Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Bo-Kaap: so kleurryk soos Afrikaans . . .

Die Bo-Kaap is een van Kaapstad se oudste en mooiste woongebiede, maar buurtopknapping en ekonomiese vooruitgang bedreig die karakter van die gebied.

Die strate kan gebruik word vir ’n stel van ’n Dulux-verfadvertensie.

Dis Ramadaan. Soos jy deur die strate van die Bo-Kaap loop, deur ­Wale-, Dorp- en Chiappinistraat, dryf daar die heerlikste geure by die kleurvolle huise uit.

Gewildheid is maar ’n dubbellemswaard. Van toeriste tot gewetenlose eiendomsontwikkelaars soek ’n deel van die buurt.

“Ons kook sop,” sê Shireen Narkedien, ons gids en Bo-Kaapse inwoner. “Dis vir iftar, wanneer die vas met sononder gebreek word.”

Ons draai om, kyk in die straat af waar ’n groep Japanse toeriste met spookasempienk hare en Hello Kitty-T-hemde voor ’n turkoois huis poseer.

’n Borriegeel huis in die strate van die Bo-Kaap. Foto’s (tensy andersins vermeld): iSTOCK

“Cheese!” glimlag hulle vir hul vriendin se nuutste iPhone, terwyl hulle ’n V-teken met hul vingers vorm.

In die skone Kaap, met sy David Hockney-blou water by Cliftonstrand en Kampsbaai en inwoners wat almal lyk asof hulle ’n Z-kaart van Boss Models dra, is daar nie ’n tekort aan fotogeniese bestemmings en mooi mense nie.

Maar dis die Bo-Kaap, met sy reënbooghuise, keisteenstegies en die adhans wat vyf keer ’n dag uitgeroep word, wat sorg dat die buurt een van die mooiste, interessantste en mees Instagrambare gebiede in Kaapstad is.

En net soos met die “lelike eendjie” wat in die mooiste, gewildste meisie verander het, soek almal, van toeriste tot gewetenlose eiendomsontwikkelaars, ’n deel van die buurt.

Gewildheid is maar ’n dubbellemswaard.

Jong kinders speel in die strate van die Bo-Kaap.

’n Veranderende buurt

Ons toer begin om 12:00 by die Bo-Kaapse museum, waar ons Shireen ontmoet.

Sy gee vir ons die verpligte kitskursus in Suid-Afrikaanse geskiedenis, Jan van Riebeeck-VOC 101 deur tot die Groepsgebiedewet, totdat sy agterkom ons het darem ’n basiese grondslag.

Toe sy hoor ek en my reisgenoot is joernaliste, word daar na die hoërgraad-weergawe oorgeskakel.

Ek leer feite wat my universiteitsgeskiedenis oorgeslaan het, kry ’n eerstehandse vertelling van iemand wat self en wie se voorsate deur die Groepsgebiedewet moes leef, alles opgedis in helder kwinkslae, so kleurvol soos die huise wat die strate van die Bo-Kaap omraam.

Onverskillige ekonomiese groei in huispryse het egter ’n paar uitdagings na die buurt gebring.

Wanneer die muezzins douvoordag hul adhans begin sing, verloor die ‘eksotiese’ buurt gou sy glans vir baie van die nuwe inwoners en toeriste.

Die Bo-Kaap is tradisioneel ’n Moslembuurt, met ’n meerderheid Kaaps Maleise inwoners, maar die uitsig oor die stadskom van die voetheuwels van Seinheuwel af en die nabyheid aan die middestad het gesorg dat eiendomspryse hier vinniger styg as ’n Tafelbergse kabelkarretjie vol Duitse toeriste.

Op ’n sonnige dag is die blou lug en die helder kleure ’n fees vir die oog.

Gentrifikasie oftewel buurtopknapping – sowel ’n gons- as vloekwoord in die eiendomsontwikkelingbedryf – dwing talle inwoners uit hul huise waar hulle geslagte lank gebly het omdat hulle nie meer die eiendomsbelasting of huur kan bekostig nie.

’n Bo-Kaapse huis wat ’n paar jaar gelede vir onder R500 000 sou verkoop, haal nou R4 miljoen of meer.

Buitelandse beleggers en eiendomsontwikkelaars koop die eiendomme soos soetkoek op, wat wel nuwe ekonomiese geleenthede na die buurt bring.

’n Vyfsterhotel van ’n bekende kettinggroep het onlangs sy deure hier geopen.

En loop jy deur die strate, kan jy stadig maar seker ook die koel tentakels van hipsterisme sien inbeweeg. Skuins oorkant Rose Corner Cafe, ’n staatmakerwinkel in die buurt waar jy onder meer koemkwat-atjar en speserye kan koop, het ’n boetiek met ’n De Stijl-tema oopgemaak. (So hou die nuwe ontwikkelaars die Kaap darem nog Hollands.)

Dis tradisie om jou huis in ’n helder skakering te verf.

En as jou nuwe grotman/Banting/sapvas-dieet ’n moratorium geplaas het op Kaapse koeksisters, is daar darem ’n detoks-sapkroeg in Walestraat waar jy deugsaam aan ’n borrie-amandelmelk-spinasiesap kan teug, nadat jy dit afgeneem het teen ’n kleurvolle agtergrond van ’n Bo-Kaapse huis vir jou Instagram-feed.

