Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Die Groot Niks se stofpaaie

Suidwaarts op die sinkplaatgrondpaaie vanaf Namibië se grens doen Ilse Zietsman aan by Kuboes, Garies, Port Nolloth, Kleinsee... 

Plek-plek langs die Oranjerivier gedy wingerdaanplantings. Foto’s: Ilse Zietsman

Toe ons kinders was, het my ma altyd gesê: “As die wiele draai, is ek in!” Dis ongetwyfeld aardjie na sy vaartjie (oftewel moertjie) wat geld, soos my eie liefde vir rondry getuig. Daar staan mos juis in Esegiël 16: So moeder, so dogter.

As jou wederhelf dus vir ’n vergadering na die suide van Namibië moet ry, spring jy in en gebruik julle die geleentheid om ná afloop van die sakepraatjies al reisende saam suidwaarts terug te ry.

Koop so ’n T-hemp op Garies.

Ons laat wiel vroegoggend van die Norotshama Rivieroord (www.norotshamaresort.com) waar ons vanaf ons chalet op die Oranjerivier aan Namibië se kant uitgekyk het, want ons wil kuier-kuier ry en stop vir foto’s as die lus ons pak.

By Aussenkehr (www.aussenkehr.com) is ’n Spar-supermark, asook ’n kitsbank en drankwinkel. Draf hier in vir padkos of as jy iets vir die aand se kosmaak nodig het.

Verder aan lê die berge blou en lila weerskante van die pad; party van die kranse lyk soos versiersuiker wat teen ’n koek afdrup, en plek-plek groei wingerd langs die pad.

Een van die laaste ponte in Suid-Afrika is by Sendelingsdrif in die Noord-Kaap.

As jy voet in die hoek sit – versigtig nou, dis ’n grondpad – neem dit jou net-net minder as twee uur van Norotshama na Sendelingsdrif (dit word ook soms Sendelingsdrift gespel), ’n grenspossie in ’n klein geboutjie.

Jy kan nie regtig verdwaal nie behalwe as jy by die vurk in die pad regs draai; dan mik jy vir Rosh Pinah, ’n myndorpie in die suide van Namibië. Op die padteken staan egter duidelik “Pontoon RSA Border” met ’n pyl wat wys dat jy links moet draai.

By Sendelingsdrif se grenspos aangekom, is die kans goed dat julle op enige gegewe oomblik die enigste mense is wat ’n stempel in jul paspoorte aanvra.

Hierna gaan jy met ’n enjingedrewe pont, een van die laastes wat nog in Suid-Afrika bedryf word, vanaf Namibië se kant van die Oranjerivier na Suid-Afrika se wal. Nadat jy die vriendelike pontwagters bedank het, wag die imposante hoofingang van die Richtersveld Nasionale Park (www.sanparks.org/parks/richtersveld/) en ’n grenspossie, nog kleiner as dié een aan die oorkant van die Oranjerivier, op jou.

’n Stopstraat in die middel van nêrens.

Die groot niks en Kuboes

Die Richtersveld Nasionale Park is deel van die Ai-Ais Richtersveld-oorgrenspark.

Met vooraf bespreking kan jy hier in ’n sinkplaatkothuisie oorslaap. Die huisies is basies, maar toegerus met alles wat jy sal nodig kry.

Pasop net vir die apies; hulle is absolute karnallies en weet gou as daar nuwe gaste opgedaag het. Dis nie om dowe neute dat jy gewaarsku word om jou deure en vensters toe te hou nie.

Van Maandae tot Saterdae van 8:00 tot 16:00 is hier brandstof beskikbaar.

Ons besluit om weer vroeg te ry. Die oggendstond het immers goud in die mond. Nadat ons Helskloofhek deur is, besluit ons op die ingewing van die oomblik om te gaan kyk hoe Kuboes lyk. Ons nuuskierigheid is nog meer geprikkel omdat ons nog nooit van die plek gehoor het nie.

Daar gaan nie veel aan op Kuboes nie.

Ons ry lank deur die Groot Niks. Net gruis en sand, klippers en droë bossies, sulke hoë telefoonpale. ’n Padteken waarop Bloeddrift staan laat ’n mens so ietwat gril as jou verbeelding op loop raak.

’n Stopteken in ’n drom geplant in die middel van die Groot Niks ontlok ’n gegiggel. Ons tel ’n ryloper op. Hier steek niemand duim uit nie; die voertuie stop vanself as hulle iemand langs die godverlate pad sien.

Met die nader ry lyk dit of Kuboes (www.richtersveld.net/index.php/site/town/kuboes/) in ’n stofkom lê. Dis ’n afgeleë dorpie wat in die middel 1800’s as ’n sendingstasie van die Rynse Sendinggenootskap gestig is.

Hoewel daar nie op die oog af veel aangaan nie, het Kuboes ’n verweerde sjarme met ’n mooi kerkkompleks. Op ’n netjiese stofplein staan ’n kerk, ’n losstaande kerkklok tussen pilare onder ’n dakkie en groen en afgewitte kerkgeboue, wat in 1893 ingewy is. Die hout binne-in die kerk is afkomstig van ’n skeepswrak wat by Port Nolloth sy moses teëgekom het.

Die dak- en ruitlose Paradise Café, die Saamwerk Café wat lyk of dit nog net in naam bestaan en die Kleinbegin Winkel, al een wat nog flink sake doen, het kleurvolle advertensies wat met die hand geverf is. Die krulle van die C’s van Coca-Cola is mooi nagetrek, Fanta Nagemaakte Lemoendrank se oranje is al verbleik, Smarties Melksjokoladedoppies tuimel by ’n langwerpige boksie uit, en langs ’n worsrol en ’n frikkadelbroodjie staan “Kry dit!”

