Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Besoekers moet dié stad belééf

Binne een dag in Mei 1940 het Duitse bomwerpers die Nederlandse hawestad Rotterdam platgevee. Uit daardie verwoesting het die Rotterdammers ’n stad gebou soos geen ander nie, skryf Inge Kühne en Tim du Plessis.

Die ikoniese Erasmusbrug in Rotterdam.Foto: getty images

Jy móét Rotterdam beleef, het hoeveel mense vir ons gesê nadat ons onlangs vir ’n tydelike verblyf in Nederland aangekom het. Vra jy hoekom, is die antwoord vaag: “Dis heeltemal anders as die res van die land.” Of: “Jy moet dit net sien.”

Ons was dus nie heeltemal seker wat om te verwag toe ons nou die dag op uitnodiging van Lani en Frik du Plessis daar aanland nie.

 Laurenskerk
Die Laurenskerk, feitlik al wat bly staan het nadat Rotterdam vernietig is.

Die geskiedenis van die stad word die beste vertel deur foto’s van die Laurenskerk, een van net drie groot geboue wat ná die 1940-bomaanval en die gevolglike brande 80 jaar gelede bly staan het. Op die swart-en-wit foto’s van destyds staan die kerk spookagtig alleen tussen die vernietiging. Meer as 900 mense is dood en sowat 85 000 was haweloos. Die hawe asook amper 25 000 huise en 2 300 winkels is vernietig. Van 24 kerke en 62 skole het net puin oorgebly.

Daar is dadelik besluit om die murasies wat oorgebly het heeltemal af te breek en die stad van voor af te bou. Binne tien jaar was Rotterdam se hawe weer een van die voorstes ter wêreld.

Stad sonder verlede

Terwyl ’n stad soos Amsterdam eintlik soos ’n lewende museum funksioneer waar elke teëltjie en elke baksteen bewaar bly, het Rotterdam in die oorlog sy verlede verloor. Omdat die nuwe Rotterdam uiteraard haastig gebou is, moes baie van die geboue wat ná die Tweede Wêreldoorlog opgerig is, sedertdien vervang word. In die proses het dit Rotterdam se geaardheid geword om voortdurend te hernuwe.

Dit het Rotterdam se geaardheid geword om voortdurend te hernuwe.

Deesdae het die stad die gevoel en voorkoms van ’n moderne Amerikaanse stad.

Die geboue flankeer met jou oë. Kyk vir my! Kyk vir my!

Party slaan jou asem weg. Ander laat jou wonder of daardie uitspattigheid nie dalk beter in ’n museum vir eksperimentele kuns sou staan nie. Maar niks laat jou onaangeraak nie.

Natuurlik word daar groot debatte gevoer elke keer wanneer ’n nuwe gebou verrys. Dit is ’n stad voortdurend in gesprek met homself, nooit klaar gebou nie.

Anders as wat so maklik in ’n groot, groeiende stad gebeur, is daar ruimte tussen die wolkekrabbers sodat elke gebou in sy eie spasie kan dans. En dans hulle nie!

Die potlood
Mense noem die gebou, hier gesien vanuit die Markthal, sommer die potlood.

’n Verrassing in elke straat

Lani, ons gasvrou, verwelkom ons met dié woorde van die Rotterdamse digter Jules Deelder:

“Rotterdam is niet te filmen / De beelden wisselen te snel / Rotterdam heeft geen verleden / en geen enkele trapgevél ”

Die geboue flankeer met jou oë. Kyk vir my! Kyk vir my!

Sy en Frik het amper 20 jaar gelede met hul gesin uit Suid-Afrika hierheen verhuis. Hulle neem ons op ’n staproete om vir ons hul stad te wys.

Ons begin by die hoofstasie. Van bo af lyk die gebou se massiewe dak – dis250 m breed – asof dit oorgetrek is met swaar tinfoelie. Van binne vou die plafon van ligte hout soos ’n sagte, warm kombers oor die platforms met plek vir meer as 300 000 pendelaars per dag.

Van daar stap jy net ’n entjie tot by De Lijnbaan, ’n wandellaan met winkels weerskante. Die winkelsentrum was die toonbeeld van innovasie toe dit in 1953 geopen is.

Volgende is Donner, die ongelooflikste boekwinkel wat ons nog gesien het. Verdiepings vol boeke in ’n ruimte so hartlik dat dit nog steeds voel soos die intieme dorpswinkel wat dit sedert 1912 was. Donner het byna tot niet gegaan toe die maatskappy wat dit in die internet-era besit het, bankrot geraak het. Maar toe stig vyf van sy werknemers ’n Facebook-blad om die boekwinkel te red. ’n Skarefinansieringsprojek het gevolg. Amper 2 000 beleggers het kragte saamgesnoer en Donner gered. Vandag floreer dit.

Skuins oorkant staan die Laurenskerk as ’n simbool van die veerkrag waarmee Rotterdam se mense hul stad heropgebou het.

’n Watertaxi op die Maasrivier. Foto: Inge Kühne

Van daar na die Markthal, een van die mees ongewone kosmarkte wat jy ooit sal sien. Dis in die vorm van ’n massiewe halftonnel. In die sye is daar woonstelle, ondertoe kantore, maar van binne is die beskilderde dak ’n massiewe, helderkleurige skildery. Die punte van die tonnel is bedek met glaspanele waardeur die omliggende geboue ook soos skilderwerk lyk. (En die kos is heerlik. Elke toeris moet die Hollandse tradisionele vars – oftewel rou – haring probeer.)

Naby Donner kan jy op ’n watertaxi spring. Ons s’n was weinig meer as ’n sesman-skuit met ’n skipper en ’n enjin. Vaar op die Maasrivier af tot by die plek van waar die Nederlandse setlaars sedert die 1600’s na Amerika vertrek het. Daar is ook, glo dit of nie, ’n waterbus waarop mense elke dag werk toe en terug pendel.

Van daar af kan jy oor die ikoniese Erasmusbrug stap. Dit verbind Noord- met Suid-Rotterdam en is die eerste foto wat verskyn as jy “Rotterdam” Google.

Rotterdam stasie
Rotterdam se stasie.

n Lewende skildery

Dit bring jou by die museumkwartier, met ’n pragtige tuin en uitstalruimtes. En dis hier waar Rotterdam ons asem weggeslaan het. In aanbou is die Boijmans Van Beuningen-depot.

Die gebou is 40 m hoog, en wanneer dit klaar is, gaan 70 000 kunswerke daarin uitgestal word – die kuns wat voorheen in die Boijmans Van Beuningen-museum se argief geberg is.

Die depot is in die vorm van ’n pot – dink aan die kalbas van die FNB-sokkerstadion in Soweto. Maar die hele, massiewe gebou is bedek met glaspanele waarin die omliggende stad se mengelmoes van vorms en kleure weerkaats word. Jy kan selfs jouself in die weerkaatsing vind.

Die effek is onbeskryflik. Dis asof jy voor ’n lewende skildery staan wat soos ’n kaleidoskoop elke uur van die dag, en met elke tree wat jy gee, voor jou oë verander.

Die gebou gaan aanstaande jaar klaar wees en in 2021 vir die publiek open.

Daar is geen twyfel nie dat dit een van die mees ikoniese geboue op aarde sal wees.

Jy sal dit maar self moet gaan sien, want dit help nie om Rotterdam te probeer beskryf nie. Rotterdam moet jy belééf.

Soos die digter Deelder skryf: “Rotterdam is geen illusie / door de camera gewekt / Rotterdam is niet te filmen / Rotterdam is vééls te ècht.”

Meer oor:  Nederland  |  Besoek  |  Reis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.