Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Die blues in verlate delta

Lank voordat Memphis geruk-en-rol het en New Orleans opgejazz is, was daar die Mississippi Delta Blues – musiek met eenvoudige akkoorde en herhalende lirieke oor ’n lewe van rugbreekwerk en swaarkry, frustrasie en teleurstelling, kansvatters wie se geluk met dobbelstene of kaarte nooit wou draai nie, mans wat ontrou is, vrouens wat ontrou is, min geld en te veel whisky.

’n Road trip deur Mississippi op die spoor van die Delta Blues is ’n avontuur soos min. Foto’s: Mercia S. Burger

Om by die delta en sy blues uit te kom, volg ons die US 61 South- bordjies vanuit Memphis (dis US 61 North vanuit New Orleans). Aanvanklik is die pad blink van casino’s en kettinghotelle. Buite Tunica stop ons by die Gateway to the Blues-besoekersentrum om ’n padkaart te kry. Van hier af volg ons die Blues Trail wat met blou roetemerkers langs die pad die verhaal van dié musiek en sy mense vertel.

Verlate Clarksdale

’n Oorywerige pamflet beskryf Clarksdale, die nie-amptelike geboorteplek van Delta Blues, as “… a musical navel …” Toe ons vieruur Maandagmiddag die onderdorp binnery, is daar geen navel nie. Ook nie voetgangers, straatverkopers, honde of verkeersligte nie. Nou en dan ry ’n motor verby.

Die Hooker Hotel, waar ons wou bly, is gesluit. (Nee, die hotel is genoem na bluesman John Lee Hooker, ’n vorige inwoner.) Teen die deur is ’n telefoonnommer, maar niemand antwoord nie. Ek maak seker. Ja, hier is Yazoo Street en Sunflower Street – veronderstel om die rofste bluesstrate en grootste partytjie in die delta te wees – albei verlate. Oorkant die hotel is die Cat Head (cathead.biz), ’n winkel wat moeilik bekombare blues-CD’s en -plate verkoop. Dit is ook ’n goeie plek om Roger Stolle, die eienaar, se Hidden History of Mississippi Blues aan te skaf. Dis ook gesluit. Bokant die deur hang laas jaar se Kersversierings.

Verder straat af probeer ons die Clarksdale Riverside Hotel. Ook toe. Hierdie hotel was voorheen ’n hospitaal. Ná ’n motorongeluk is Bessie Smith, die ystervrou van blues en onbeskaamd queer, in kamer twee dood. Gerugte volhard dat ander hospitale tyd verspil het deur te weier om haar op te neem – dit was in 1937 en ja, ons is in die diepste diep Suide.

Clarksdale lyk plek-plek soos ’n spookdorp.

’n Draai deur die onderdorp laat ons met ’n verslaentheid. Soveel leë geboue met stowwerige vensters, deure toegekap met plankbord en spykers, ’n Paramount-rolprentte­ater met ’n For Sale/To Rent-bordjie.

Ons kry uiteindelik ’n B&B vir $80 en vind die enigste oop juke joint, die Bluesberry Café & Bakery. Ja, sê iemand genaamd Watermelon Slim, hulle werk hier op delta-tyd, en die meeste plekke maak vanaf Sondag tot Woensdag toe. Maar gelukkig vir ons, sê hy, waarborg Clarksdale (die navel, onthou?) dat daar elke aand by ten minste een juke joint blues sal speel. En vanaand is dit die einste Bluesberry se beurt.

Ons betaal $5 om na Lightnin’ Malcolm te luister. Die plek loop gou leeg toe almal buite gaan staan en rook. Toe ons ons kelnerin soek, sien ons sy het intussen agter die tromme ingeskuif.

Kies koers op Route 61 South vanaf Memphis as jy die Blues Trail wil aanpak.

Ground Zero

Die volgende oggend lyk ons lewe beter. Clarksdale se bekendste blues-klub, Ground Zero, wat aan Morgan Freeman behoort, maak oop vir middagete (ground­zerobluesclub.com). Hier het al die tuisdorp se blues-musikante opgetree: John Lee Hooker, Ike Turner, Howlin’ Wolf, Son House, Ma Rainey, asook die dorp se nuutste superster, Christone “Kingfish” Ingram.

Terloops, Tennesee Williams was ook ’n Clarksdaler. Soms hoor ’n mens die blues in die dialoog van sy toneelstukke.

Terwyl ons wag dat Ground Zero oopmaak, hou ’n motor stil, ’n motordeur gaan oop en die blues bars om ons los. Ontmoet vir Razorblade! Hy versamel gou ’n groepie toeriste om hom (ja, daar het intussen ’n paar ander mense opgedaag) en vertel sy storie. Hy was in Viëtnam. Toe hy terugkom, was sy vrou swanger met ’n ander man se kind. Hy het die kind soos sy eie grootgemaak, maar sy vrou het hom in elk geval gelos. ’n Regte blues-storie . . . Natuurlik koop ons sy CD ($10) van dáárdie keer toe hy by Ground Zero opgetree het.

Ons bestel tamales vir middagete, met ’n bier om die rissie te blus. Alles op die spyskaart is diepgebraai – groen tamaties, aspersies, rape, piekels, hoender en katvis. Oorkant Ground Zero is die Delta Blues Museum, ’n ou stasiegebou met blues-memorabilia en die oorspronklike bywonershuis van Robert Johnson. Geen foto’s word toegelaat nie, maar kyk gerus na deltabluesmuseum.org.

