Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Die Simson van Boschberg

Boschberg by Somerset-Oos is ryk aan fauna en flora, voetpaaie en watervalle wat besoekers hierheen lok. Dit is egter nie al nie – die berg is vol stories ook, skryf Deonette Haggard.

John Kepe (voor links) saam met die speurders wat hom aangekeer het. Foto: Somerset-east.co.za

Menige besoeker was al in verwondering oor die berg wat oor Somerset-Oos wag hou. Sedert die vroegste tye was Boschberg nog altyd ’n baken vir almal wat in die omgewing van die Vis- en Bosrivier kom nesskop het. Die dorp lê knus aan die voet van die berg wat 2 500 voet (sowat 760 m) daaroor uittroon. Die berg se voorkoms en sy “luim” verander saam met die weer en die seisoene – smaraggroen in die sonlig, skitterblink in die sneeu en juigend in die reën.

Party sê dis ’n toorberg wat jou van ver af nader wink.

’n Ierse priester het sy lewe lank hier aan die voet van die berg gewoon en gewerk. Wanneer hy hartseer van sy kuiertjie in Ierland af terugkeer, is hy gevra: “Hoekom kom jy terug?”

Elke keer het hy met ’n lieflike glimlag geantwoord: “Die berg, my kind, die berg . . . en die son.”

Om dié priester se antwoord te verstaan, móét ’n mens stap.

Die omheinde kampie in Somerset-Oos se begraafplaas waar drie van die vermiste weeshuisseuns begrawe is. Foto: Deonette Haggard

Ruwe rotse bewaak die digbegroeide kruin en hange. So ook groen woude, waar stroompies tussen reuse-geelhout, -nieshout en -olienhout (wilde-olyf) kabbel, asof die bome reuse-ridders is wat wagstaan in ’n ou storieboek. Struike, bosse, varings, lelies en ander kleiner blomsoorte groei ruig in die klowe.

By Slagbos, op ’n omgevalle boomstomp op vermolmde berggrond, kan ’n mens jou sit kry. ’n Breë strook wit blommetjies kronkel lustig oor die woudvloer en net ’n paar zoemende bye en roepende voëls verbreek die goddelike stilte.

Daarna raak die steiltes meer genaakbaar, maar ’n ruigte braambosse bemoeilik die pad. Uiteindelik, op die kruin en onder die asuurblou lug, rol die panoramiese landskap voor jou oop. Dit is hier, en in die mistigheid van die woud, waar die berg se stories aan hom vasgegroei het.

Die seuns van die weeshuis In die winter van 1936 het ’n weldoener ’n piekniekuitstappie vir 90 weeshuiskinders gereël na die kloof by Bestershoek.

Agt van die seuns het die uitstappie egter benut as ’n geleentheid om van die weeshuis weg te loop en verdwyn toe bergop. Dit was al donkeraand toe hulle vermis word. Die nag was koud en reënerig en die berg was toe onder digte mis. Die mense het deurnag gebid dat die kinders iewers veilige skuiling sal vind.

Teen ligdag het vier van hulle weliswaar ongedeerd hul opwagting gemaak, maar vier was steeds weg. Die polisie, boere, inwoners, onderwysers en kinders het ’n soekgeselskap gevorm en die berg ingevaar om die ander vier te soek. Mis het die soektog vertraag, maar dae later het hulle een lykie gevind en daarna nog twee. Dit was nóg dae later toe hulle ’n vierde lewelose liggaampie aan die voet van ’n boom aan die voet van Rooikrans, aan die ander kant van die berg, gevind het – in sy een handjie nog ’n stukkie wors van die piekniek vasgeklem. Almal het verkluim.

Fred Wagner (15 jr.), Johannes Welthagen (13/14 jr.) en Jan Bothma (13/14 jr.) is in die dorp se begraafplaas te ruste gelê, maar familielede van James Holloway(13/14 jr.) het hom in Oos-Londen begrawe. Hierdie was een van die treurigste voorvalle ooit in die berg se geskiedenis.

2de Luitenant Kenneth Coventry was een van die slagoffers van die vliegongeluk op Boschberg.Foto: South African War Graves Project

Die verlore padvinders In 1938 het ’n groepie Padvinders (Boy Scouts) en ’n gids toestemming gekry om die berg uit te klim. Hulle plan was om met ’n ander roete as die gewone een af te klim.

