Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Blou vlae waai weer trots

Vier nuwe strande aan ons kus spog met blouvlagstatus, skryf Marzahn Botha.

Llandudno-strand het weer sy blouvlagstatus verdien.

In een van pres. Cyril Ramaphosa se omgewingstoesprake verlede jaar noem hy dat 100 strande teen 2030 blouvlagstatus moet hê. Tans wapper daar blou vlae op 45 Suid-Afrikaanse strande, op tien toerismebote en in nege marinas by ons kusdorpe.

Dit klink dalk na ’n moeilike mikpunt, maar vier nuwe strande is pas tot hierdie lysie gevoeg vir die tydperk van 1 November 2019 tot 31 Oktober 2020. Dis Glentanastrand naby George, Castle Beach in die Overstrand en Jongensfontein en Stilbaai-Wes in die Hessequa-munisipaliteit.

Hierdie Suid-Afrikaanse kroonstrande se status is verlede week op ’n geleentheid in die V&A Waterfront aangekondig.

Volgens Vincent Shacks, hoofbestuurder van ekotoerisme by die Natuur-lewe-en-omgewingsvereniging (Wessa), was die strande al vir ’n lang ruk in ’n proeftydperk voordat hulle die volle blouvlagstatus gekry het. “Die strande het dit gekry omdat hul fasiliteite, dienste en die kwaliteit van die water aan al die blouvlagstandaarde voldoen.”

Al die strande moet aan kriteria in vier kategorieë voldoen waaronder omgewingsonderrig en inligting, watergehalte, omgewingsbestuur, veiligheid en dienste.

Kampsbaai (links) en Clifton se vierde strand het weer blouvlagstatus verower.Foto’s: Marzahn Botha
Richard Solomons (skipper) en Melvin Fuyani van die V&A Waterfront sorg dat die vullis daagliks hier uit die see verwyder word. Die V&A Marina het vir die tweede keer in ‘n ry weer Blouvlagstatus gekry.Foto:
Melvin Fuyani van die V&A Waterfront werk daagliks om die vullis hier uit die see te verwyder.
Melvin Fuyani van die V&A Waterfront werk daagliks om die vullis hier uit die see te verwyder. Die V&A Marina het vir die tweede keer in ‘n ry weer Blouvlagstatus gekry.Foto:
Melvin Fuyani van die V&A Waterfront werk daagliks om die vullis hier uit die see te verwyder. Die V&A Marina het vir die tweede keer in ‘n ry weer Blouvlagstatus gekry.Foto:
Muizenberg, een van die blouvlagstrande. Foto: iStock

Blouvlagstatus vir 45 strande

Benewens die vier vlae sal 61 ander blou vlae oor ons kusdorpe wapper. Sien die grafika vir ’n volledige lys.

Die Wes-Kaap spog met die meeste: 33 blouvlagstrande, tien bote en sewe marinas. Daar is tien Skiereilandse strande en meer as 330 lewensredders is sedert September daar aangestel.

Die Oos-Kaap met sy ongerepte strande het ses blouvlagstrande.

KwaZulu-Natal spog ook met ses strande.

SA-strande-met-blouvlagstatus
SA strande met blouvlagstatus.

Die bekommernis oor riviere

Volgens Vincent is ons strande van topgehalte. Sowat 40% van die blouvlagstrande is al tien jaar of langer deel van die program, terwyl sewe strande al 15 jaar en selfs langer op die gewildheidslys is.

“Ons het ook 35 proefstrande in die program wat dalk binnekort hul blouvlagstatus kan verwerf. Dit is strande wie se munisipaliteite hard werk om te sorg dat hulle blouvlagstrande word. Ons werk baie nou saam met die strandbestuurders om hierdie doelwit te bereik,” sê Vincent. “Tog bly die kwaliteit van water wat vanuit die riviere kom ’n bekommernis.

“In sommige omgewings is riviere erg besoedel. Ons moet verantwoordelikheid aanvaar en nie die strande as ’n afsonderlike entiteit sien nie. Die waterkwaliteit wat uit die riviere kom en in die see uitmond is deurslaggewend vir strande om blouvlagstatus te kry. Die hele land moet saamwerk om die kwaliteit van water te bevorder. As ons beoog om blouvlagstatus vir 100 strande te kry, moet ons oor die hele land, nie net in die kusdorpe nie, harder werk om besoedeling te verminder en na die kwaliteit van water om te sien.”

Wessa se blouvlagprogram is in sy 19de jaar en fokus op die bewaring van die mariene en kuslewe, die instel van omgewingsopvoeding en bewusmaking en die bevordering van omgewingspraktyke om toeriste en die plaaslike gemeenskap te betrek.

Die blouvlagstatusprogram se hoofkwartier is in Kopenhagen, Denemarke.

Suid-Afrika was die eerste land buite Europa wat aan die program deelgeneem het. Die enigste ander land in Afrika wat deelneem, is Marokko. Besoek www.wessa.org.za.

Meer oor:  Blouvlagstatus  |  Kus  |  Strande
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.