Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Clanwilliam se legendes op ’n besonderse wyse gevier

Buiten die pragtige blomme tydens die blommetyd, het Clanwilliam verskeie besienswaardighede wat jy beslis op jou moet-sien-lysie moet plaas. Tasneem van Rooyen het met inwoners van hierdie merkwaardige dorpie gesels.

Winkels in Clanwilliam het skatlike name soos net die platteland kan! Foto: Lizelle van Jaarsveld

Die bekende storieverteller Tolla van der Merwe en die digter C. Louis Leipoldt is albei gebore en getoë in Clanwilliam.

Hierdie dorpie se inwoners straal behoorlik van vriendelikheid en almal is meer as gretig om jou van dié bekendes en die dorp se ryk geskiedenis te vertel. Die gasvryheid wat jy hier ervaar, is onoortreflik. Jy voel behoorlik welkom die oomblik as jy die dorp binnegaan.

Clanwilliam is natuurlik veral bekend vir die groot opgaardam en as die hartland van rooibostee wat daar vervaardig word. Die winkels in die hoofstraat van die dorpie het interessante name wat eie is aan die platteland, soos Aunti Poppi se Shop en Tolla se sentrum. Daar sien jy die NG (1864)- en Anglikaanse (1865) kerkgeboue slegs ’n paar meter uitmekaar. Albei het argitektuur wat die moeite werd is om te sien.

Die Anglikaanse kerkgebou staan al vir 163 jaar. Foto: Lizelle van Jaarsveld

Besoek ook die gewilde blommekerk en vir ’n groter avontuur kan jy deur Ramskop Natuurtuin gaan stap. Indien jou wandellus nog nie versadig is nie, gaan vra meer inligting by hul toerismekantoor oor die verskillende stap- en fietsroetes in die omgewing.

Daar is ook merkwaardige geskiedkundige geboue, soos die eerste tronk wat tans die museum huisves. Dié museum vat jou op ’n reis deur die jare met al die hoogtepunte wat dié dorp sedert sy ontstaan in die 1800’s beleef het.

Met die intrapslag in die Ou Tronk-museum kan jy jou gereed maak vir ’n ontdekkingsreis propvol interessante artefakte. Om jou tog na die verlede nog meer werklik te maak, weer-spieël die gebou ’n antieke argitektuur wat jou laat wonder of tyd dalk daar stil gaan staan het.

Die verskillende tronkselle is omskep in kamertjies wat ’n spesifieke geskiedkundige persoon of gebeurtenis vier. Die res van die vertrekke in die museum het ietsie van alles uit die verlede.

Hier kan jy meer lees oor die geskiedenis van die dorp, eeue oue ossewaens van nader bekyk, ’n uitstalling van outydse rooibosteeboksies sien en selfs al die gereedskap aanskou wat nodig was om destyds skoene mee te maak. Vir ’n besonderse ervaring, moet jy Leipoldt se graf net buite die dorpie besoek. Die graf lê tussen groot rotse met ’n trap wat jou na bo vat. Die groenigheid van die omgewing vul die bruin kleur van die rotse op ’n besonderse manier aan, wat die hele prentjiemooi uitsig verder verfraai. Dis egter raadsaam om hierdie belewenis te gaan ervaar nadat jy die museum besoek het.

Jy kan destyds se ossewaens in die Ou Tronk-museum sien. Foto: Lizelle van Jaarsveld

Skakel gerus Clanwilliam se toerismekantoor by 027 482 2024 vir meer inligting oor luilekker aktiwiteite en besienswaardighede in dié gebied.

Nog ’n moet-doen-aktiwiteit in Clanwilliam is ’n besoek aan die House of Rooibos-fabriek, wat sy nuwe teehuis op 3 Julie geopen het.

Danksy rooibos se verskeie gesondheidsvoordele, verskaf House of Rooibos tee-ekstrak aan groter maatskappye wat bekende rooibosprodukte vervaardig.

Die bergreekse en rotse daar is prentjiemooi. Foto: Lizelle van Jaarsveld

Op die teehuis se spyskaart is verskeie smullekker rooibosgeregte soos ’n sny rooibossjokoladekoek wat jy op ’n warm dag saam met hul besonderse ystee kan geniet. Binne-in die winkel kan jy verskeie rooibos-skoonheidsprodukte aanskaf, soos lip- en velroom, sjampoe, seep en selfs kosprodukte.

Vir jou gemak bied House of Rooibos ook ’n aanlynwinkel waar jy enige van hul rooibosprodukte kan bestel.

Al hul produkte ruik heerlik! Jy kan eenvoudig nie hier uitloop sonder om ’n paar produkte vir jouself te koop nie.

Om jou besoek aan die fabriek en restaurant nog meer besonders te maak, kan jy ’n aanbieding in een van sewe tale in hul mini-ouditorium bywoon, waar jy na al die interessante feite oor rooibos kan luister.

Vir meer inligting oor House of Rooibos, skakel gerus 027 482 2155, stuur e-pos nainfo@rooibosltd.co.za of besoek www.rooibosltd.co.za.

Tolla van der Merwe is een van die bekende name wat van Clanwilliam kom. Foto: Lizelle van Jaarsveld
C. Louis Leipoldt se graf is ’n belewenis en beslis ’n besoek werd. Foto: Lizelle van Jaarsveld
Binne die Ou Tronk-museum kan jy al die interessante van Louis Leipold op lees. Foto: Lizelle van Jaarsveld
House of Rooibos het smullekker rooibosgeregte en fantastiese velprodukte. Foto: Lizelle van Jaarsveld
Het jy al ooit gewonder watter toerusting alles gebruik was om skoene te maak in die verlede? Jy kan alles hierdie in die Ou Tronk-museum uitvind. Foto: Lizelle van Jaarsveld
Dié dorpie is welbekend vir hul eiesoortige rooibostee wat al ’n hele paar jaar aankom. Dit is interessant om te sien hoe die ontwerp van teebokse oor die jare verander het. Dalk onthou jy dit? Foto: Lizelle van Jaarsveld
Tolla van der Merwe is een van Suid-Afrika se legendes. Baie van sy grappe word tot vandag toe vertel en hy word op verskeie plekke vereer in Clanwilliam. Foto: Lizelle van Jaarsveld
Die Anglikaanse kerk wat al sedert 1865 staan, se argitektuur is besonders. Foto: Lizelle van Jaarsveld

Meer oor:  Clanwilliam  |  Namakwaland  |  Reis  |  Blomme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.