Wasgoed wapper vrolik aan draadheinings. Van die Kuboesers sit in hul kamerjasse om agterplaasvuurtjies, want vroegoggend kan dit snerpend raak.

In die strate is motorwrakke as straatversierings ingespan. ’n Voëlverskrikker met uitgestrekte arms, stokbene en ’n verfblikgesig lyk of hy sy kop knik toe ons die langpad vat.

Die blou-en-wit kerkie van Immaculate Heart of Mary in Port Nolloth.

Soek ‘Seedelwer’ en ‘Lucky Strike’

Port Nolloth gaan, ná Ausenkehr, Sendelingsdrift en Kuboes, soos ’n stad voel, maak ons geselsies op die grondpaaie op pad soontoe.

In Port Nolloth (www.portnollothinfo.co.za) aangekom, is ons spyt daar’s nie tyd om ook hier ’n nag oor te slaap nie.

Ons neem die blou-en-wit Immaculate Heart of Mary-kerkie met ’n Maria-beeld in ’n spoelklipboog en die goudgeel driehoekige kerkgebou van die Shalom-gemeente af, drentel deur die Port Nolloth-museum, wring ons hande omdat die Ou Ou Skuur-geskenkwinkel toe is en kyk leepoog na die spyskaarte van Nemo’s Restaurant en Vespetti Restaurant, waarby ons ook nie vandag gaan uitkom nie.

By Weskus Motors Stop Shop adverteer prente op die muur dat jy hier alles kan koop wat jy vir visvang nodig het: katrolle, sinkers, hoeke, visstokke, aas en lyn. Ook droëwors, biltong, rissiehappies, pasteie, gas, ys, braaihout en vleis.

Ons neem maar gerieflikheidshalwe aan dat die verkoop van “vuurwapen” en “ammunisie & bybehore” ’n onnadenkende grappie is.

Orals in die dorp en in die baai lê bote. ’n Mens kan ’n kortverhaal net oor die bootname skryf. Op bootrompe lees ons: Port Jolly, Baby Blue, Seedelwer en Lucky Strike.

Die geverfde advertensies op Kuboes se kafees is nog in mooi Afrikaans.

Kleinsee staan leeg

Dis weer tyd vir aanstoot met sinkplaatgrondpaaie langs. Ons skud by tye ons mangels los, maar draai net die musiek harder. Daar is min dinge lekkerder as om ’n meer onbekende deel van ons land te verken.

Die Grootderm Handelaar wat sommerso op ’n vlakte voor ons opdoem, is besiger as die dorpie Kleinsee.

’n Entjie verder sien ons eers ’n verbleikpienk lugspieëling voordat ons oë blikvarke uit oliedromme, ’n ingeduikte tjor, ’n lendelam houtwaentjie en ’n skewe ploegskaar uitmaak. Alles met dieselfde pienk verf bygedam. Blou kruiwaens en oranje seeboeie staan tussenin. Dis die Spogplaas Gastehuis (www.boekenbly.co.za/go/af/spogplaasalexanderbay.html), lees ons op die bordjie langs die pad. Ons knoop geselsies aan en onderneem om ’n volgende keer hier oor te bly.

By Kleinsee gaan niks meer aan nie. Die gordyne roer nie eens voor die vensters nie. Selfs voor die straatnaambord Delwers­laan is ’n hopie sand gewaai wat sommer net daar bly lê het. By ’n huis in Hospitaalstraat beaam ’n bordjie wat ons vermoed het: “Kaapstad – 670 km”.

Hondeklipbaai aan die Weskus is ongerep.

Soms lei alle paaie na Garies

Ons stoot aan na Hondeklipbaai (www.hondeklip.co.za). Óf jy ontwikkel ’n geneentheid vir Hondeklipbaai óf die plek staan jou glad nie aan nie. Waar dit Hondeklipbaai aangaan, is daar nie ’n middeweg nie. Ons kom ooreen dat ons nie ooreenstemmigheid oor dié plek gaan bereik nie.

Dop en Kreef het ’n uitsig oor die see as die weer mooi genoeg is sodat jy buite kan sit. Volgende keer gaan sit ons egter aan by die vissersboot wat pens en pootjies op droë grond binne in die Rooi Spinnekop Restaurant lêplek gekry het, neem ons ons voor.

Plig – en die katte by die huis – se roepstem raak al hoe harder. Daar is nog net tyd om by Garies (www.westcoastway.co.za/garies/) aan te doen.

Garies Toeristestal, met ’n restaurant en teekamer, is soos die naam aandui op toeriste gemik. Op T-hemde op die winkelrakke staan: London, New York, Paris, Garies. Net Garies se letters vertoon die kleure van die reënboog.

Die Garie

Blou Bakkie Handelaars is in die “hoofstraat” van Garies. Foto:
Totsiens, waai die voëlverskrikker op die rand van die dorp by Kuboes.

s Hotel en Restaurant is mosterdgeel geverf; Sophia Gastehuis is salmpienk met emaljeborde en mosaïekpanele langs die roosbeskilderde voordeur.

Daar is net tyd om oud-kollegas van die hartjie van Kaapstad by die petrolstasie verdwaas aan te gaap, ’n vinnige woordjie te wissel en die pad te vat. Soms, blyk dit, lei alle paaie na . . . Garies.

Met die terugry Boland toe begin ons reeds die volgende plaaslike reis te beplan. So spoedig moontlik.

Meer oor:  Besoek  |  Reis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.