Klaagliedere van die bevoorregtes

Maar wanneer die muezzins douvoordag hul adhans begin sing, verloor die “eksotiese” buurt gou sy glans vir baie van die nuwe inwoners en toeriste.

Op die vyfsterhotel se Trip­Advisor-webwerf word daar gal gebraak oor die “raserige moskees” – wat eeue lank steeds elke dag hul heilige rituele voortsit.

Een van die moskees is die Auwal-moskee, Suid-Afrika se oudste moskee wat in 1794 deur Coridon van Ceylon, ’n bevryde slaaf opgerig is.

Die Rose Corner Cafe is ’n instelling in die Bo-Kaap.

Shireen is diplomaties wanneer jy haar oor die verandering van die buurt se demografie en die inkommers se klagtes uitvra. Sy gee egter toe dat eiendoms- en reisagente nie altyd oop kaarte met hul kliënte speel oor die buurt se unieke karakter nie.

“Ons is ’n hegte gemeenskap en ons verwelkom graag nuwe inwoners,” sê sy.

Maar dan begin die inkommers kla oor die gebedsroepers wat “raas” en Eid al-Adha (’n Islamitiese fees waar ’n skaap as offerande geslag word), en hulle wil hê die inwoners moet hul kultuur en tradisies, wat al eeue lank hier bestaan, skielik stopsit omdat hulle laat wil slaap.

Ons stap voort. Shireen word kort-kort gestop deur ’n vriendelike “Hallo, Antie” of ’n “As-Salaam-Alaikum”, die Arabiese groet wat “Mag vrede met jou wees” beteken. Daar word ditjies en datjies uitgeruil oor familielede se gesondheid, asook uitnodigings om later baksels koeksisters te kom oplaai.

Een van haar bure wys trots vir ons foto’s van messelwerk en gewellyste wat hy onlangs by die Kasteel aangebring het. Dis spesialiswerk, en net ’n handjievol vakmanne beskik oor die vaardighede wat deur die Erfenisstigting goedgekeur is.

’n Ou Mercedes staan geparkeer voor die huise.

“In die Bo-Kaap weet almal alles van mekaar,” vertel Shireen. “Dis nie maklik om ’n geheim vir jou bure weg te steek nie.”

Dan trek die muezzins los met ’n gebedsang en mans in wit jurke en kufi-bedekte koppe mik moskee toe om te bid.

As Tafelberg nie voor ons opgedoem het nie, kon dit Malakka in Maleisië of Djakarta in Indonesië gewees het.

Hoe eksoties, dink ek, onwillekeurig.

So Afrikaans soos die Koran

Reisskrywers (en ek is ook skuldig hieraan) is gou om na woorde soos “eksoties” te gryp om die andersheid van iets te beskryf. Met die eerste oogopslag is die Bo-Kaap, met sy Maleierkultuur, helder argitektuur en geurige kos seker vir baie mense “eksoties”.

Maar dis die probleem met die woord. Dis afgelei van die Griekse woord exotikos, wat dui op “volksvreemd” of “die ander”.

En terwyl ons as Afrikaners trots is op die Franse, Hollandse en Europese invloede op ons taal en kultuur, is talle nog huiwerig om aan die Kaaps-Maleisiese kultuur en Islam erkenning te gee vir hul bydrae tot die taal.

Met die woord “eksoties” sluit ons uit, eerder as om dit te omarm en te vier.

’n Hond rus voor een van die huise. Foto: Carla Lewis

Inteendeel, ’n mens kan aanvoer dat die Islamitiese denominasie Sjafisme wat in die Bo-Kaap beoefen word, meer Afrikaans is as die drie susterkerke. Afrikaans het immers nie ontstaan in die hogere gewelhuise van die Hollandse adel nie. Die omies van die VOC was te hoogheilig oor hul gekunstelde Hollands.

Die Taal het sy oorsprong in die kwinkslae en dialektiese skertsery tussen Maleisiese, Ceylonse en Indonesiese slawe in die kombuise van Hollandse slawemeesters, en in madrassas en moskees.

Wanneer ons “baie” benadruk, seker een van Afrikaans se gunsteling-woorde, kom dit nie van Engels of Hollands of Frans nie, maar van die Maleisiese woord “banyak”, wat “vele of talle” beteken.

Die Bo-Kaap is die bronaar van Afrikaans, daar in Dorpstraat waar die eerste Afrikaanse skool in die 1800’s ’n madrassa was en slawekinders hul “koplesse” van Arabies na Afrikaans uit die Koran vertaal het.

Die lekkerste woorde soos “kierangs”, “mielie”, “paljas” “tamaai” en “soebat” het hier uitgeborrel en deel geword het van ons volksmond se leksikon.

Ons laaste stop is by die Rose Corner Cafe. Ek koop ’n houer koemkwat-atjar, ’n bos piesangs, en ’n houer tuisgemaakte blatjang, laat dit oor my tong rol soos die lekkernye wat hulle is.

En ek is dankbaar vir die woorde, oorblyfsels van ’n kosbare vrag, vervoer in die monde van Oosterse slawe wat deur die passaatwinde hier aangewaai is.

Meer oor:  Carla Lewis  |  Kaapstad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.