Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Die ritme van Jantar Mantar

’n Mens sou nooit kon raai dat ’n woord of naam soos Jantar Mantar – met sy speelse rymelary-klanke – na ’n sterrewag verwys nie, skryf Ilse Zietsman.

Die uitsig oor Jantar Mantar in Jaipoer. Foto: Ilse Zietsman

Die woord Jantar kom van die Sanskrit-woord Yantra wat “instrument” beteken.

Sanskrit is ’n klassieke Indo-Europese taal en een van die amptelike tale van Indië, maar dis sedert 500 v.C. nie meer die gesproke taal van die mense nie.

Mantar kom van die woord “mantra” wat “formule” beteken. Juis oor die rymelary-effek is “mantra” omvorm na “mantar” om meer klem op die naam van dié sterrewag sónder ’n teleskoop te plaas.

Jantar Mantar is die algemene naam vir die sterrewagte – daar is vyf in totaal – wat deur Maharadja Sawai Jai Sing II gebou is. Die sterrewagte is in die vroeë 1700’s gebou; bronne verskil oor of dit in 1710, 1724 of 1728 was.

Jai Sing is in 1688 in Rajastan in Indië gebore. Sy pa was ’n maharadja (die titel van ’n Indiese vors) in Rajastan.

As jong seun het Jai Sing onderrig ontvang in Hindi, Sanskrit, Persies, Arabies, wiskunde en sterrekunde. Sterrekunde, oftewel wiskundige aardrykskunde, was sy gunstelingvak.

As jong seun het Jai Sing onderrig ontvang in Hindi, Sanskrit, Persies, Arabies, wiskunde en sterrekunde.

Op 11-jarige ouderdom is Jai Sing se vader oorlede. Jai Sing het die nuwe heerser by Amber in Rajastan geword en het mettertyd ’n reputasie as baie goeie kryger verwerf.

Tydens vader en seun se heerskappy het Rajastan onder Mongolië geval. Skaars het die jong man die troon bestyg of hy is deur die Mongoolse keiser uitgenooi om hom te besoek.

Tydens hierdie ekspedisie het Jai Sing ene Jagannatha ontmoet. Jagannatha het baie van sterrekunde geweet en later het hulle saam aan die oprigting van die Jantar Mantars gewerk.

Voor die klipinstrumente van elke Jantar Mantar opgerig is, het Jai Sing boeke uit Europa (Frankryk, Duitsland, Engeland en Portugal) laat kom. Hy het ook geleerdes van verskillende sterrekundige skole laat kom om soveel as moontlik te leer voor hy met sy projek begin het.

Van die vyf Jantar Mantar-sterrewagte is die een in Jaipoer die grootste (dit is die een wat ek besoek het).

Daar is altesaam 19 groot klipinstrumente, elk met sy eie spesifieke doel, by Jaipoer. Om akkuraatheid te verseker, is die instrumente eers uit hout gemaak en daarna uit klip.

Die belangrikste klipinstrument is die Samrat Yantra, die grootste sonwyser in Indië. Die Samrat Yantra is ’n groot driehoekige klipstruktuur wat beskryf kan word as ’n sonwyser wat tyd in gelyke ure verdeel. Teen die tyd wat Jai Sing sy sonwyser gebou het, het sonwysers al eeue lank bestaan, maar Jai Sing s’n was tot baie meer presiese meting in staat.

Die Ram Yantra stel jou in staat om die posisie van ’n ster of ander hemelliggaam vas te stel. Die Ram Yantra kan net in Jaipoer en Nieu-Delhi se Jantar Mantars gesien word.

Die Jai Prakasj lyk soos twee poedingbakke wat in die grond laat sak is. Die binnekant van die poedingbakke is in spesifieke segmente verdeel. Weerskante is trappies sodat jy onder die “poedingbakke” kan instap.

Buiten die Jantar Mantar is die Paleis van Winde ook ’n moet-sien in Jaipoer. Foto: Ilse Zietsman

Soos die Samrat Yantra en die Ram Yantra, stel die Jai Prakasj jou in staat – dis nou as jy verstaan hoe dit werk – om die deklinasie (afstand tot die ewenaar), hoogte en asimut (toppuntshoek) van die son en sterre te bepaal.

Die Samrat Yantra, Ram Yantra en Jai Prakasj is deur Jai Sing uitgevind. Hierdie instrumente was baie meer gevorderd as ander instrumente wat op daardie stadium in gebruik in Indië was. Met behulp van hierdie instrumente kon meer akkurate kalenders en astronomiese tabelle ontwikkel word. Die instrumente is ook deur jong paartjies – of hul ouers – in Rajastan gebruik om troudatums vas te stel!

Met die uitvinding van die teleskoop – of altans toe dié uitvinding Indië bereik het – het hierdie instrumente natuurlik in onbruik verval.

Daar word geglo dat die Misjra Yantra eerder deur Jai Sing se seun, Madho Sing, gebou is.

’n Interessante instrument – wat net by die Jantar Mantar in Delhi voorkom – is die Misjra Yantra wat gebruik is om die kortste en die langste dag van die jaar te bepaal. Dié instrument kon ook aandui wanneer dit twaalfuur in die middag in ’n paar stede in die wêreld is. Daar word geglo dat die Misjra Yantra eerder deur Jai Sing se seun, Madho Sing, gebou is.

Met of sonder kennis van sterrewagte kan ’n mens kwalik glo dat Jantar Mantar werklik ’n sterrewag is as jy dit die eerste keer aanskou.

Dis egter die moeite werd om dit te besoek; al weet jy minder as ’n kat van saffraan van sterrekunde af. Die elegante lyne van die klipstrukture, stelle trappe wat lyk of dit lukraak rondstaan, klipboë, skewe mure, reusagtige ysterballe en holtes in die grond, lyk na abstrakte beeldhouwerk.

Dis pragtig opsigself en jy kan die mooiste argitektoniese foto’s daarvan neem.

Daar’s ook ’n uitkykpunt vanwaar jy oor die hele Jantar Mantar kan uitkyk.

Waar is Jantar Mantar in Indië?

Die grootste Jantar Mantar is in Gangori Bazaar, J.D.A. Mark, Kanwar Nagar, Jaipoer, Rajastan. Die ander is in Nieu-Delhi, Varanasi en Ujjain.

Besoekure: Daagliks van 09:00 tot 16:30.

Dit is aanbevole om die Jantar Mantars in die middel van die dag wanneer die son skyn, te besoek. Dan is die son reg bokant jou kop en is dit makliker om te verstaan hoe die lesings van die instrumente geneem is.

Daar was ook ’n vyfde Jantar Mantar in Mathura, maar hierdie een het nie behoue gebly nie.

Lees meer by: www.jantarmantar.org

Meer oor:  Indië  |  Jantar Mantar  |  Vakansie  |  Reis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.