Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Die see is weer oop

Skeepsmaatskappye se planne is gereed, ook om binnekort weer hier in Suid-Afrikaanse waters te vaar, skryf Maryke Roberts.
Die MSC-bootmaatskappy hervat binnekort plesiervaarte aan die Suid-Afrikaanse kus.

Vir diegene wat wil, lyk ’n internasionale seereis ál meer moontlik.

Die Europese Unie het planne bekend gemaak waarvolgens internasionale reisigers weer vanaf Junie na die 27 lidlande kan reis . . . mits hulle ingeënt is.

Verder is die Iata Travel Pass, ’n app wat jou sal help om al jou Covid-19-toets- en entstof-inligting te stoor en wat reeds deur 29 lugrederye gebruik word, bekend gestel.

Dis wonderlike nuus vir die sowat 330 000 Suid-Afrikaners wat teen vandeesweek ingeënt is.

Vir die ander is daar darem die goeie nuus dat die MSC-skeepsmaatskappy beplan om in November sy plesiervaarte van Suid-Afrikaanse hawens te hervat. Beplande vaarte wissel tussen twee en 14 nagte. Die eerste is ’n viernag-vaart met die MSC Musica vanaf Durban na die Pomene-eiland in Mosambiek.

“Ons het in November verlede jaar aangekondig dat ons twee skepe in Suid-Afrikaanse waters sal hê vir die 2021-’22-skeepsvaartseisoen. Die evolusie van Covid-19 sal natuurlik bepaal hoe haalbaar hierdie doel is,” sê Ross Volk, besturende direkteur van MSC Cruises Suid-Afrika.

MSC het reeds in Augustus verlede jaar gesondheidsriglyne ingestel wat maklik aangepas kan word by veranderende omstandighede aan wal. Dis in November opgeknap toe gevalle in Europa weer drasties gestyg het.

Nie net moet gaste gesond wees voor hulle aan boord gaan nie, die personeel gaan deur streng prosedures: almal is in hul tuisland getoets en weer voor hulle aan boord mag gaan. Daar bring hulle 14 dae in kwarantyn deur, voor hulle weer getoets word. Aan boord word almal elke week getoets.

“Die riglyne in werking sluit onder meer slegs beskermde landuitstappies, isolasieruimtes aan boord, maskers in openbare ruimtes en minder gaste per vaart in,” brei Ross uit.

Dit het natuurlik in die verlede gebeur dat passasiers vir weke aaneen op bote vasgekeer is nadat Covid-19 by persone aan boord gediagnoseer is. Hierop sê Ross MSC se riglyne is so ontwerp dat die kans dat die virus aan boord kom en versprei baie minder is. Dit was natuurlik nie aanvanklik met die aanbreek van die pandemie die geval nie. “Sou (’n Covid-19-geval) wel bespeur word, het ons mediese personeel aan boord ’n weldeurdagte noodplan (om te volg). Mediese personeel het volledige Covid-19-opleiding ontvang en word deur ’n mediese span aan wal ondersteun,” sê Ross.

Ross sê gaste sal al die gewone vermaak aan boord kan geniet, maar net in baie kleiner getalle en met behoorlike sosiale afstand tussen passasiers. Programme en inkopiegeleenthede is aangepas om te verseker dat gaste in veiligheid kan ontspan.

MSC bied nou verskeie spesiale afslagaanbiedinge aan Suid-Afrikaners, maar met besprekings wat toeneem, kan die aanbiedinge later vanjaar wegval.

“MSC bied ook internasionale skeepsvaarte, maar omdat internasionale riglyne Suid-Afrikaners steeds verbied om te reis, sien ons minder besprekings. Ons beperk Suid-Afrikaners nie om vir internasionale reise te bespreek nie, maar raai hulle aan om met hul internasionale reisagente te gesels voor hulle bespreek.”

Hoewel kenners reken ’n derde golf sal Suid-Afrika in middel Mei tref, glo Ross bootreise sal kan voortgaan. Hy sê MSC sal voortgaan om nou met die regering saam te werk en te bewys dat plesiervaarte een van dié veiligste reisopsies is.

Tog is MSC buigsaam om gaste se vaarte te verseker, sou dit weens die pandemie gekanselleer word. “Gaste kan hul reis herbespreek op dieselfde grondslag, teen geen ekstra koste nie: dieselfde vertrekdatum vir ’n jaar later met dieselfde program en kajuitkategorie.”

