Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Dageraad vanaf ’n tempeltop

Om die sonsopkoms by Borobudur te ervaar, moet jy opstaan nog voor die mossies kan keel skoonmaak, skryf Carla Lewis.

Die sonsopkoms oor die Borobudur-tempelkompleks is ’n magiese oomblik. Sit stil en neem dit in.

As daar al ooit ’n rede was om op te staan voor die haan sy eerste kraai gee, is dit om te sien hoe die son sy eerste strale oor die antieke negende-eeuse tempelkompleks op die eiland Java in Indonesië gooi.

Die bus van Magelang, die naaste groot dorp aan die kompleks, vertrek 04:00 die oggend en die rit duur sowat ’n halfuur. By die ingang van die kompleks word ’n flitslig en koppie koffie aan jou oorhandig. Daarna maak jy jou reg vir die metaforiese reis na nirvana.

Trappe van Verligting

Dis steeds pikdonker en my ou flitsliggie se batterye is duidelik lanklaas omgeruil, so ek tas maar rond in die donker soos ek die steil trappe aandurf.

Die oosterkim is egter besig om te verkleur en die skemeroggend breek deur. Muezzins, gebedsroepers van die omliggende moskees, is besig om hul eerste adhan te sing, net voor sonsopkoms.

En soos jy die trappe uitklim na die piek van Borobudur, omring deur die dreunsang van die muezzins, die kwetter van die eerste voëltjie wat wakker word en hanekraai, voel jy geanker in die heelal. Wanneer jy heel bo kom, raak jy rustig.

Die tempelkompleks se nege vlakke is ’n voorstelling van Boeddha se reis na nirvana.

Onthou hierdie raad

Vergeet van Facebook en Instagram, of om ’n spoggerige twiet uit te stuur om jou vriende jaloers te maak.

Sit neer jou kamera. Dit gaan moeilik wees, want soos die son oor die horison breek en die goue lig oor die tempel val, juk-juk jou vinger vir jou kamera se sluiter. Sit hom weg en raak stil. Soek ’n rustige hoekie, weg van die skares met ’n uitsig oor die oerwoud en pondokkies wat die tempel omring.

(Terloops, het jy geweet die woord “pondok” is direk afkomstig van die Indonesiese woord “pondok” wat huisie of hut beteken?)

Die lug verkleur, eers van indigo na pers en later na ’n salmpienk, terwyl die rook van die aktiewe vulkaan Merapi in die verte oor die hemel krul soos ’n bol lui sigaretrook.

Ek dink aan die wêreld en al sy probleme: aan terroriste wat moor in die naam van geloof, politici wat mag as godsdiens aanbid, Mammon wat deesdae die gewildste god is en kerke wat van liefde en genade preek, maar dogmas van vervreemding volg.

En selfs deur al hierdie onrus en verwarring voel ek ’n verbintenis met ’n goddelikheid, ’n kosmiese aansluiting met die heelal, soos die Islamitiese gebedsroepers sing en die son sy eerste strale oor Boeddha se standbeelde gooi en berg Merapi bolle rook verby die horison uitspoeg.

Dan besef jy werklik hoe klein jy is.

In ’n neutedop

Die Borobudur-tempelkompleks is geleë op die Indonesiese eiland Java en is die wêreld se grootste Boeddhistiese tempelkompleks.

Die kompleks is opgerig as ’n voorstelling van Boeddha se reis na Nirvana.

Volgens die Boeddhistiese geloof is Nirvana ’n transendentale toestand waar jy geen lyding, wellus, ego of selfbewus voel nie. Jy word bevry van die siklus van karma en die lewe en dood.

Dit is die finale bestemming van Boeddhisme en die hoogste toestand van bewustelikheid wat ’n volgeling van die geloof kan bereik.

Ons het die trappe na Verligting geklim, maar as jy meer tyd het, is daar ’n ronde wandelpad wat verby uitbeeldings van die drie wêrelde van Boeddhisme kronkel.

Werd om te weet

Die weer: Die beste tyd om Borobudur te besoek is van April tot Oktober. Dis dan nie so vogtig nie en dit reën ’n bietjie minder.

Verblyf en geldsake: Indonesië bied uitstekende waarde vir geld, jy kan vir ongeveer $20 (sowat R260) per persoon in ’n viersterhotel in Magelang tuisgaan. Bespreek deur booking.com. Vir R1 kry jy sowat 1 000 Indonesiese roepia. ’n Maaltyd in ’n middelklasrestaurant kos sowat R150 en om ’n taxi te huur kos tussen R50 en R100 per uur.

Bespreek: Die Borobudur-sonsopkomspakket kos 450 000 roepia (sowat R450) en sluit tee, koffie en ontbyt by die Manohara-oord, ’n luukse oord reg langs die tempelkompleks, in.

* Besoekborobudurpark.com of www.indonesia.travel.

Carla was ’n gas van die Indonesiese toerismeowerheid.

Meer oor:  Carla Lewis  |  Rondrits
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.