Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Die lyne van reisbestemmings

Die Wes-Kaapse illustreerder en skrywer Duncan Butchart se Afrika-geïnspireerde reisplakkate is deesdae baie gewild onder versamelaars en reisigers. Hy gesels oor sy liefde vir Kuifie, Afrika en hoekom kuns en natuurbewaring hand aan hand kan loop.

Duncan Butchart en sy labrador, Josie.

Die Franse kunstenaar Henri de Toulouse-Lautrec het in 1891 ten tyde van die Belle Époque die wêreldbekende Moulin Rouge: La Goulue-plakkaat geskep. Dis ’n kleurlitograaf waarvan ongeveer 3 000 eksemplare gedruk is en waarop die beroemde can-can-dansers La Goulue en “No-Bones” Valentin pryk. Die plakkaat was destyds ’n advertensie vir die nuwe Paryse danssaal Moulin Rouge in Parys – wat vandag ’n ikoon van die Franse hoofstad is, saam met toeristeaantreklikhede soos die Louvre, Eiffeltoring en L’arc de Triomphe.

Vandag behaal oorspronklike plakkate soos dié van Toulouse-Lautrec hoë veilingspryse en geraamde afdrukke van sy kuns is reg oor die wêreld in huise, kantore, restaurante en ander lokale te sien.

Ikone van Afrika

Die Suid-Afrikaanse kunstenaar Duncan Butchart vorm deel van ’n nuwe generasie illustreerders wat weer terugkeer na die kunsvorm. En net soos wat Toulouse-Lautrec dit reggekry het om die kern van Belle Époque-Parys en al sy ikone met sy plakkaatkuns te verewig, vang Butchart se vintage-geïnspireerde reisplakkaatontwerpe van eg Suid-Afrikaanse bestemmings al die kernkaraktereienskappe van ons land se top-toeristeaantreklikhede vas.

Butchart se The African Journey-reeks bestaan uit plakkate wat Afrika en ook Suid-Afrika se bekendste wildernisgebiede en toeristebestemmings as onderwerpe gebruik. Elke kleurvolle ontwerp bevat kenmerkende landmerke, plante, voëls en diere – die ikone van ikoniese bestemmings.

Op die Drakensberg-plakkaat is die Tugelarivier in vloed met die dramatiese landskap van die Amfiteater op die agtergrond. ’n Kaapse otter is besig om te jag, en ’n baardaasvoël sweef oor die landskap.
’n Tipiese Overbergse toneel: Bloukraansvoëls en geel kanolavelde in blom. ’n Witkruisvleivalk sweef oor renosterveld.
Brilpikkewyne by Boulders-strand in Simonstad, een van Kaapstad se gesogte bestemmings.

Butchart stel van kindsbeen af belang in voëls en die natuur. Die belangstelling het reeds in die woude van Engeland wortelgeskiet, maar toe hy as 12-jarige seun saam met sy ouers na Suid-Afrika verhuis het, het die ongetemde gees van Afrika, veral die Bosveld, hom behoorlik geboei.

“Die dagbreekkoor van voëls, die reuk van stof, die donderstorms, die bedompige reuk wat die aartappelplant met skemer vrystel, kuier rondom die kampvure – dit alles voed my gees. Ek het ’n ywer in my gehad om plante, voëls en ander wesens te ontdek wat ek nog nooit gesien het nie.

“My liefde vir diere en plante het vinnig tot ’n passie vir bewaring ontwikkel.”

Deur die jare het hy geïllustreerde natuurgidse saamgestel en toesprake en lesings vir skoolgroepe, boereverenigings en die publiek gehou.

Kuns vir ’n goeie doel

Butchart teken slegs plekke wat hy self al besoek het. Hy meen dit is ’n voorvereiste om só die kern van die bestemmings vas te vang.

Hy beskou die The African Journey-reeks as die hoogtepunt van sy lewenswerk, wat sy bekoring en besorgdheid oor Afrika se wildernisgebiede uitlig.

Dis ook ’n samevatting van ’n vorige opdragwerk waartydens hy meer as 100 nasionale parke en wildreservate in 11 Afrika-lande besoek het.

