Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Die penarie met safari’s

Is luukse safari’s net bestem vir die elite? Is dit nog relevant, met sy problematiese koloniale oorsprong? Carla Lewis doen ’n bietjie selfondersoek ná ’n uitstappie na die Manapoele in Zimbabwe.

Die tente by Chi-kwenya is keurig versier en kyk uit oor die vloedvlakte van die Zambezi.Foto’s: Carla lewis

Nadat Melania Trump verlede jaar met ’n kurkhelm op safari in Kenia gekiek is, het die luukse safari as ’n reis weer onder die loep gekom.

Die stormwolke was reeds aan die broei: In 2015 is die popster Taylor Swift daarvan beskuldig dat haar musiekvideo Wildest Dreams – ’n huldeblyk aan die fliek Out of Africa – ’n geïdealiseerde weergawe van koloniale Afrika aan haar aanhangers opgedis het.

Die woord “safari” beteken oorspronklik “reis” in Swahili, maar soos ons dit deesdae ken, roep dit beelde op van Karen Blixen met haar “farm in Africa” aan die voet van die Ngong-heuwels en Meryl Streep en Robert Redford wat oor die vlaktes van Oos-Afrika vlieg in ’n geel Gipsy Moth-vliegtuig.

Dis Wilbur Smith-slapbandboeke met bwanas wat ’n stormende buffel met een kopskoot kan plattrek, en kort daarna ’n maagdelike doedie met ’n piepklein middeltjie in sy safaritent.

In ’n samelewing wat homself gereeld kasty oor identiteitspolitiek en rasseverhoudinge is daar baie mense wat voel dat die Afrikasafari basies dieselfde as die kurkhelm geag moet word: ’n argaïese oorblyfsel van kolonialisme, iets wat eksklusief vir wit mense bestem was, sodat hulle na Afrika se eksotiese wild kon kyk en deur swart mense op die hande (soms letterlik!) gedra kon word.

Dis alles die gedagtes wat deur my kop maal soos die viersitplek-Cessna oor die vlaktes van die Zambezivallei draal, met die Zambezirivier wat in die laatmiddag dofsilwer in die verte skitter.

My bestemming is die Chikwenya-kamp, ’n luukse safarikamp in die oostelike en mees afgeleë hoeke van die Manapoele Nasionale Park.

My ouers was liewer vir die bos as die see en ons vakansies is gewoonlik op die agterkant van Land Rovers deurgebring, eerder as op handdoeke op die strand.

Vandag nog, wanneer ek voet in die bos sit – of dit nou die Krugerwildtuin of ’n wildtuin in een van ons buurlande is – word ek gewoonlik oorval deur ’n diep tevredenheid en ’n verbinding met die landskap. Maar is daar nie tog iets dekadents en amper oordadig om in ’n safarilodge te bly waar die prys per aand dikwels meer is as die gemiddelde huiswerker se maandelikse salaris nie?

olifant
'n Olifant kry iets te ete.

Wat is wáre luuksheid?

Al hierdie interne dermuitrygery word genadiglik, saam met vonkelwyn, vir ’n rukkie op die ys geplaas wanneer jy langs Chikwenya se swembad lê. In die verte lê die berge van die Skeurvallei se platorand en ’n eensame olifantbul wei op die vloedvlaktes.

Dis so mooi hier, jou hart pyn skoon ’n bietjie. In die droë seisoen, skuins voor sonsondergang, verander die omliggende anaboomwoude in ’n sprokieswêreld wanneer troppe olifante, tientalle sterk, soos drogbeelde in goue stofwolke verskyn, soos hulle rivier toe haas om te suip. Die mopaniebome hier is nie daardie kort struike wat ons van die Krugerwildtuin ken nie, hier staan hulle bekend as katedraalmopanies en toring etlike meters bokant jou kop.

Laatmiddag klim jy op ’n bootjie op die silwer waters van die Zambezi om met ’n tiervis te stoei, maar omdat dit ’n bewaringsgebied is, moet jy daardie blinklyf teruggooi. En selfs al is jy nie ’n kranige visserman nie, is die voëlkyk hier fantasties: waterploeërs gly oor die water en swerms rooikeelbyvreters hang in trosse teen die rivieroewer waar hulle broei.

Ongelukkig is die Manapoele nie een van Suider-Afrika se toeganklikste wildparke nie. Zimbabwe se wispelturige politieke toestand en die park se ligging (so reg in die okselholte van Zambië en Mosambiek) stel nogal baie uitdagings aan die avontuurlustigste reisiger. Vrese oor veiligheid en die Zim-petrolprys (teen druktyd was dit amper R50 per liter) maak ’n selfry-safari vir Suid-Afrikaners moeilik. As jy by ’n luukse lodge binne die park bly, sal jy waarskynlik moet invlieg na Harare, Zimbabwe se hoofstad, en daarvandaan jou sak moet skud om met ’n Cessna-vliegtuig na jou bestemming gekarwei te word.

