Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Beste pad met uitsig

Wie wil nou vlieg as die uitsig padlangs dié tussen Kaapstad en Knysna is, skryf Hendrik Hancke.

Die lieflike swembad van Tsogo Sun se Cullinan-hotel. Foto: Karen Pienaar

Soms is die kortste pad tussen twee punte nie om te vlieg nie. Juis daarom het ons twee troue-reisigers die afgelope Desember besluit om eerder van Kaapstad na Knysna te ry as om te vlieg.

Die afgelope jaar was ek verskeie kere in Kaapstad vir werk en hierdie keer het ons ons eerste aand in Tsogo Sun se Cullinan-hotel (tsogosun.com/the-cullinan, vanaf R4 390 per kamer) oornag.

Tsogo Sun se Cullinan-hotel in Kaapstad was dié twee langpad-reisigers se eerste oorstaanplek.Foto: Karen Pienaar

Dié spesifieke vroeg-Desember-Vrydag, skaars 40 minute nadat my vlug van Johannesburg af geland het, teken ek in die hotel se voorportaal in. My reismaat, Karen, het reeds daar gewag.

Yskoue biere en ongelooflike Suid-Afrikaanse wyne langs ’n hemelblou binneplein-swembad het ’n luilekker aand vlietend laat voel.

’n Gawe mengsel van Suid-Afrikaners en oorsese gaste het sommer gou oor en weer gekuier.

Later die aand het die Nespresso-masjien in die kamers dit ontgeld toe ons twee, soos wafferse wêreldreisigers, geklee in hotel-japonne en -pantoffels, ’n laaste Kaapstadse kuier ingekry het.

Die volgende oggend het ons behoorlik weggelê aan die reuse-ontbyt. ’n Tweede skep en selfs ’n derde skep het skuldgevoelvry gebeur. Wie kan dan anders met die tafels wat so kreun onder die gewig van al die watertand-disse en vars vrugtesappe?

Met swaar harte moes ons ons huis weg-van-die-huis groet en die eerste been van ons reis aanpak.

Ná die langpad moet ’n mens eers ’n bietjie leeglê.
Die “vampier” wat ons buite Riviersonderend opgelaai het.Foto’s: Hendrik Hancke

Skilpaaie en vampiere

Die swaarmoedigheid het egter gou op die rug van die langpad verdwyn. Dalk was dit Karen se afslaandak-Audi en die wind in ons hare, dalk die somerson en die winkende horison.

Van Kaapstad slaan ons die N2, rigting George. Somerset-Wes, Grabouw, Botrivier en Caledon glip verby.

Die vernietigende droogte se vaal vingermerke is oral sigbaar op die landskap.

Naby Riviersonderend sien ons die eerste groenigheid langs die N2.

Ons stop by Die Blou Skilpad om dit met ’n koppie boeretroos te vier. Die Blou Skilpad is ’n familieonderneming.

Hierdie koffiewinkel lyk kompleet soos ’n pophuis en het gesellige stoep- en tuintafels waar die hele gesin (en troeteldiere) welkom voel.

Die spyskaart het alles van ontbyt en middagete tot ligte happies. Heerlike tuisprodukte soos konfyt en heuning word keurig uitgestal.

Die Blou Skilpad is by Hoofweg 20, Riviersonderend en kan telefonies bereik word by 083 387 1977.

Die wegholbrande van die afgelope twee jaar in die Suid-Kaap se uitwerking word nou nog deur rolspelers in die toerismebedryf aan hul lywe gevoel. Geen wonder personeel en gaste by Die Blou Skilpad het kort-kort ’n bekommerde oog in die rigting van die Riviersonderend-berge gegooi nie, waar rook weer bo die koppe begin dwarrel het.

Net buite Riviersonderend gewaar Karen ’n ryloper met ’n kan petrol.

Haar hart duidelik sagter as dié van ’n hardgebakte joernalis, hou sy stil en laai die man op.

In die omdraai hoor ek hoe sy hom groet en dadelik vra of hy kontaklense dra. Ek wou haar nog aanspreek oor so ’n persoonlike vraag, maar skrik myself boeglam toe my oë met sy soliede rooi oë kontak maak.

Ons het dalk ’n vampier opgelaai!

Ons reisgenoot stel ons egter gou gerus. Hy is op pad na Vortex en is glad nie allergies vir sonlig nie. Vortex is ’n trance-partytjie wat in die berge van die omgewing gehou word.

