Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Die towerkrag van Sidi Bou Said

As jy ’n reis na Tunisië beplan, skryf ook ’n besoek aan Sidi Bou Said op jou reisplan. Dié dorpie in blou en wit getooi, bekoor nie verniet al dekades lank kunstenaars en toeriste nie.

Kuns en wit-en-blou kleurskakerings is sinoniem met Sidi Bou Said. Foto’s: Jandri Barnard

Sidi Bou Said (Sie-die Bou Sa-ied). Die naam rol oor jou tong en laat jou glimlag, want in jou geestesoog sien jy reeds die towerkrag van die naam. Want met die uitspreek van die naam weet jy reeds daar móét towerkrag wees by hierdie plek.

Hierdie blou-en-wit dorpie is 21 km noordoos van Tunis, die hoofstad van Tunisië. Dit is gebou op ’n steil oorhang, wat oor die Middellandse See uitkyk, en dit is onmoontlik om nie verlief te raak op dié plek nie – soos vele mense al eeue tevore.

Dit was oorspronklik ’n plek van pelgrimstogte vir besoekers aan die 13de eeuse graf van Abu Said Ibn Khalef Ibn Jahia Al-Tamini Al-Badji, die heilige man van wie die dorpie sy naam gekry het.

Tradisionele menttee met dennepitte.

Met ’n besoek in die 21ste eeu kan jy steeds maklik vasgevang word in die wit systraatjies en klippaadjie-steiltes met blou deure. Spierwit mure en trappe weerkaats die Afrikason. Skakerings van blou is oral in die dorpie: deure, vensterrame, hortjies, yster-uitlegwerk in draaipatrone en uitgekerfde vensterskerms (bekend as moucharabiehs).

Die groot blou (en party plekke heldergeel) deure is kenmerkend hier, met tradisionele metaalpatrone van halfmane, sterre en minarette daarop vir dekoratiewe en funksionele doeleindes.

In die lentemaande is daar blomme gedrapeer van elke vensterbank en langs elke deur. ’n Ware paradys, en dit is te verstane dat kunstenaars soos Paul Klee en die skrywer André Gide permanente inwoners hier geword het.

Paul Klee se werke in die tydperk van 1912 tot 1914 bevat helder kleure en blokke, wat beïnvloed is deur die mosaïeke en arabeske waardeur hy omring was. Tonele van Tunisië is te sien in skilderye soos Sonsopkoms oor Tunis en Kamele en donkies.

Die dorpie self lyk eerder of dit ’n skildery is, as die werklikheid van ’n blou-en-wit paradys in die noorde van Afrika.

Die ateljee en kunswerke van baron Rudolphe d’Erlanger in die Ennejma Ezzahra-paleis.

Ontdek die paleis

Al is daar nie meer pelgrims wat met pelgrimstogte hoofsaaklik die graf van Sidi Bou Said besoek nie, word die graf en aangehegte klein moskee steeds deur Moslem-gelowiges besoek.

Die ingang is toeganklik via nou trappies, agter Café des Nattes, wat by die hoofplein is. Vanaf die 1920’s reeds is Café des Nattes die dorpie se bymekaarkomplek vir kunstenaars, inwoners en besoekers.

Met ’n glas tradisionele menttee met dennepitte in kan jy jou verbeel jy is deel van die era van Simone de Beauvoir, André Gide en Jean-Paul Sartre, terwyl jy die doen en late van die hedendaagse inwoners kan volg.

Die betowerende stegies van Sidi Bou Said.

Die area is steeds vandag gewild onder kunstenaars. Sidi Bou Said het baron Rudolphe d’Erlanger (1872 – 1932) so betower dat hy van 1912 tot 1922 die Ennejma Ezzahra-paleis (die direkte Arabiese betekenis is “Ster van Venus”) hier gebou het. Dit beslaan ’n area van 3 300 m², en met ’n uitsig oor die Middellandse See word dit beskou as die juweel van die Arabies-Andalusiese argitektuur in Tunisië. In 1989 is dit gelys as historiese monument nadat die familie dit aan die Tunisiese regering verkoop het.

Spesialis-vakmanne van Tunisië en Marokko is aangewys om die marmerwerk, uitgekerfde stucco-werk (naqsh hadida), en geverfde houtwerk van die paleis te behartig.

Die baron was self ’n skilder en kenner van Arabiese musiek, en sy werke word uitgestal in die kamers van die paleis saam met skatte van Persië, Turkye en Italië.

Die uitsig vanaf die paleis Ennejma Ezzahra oor die Middellandse See.

Daar is ook twee vertrekke wat gewy is aan ’n permanente versameling van meer as 250 musiekinstrumente, wat ’n fees vir enige musiekliefhebber is.

Die tuine van die Ennejma Ezzahra-paleis is verdeel oor drie vlakke en versprei oor ’n totaal van vyf hektaar volgens spesifieke ontwerpstyle: die Persiese tuin langs die paleis, die Andalusiese tuin by die boonste terras, en die Sevilla-lemoenboomlaning onder die terras naby die hoofingang van die paleis.

Hier kan jy maklik langer as ’n dag ronddwaal, maar ’n oggend- of middagbesoek behoort genoeg te wees om alles vinnig in te neem, want wees gewaarsku dat die paleis oor middagete gesluit is vir besoekers.

Sidi Bou Said is ’n kort taxirit weg van die gewoel van die amper modern, maar besiger Tunis. Jy kan verstaan waarom die baron en ander kunstenaars ’n paar jaar in hierdie dorpie agtergebly het.

Die towerkrag en rustigheid van Sidi Bou Said, wat uitkyk oor die turkoois water met Europa ’n veerbootrit ver, is gewis meer as net ’n dagbesoek werd.

Kenmerkende blou deure met tradisionele metaal-inlegwerkpatrone.
Meer oor:  Sidi Bou Said  |  Tunisië  |  Reis  |  Toerisme  |  Doendinge
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.