Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Die ander heilige land

Jordanië se vlag wapper by die Raghadan- koninklike paleis in die ou kern van Amman. Foto’s: Sam J. Basch
Baie Bybelse verhale speel in Jordanië af. Sam J. Basch gaan verken hierdie plekke.

Vroeër jare was daar gereeld advertensies in Rapport vir toere na die “Heilige Land” – Israel.

Tog speel baie gebeure wat in die Christen-Bybel beskryf word in Jordanië af. Dink só daaraan: Jordanië se hoofstad, Amman, was vroeër Rabbath-Ammon – hoofstad van die Ammoniete se koninkryk.

Lees in Deuteronomium 2: “Jy staan op die punt om deur die Moabiete se gebied by Ar te trek, en jy sal naby die grens van die Ammoniete kom. Moet hulle nie aanval en teen hulle oorlog maak nie.”

Die Ammoniete se grondgebied was vir Lot en sy nageslag bestem.

Toergidse wys graag waar Lot se vrou glo in ’n soutpilaar verander het ná die verwoesting van Sodom, en die grot waar Lot en sy dogters geskuil het. Jy sal ook die heuwel gewys word waar die profeet Elia in ’n vuurwa na die hemel opgevaar het, en “Bethanië oorkant die Jordaanrivier” waar Johannes die Doper ook vir Jesus gedoop het.

’n Blaasorkes met doedelsakke.

Deesdae neem ’n taxi sowat 40 minute met die snelweg vanaf die Koningin Alia Internasionale Lughawe na downtown Amman. Al sou die bestuurder sukkel met Engels, is hy vriendelik; een het selfs gevra hoeveel vrouens ek het!

“Downtown” is die naam vir die ou kern van die stad – in der waarheid die interessante deel. Moderne hotelle soos die Grand Hyatt, Sheraton en InterContinental is ’n entjie wes hiervandaan, op die roete tussen Eerste Sirkel en Sesde. As jy iewers heen wil gaan, is hierdie verkeersirkels jou bakens.

Soos Rome is die stad glo op sewe heuwels uitgelê, hoewel dit na heelwat meer as sewe lyk. Telkens glip die pad in ’n tonnel onderdeur die heuwels waarteen die huise opstapel.

Hoewel ’n antieke land, is moderne Jordanië in onlangse politiek gebore. Gedurende die Eerste Wêreldoorlog het die legendariese Britse kolonel T.E. Law­rence die Arabiere in die Groot Arabiese Opstand gehelp om die juk van die Ottomaanse Turke af te gooi. Die bekroonde 1962-rolprent Lawrence of Arabia oor sy eskapades in die Wadi Roem-woestyn is nogal in Jordanië verfilm. Sonder sy medewete egter, het Brittanje met Frankryk gekonkel om verskeie Arabiese state te skep soos wat hulle vandag daar uitsien: Jordanië, Libanon, Irak, Sirië. Die staat Israel sou later uit Palestina gekerf word.

Amman word beskou as een van die langs-bewoonde stede in die wêreld. Stap in die ou deel op na die Sitadel-heuwel, oftewel Jabal al-Qal’a in Arabies, ’n vesting waar die reste van oeroue beskawings lê.

Oorblyfsels van die Tempel van Hercules wat uit die Romeinse era dateer.

Een van die opvallendste strukture is die Tempel van Hercules. Dit dateer uit die Romeinse era, 63 v.C. tot 324 n.C., toe die stad in die klassieke argitektuur van Rome herbou is. Ewe indrukwekkend is die Oemajjad-paleiskompleks uit ongeveer die agtste eeu.

Oeroue geskiedenis

Maar die geskiedenis gaan nóg verder terug. Neolitiese oorblyfsels van 7 000 jaar oud is by Ain Ghazal aan die buitewyke van Amman gevind.

Sowat 3 000 jaar gelede kom koning Dawid hier moeilikheid maak. In 2 Samuel 11 lees ons:

“In die lente, die tyd waarin die konings gewoonlik optrek . . . het Dawid op ’n keer vir Joab en sy soldate en die hele Israel uitgestuur. Hulle het die Ammoniete verslaan en Rabba (Rabbath-Ammon) beleër, maar Dawid het in Jerusalem agtergebly.”

Ja, dis toe hier waar hy ná sy middagslapie die mooie Batseba vanaf die paleis se dak raaksien. En ons onthou wat toe gebeur het . . !

Kry nou koers na die noorde. Sowat 50 km van Amman is die aanskoulike Grieks-Romeinse stad Jerasj, destyds Gerasa genoem. Dit was in die Gilead-streek waarvan ons in Rigters 10:8 lees. Eeue lank onder woestynsand begrawe, is Jerasj herontdek en opnuut blootgelê. Veral die ovaal forum en hippodroom is mooi en ook Hadrianus se Ereboog; eintlik ’n poort vir die keiser wat die stad in die jaar 129 besoek het. Interessant genoeg is hier ook ’n tempel vir Artemis, Bisantynse kerke vir sint Joris, die heilige Petrus en Paulus, vir Johannes die Doper, asook ’n sinagoge. Praat van geloofsverdraagsaamheid!

Ál meer moderne geboue en luukse hotelle verrys in Amman.

As jy in Juliemaand hier is, woon gerus die Jerasj-fees by waar ballet- en opera-uitvoerings saans in die verligte ruïnes gehou word.

