Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Darjeeling – tee in die moesontyd

In die moesonseisoen is Darjeeling se groen heuwels meestal in mis gehul. Foto’s: Este Oosthuizen
In reënseisoen verdwyn die uitsig oor Darjeerling se teeplantasies in die mis, maar die tee bly eersteklas, skryf Este Oosthuizen.

Die geleentheid vir ’n ses maande lange werkavontuur in Mumbai kom nie oor almal se pad nie. Ek gryp dus die kans aan en in die moesonseisoen van 2018 land ek vir die eerste keer in Indië.

Oor die volgende ses maande versamel ek baie stories: ure lange taxiritte van die middestad na Colaba by die see waar jy in klein winkeltjies ingewuif word vir ’n pasgemaakte snyerspak in ’n kits; ’n dagtoer na die Nashik-wynland om Indiese wyn te proe; ’n sonsopkomstoer deur Mumbai tussen koerantverkopers, blommehandelaars en die hawe vol vis waar katte op ’n gelukkie wag; en selfs ’n besoek aan moeder Teresa se kamertjie in Kolkata. Maar in hierdie storie bevind ek myself in Darjeeling, 2 000 m bo seespieël, aan die bopunt van Indië, by die grense van Nepal, Tibet, Bhoetan en Bangladesj, aan die voet van die Himalaja-gebergte.

’n Glasie tee in ’n tipiese teetuin met ’n uitsig.
’n Reis vir die sintuie

Ná ’n drie uur lange vlug land ek op die naaste lughawe aan Darjeeling. Ek soek my gids in die warboel mense wat hul tasse probeer vind, familie groet of my ’n rygeleentheid aanbied, en slaak ’n sug van verligting toe ek hom kry. Om in Indië te reis is ’n aanslag op jou sintuie en ek is bly om vir ’n oomblik rustig in die voorste sitplek van ’n motor weg te sink en die wêreld deur die venster te bekyk. Dit neem my en Sonam, ’n waaghalsige jong kêrel wie se bestuursvernuf al hoe duideliker word hoe verder ons ry, omtrent vier uur om die 65 km tot by Darjeeling te ry.

Op party plekke knyp ek liewer net oë toe, terwyl Sonam verby busse, mense, fietse, honde en bokke sigsag. Gelukkig hoef ek ook nie my oë op die pad te hou nie, want die uitsig is onverbeterlik.

Op party plekke knyp ek liewer net oë toe, terwyl Sonam verby busse, mense, fietse, honde en bokke sigsag. Gelukkig hoef ek ook nie my oë op die pad te hou nie, want die uitsig is onverbeterlik. Hoe hoër ons klim, hoe verder strek die horison in elke kleur van groen waaraan mens kan dink. Ons hou halfpad by ’n klein kafeetjie langs die pad stil om bene te strek en aan Tibettaanse momo’s, ’n gestoomde kluitjie gevul met vleis of groente, te smul. Met genoeg energie om die res van die pad aan te durf, begin ons stadig maar seker deur die mis en wolke ry. Elke nou en dan kom ’n vragmotor of ’n gebou asof uit nêrens te voorskyn en verdwyn weer net so vinnig in die mis agter ons.

My hotel staan aan die bopunt van die inkopiestraat in Darjeeling en ek is in die heel boonste kamer met ’n uitsig oor alles. Die sitkamer in die ou hotel is gevul met gemakstoele, boeke en selfs ’n kaggelvuur, met panoramavensters wat op ’n minder mistige dag oor die dorpie en teeplantasies uitkyk.

’n Klooster, dieretuin, vlugtelingsentrum, en natuurlik tee . . .

Darjeeling het omtrent net een lang straat wat deur die dorpie kronkel met geboue wat aan die een kant bergop troon en anderkant bergaf lê, alles omring deur teeplantasies.

Die dorp is ook nie net bekend vir sy swart tee nie, maar ook vir die Darjeeling-speelgoedtreintjie wat op ’n smalspoor wat uit die 1880’s dateer deur die Himalajas stoom. Rapport Beleef het in Oktober 2019 oor die stoomtreintjie geskryf.

Deesdae word die oorspronklike stoomtrein net gebruik om toeriste ’n smakie van vergange dae te gee, terwyl ’n nuwer dieselenjin die plaaslike inwoners van een dorpie tot die volgende karwei.

Dit neem ’n uur om 8 km te ry tot by die Ghum-stasie waar ek afklim en dis ’n verskriklike geraas en gefluit, maar ek verruil die ervaring vir niks.

Van die stasie af ry ek en Sonam verder die berge in met die motor. Ons stop eers by ’n Boeddhiste-klooster wat in 1850 deur die monnike self gebou is. Die mure is pragtig vol stories geverf met ’n kleurvolle Boeddha in die middel, maar daar is ’n begrafnis aan die gang, so ons bly nie lank nie en vat weer die pad – dié keer na die Darjeeling-dieretuin en die Bergkliminstituut.

By laasgenoemde lei hulle bergklimmers op om die wêreld se hoogste pieke aan te durf. Daar is ’n klein museum wat die avontuurlustige bergklimgees van die mensdom vier en buite pronk ’n standbeeld van Tenzing Norgay, die sjerpa wat saam met Edmund Hillary Everest uitgeklim het.

By die dieretuin moet ek mooi kyk om enige van die unieke Himalaja-diere raak te sien, wat diep in hul hokke wegkruip. Ek kry darem ’n vinnige blik van ’n rooi panda, ’n swart beer en net die punt van ’n Bengaalse tier se stert wat heen en weer swaai.

Op pad terug hou ons by ’n teetuin stil vir nog ’n koppie Darjeeling-tee. ’n Teetuin is basies ’n houthut met bankies teen die muur en ’n groot oop venster wat in die vallei af kyk.

Ons gaan proe ook tee in ’n agterkamertjie van een van die teehuise en ek koop ’n sak vol verskillende soorte tee. Die wit pinksterroos-tee is my gunsteling!

Kos wat nie brand nie

Die volgende dag vat ek en Sonam die pad die berge in en ry deur heuwel op heuwel groen teeplantasies.

In ’n stadium stop hy die kar en wys my dat Nepal aan die ander kant van die pad is. Natuurlik moet ek uitklim en in nog ’n land gaan staan – al is dit sonder ’n visum en sonder ’n stempel as bewys.

Ons stop hier en daar om tee saam met die plaaslike inwoners te drink en tussen die groen blaartjies rond te stap.

Ná ’n laaste aandete van Chinese kos – daar is genoeg Indiese kos in Mumbai en dis lekker dat my mond vir ’n slag nie brand nie – is al wat oorbly nog ’n paar koppies tee voordat ek weer al oë toeknypende saam met Sonam terugry lughawe toe.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.