Met die Manapoele moet jy egter onthou: dis ’n kluitklapbestemming, soortgelyk aan die Galápagoseilande van Suid-Amerika, of om in ’n igloe-hotel in Finland te bly om te kyk hoe die noorderligte oor die hemel dans. Jy moet bietjie harder werk om hier uit te kom en die koste daarvan gaan jou spaarfonds so bietjie knak.

So gepraat van dans, natuurfotograwe reis van oor die wêreld heen om ’n foto te neem wat amper ’n ikoon van die Manapoele geword het. As jy Serengeti toe gaan, verwag jy krioelende swartwildebeeste op groen vlaktes, met ’n eensame platkroon-doringboom op die agtergrond.

Dink ek aan Moremi, is die beeld wat by my opkom fris semi-akwatiese leeus wat deur die Okavango-delta se waterkanale ploeg met ilala-palms wat soos groen pompoms bo hulle toring.

By Mana is dit die “ballerina-olifante” wat hulself geleer het om op hul agterpote te staan om by die reuse-anabome se sappigste, heilsaamste peule uit te kom. En soms is jy so gelukkig om die toertjie van jou lodge se voorstoep te aanskou.

Enkele meters van Chikwenya se sitkamer verkyk ek my hoe ’n olifantbul hom soos ’n wafferse Rudolf Nureyev uitstrek in die pagidermiese weergawe van die relevé-posisie. Selfs madame René, my kortstondige balletjuffrou, sou beïndruk gewees het . . .

Die Manapoele is ook een van die min wildtuine in Suider-Afrika wat jy te voet, sonder ’n gids, kan verken. Gedurende die droë seisoen is die plantegroei nie so ruig nie, maar ek wonder ook soms oor die wysheid van die Zimbabwiese Parkeraad se besluit oor die reëling. Sê nou ’n klomp Afrika-maagde uit Amerika of Europa wil vir leeus in die ruigtes gaan soek? Maar, as jy in die bos wil stap, bly dit een van die beste en mooiste gebiede om te voet te verken.

Foster Siyawareva, ons gids by Chikwe­­nya, werk al dekades lank in die streek. Hy ken die wegsteekhoekies en verlate rivierbeddings, en vir die vroegoggendaktiwiteit belowe hy om vir ons een van sy gunstelinggeheime van die Manapoele te wys. Hy parkeer die Land Rover op die oewer van ’n droë rivierloop en ons skuifel-skuifel af teen die rante.

En ewe skielik, ’n paar meters voor ons, flits daar ’n kolkat, ’n luiperd, en verdwyn weer in die ruigtes.

Ons beweeg af in die rivierloop en kom te staan voor ’n rooi krans wat seker ’n goeie 20 m bo ons koppe uittoring.

Benewens die melancholiese fluit van ’n spookvoël is dit tjoepstil.

“Wat noem jy hierdie plek?” vra ek vir Foster.

olifante
'n Trop olifante haas na die rivier om te suip.

“Dit het nie eintlik ’n naam nie. Min mense kom hiernatoe.”

Hy kyk op na die rooi kranse wat bo ons koppe toring.

“Maar dis nogal iets, dis asof daar ’n magiese atmosfeer hier heers. Dis een van Manapoele se geheime waarna ek weer en weer kan terugkeer.”

Dís wanneer jy besef wat ware luuksheid in die moderne reisera is. Dis myle verwyderd van die getal draadjies in jou bed se Egiptiese katoenlinne of die prys van die rooiwyn wat jy om die kampvuur drink. By sommige lodges in die Krugerwildtuin kan jy sommer in ’n middag die Groot Vyf sien van die gerief van ’n teerpad.

Maar om hier, kilometers van enige beskawing, te wees en ’n sielvolle verbinding te vorm met jou gids, om nie net van leeu na renoster te jaag nie, maar in die skadu van anabome en jakkalsbessies na wildehonde te soek, om op jou tent se stoep te sit en te kyk hoe vuurvinkies en kolpensies in die skadu baljaar . . .

Dis meer werd as enige goue bordjie met vyf sterre.

Geniet dit sonder skuldgevoel

’n Mens kan nie die twyfelagtige verlede van die safari ontken nie: foto’s van pres. Teddy Roosevelt wat trots by ’n renoster sit wat hy gejag het; en dagboekinskrywings van die ontdekkingsreisiger Henry Morton Stanley waarin hy skryf oor sy portiere en helpers as weggooibare losgoed, is maar net enkele van die wrang herinneringe van die oorsprong daarvan.

