Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Die huiskat is jou gids

Swellendam bied ‘n blik op ’n heel ander leefwyse, skryf Marinda Louw Coetzee. 

Reën sif neer oor die Langeberge en die koring- en kanola-lande naby die plaas Voorhuis buite Swellendam. Foto’s: Marinda Louw Coetzee
’n Uitsig oor die dorp van Kerkstraat af met die imposante NG kerk aan die onderpunt.

Net oorkant die afdraai na die Voorhuis-plaas se skerpgeel kanola-lande en duskant die La Mont-kaasplaas lê ’n dorp. Leivore met bergwater kruis soos blink are deur die strate, tussen knoetserige eikebome en roostuine voor Kaaps-Hollandse huise, verby plaasbakkies en kinders met skooltasse op pad huis toe.

Swellendam, die vierde oudste dorp in Suid-Afrika, lê so ’n raps minder as 200 km van Kaapstad met die N2 langs. Dit is ’n gewilde toeristedorp wat sy plek op die padkaart van die Kaapkolonie verdien het toe dit in die 1740’s as landdros- en landboudorp begin is.

Dit was seker die eerste inkopiesentrum in Suid-Afrika, want hier kon jy alles kry – selfs ’n paar maande in die tjoekie danksy die eerste landdros, die geagte heer Rhenius. Skaap- en perdeboere het hulle gou hier gevestig, wamakers het waens en vervoermiddels herstel en algemene handelaars het aan die kolonie en reisigers na die binneland voorrade en vars produkte voorsien.

Die mooiste ou kombuisgoed is te sien in die Drostdy-museumkompleks se Mayville-huis.

Ervaar toentertyd se leefstyl

Uitstekende voorbeelde van hoe dié mense geleef het, is by die Drostdy-museumkompleks (R25 toegang vir volwassenes en R5 vir kinders) te sien: houtwerkkamers, ’n ystersmid, meul, weelderige meubels en huisgoed in die ou Mayville-huis, asook ’n angswekkende tronksel, kompleet met slaan- en martelgereedskap.

Die dorp word nie net waardeer vir sy geskiedenis nie, maar ook vir sy boomryke tuine en argitektuur waarvan daar verskeie voorbeelde in woonhuise, gewels, gastehuise en ook die reuse-NG kerk in die hoofstraat is (vir R10 kan jy binne gaan kyk).

Een so ’n gastehuis is die verruklike Augusta de Mist (vanaf R860 per persoon), wat in 1802 gebou is en omring word deur 2 ha se tuine. Dit is vernoem na die 17-jarige Nederlandse meisie wat saam met haar amptenaar-pa die ongetemde binneland gaan verken het. Haar dagboek oor hul ontdekkingstog is in die 1800’s in Frans gepubliseer.

Die heldergeel kanola-lande is in die wintermaande ’n bekende gesig in die Overberg en om Swellendam.

Natuurprag

Swellendam bied meer as net geskiedkundige huise en museums. Die natuurskoon aan die voet van die Langeberge kan te voet verken word. Durf die vyf dae lange Swellendam-voetslaanroete aan vanaf die Marloth-natuurreservaat (R40 toegangstarief vir volwassenes, R20 vir kinders) of probeer korter staproetes van 2 km tot 16 km.

Verken ook die Bontebok Nasionale Park (R41 toegangsgeld vir volwassenes, R21 vir kinders). Dis die kleinste nasionale park in die land, maar die woning van die skaars bontebok, asook rooihartbees, grys ribbok, rooikat en aardwolf.

Hier is kort staproetes van tussen 1,6 km en 5,4 km, visvangplekke langs die rivier en bergfietsroetes.

’n Groot oop plein genaamd die Ou Resiesbaan is ook in die park geleë. Vanaf 1848 tot die vroeë 1900’s het perdeboere gereelde perdewedrenne hier gehou. Die baan was egter uiters gevaarlik en vele jokkies het hier gesterf.

Eet híér

Eetplekke op die dorp is volop en pryse wissel van peperduur tot “plaaslik”.

Bespreek plek by die Drostdy-museum se Field & Fork as jy iets wil vier, proe perfekte pizza by die Woodpecker Pizzadeli, gaan koop organiese groente by Seonae Eco Centre, of koop ’n gun (kwarthoender) en tjips vir R35 by Pieta’s in die hoofstraat.

By Barrel & Blues is daar musiek, dansplek en ’n ruim voorgeregporsie krummel-sampioene vir net R45, terwyl Schoone Oordt ’n heerlike middagtee (R95) voorsit.

Die Bukkenburg-pottebakkery is ’n werkende ateljee waar die begeleide toer waargeneem word deur die huiskat.

Sit terug en bekyk die lewe

Daar is baie doendinge, soos perdry by Two Feathers Horse Trails (R400 vir 90 minute) of trekkerritte, glybane en bergfietsry op The Berry Guest Farm (selfsorgverblyf vanaf R335 per persoon, kampplek vir R100 per persoon).

Maar die lekkerste van Swellendam is om, amper as toeskouer, die lewe te bekyk. Daar is ’n kat wat ’n mens tegemoetloop by Bukkenburg se Pottery Studio en ’n vriendelike jong man wat verduidelik hoe die landdros se enorme klerekas sy plek in die museum gekry het.

’n Jong byeboer laai sy bakkie af ná die dag se werk, en mnr. Blinkgedrink wag buite Pieta’s met luidrugtige hoop op ’n ekstra gun en tjips. Buite die tweedehandse- winkel sit die eienaar in die son en luister na Gé Korsten se “Liefling” wat iewers uit die dieptes van ’n geelhoutkas dawer.

Kontakte:
  • Drostdy-museum: drostdy.com, 028 514 1138
  • Bontebok Nasionale Park: 028 514 2735
  • Marloth-natuurreservaat: capenature.co.za, 028 514 1410
  • The Berry Guest Farm: theberryguestfarm.com, 028 514 1919
  • Two Feathers Horse Trails: twofeathers.co.za, 082 494 8279
  • Augusta de Mist: augustademist.com, 082 842 3444
  • Field & Fork: fieldandfork.co.za, 028 514 3430
  • Woodpecker Pizzadeli: Voortrekkerstraat, 028 514 2924
  • Schoone Oordt: schooneoordt.co.za, 028 514 1248

Meer oor:  Swellendam  |  Reis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.