingekleur deur Mediterreense, Midde-Oosterse en Oos-Europese invloede. Besoek die land tot 360 dae sonder ’n visum.
  • Die Bahamas:Met honderde klein eilande om te ontdek, wag daar heerlike sonskyndae gevul met turkoois water, snorkel tussen die koraalriwwe en leeglê op die strand. Geniet ’n gewilde Sky Juice-skemerkelkie terwyl jy kyk hoe die son oor die water van die Karibiese See wegsink. Bly tot 90 dae sonder ’n visum.
  • Chili: Natuurliefhebbers sal dadelik gaande wees oor die Torres del Paine Nasionale Park in die bergagtige Patagoniese streek van dié land wat ’n grens deel met nog ’n land wat Suid-Afrikaners sonder ’n visum kan besoek: Argentinië. Besoek ook beslis Chili se hoofstad, Santiago, en verkyk jou aan die stad se argitektuur, kultuur en polsende naglewe. Valparaíso aan die kus is ook ’n besoek werd – dit beteken “vallei van die paradys” – en wie kan dit nou weerstaan? Besoek die land tot 90 dae sonder ’n visum.
  • Suid-Korea: Dit is een van Asië se welvarendste lande, en daar is ook ’n oorvloed natuurskoon in vele nasionale parke en die platteland. Suid-Korea is bekend daarvoor dat dit ’n baie veilige land is om in te reis. Selfs laat in die nag kan ’n mens met ’n geruste hart daar rondstap, en daar is ook ’n baie doeltreffende 24-uur-treindiens as jou voete moeg geloop is. Bly tot 30 dae sonder ’n visum.
  • Hongkong: Verdwaal in die markte en smul aan heerlike peuselhappies in dié interessante plek. Wanneer jy moeg is vir die markte en helder liggies van die stad se vele winkelsentrums, gaan besoek een van die mariene parke en geniet Hongkong se natuurskoon. Bly tot 30 dae sonder ’n visum.
  • Die Filippyne: Nog ’n perfekte bestemming as ’n eilandavontuur jou opgewonde maak. Die Filippyne bestaan uit baie klein eilande, almal kompleet met helder, blou water, lieflike strande en strandmere. Die land se vulkane en unieke tropiese diere is deel van die natuurlike wonders wat ’n mens hier kan beleef. As jy hou van partytjie hou, moet jy die land se “partytjie-eiland”, Boracay, besoek. Die Filippynse peso is ook rand-vriendelik, maar hou die weer dop wanneer jy ’n reis soontoe beplan, die beste tye is Desember tot Maart wanneer dit droër en koeler is. Bly tot 90 dae sonder ’n visum.

Bron: getaway.co.za.

Meer oor:  Visum  |  Reis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.