Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Die Klein-Karoo se diamant

Jaarliks, verkieslik in die besige fees- en vakansietyd, wyk Heleen Coertze dikwels uit na stiller bestemmings waar haar siel haar lyf kan inhaal.

McGregor in die Robertsonvallei. Hier vind jou siel weer jou lyf. Foto’s: www.danisphotos.com

Die Overberg-gebied is by uitstek ’n landstreek waar lieflike klein dorpies besige stadsjapies soos magnete nader katrol. Heelwat dorpies hier word omring met wingerde, boorde, ook olyfboorde en eiesoortige Klein-Karoo-plantegroei, maar hier is ’n andersheid wat teen jou kom aanskuur soos ’n vertroude vriend.

McGregor is beslis een van die blinkste diamante in dié streek wat jou reeds met die inryslag subtiel bekoor.

Hier, op die oewer van die Keisersrivier, aan die voetheuwels van die Riviersonderendberge, is die dorpie wat sagkens kan spog met ’n rits aanloklike regmerkies, soos interessant-vriendelike inwoners, landelike 19de eeuse Kaaps-Hollandse argitektuur en baie buitelugaktiwiteite.

Gooi hierby die oulike restaurante, kunstenaars in pottebakkerstudio’s, en ’n bekende toevlugsoord en dis duidelik dat tien dae hier hopeloos te min tyd vir ’n ­ver­posing gaan wees.

Blyplek op die dorp is volop en ons gaan tuis in ’n kliphuis in Darlingstraat langs Die Krans-natuurreservaat op die noordwestelike grens van die dorp.

Binne dae is jy in die roetine om soos die plaaslike inwoners daagliks ’n kort ent deur die klein reservaat te stap. Hier kry jy gou ’n perspektief van die dorp met sy witgekalkte grasdakhuise wat deur die waardige toring van die NG kerk oorheers word.

Is dit die omtes en die ooptes tussen die omringende berge wat so ’n invloed op sy inwoners en besoekers het?

Volgens oorlewering was die Khoi en San die eerste in­woners wat op uitgetrapte veepaadjies oor die Riviersonderendberge deurbeweeg het op hul seisoenale reise see se kant toe. Die bekende 14 km lange Boesmanskloof-staproete wat oor die einste berge Greyton se rigting toe dwing, het heel waarskynlik sy naam aan hierdie moedige mense te danke.

Teen die einde van die 18de eeu het boere, wat die unieke voor­dele van die Klein-Karoo-klimaat ingesien het (min reën, maar volop bergwater), hulle hier kom vestig.

In die toerismekantoor in Voortrekkerstraat maak jy waardevolle historiese vondste wat die geskiedenis van die dorpie stuk-stuk in perspektief plaas.

Hier kry jy boekies en brosjures oor selfbegeleide dorpstappe, fietsroetes, die nabygeleë Vro­lijkheid-natuurreservaat, en wyn- en olyfplase. Die eerste paar dae verken jy die dorp met hulpmiddels soos die VoiceMap-app, wat jy op jou selfoon aflaai en waarmee jy teen eie spoed en energie enige van die vier dorpstappies kan doen.

Die Ou Meule-roete roep nostalgiese konnotasies by jou op van water wat saggies deur dorpsleivore kabbel en reeds met die afskop sien jy vroeë dorpshuise: Op die hoek van Voortrekker- en Van Reenenstraat is ’n Victoriaanse huis wat in 1870 deur die argitek Van Eyssens ontwerp is.

Die Temenos-retreat op die hoek van Bree- en Voortrekkerstraat.

Aan die oorkant is ’n 1861­ gebou en links in Voortrekkerstraat is die bekende 19de eeuse Hoek Huis. Met singende speke tussen boorde vroeg soggens kies jy, na gelang van fiksheid en behoefte, koers op een van sewe moontlike bergfietsroetes.

Jy takel optimisties die Pad na nêrens-roete, ry oor die stuitige Skilpadhoogte en klim eers weer van jou ysterperd af wanneer jy die Lord’s-wynlandgoed sien. Hier, aan die einde van die McGregorvallei, het Jacie Oosthuizen sy wingerde 500 m bo seevlak aan­geplant. Hy het in 2006 in ’n oase van groen grasperke en fynbos sy liefde vir wyn en krieket gekombineer en hier saam met ander aandeelhouers ’n jare lange droom bewaarheid.

Die volgende oggend kies jy ’n heen-en-weertjie per fiets Robertson toe. Die roete begin by die toerismekantoor, af in Voortrekkerstraat en draai links in Kantoorstraat, waar jy grondpad ry tot by die teerpadaansluiting. Met dié 28 km-roete ry jy dikwels tussen wingerde en boorde.

Teen dag ses wyk jy verder uit na die Vrolijkheid-natuurreservaat, naby McGregor. Groot soet­doringkoeltes by die piekniek­terrein lok jou skelm nader, maar die Heron-staproete van 3 km wink veel dringender.

Die kliphuis in Darlingstraat, langs Die Krans-natuurreservaat, waar die skrywer tuisgegaan het.Foto: HELEEN COERTZE

Inligtingsborde oor die fauna en flora hier kikker die mak­like paadjie na die twee dammetjies en hul versteekte voëlskuilings slim op.

Die langer Rooikat-sirkelroete in die reservaat is net vir uithouers en aanhouers. Dié 19 km oor die Elandsberge beloof om ’n heerlike uitdaging vir ernstige stappers te wees.

En so dwarrel die dae verby. Saans kies jy tussen pizza, burgers of selfs beeshaas, na gelang van die eetplek. As bonus sien jy Gerald Clark op klein Saterdagaand by die Courtyard in ’n eer­like, heerlike eenmanvertoning. Later die aand stap jy geluksalig- behaaglik terug kliphuis toe, omring met net Karoo-stilte en ’n sterreskouspel.

Is dit die omtes en die ooptes tussen die omringende berge wat so ’n invloed op sy inwoners en besoekers het? wonder jy op die laaste dag terwyl jy vryf oor Ziggy die donkie se lang kuif by Eseltjiesrus, die herberg vir ontheemde donkies.

Of is dit die ongelooflike insette van die inwoners om van hulleself terug te gee aan hul gemeenskap? wonder jou reismaat. Iemand het hoeka vertel dat daar later vanjaar, die sewende keer, ’n poësiefees in Augustus gaan plaasvind.

Jy besluit terstond om dán terug te kom en nóg tien dae lank jou siel in die stilte te kom terugvind.

Meer oor:  Klein-Karoo  |  Mcgregor  |  Besoek  |  Reis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.