Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Die geboue is weg, maar die herinneringe bly

Deur die jare was daar minstens agt plaasskole in die Philippolis-distrik waarvan die laaste in die 1960’s gesluit het by Philippolisweg, die stasie.

Deesdae skroom Philippolisers nie om 180 km af te blits om hul kinders by byvoorbeeld Grey of Oranje te gaan haal op ’n Vrydag nie. Maar destyds het dit byna ewe lank met ’n perdekar gevat om die 13 myl (21 km) af te lê van die stasie na Philippolis.

Op Philippolisweg, dié dorp se eertydse stasie, is daar deesdae niks oor nie. Philippolisweg ís weg. Tog was daar vir nie minder nie as ses dekades ’n skool hier. Foto: Jens Friis

Philippolis het in 1872 ’n permanente skool gekry. Die eerste plaasskool met onderwyser D. Naudé sy deure in 1877 op Bankfontein geopen. Dié plaas is naby die distriksgrens van Luckhoff wat 90 km van Philippolis is.

Ook op Donkerpoort was daar ’n plaasskool. Dit was lank voor die dae van Oranjekrag (deesdae Gariepdam) en Philippolis se boere het tot hier gewoon. Van 1887 tot 1936 was daar ’n skool op Waterkloof waarvan die leerlingtal in 1903 tot 55 gegroei het.

Na die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) het die vooroorlogse skole op Boshoffsrust en Groot Zonderhout nie weer geopen nie, maar skole is wel in 1903 begin op die plase Driefontein, Kleinwaaihoek, Pienaarsfontein en dan ook Philippolisweg.

By dié stasie sou ’n skool wees vir ses dekades.

Henna, Heinrich en Wilna Grundlingh en ook hul neef Hendrik Grundlingh was leerlinge van dié stasieskool.

“Daar was gewoonlik gemiddeld sewe kinders in die skool van sub A tot st. 5. Die gevolg was dat ons baie “slim” was teen st. 5 en dan al die werk uit ons koppe kon opsê!”

Daar was net een onderwyser op ’n keer. Mnr. Nicolaison (1953 en 1954) is opgevolg deur Faan Ferreira (1955 tot 1962) wat op die nabygeleë Jakkalsfontein geboer het. Daar was toe nog “ ’n jong ou van Springfontein” vir ’n jaar of twee totdat die skool gesluit het rondom 1964.

Van die kinders wat ook op die stasie skoolgegaan het uit daardie jare was Kato Ferreira, Johanna Maartens en Ezette en Pedro Ferreira. Die Ferreiras was die enigste plaaskinders.

“Die ander kinders was nooit lank in die skool nie. Dit was gewoonlik blanke arbeiders wat die vragmotors afgelaai en baie gewissel het.”

Die stasieskool was in ’n L-vorm-gebou met een groot klaskamer met ’n stoep en dan ’n groter klaskamer wat as saal gedien het. Hierin is dikwels flieks van Al Debbo en Frederik Burgers vertoon.

Daar was ’n groot vrugteboord en ’n vierkantige sementdam onder die bloekombome. Daar het al ons Grundlings onsself leer swem in die yskoue water!

Wilna se pa, die stasiemeester Connie Grundlingh, het in 1964 in haar matriekjaar verhuis en “ek neem aan die skool is daarna gesluit”. Dis met groot nostalgie dat Wilna terugdink aan haar jare op Philippolisweg.

“Oom Faan het ons saam met die dorpskinders laat atletiek doen en ons het met sy groot Pontiac-motor ingery dorp toe.

“Ons het ook die wonderlikste basaar gehou een maal per jaar. Oom Faan het van sy plaaswerkers gebring, pale geplant en die vierkant voor die skool met spoorwegseile dak opgesit.

“Ons het meer geld met ons basaar gemaak as die dorpskool. Almal in die kontrei het gekom. Dit was ’n behoorlike fees!”

Op die skoolterrein was die onderwyser se huis, maar die laaimeester het daar gebly.

“Daar was ’n groot vrugteboord en ’n vierkantige sementdam onder die bloekombome. Daar het al ons Grundlings onsself leer swem in die yskoue water!”

Sedert die sluiting van die spoorlyn van Springfontein via Philippolisweg na Fauresmith, Jagersfontein en Koffiefontein het verval ingetree.

Daar is vandag feitlik niks oor van dié nedersetting nie.

  • ’n Hardebandboek in volkleur met meer as 200 blaaie oor Philippolis en sy skoolgeskiedenis word op 2 November bekend gestel op ’n reünie van die Hoërskool M.T. Steyn. Vir meer besonderhede, stuur gerus e-pos na mtsteyn@outlook.com.
Meer oor:  Kontrei  |  Reis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.