Maar as jy kyk na die rol wat volhoubare luukse safarimaatskappye deesdae speel in bewaring en werkskepping, is dit verblydend om te sien dat die rol van die moderne safari-gas van oorwinnaar en baas na bewaarder en “opvoeder” verskuif het.

Daar is niks meer tyd vir die meerderwaardige bwana nie, jy plaas jou lewe in die hande van jou gids en jy luister na hulle, leer by hulle.

Die hiërargie is afgeplat, in die aande kuier jy ewe lekker met die personeel en gidse rondom die kampvure en breek brood saam met hulle rondom die etenstafels. Soms word lewenslange vriendskappe hier gesmee.

Vir baie van die reisigers bly dit net dit: ’n safari en vakansie. Hulle bly in luukse tente, ervaar hoe spesiaal dit is om in die teenwoordigheid van ’n trop olifante te wees en slaan ’n G&T weg tydens ’n sonsondergang. Hul tente is basies vyfster-villas. En hulle betaal premiumpryse daarvoor.

Maar iewers deur hul reis gaan hulle ’n ervaring hê wat hulle vir die res van hul lewens gaan onthou.

Ses maande van nou sal hulle miskien in ’n wolkekrabber in New York of Hongkong sit, besig om ’n saketransaksie te beklink. Hulle sal ’n slukkie van hul enkel-oorsprong- Ethiopiese koffie neem en binne ’n oogwink weer herinner word aan daai oggend wat soos rooi stof en gekneusde gras geruik het, toe hulle met ’n koppie boeretroos in ’n emaljebeker gekyk het hoe ’n trop olifante in ’n watergat baljaar.

Maar vir die personeel en die wildpark is dit soveel meer. Ek dink altyd aan ’n onderhoud met die Abercrombie & Kent-toermaatskappy se stigter en uitvoerende hoof, Geoffrey Kent, wat basies die uitvinder van die fotografiesafari is.

Nadat hy in 1962 met ’n motorfiets van die Kaap na Kaïro gery het, het hy agtergekom daar is reisigers wat deur Afrika wil toer en meer daarin belangstel om diere met ’n kamera, eerder as ’n geweer, te skiet.

“Wanneer dit by reis kom, het ek altyd hierdie groot woord ‘volhoubaar’ in my kop. Jou produk moet die gemeenskap en die omgewing daar rondom onderhou, en om dit te doen, kan jy dit net op die goeie ou kapitalistiese manier doen. Met geld.

“Mense doen nie goeie dade omdat hulle goeie mense is nie. Hulle het kontant nodig en toerisme word deur geld aangedryf.

“Jy kan nie vir die plaaslike inwoners vertel hulle moet lief wees vir die olifante in hul omgewing nie. Dit gaan oor die inkomste wat hulle uit daardie olifante gaan verdien, en ons dryf dit deur volhoubare toerisme.”

In ’n land soos Zimbabwe betaal daardie tariewe vir teenstropingspersoneel. Dit help dat hierdie stukkie Eden nog ’n rukkie langer vir die nageslag bewaar word.

So, vat maar ’n slukkie van daardie G&T met ’n skoon gewete, en vergeet wat jou woke vriende oor jou safari sê.

Los net om hemelsnaam die kurkhelm by die huis.

Manapoele is die mooiste wanneer jy dit te voet verken.

Meer oor Chikwenya

Chikwenya is in die oostelike gedeelte van die Manapoele Nasionale Park. Die kamp se sewe tente kyk uit oor die vloedvlakte van die Zambezirivier en is omring deur woude van anabome en rooiessenhout.

Dis ’n seisoenskamp wat net oop is tussen April en November.

Suid-Afrikaanse burgers betaal ’n spesiale tarief vanaf R4 940 per persoon per aand. Al jou etes (vier per dag wat ontbyt, middagete, middagtee, aandete en snoephappies saam met jou wildritte insluit), drankies (koeldrank, huiswyn en plaaslike bier en drank), twee wildaktiwiteite per dag en wasgoed is ingesluit.

Aktiwiteite sluit in wildritte, begeleide stapsafari’s met ’n gids en vang-en-vrylaat-tiervishengel.

Lede van die Wilderness Safaris Members Club kwalifiseer vir nog beter tariewe. Die lojaliteitsprogram is eksklusief vir Suid-Afrikaners en die inwoners van uitgesoekte Afrikalande. Lede geniet afslag van tot 80% by uitgesoekte Wilderness-kampe wanneer hulle op die nippertjie bespreek, buite seisoen reis en deel is van die program.

Vir nadere besonderhede oor dié program, stuur ’n e-pos na residents@wilderness.co.za of skakel 021 702 7558 of besoek www.wilderness-residents.co.za.

Meer oor:  Zimbabwe  |  Safari
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.