In sy Krugerwildtuin-illustrasie loop twee leeus op ’n grondpad terwyl ’n troupant oor hulle swiep en vaalbome op die agtergrond waak. In sy Kalahari-illustrasie sal jy ’n gesin meerkatte, ’n bleeksingvalk en ’n doringboom vol versamelneste vind, ’n tipiese toneel wat jy teëkom wanneer jy by Twee Rivieren se hekke inry.

Tipies Karoo: ’n Windpomp, ’n plaasdam en ’n swetterjoel tarentale wat nes ’n windpomp klink wanneer hulle begin kekkel.
Hermanus is sinoniem met walvisse. Hier swerm seemeeue om ’n suidelike noordkapper se stert.
Ikoniese Krugerwildtuin: Twee leeus loop op ’n grondpad terwyl ’n troupant oor hulle swiep en vaalbome op die agtergrond waak.

“Ek doen jare reeds grafiese ontwerp en was nog altyd lief vir plakkaatkuns. Met die wêreldwye belangstelling in vintage- reisplakkate wat tans toeneem, het ek gedink dis tyd om my eie skeppings in die ruimte bekend te stel.

“Plakkate is oorspronklik as advertensies ontwerp, maar deesdae is dit muurkuns. My doel is om ikoniese beelde van ikoniese plekke te skep, terwyl ek ook meer bewustheid wek oor Afrika se natuurwonders,” verduidelik hy.

Hy het etlike jare met die idees in sy kop rondgeloop, maar verlede jaar eers begin om die werke te skep. Sy eerste twaalf ontwerpe het hy verlede jaar tydens ’n internasionale reisskou in Kaapstad bekend gestel.

Sy langtermyn-doelwit is om sy plakkaatkuns in te span om geld vir bewaring in te samel.

Van Kuifie tot die Kruger

Ikoniese Krugerwildtuin: Twee leeus loop op ’n grondpad terwyl ’n troupant oor hulle swiep en vaalbome op die agtergrond waak.
In sy Kalahari-illustrasie sal jy ’n gesin meerkatte, ’n bleeksingvalk en ’n doringboom vol versamelneste vind, ’n tipiese toneel wat jy teëkom sodra jy by Twee Rivieren se hek inry.
’n Selfportret in dieselfde ligné claire-styl as sy The African Journey.

Die strokiesboeke Die avonture van Kuifie het hom as ’n jong seun geboei. Hy noem ook dat die Belgiese strokiesprentkunstenaar Georges Remi, bekend onder die pennaam Hergé, een van sy grootste invloede is.

“Kuifie se avonture het my op fantasiereise reg oor die wêreld en selfs tot op die maan geneem.”

Hergé se invloed is duidelik sigbaar in sy Afrika-versameling. In sy ontwerpe gebruik Butchart Hergé se ligné claire-styl om Afrika se belangrikste wildernisgebiede en ikoniese bestemmings te illustreer.

Ligné claire is ’n tekenstyl wat Hergé geskep het met Die avonture van Kuifie. Dit beteken “duidelike lyne” in Frans en maak gebruik van netjiese, swart buitelyne en min tot geen kontras. Soos Hergé gebruik Butchart ook sterk lynwerk van dieselfde breedte en dikte.

Die The African Journey-reeks sluit in werke van die Drakenberge, Serengeti, Krugerwildtuin, Okavango-delta, Etosha, Maasai Mara, Mana-poele, Suid- Luangwa, Samburu, die Ngorongoro-krater, Kalahari, Karoo en Sossusvlei, sowel as Kaapstad, die Victoriawaterval, Hermanus, die Piramides van Giza en Zanzibar.

Maricelle BothaFoto:

Butchart sê The African Journey Collection se gewildheid is beslis aan die toeneem en nuwe ontwerpe van nuwe bestemmings word gereeld uitgereik.

“My doel is om die reeks tot 100 bestemmings uit te brei. Daar is tot dusver sowat 40 bestemmings.

“Die Kaapse Wynland, Blyderivierspoort, die Moremi Nasionale Park in Botswana, die Manyarameer, die Ruaha Nasionale Park in Tanzanië en Kakamega, ’n dorpie in Kenia, is tans op my tekenbord.

“Ek het selfs al versoeke gekry vir plakkaatontwerpe oor Johannesburg en Durban. Die gewildste plakkate tot dusver is die Karoo, Krugerwildtuin en Kaapstad met die Drakensberg en die Tuinroete kort op hul hakke.”

Meer oor:  Kuns  |  Reis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.