Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Citrusdal: Waar nostalgie en natuurskoon mekaar ontmoet

Die skilderagtige Citrusdal lê net ’n klipgooi van die Olifantsrivier af en die heerlike sitrusvrugte is maar een van vele juwele wat toeriste hier kan ontdek. Tasneem van Rooyen het besoek afgelê aan dié besonderse dorp.

Die Sandveldhuisie lyk soos iets uit ’n sprokiesverhaal. Hier kan jy interessante bykomstighede soos oorbelle en nekdoeke koop wat deur plaaslike inwoners gemaak word. Foto: Lizelle van Jaarsveld

Rooibostee, boegoe, sappige sitrusvrugte, heerlike wyn en ’n ryk geskiedenis is onder die lekker dinge wat jy in Citrusdal sal proe.

Dié dorpie verwelkom jou met pragtige berge en groenigheid as jy wil wegkom van die grou stad se gewoel.

Met ’n koppie rooibostee in die hand kan jy ontspanne uitkyk oor die Cederberge. Onthou ook om genoeg sitrusvrugte in te laai om terug huis toe te neem.

Die Olifantsrivier wat naby hierdie dorpie verby kronkel, is deur Jan van Riebeeck ontdek en vernoem na die magdom olifante wat hy destyds hier op die oewer gesien het. Interessant genoeg is daar nog geen gebeendere in die omgewing gevind wat aandui dat daar ooit olifante was nie.

Dirk en Annie Smit het ’n groot rol gespeel in die bevordering van die oudste kerk in Citrusdal. Dié kerk bestaan al sedert 1917 en is vandag ’n museum. Foto: Lizelle van Jaarsveld

Die oudste kerk

Een van die grootste trekpleisters is die kerk wat in 1917 in die dorpie gebou is.

Dié historiese gebou is vandag ’n mu­seum waar jy na belangrike artefakte kan gaan kyk – elk afgebaken met ’n spesifieke tema.

Die museum het ’n ouwêreldse gevoel wat jou beslis sal laat dink jy het die vroeë 1900’s betree. Nostalgies! Dís hoe plaaslike inwoners die binnekant van hierdie asemrowende gebou beskryf. Daarom is hulle ook gretig om hul oudhede aan dié museum te skenk.

Die eerste afdeling spog met dooprokke en ’n ou gebedeboekie wat terugdateer na 1741. Jy voel onmiddellik asof jy weer in die kerk sit en besef die sentimentele waarde van elke item. Elke artefak vertel ’n storie van samesyn, eenvoud en gemeenskap.

Verskeie pragtige doop- en trourokke uit die verlede hang teen die mure van die museum. Foto: Lizelle van Jaarsveld

Nes jy dink dié afgebakende vertrek kan nie interessanter raak nie, staar die portret van Dirk en Annie Smit jou in die gesig. Wie was hierdie mense? Dié einste paartjie het bygedra tot die voortbestaan van dié kerk en het R2 200 geleen om die gebou te voltooi.

Hierdie portret is wel anders as die “gewone” outydse foto wat gewoonlik met glas beskerm is. Seker niks buitengewoon nie, want dit is immers meer as 100 jaar oud.

Daar’s egter ’n raaiselagtige spookstorie agter dié portret sonder glas. Dit was aanvanklik heel agter in die kerkgebou gebêre omdat dit so waardevol is. Iemand het eendag die portret op die grond ontdek met die glas wat gebreek is en ’n nota wat sê dat Dirk en Annie bitter ongelukkig is omdat hulle nooit erkenning vir hul goeie daad gekry het nie.

Van toe af hang die portret heel voor in die museum met die geskiedenis langsaan en niemand kan dit miskyk nie!

Of jy nou in die lewe na die dood glo of nie, daar moes ’n rede wees hoekom iemand die nota ontdek het. Wie weet, sonder Dirk en Annie sou die gebou dalk nie vandag een van Citrusdal se besienswaardighede gewees het nie.

Onder die ander geskiedkundige interessanthede in die museum is onder meer sakslag (’n waterdigte velsak), boerseep, musiekinstrumente, plate, medisynebotteltjies, foto’s en Voortrekkerkappies. Daar is selfs ’n besonderse nagrokkie in een van die afdelings wat 90 jaar gelede deur ’n dogtertjie in ’n Kersfeesopvoering gedra is.

Die oudste artefak in die museum is dié gebedeboekie wat terugdateer na 1741. Foto: Lizelle van Jaarsveld
Hierdie spesiale rok is 90 jaar gelede deur ’n dogtertjie in ’n Kersfeesopvoering gedra. Foto: Lizelle van Jaarsveld
Dié pragtige kopbande is onder die vele kreatiewe snuisterye wat deur die inwoners gemaak word. Foto: Lizelle van Jaarsveld
Die Sandveldhuisie bewys “optelgoed is hougoed”. By hierdie huisie is daar ’n plekkie vir elke ou item wat op ’n kreatiewe manier herbruik is. Foto: Lizelle van Jaarsveld
Die Sandveldhuisie bewys “optelgoed is hougoed”. By hierdie huisie is daar ’n plekkie vir elke ou item wat op ’n kreatiewe manier herbruik is. Foto: Lizelle van Jaarsveld

Die Sandveldhuisie

’n Element wat eie is aan klein dorpies is die gemeenskaplikheid en omgee van die mense.

Die museum is dus ook deurlopend besig met projekte waarby die gemeenskap kan baatvind.

Onder hierdie projekte is ’n lees-inisiatief vir kinders, bewusmaking oor herwinning en die maak van draadkarre.

’n Gunsteling is die kopbande, nekdoeke en borsspelde wat van ’n bekende ontwerper se afvalmateriaal gemaak word.

Al hierdie items wat deur die gemeenskap in samewerking met die museum gemaak word, is te koop in die Sandveldhuisie op dieselfde erf as die museum.

Hier voel jy asof jy ’n sprokiesverhaal binnestap met tonne kleur en weggooigoed wat op ’n besonderse manier nuwe lewe kry.

As jy ’n liefde vir die kunste en herwinning het, saamgesnoer met ’n tikkie nostalgie, is die Sandveldhuisie ’n moet-sien!

Skakel Citrusdal se toerismekantoor gerus by 066 401 0610 vir meer inligting.

Meer oor:  Citrusdal  |  Namakwaland  |  Reis  |  Blomme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.