Ross sê 65 000 gaste het al saam met MSC gereis sedert die MSC Grandiosa in Augustus verlede jaar weer begin vaar het. “Met elke vaart win ons nog meer inligting in, wat in die volgende vaart toegepas kan word. Almal het voorspel dat die pandemie teen einde 2020 sal begin afneem, maar toe die teendeel bewys is, het ons buigbare riglyne ons toegelaat om onmiddellik te reageer met voorkomende maatreëls, waarop ons trots is.”

Internasionale vaarte

Die internasionale Norwegian Cruise Line (NCL) begin weer op 25 Julie vaar. Die maatskappy hervat toere na Europa en die Karibiese Eilande met drie skepe uit die totale vloot van 17: die Jade, Joy en Gem. ­

Die Jade vaar van Athene vir ’n sewedag- Griekse eilande reis; die Joy vanaf Montego Bay, Jamaika, en die Gem van Punta Cana (La Romana), in die Dominikaanse Republiek. Dis die eerste maal wat NCL van Jamaika gaan vaar.

“Ons het die afgelope jaar sedert ons alle vaarte gestaak het, hard gewerk om ons vaarte aan te pas en ons gaste se veiligheid en gesondheid as sterkste prioriteit te stel. Die geredeliker beskikbaarheid van die entstof het dinge vir ons soos handomkeer laat verander,” sê Harry Sommer, NCL se uitvoerende hoof.

“Ons het ’n wetenskaplike plan saamgestel om ons gaste en bemanning te beskerm. Die SailSAFE™ gesondheids- en veiligheidsprogram bied verskeie lae beskerming teen Covid-19 en is in oorleg met kundiges en wetenskaplikes van die Healthy Sail-paneel en SailSAFE Global Health and Wellness Council ontwikkel.

“Van die riglyne sluit onder meer in aanlyn registrasie, beperkte getalle in restaurante, addisionele toetse wanneer gaste aan wal gaan in lande waar dit vereis word en vroegtydige kennisgewing van enige reisveranderinge. Die skepe het verbeterde lugfiltreringstelsels, groter mediese spanne en daaglikse reiniging van elke kajuit is ingesluit.”

Ook internasionale bootreise is dalk binnekort ’n werklikheid vir Suid-Afrikaners. Hier is Norwegian Cruise Lines se Jade tussen die Griekse eilande.

Wanneer ’n gas enige simptome toon, is daar isolasiegeriewe en selfs riglyne ingestel om die pasiënt by die volgende hawe van die skip te verwyder.

“Alle riglyne geld tot 31 Oktober vanjaar, want soos die inentings wêreldwyd toeneem en al meer wetenskaplike data tot ons beskikking kom, sal riglyne aangepas word.”

Hy sê geen gas wat ’n reis met NCL se skepe bespreek het, sal hul geld verloor nie. Die maatskappy werk op vaartkrediete wat oorgedra kan word tot 31 Desember 2022. Betaling wat voorheen 120 dae voor die vaart moes geskied, is nou ook gewysig na 60 dae voor vertrek.

Oceana Cruises wat onder die NCL-sambreel val, hervat hul skeepsvaarte op 29 Augustus met die Marina wat gebou is vir 1 250 gaste. Die skip sal na Skandinawië en Wes-Europa vaar met baie streng gesondheidsregulasies, vertel Bob Binder, uitvoerende hoof van Oceana Cruises.

Die skeepsmaatskappy het ses kleiner luukse skepe wat tussen 684 en 1 250 gaste kan huisves.

Oceana is bekend vir hul kulinêre uitmuntendheid en gaste wat nie in die restaurante wil eet nie, kan gebruik maak van die 24 uur-kamerdiens en maaltye op jou balkon of in jou kamer geniet.

'n Dokter gee raad

Dr. Nicolaas van der Merwe wat al vir 13 jaar ’n skeepsvaartdokter is, gee die volgende wenke:

  • Was jou hande so gereeld as moontlik – voor en ná etes, nadat jy die badkamer gebruik het, en nadat jy aan relings of stoele en tafels gevat het. Warm water en seep is die beste, maar handreinigerjel werk ook goed. Dit kan jy ook met jou saamdra.
  • Vermy ruimtes met te veel mense.
  • Probeer soveel moontlik tyd op die buitedekke van die skip deurbring – die uitsig is in elk geval die mooiste daar.
  • Volg die skip se maskerbeleid.
  • Monitor jou simptome. As jy enige simptome het, laat weet die mediese span aan boord onmiddellik.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.