Hulle het die kruin betyds verlaat, maar die digte bosse waardeur hulle hul pad moes terugvind en een van die seuns se beseerde enkel het hul vordering gekortwiek. Die donker het hulle oorval en hulle het besluit om op die plek te oornag. Met die tragedie van die weeshuisseuns nog vars in die geheue, is ’n soekgeselskap gou georganiseer. Ouers en helpers kon tot by die Bestershoekdam vorder, maar dit sou dwaasheid wees om die digte bos in die donkerte in te gaan. Hulle het egter bly roep en flitse en lanterns rondgeswaai in die hoop dat hulle gehoor of gesien sou word. Ongelukkig vir die soekers het die groep by ’n waterval oornag en weens die dreunende water kon hulle nie die bekommerde roepstemme hoor nie. Die volgende dag kon hulle darem hul pad huis toe vind.

Lugramp teen die berghang Op 26 Februarie 1942 het die mis oor Boschberg nog vier lewens geëis.

’n Avro Anson-vliegtuig van die R.A.F. (Royal Air Force) wat by die lugskool op Queenstown (47 Air Navigation School) gestasioneer was, het ’n noodlanding probeer uitvoer. Die swak sigbaarheid het egter sake belemmer en die vlieënier het hom misgis en teen die noordelike hang van die berg vasgevlieg.

Die ongelukstoneel was nie te hoog nie en kinders en nuuskieriges het berg op gehardloop daarheen. Die vliegtuig se bemanning het egter nie aan die dood ontkom nie.

’n Avro Anson soos die een wat teen die hange van Boschberg neergestort het. Foto: argief

Drie lede van die RAF en die 21-jarige 2de luitenant Kenneth Tucker Coventry van die Suid-Afrikaanse lugmag (SAAF) se name is later in rooi verf op klippe in die berg aangebring. Coventry, wie se ouers in Johannesburg gewoon het, is in die heldeakker op Queenstown begrawe.

Daar is baie stories, moontlik versinsels, steeds in omloop oor die vliegramp. So word vertel dat iemand ’n vinger van een van die dooies opgetel en tuis in versterkwater op sy lessenaar gehou het. ’n Ander storie wil dit hê dat iemand ’n stuk van die vliegtuig se perspexvenster geneem en later vir hom ’n ring daarvan laat maak het.

Oom Manie en die luiperd Lank gelede, toe die distrik grotendeels nog ongerep was, het groot troppe wild hier gewei, waaronder buffels, leeus, olifante, renosters, wildsbokke en luiperds. Veral die luiperds het die boere hoofbrekens gegee. Die diere het glo onder die vee gemaai. Die boere het hulself derhalwe tot slagysters gewend om hul kuddes te beskerm.

Op ’n goeie dag in 1948 het oom Manie Bosch van die plaas Waterkloof glo juis slagysters nagegaan toe hy ’n volgroeide luiperdmannetjie raakloop. Drie van die luiperd se tone was in ’n slagyster vasgevang en die dier was gevaarlik. Oom Manie het hom toe flink met sy .22 die ewigheid in gehelp. Van sy snoet tot by die punt van sy stert was die luiperd in die ou taal 7 voet 6 dm. (2,3 m) lank. Van die luiperd se karkas het Oom Manie se vrou glo 72 pond (ongeveer 32 kg) binnevet uitgekook waarvan sy seep gemaak het.

Oom Manie Bosch en die luiperd wat hy net ’n .22 geskiet het.Foto: Verskaf

Deesdae is daar nog van hierdie seep in die kombuis van die dorpsmuseum en die besoekers hou daarvan om daaraan te ruik.

Boschberg se Simson en Goliat Een van Boschberg se meer kleurvolle karakters was ongetwyfeld John Kepe – ’n legende van sy tyd.

Kepe was ’n berugte veedief en een van die mees gesoekte misdadigers in hierdie omstreke. Sy streke het hom reeds in die 1920’s en 30’s met die gereg laat bots, van Graaff-Reinet tot Pearston. Sy herhaaldelike inhegtenisnemings het daartoe gelei dat hy tot ’n gewoontemisdadiger verklaar is.

Nadat hy sewe jaar tronkstraf uitgedien het, is hy in 1940 vrygelaat op voorwaarde dat hy nie die Graaff-Reinet-distrik verlaat nie. Kepe het hom egter nie aan hierdie voorwaarde gesteur nie en soos mis voor die son verdwyn.

Speursersant C.F. Potgieter, wat reeds voorheen met Kepe te doen gehad het, was in hierdie tyd op Somerset-Oos gestasioneer en het te hore gekom van ’n reeks inbrake en veediefstalle wat almal oënskynlik verwant was. Die dief het telkens ’n streepsak meel of mielies uitgeskud en dan volgestop met koffie, meel, suiker, twak, vuurhoutjies en ander proviand. Die voetspore wat hy gelaat het, was ook dieselfde – daar was ’n toon kort aan een van die voete. Winkels op Cookhouse, Longhope en Kommadagga het deurgeloop, maar Kepe het alle pogings om hom vas te trek ontwyk.

