Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Blomtannie van Belfast

Jo van Staden, eienaar van die From the Earth-kwekery in Belfast, by een van haar outydse sneeubalplante. Foto: Liezel de Lange
By ’n klein kwekery net buite Belfast wag ’n wonderwêreld van blomme, skryf Liezel de Lange.

Sneeuballe, Chinese lanterns, hot lips, irisse in ongewone kleure, malvas, krismisrose en ’n magdom ander kleurryke blomme wag in ’n kweekhuis op die koue Hoëveld om nes te skrop in jou tuin.

Jo van Staden spesialiseer in die kweek van Tonteldoos se beroemde geel varkore, maar by haar From the Earth-kwekery sal jy ook ’n hele klomp ander plante kry.

“Ek kweek plante wat goed groei in die winter en wat die koue kan oorleef,” sê sy.

“Ek kan vir mense sê watter plante het ’n koue wêreld nodig en watter verkies ’n warmer wêreld.”

Haar plante moet uiteraard die koue kan vat, want die afgelope winter het die kwik in die Belfast-omgewing tot -10 °C gedaal. Maar vir nou is dit somer en sy beduie geesdriftig na die blomme wat in my Johannesburgse tuin sal gedy.

Dit, tesame met raad oor watter blomme bymekaar geplant kan word vir die beste indruk in die tuin – nuttige wenke vir ’n nuweling-tuinier.

“Ek hou daarvan om met die natuur deurmekaar te wees,” sê Jo terwyl sy in haar tuin wys hoe die outydse sneeubalplant lyk as dit vir ’n tyd lank uit die kwekerysakkie verlos is.

(Om plante te kweek) is soos om ’n kind groot te maak. As jy ’n goeie kind het, is jy gelukkig. Jy versorg die plante soos kinders, maar dan kom die hael of die wurms.

“(Om plante te kweek) is soos om ’n kind groot te maak. As jy ’n goeie kind het, is jy gelukkig. Jy versorg die plante soos kinders, maar dan kom die hael of die wurms.”

Sy gesels oor die blomme in ons oumas se tuin, terwyl sy ook beduie na die Chinese lanterns in hare sodat “jy kan sien hoe hulle grootword”.

Jo kweek al vir sowat tien jaar plante en kyk ook na bome wat in koue omgewings aard. “Dis nie alles inheems nie, want jy gaan sukkel om byvoorbeeld baie bome te kry wat in hierdie klimaat oorleef.”

’n Ent agter die kweekhuis staan rye en rye swart sakkies in die oopte – Jo wag vir Tonteldoos se beroemde geel varkore (Zantedeschia pentlandii) om kop uit steek voordat sy hulle begin verkoop. “Hulle behoort so teen einde November te begin blom,” sê sy.

Dié geel varkore kom in die natuur tussen rotse en langs stroompies in die omgewing van Tonteldoos, Belfast, Dullstroom, Roossenekal en Lydenburg in Mpumalanga voor. ’n Paar dekades gelede nog het dié blomme glo teen Kersfees in plate in die omgewing gestaan.

Jo hou nie winkelure nie (die kwekery is langs haar huis) en jy moet mooi kyk om die bruin “nursery”-bordjie net buite Belfast, op die R540 na Dullstroom, raak te sien. “Mense kan my bel, maar ek kweek nie laventel en rose nie,” sê sy.

  • Bel Jo by 072 145 8142 of stuur e-pos na pietcs@laeveld.co.za.

Meer oor:  Belfast  |  Blomme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.