Nie ver hiervandaan nie, op ’n heuwel met ’n uitsig oor die Jordaanvallei en die See van Galilea, is Oemm Qais, vroeër Gadara genoem. Dit was eens ’n kultuurstad van klassieke digters en filosowe. Dis hier in Gadara waar Jesus glo duiwels uit die besetenes verdryf het wat toe in ’n trop varke ingevaar en in die see verdrink het.

Argeoloë is hard besig met uitgrawings in Pella, kort duskant Oemm Qais. Hier is bouvalle van stede uit die vierde eeu voor Christus. As Pella bekend klink: Dis mos ons sendingdorpie in die dorre Noord-Kaap.

Die Rooisee by Aqaba se water is helder en skoon, met korale en selfs vliegtuigwrakke om te verken.
Duik in die Rooisee

Dis tyd vir ontspan. In Jordanië se verre suide is Aqaba, waar jy in die Rooisee kan duik of snorkel. Aan die Golf van Aqaba, op ’n flentertjie kuslyn tussen Israel en Saoedi-Arabië, spog dié paradys met ’n matige klimaat – selfs koning Abdoellah II het ’n winterpaleis hier. Vir die duikers is daar meer as 200 soorte korale en ook skeepswrakke, selfs gesinkte vliegtuie, om onder die skoon water te verken. Dis ’n beskermde mariene gebied waar jy kan waterski, seil en selfs hengel.

Volgens die Ou Testament het koning Salomo hier skepe gebou “in Esjon-Geber by Elat aan die kus van die Rietsee in Edom”. Elat is vermoedelik Eilat teenaan Aqaba, net oor die grens met Israel.

Hiervandaan kan jy ’n motor huur om Petra te bereik. Dis die “verlore stad” van die Nabateërs, antieke Arabiese nomade wat hier ’n welvarende koninkryk gevestig het. Nadat die Romeine die Nabateërs se stad oorgeneem en selfs baddens en ’n teater gebou het, het dit in vergetelheid verval. Eers in 1812 het ’n jong Switserse ontdekkingsreisiger, Jean Louis Burckhardt, vermom as ’n Moslem-pelgrim, die antieke stad “herontdek”.

’n Toeris neem foto’s van ’n sandkunstenaar in die mark.

Eintlik is Petra baie eeue ouer as die Nabateërs. Daar is bewyse dat mense hier bedrywig was in die tyd van die Egiptiese farao Toetankamen. Die streek rondom Petra was “die land van Edom”. Die Edomiete het fabelagtig ryk geword uit handel, soos ook die Moabiete ’n entjie verder noord.

Bespreek verblyf in een van die vele blyplekke om minstens twee of drie nagte in Petra oor te bly. Dit strek oor ’n groot gebied wat tyd neem om te besigtig. Bowenal is dit aanskoulik in die vroeë oggendlig. Die koninklike graftombes vertoon op hul beste in die laatmiddag.

Volgens oorlewering is Moses se broer Aäron hier in die berge begrawe.

Gepraat van Moses; volgens die Ou Testament mog hy nie self die “Beloofde Land” binnegaan nie. In Deuteronomium 32 lees ons:

“Klim op Neboberg in die Abarimberge in Moab regoor Jerigo en bekyk Kanaän wat Ek vir die Israeliete as besitting sal gee. Jy sal sterf op die berg . . .”

In die Moses-gedenkkerk op berg Nebo is steenwerk van Christen-kloosters uit vervloë tye wat in aardbewings in die sesde eeu en weer in die 11de eeu verwoes is. Pous Johannes Paulus II het die kerk in 2000 besoek.

Sout pak saam op die rotse by die Dooie See, die laagste plek op aarde, waar jy dryf eerder as swem.
Onder seevlak

Om die outentieke ervaring van “swem” in die Dooie See te ervaar, slaap oor by een van die kusoord-hotelle. Jy gaan ’n stort benodig, want die water is só sout dat jou vel olierig sal voel ná die “swem” – eintlik dobberend dryf. Moet liewer nie skeer vóór jou swem nie; jy sal vreeslik brand van die soutwater, ook as jy daarvan in jou oë of mond kry!

Dalk wil jy ’n modderbad-behandeling hê, waarna jy beslis sal stort. Die Dooie See is deel van die slenkdal wat ook deur Afrika loop. Dit lê 400 meter onder seevlak, die laagste plek op aarde, en het geen uitlaat vir sy water nie. Vanweë verdamping word die water al hoe souter – amper tien keer meer as in die see.

Jy kan heerlik eet in Jordanië – hier is ’n oordadige nagereg in die hotel.

Die Hasjimitiese Koninkryk van Jordanië grens aan Saoedi-Arabië, Sirië, Irak, die Palestynse gebiede en Israel waarmee vriendskaplike bande lank reeds bestaan. Suid-Afrikaners benodig ’n visum om Jordanië te besoek. Ek het vlugte op die Qatar-lugdiens bespreek.

By hotelle en restaurante is die personeel meestal Engels magtig. Benewens heerlike en eksotiese Midde-Oosterse geregte, kry jy enigiets van hamburgers tot pasta en alles tussenin. Alkohol is nogal geredelik beskikbaar in die hotelle en restaurante. Jordanië maak selfs goeie wyne. Die geldeenheid is Jordaniese dinar – “JayDee” in die volksmond.

Bespreek vir uitstappies by ’n toeragentskap. ’n Gids maak dit soms net soveel makliker om besienswaardighede te geniet.

Meer oor:  Reis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.