Muurkuns in Leland laat ’n mens weer en weer kyk.

Die duiwel se kruispad

Net buite Clarksdale, waar High­way 61 en 49 kruis, hang drie blou staalkitare in die lug teen ’n paal gemonteer. Vir die volledige storie, kyk gerus die dokumentêr Devil at the Cross­roads op Netflix. Dis hiér waar die legende van Robert Johnson afgespeel het.

Johnson was ’n katoenplukker, lief vir vroue, whisky en musiek, maar volgens skinderstories ’n swak kitaarspeler wat meer geraas gemaak en snare gebreek het as iets anders. Toe verdwyn hy vir ’n jaar uit die delta. Niemand hoor of sien hom nie.

Eendag is hy terug en met ’n gly van sy hand speel hy gelyktydig ’n melodie en bas op ’n sewestring-kitaar. Van ’n patetiese tokkelaar tot virtuoso? Nee, niemand kan só gou só goed word nie, brom die delta. Daar moes ’n ander verklaring wees, en vandaar die legende.

By die Crossroads het die duiwel aan Johnson besonderse kitaarvaardighede gegee in ruil vir sy siel. Luister na King of the Delta Blues Singers en jy sal verstaan. Selfs ’n jong Bob Dylan was geïnspireer.

Die Blues Trail in Mississippi verskaf sonder twyfel ’n onvergeetlike avontuur.

Verder met die delta af

Vanaf Clarksdale is dit plat, oop vlaktes van wit katoenvelde, modderige moerasse, vleie vol sipresse en bayou-bome, vervalle rooidakskure en bywonershuisies, en een ná die ander For Sale/For Rent-dorpie.

In Rosedale stop ons by die White Front Café. Die rakke is leeg en die vrou lyk skoon verskrik om kliënte te sien. Dis die vloede wat mense laat opgee en wegtrek, sê sy toe ons vra oor die verlatenheid. Luister maar na “High Water Everywhere” deur Charley Patton: “The back water done rolled and tumbled, drove me down the line.”

Daar is ’n interessante storie oor The Crossroads . . .

Niemand kan hier meer ’n bestaan maak nie. Mississippi is die armste staat in Amerika. En nee, dis oukei, sy wil nie geld hê vir die lekkergoed wat ons koop nie. Sy wil ons met goeie herinneringe van Mississippi laat. My hart breek so bietjie.

Die Mississippi-rivier is duidelik nie meer die gemoedelike Ol’ Man River van Mark Twain nie. Dis ’n beneukte bruin stroom wat gedurende reënseisoene ’n landskap kan plat vee. Plek-plek is die rivier se kronkels reguit gemaak om die vloede te beheer, damme en reservoirs is gebou, hoër oewerwalle is met levees (betonblokke en kabels) versterk. Maar die rivier laat hom deur niks voorsê nie, en met toenemende klimaatverandering is oorstromings nou ’n jaarlikse terreur.

Die oewerwalle kraak en die water tref dorpe met tien keer die sterkte van die Niagaraval.

Tussen Merigold en Cleveland neem ons ’n grondpad na een van die laaste oorspronklike juke joints, Po’ Monkey. Van daar af ry ons deur nog katoenvelde en moerasse, hou buite Cleveland stil by die Dockery Farms-plantasie, waar Charley Patten en Robert Johnson gewerk het. Ons is die enigstes daar – private toere moet vooraf gereël word.

In Leland besoek ons die High­way 61 Blues Museum (307 North Broad Street) en stap daarna deur die dorp om na die muurkuns te kyk.

Slegs in Indianola is daar soveel toerbusse voor die BB King Museum (400 Second Street) dat ons nie kans sien om in te gaan nie.

Die katoenvelde wat verby die motorvensters flits sorg vir mooi foto’s.

Ons laaste nag is in die Greenville Inn . . . wel, in Greenville, teenaan die grasbegroeide oewerwal. In die kroeg maak ons vriende met ’n black jack-deler – hi yall! – en ’n reisende verkoopsman. Met die laaste hel en hoogwater, vertel die deler, het net die toringvlaggie van die casino uitgesteek. Sy koop vir ons elk ’n pickleback – piekelsap met ’n skoot bourbon. As Big Mama Thornton haar gin saam met melk kon drink – om gesondheidsredes natuurlik – kan ons seker picklebacks drink.

Toe ons ’n dag later van die delta in binneland toe ry, wonder ek. Daar is twee redes om na die blues te luister. Omdat jy goed voel of omdat jy nie goed voel nie. Ek was nie heeltemal seker hoe ek voel nie. Hierdie dorpies is gedaan en vergete, maar ja, die musiek, die blues, leef nog voort.

Ek sit Razorblade se CD in die Chevvy se CD-speler. Die ou bliksem. Die CD suis net. Daar’s niks op nie.

Po’ Monkey is een van die oudste juke joints in Mississippi.
Die moerasse bied ook iets interessants om na te kyk.
Ou Razerblade in Clarksdale het ons vermaak met sy stories, en ons toe met ’n leë CD met ’n slap riem gevang.
Ground Zero in Clarksdale.
Die Mississippi-rivier soos gesien in Greenville.
Meer oor:  New Orleans  |  Memphis  |  Vakansiebestemming  |  Reis  |  Toerisme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.