John Kepe en sers. Christiaan F. Potgieter voor sy hofverskyning.Foto: Somerset-east.co.za

Die plaasboere en hul vrouens was vir hom bang omdat hy ’n .22-geweer gehad het.

Daar word vertel dat wanneer mense hom in die berg teëgekom het, het hy voorgegee om ’n gewapende skaapwagter te wees. Vir twaalf jaar het hy die polisie ontduik en in ’n grot teen die digbegroeide berghange weggekruip, ten spyte van voorleggings en agtervolgings. Hy het selfs aan soektogte deelgeneem wanneer daar na hom gesoek word.

In 1951 het sake egter ’n wending geneem toe ’n skaapwagter genaamd Dirk Goliat naby Rooikrans vermoor is. Goliat het enkele weke tevore ’n man met ’n .22 op die berg teëgekom en die beskrywing wat hy aan die polisie gegee het, was dié van Kepe.

Dié moord het Kepe ernstig in die visier van die polisie met hul voorlaaiers geplaas. Uiteindelik het die polisie hom in Februarie 1952 vasgetrek, toe hy glo sout wou gaps om gesteelde skaapvleis mee te bewerk. Kepe het die volgende dag die grot gaan uitwys waar hy geskuil het.

In sy grot het die polisie glo baie artikels gevind; selfs van die seep van oom Manie se luiperd, asook horlosies en ander items van die vlieëniers wat in die berg verongeluk het. Hulle moes ’n vragmotor inspan om al die buit dorp toe te karwei. In ’n tweede grot het hulle meer as ’n honderd skaapvelle gevind.

Van die boerseep wat oom Manie Bosch se vrou van luiperdvet gekook het in die museum op Somerset-Oos.Foto: Deonette Haggard

Op foto’s poseer Kepe geboei en glimlaggend op die berg saam met die speurders en soekgeselskap wat hom aangekeer het.

Met sy hofverskyning het die hele dorp opgedaag om ’n blik van dié berugte figuur te kry.

Kepe het glo die skare betrag en gesê: “Toe die Filistyne vir Simson gevang het, het al die ander Filistyne ook uitgekom om te kyk, soos julle vandag maak. Ek is die Simson van Boschberg.”

Kepe is verhoor en skuldig bevind aan moord. Op 25 Junie 1952 is hy by die galg in Pretoria tereggestel.

Die ouer mense praat graag en glimlaggend van die slinkse ou skelm en sy bergeskapades. Baie glo dat sy onafhanklike gees steeds in die berg ronddwaal.

Soms hang daar donker, verdraaide skadu’s oor die berg en dan wonder jy watter geheime die berg nog bewaar.

Kom kuier op die berg . . .

Die Boschberg Natuurreservaat is ’n gewilde bestemming vir toeriste. Natuurliefhebbers kom telkens terug vir meer bosbekoring en die skoon, vars lug. Groepe jongelinge vaar gereeld bergop vir ’n leerervaring of uitstappie.

Diere

Bergsebras, bosbokke, bobbejane, apies, dassies, 12 soorte slange, tien soorte akkedisse, sewe soorte paddaspesies en meer as 83 verskillende soorte voëls is te sien.

Plante

Die rotsagtige dele van die plato bo-op die berg is besonder ryk aan fynbos, terwyl die res van die plato oortrek is met rooigras wat goeie weiveld bied.

Watervalle

Wanneer dit baie reën, kan van tien tot meer watervalle teen die hange van die berg gesien word. Die bekende en gewilde waterval Glen Avon word van die oostekant van die berg bereik.

Voetpaaie

Die Bosbergvoetslaanpad lei tot by die oornaghut by Kepe se grot. ’n Gedeelte van dié roete staan bekend as Perdevoetpad. Vroeër jare het boere dié voetpad oor die berg met hulle perde oopgetrap dorp toe. Die vrouens het met dwarssale en ordentlik gehoed, gehandskoen, gelangrok en gestewel soos dit dames met ’n goeie opvoeding betaam, die pad te perd aangepak.

Blyplek

In die Bestershoekvallei is drie chalets om die buitelugentoesiaste te akkommodeer.

  • Vir meer inligting en besprekings vir oornaggeriewe, skakel die munisipaliteit by 042 243 3230.
Meer oor:  Boschberg  |  Somerset-Oos  |  Reis  |  Geskiedenis  |  Toerisme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.