Glentana se strand was byna verlate.Foto: Karen Pienaar
Die Blou Skilpad-koffiewinkel en bistro in Riviersonderend is gesinsvriendelik, en troeteldiere is ook welkom.Foto: Karen Pienaar

Stil strande en besige kroeë

Swellendam, Heidelberg en Albertinia het oor die loop van die volgende twee uur verby geblits soos Daisy (Karen se Audi) die pad verorber het.

Op Glentana wag Dolphin’s Nook op ons – ’n onderarm-klipgooi van die strand af en beskikbaar vir besprekings op Airbnb.

Die wye vryheid van Glentana se strand het ons asem weggeslaan. Reg voor Dolphin’s Nook is ’n bruggie teen die helling af strand toe, wat toegang tot die see ’n plesier maak.

Op ’n bykans verlate strand het ons tweetjies gou die langpad afgeskud. Veilige swemplek met lewensredders is daar wel – omtrent 500 meter ver na al twee kante toe – maar ons twee reisigers was heeltemal tevrede om reg voor ons blyplek in die vlakker golfies rond te plas.

Ná ’n uur of wat van leeglê was ons reg vir nog avontuur, en die Suid-Kaap het wéér nie teleurgestel nie.

Die musikant Albert Meintjes (hoofsanger van die ou Oppikoppi-gewoontemisdadigers Scicoustic) het sy nuwe solo-album, Peace & Tunes, by Bongos (bongos.co.za), ’n pizzakroeg in Wildernis, bekend gestel.

Nóg yskoue biere en smullekker pizzas het die twee padvoos reisigers gou verkwik, en Meintjes se musiek was ’n heerlike kersie op die koek.

Die eienaar, Jacobus Rabie, is ook nie skaam met sy kuierplek se sogenaamde pitte-drankie nie. Dit is ’n grenadella-drankie wat verby die soetheid hard slaan.

’n Bongos-tradisie is dat Jacobus by ’n tafel opdaag en kliphard skree: “Hoe laat is dit?!” Gereelde klante skree dan in antwoord: “Pitte-tyd!” – en die drankies word gesink.

Ná ’n genoegsame aandjie het ons teruggekeer na ons woonstelletjie in Glentana waar die gesuis van die golwe ons bitter vinnig aan die slaap gesus het.

Voornemende Dolphin’s Nook-besoekers kan Marna Roets bel by 082 442 2781. Die seewoonstel kos R1 500 per dag en het plek vir twee tot vier mense.

Louis en Taleszia Raubenheimer se troue op die Peace of Eden- vegetariese toevlugsoord naby Knysna was ’n wonderskone dag.Foto: Hendrik Hancke

Die eindbestemming 

Die volgende oggend het ons douvoordag die pad na Knysna aangepak. Louis en Taleszia se troue het gewag. In Knysna self het ons eers gou ons sakke en tasse by die Hamilton Manor-gastehuis gaan aflaai en ingeteken.

Die wonderskone uitsig oor die Knysna- strandmeer was hemels en ons moes eers vir ’n glasie vonkeldruif sit.

Diep in die Knysna-woude wag Peace of Eden (bel hulle by 044 388 4671), ’n streng vegetariese toevlugsoord waar die troue sou plaasvind.

Die digte bos, goeie vriende en beboste, byna magiese oord het almal gou aan die kuier gehad.

Taleszia Pillay het in die woud haar eerste beeldskone glimlag as mevrou Raubenheimer gegee en skielik was die hemel los in Knysna.

Later die aand het ek, kort voor die eindfluitjie geblaas het, my beursie misgekuier.

Die volgende oggend is my beursie deur die eienaar van die oord aan my terugbesorg met al die kontant steeds daarbinne. Want dis hoe dit by Peace of Eden werk.

Maandagoggend het ons op Hamilton Manor se stoep vir oulaas ’n Suid-Kaapse ontbyt – met ’n uitsig – geniet voordat ons die terugtog aangepak het.

Twee hartseer reisigers wie se vakansie nou einde se kant toe staan. Hartseer, maar tevrede met die Suid-Kaap se gulhartige gasvryheid.

  • Hendrik Hancke het die Cullinan-hotel, Dolphin’s Nook en Hamilton Manor op uitnodiging besoek.
Meer oor:  Knysna  |  Kaapstad  |  Besoek  |  Reis  |  Pad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.