Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Dié dinge maak van Hopefield so ’n besonderse plek

Hopefield is nie net ’n kleurvolle paradys gedurende blommetyd nie, die inwoners bewaar ook hul geskiedenis soos ’n kleinood. Tasneem van Rooyen het gaan uitvind wat die belangrikste doendinge in hierdie dorp is.

Die All Saints Anglikaanse kerk is pragtig van binne en staan al sedert 1865.

Hopefield lê amper weggesteek tussen die bome en jy mag dalk vrees dat jy die afdraai gemis het op pad soontoe. Jy moet jou oë op die pad hou, want jy wil nie dié mooie ou dorpie oorslaan nie.

Hopefield is oorspronklik as ’n kerkgemeenskap vir graan- en skaapboere ontwikkel. Vandag is die dorp bekend vir die diverse fynbossoorte wat swerms bye lok en wêreldklas heuning verseker.

Klein-dorpie elemente soos stilte en gemeenskaplikheid is opsigtelik en die dorp se ryk geskiedenis en kultuur word goed bewaar.

Maak seker dat jy op jou blommetoer al die lekker en fassinerende plekkies hier besoek.

Simply Bee het ’n byekorf van glas wat besoekers ’n blik gee op die geheime lewe van dié hardwerkende insekte.

Hier is van Hopefield se aanloklikhede:

Simply Bee Observation Centre: By dié gewilde opvoedkundige sentrum kan jy meer leer oor die belangrikheid van bye vir ons toekoms. Die byekorf van glas sal vir ekstra opwinding sorg, want dit gee jou ’n blik op die doen en late van hierdie harde werkertjies.

Hulle bied ook organiese produkte soos Weskus-fynbosheuning en vlugtige olies te koop aan.

Dit is die ideale gesinsuitstappie met lekker koek en koffie! Bel gerus vir Helena van der Westhuizen of Yolanda de Beer by 022 723 0569, stuur e-pos na ­info@simplybee.co.za of besoek www.simplybee.co.za vir meer inligting.

Die Plaasmol : Net buite Hopefield is die onvergeetlike Plaasmol-padstal. ’n Lekker warm koppie koffie en gesellige geselsie voor die kaggel is net die ding om jou siel op ’n koue wintersdag te voed. Onthou net jul draftekkies, want daar is ’n ywerige haantjie by die Lady Bug-troeteldierwinkel wat baas van dié plaas is en jou ’n bietjie onverwagse oefening kan laat doen.

Vir meer inligting, skakel gerus 074 924 8478.

Simply Bee maak en verkoop organiese byewasprodukte.

Die Hopefield-museum:Vir ’n reis terug in die geskiedenis kan jy dié museum besoek. Hier kan jy verskillende artefakte van die dorp besigtig asook ’n klein fossiel-uitstalling wat onder meer ’n afgietsel van die “Saldanha-mens” insluit.

Vir meer inligting, skakel gerus 073 187 6764.

Fijnbos Safaris Farm: Hulle bied ’n onvergeetlike jagervaring aan oorsese en plaaslike jagters. Of jy nou jagtery op jou vakansielysie wil sit of ’n ernstige jagter is, hulle het die regte pakket vir jou.

Vir meer inligting, skakel 083 301 0389 of 082 890 3076.

NG Kerk: Dié kerk is in 1879 gebou en in 1909 vergroot om die groeiende gemeenskap te huisves. Dit is ook die tuiste van ’n Foster & Andrews-orrel wat vandag nog by elke diens die gemeente begelei.

Slegs tien van dié orrels is na Suid-Afrika ingevoer en die Hopefielders is met reg trots op hierdie wonderlike antieke instrument wat nog net so goed klink soos heel aan die begin.

Daar sal tydens die skou daagliks musiekuitvoerings wees.

Die NG Kerk in Hopefield is in 1879 in gebruik geneem.

All Saints Anglikaanse kerk: Die All Saints Anglikaanse gemeente in Oudekraalfontein, Hopefield, bestaan sedert 21 September 1865 en het ’n interessante, dog hartseer geskiedenis. Die eerste kerkgebou – ’n pragtige, spierwit rietdakgebou met drie gewels by Kerkstraat 54 – is deur die gemeente self gebou en in 1924 in gebruik geneem. Dié kerk se binne-ontwerp is werklik asemrowend en die moeite werd om te sien.

Meer oor:  Namakwaland  |  Hopefield  |  Blomme  |  Reis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.