Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Die water in Laos se are

Laos se bruisende watervalle, tempels, wondergrotte en sagmoedige inwoners het haar besoek onvergeetlik gemaak, skryf Marianne Peacock.

Uitsig vanuit die drywende hotelkamer op die Don Chone-eiland. Foto’s: Marianne Peacock

Dis laatmiddag in Laos, ’n redelik onbekende eenpartystaat in Suidoos-Asië – in antieke tye bekend as Lan Xang (Land van ’n Miljoen Olifante). Ek staan in die wye deur van ’n drywende hotel op die magtige Mekong, lewensaar van miljoene mense – die “moeder van riviere” wat deur vyf lande vloei.

Die hotel is met bruggies aan die straat verbind. Aan die rivierkant het die kamer ’n houtdek waarvandaan ek my voete in die water kan laat sak.

’n Bootjie gly kort-kort verby en die uitsig op die groen, palmbegroeide oewer oorkant is wonderlik.

Slegs die tuk-tuk en fietse het dit op hierdie pad gewaag.

Slakkegang . . . en eet sommer die slak

Hierdie suidelike deel van Laos word die “4 000 eilande” genoem. Die drywende hotel is op die grootste hiervan, Don Chone. Op die eilande is daar 107 dorpies met mense en ’n skool.

Hier beweeg die lewe nog teen ’n stadige pas. Dié gebied is naby Pakse, hoofstad van die provinsie Tsjampasak, waarheen ek via Bangkok gevlieg het.

’n Tuk-tuk-driewieltaxi neem my na die uiters bedrywige mark in Pakse.

Kosmarkte in Laos is nie ’n plek vir neusoptrekkerige mense nie. Laosiane smul aan alles wat jy saam met die stapelkos, klewerige rys, kan eet. Geroosterde paddas, kewers, ruspes en gedroogde waterbuffelvel is onder meer hier goeie kos, maar in die Pakse-hotel se daktuinrestaurant kon ek darem lekker pah noeng hed hom bestel (’n vis uit die Mekong, opgestop met gemmer en Chinese sampioene, gestoom in ’n piesangblaar).

Gebraaide kai (hoender) is natuurlik aan die orde van die dag, want ’n kai se lewe hang in Laos aan ’n draadjie.

Vir ’n kilogram van my gunsteling- tropiese vrug, ramboetan, het ek 1,600 kip (die Laos-geldeenheid wat wissel teen sowat 590 kip vir ’n rand) betaal. As ’n mens baie Westerse geld vir kipnote omruil, is jou beursie veels te klein.

Op my laaste aand in Laos sak die son oor ’n Boeddhabeeld en die rivier by Pakse.

Vlietende dolfyne

Dis die einde van April en die reënseisoen is op hande. Vir baie inwoners is een enkele rysoes hul enigste bron van inkomste, en boere wag nou op die reën. Sodra die grond nat genoeg is, kan hulle plant. Op die eilande maak baie mense ook ’n bestaan uit visvang.

Seng, my uiters sorgsame jong toergids woon op een van die ander eilande, Don Det. Ná hul troue moes hy daar in sy vrou se ouers se huis gaan bly. Dis die Laos-tradisie.

Seng sê hy eet nie paddas nie, want hul geluide is vir hom so mooi en ook nie waterbuffelvleis nie, want hulle is sy vriende met wie hy saamwerk.

Vroegoggend sien ek van my dek af hoe die son oor die Mekong opkom. Dis nog koelerig vir die tropiese Laos wanneer Seng my kom haal. Dis doodstil, net die hane kraai. Dagtemperature bewe hierdie tyd van die jaar om en by 40 grade en die humiditeit is baie hoog. Die hotelle waarin ek bespreek is, het gelukkig lugversorging en ook die voertuig waarin ons ry.

Vandag gaan ek na die deel van die Mekong naby die grens met Kambodja, waar die beroemde, bedreigde Irrawaddy-dolfyne is. Daar word geskat dat minder as 100 van hulle in die wêreld oor is.

By die landingsplek langs die Mekong wag ’n boot vir die vaart na die varswaterdolfyne. Ek staan later regop voor in die boot en sien die berge van Kambodja voor my. Dis baie naby die grens. Van ’n sandstrand langs die rivier af begin ons die water bespied. Kort-kort spring ’n dolfyn ’n kwartsekonde lank bo die water uit.

Seng sê ek moet roep: “Kaloena, pako!” (Asseblief, dolfyn). Ek hou my vinger op my kamera se sluiter en probeer blitsvinnig sekuur korrel. Rimpelinge op die water wys waar jy kan verwag die dolfyn ’n verskyning gaan maak. Toe een skielik uitspring, probeer ek fokus – en kry dit drie keer reg om ’n vlietende, blouswart boggel op die geheuekaart vas te vang.

Daglig aan die einde van die wondergrotte.

Waterare

In hierdie suidelike provinsie is water ’n toeristehoogtepunt.

Ek besoek verskeie pragtige watervalle in ongerepte woude en riviere. Skuimende watermassas stort af teen rotse en eilande. Die indrukwekkende Chone Phapheng-waterval strek oor die Mekong en word die Niagara van Asië genoem. Naby is ’n kleiner val, Li-Phi, wat net so indrukwekkend is, en Tad Fane op die Bolaven-plato waar koffie gekweek word, het tweelingstrome wat van ’n beboste heuwelkruin aftuimel.

Hier is ook een van die natuurwonders van Suidoos-Asië – die Konglor-grotte in Sentraal-Laos.

’n Plaastoneel in Laos: Die huise is van hout en word op stelte gebou.

’n Tak van die Mekong vloei deur ’n berg (een kant in en die ander kant uit). ’n Ervare plaaslike bootsman neem jou op ’n vaart van 7 km deur die lang, uitgestrekte grotte binne-in die berg op ’n ondergrondse rivier. Die rivierwater is op die oomblik redelik vlak, maar dit gaan binnekort styg wanneer die reën kom.

Ek’s verlig om te sien ek kry ’n reddingsbaadjie en koplamp voordat ek opklim, want die koplig van die lang, smal boot is die enigste ander ligbron. Ek vrees dat ons dalk teen ’n kalksteenrots op die grotvloer kan bots, maar Kwan, die bootsman, sorg dat die boot nêrens stamp nie.

Halfpad deur is ’n afklimplek van waar af jy ’n ruk in die grot rondstap. Met my koplamp kan ek op die pragtige kalksteenformasies lig wat deur miljarde jare van die dak of vloer af gevorm is.

Die grotstelsel word nog daagliks gebruik. Boere vervoer hul produkte met eie bote hierdeur na die markte aan die ander kant.

’n Marktoneel: Die kos is eenvoudig en voedsaam.

Spatsels rooi

Wat Phou, die baie indrukwekkende bouvalle van ’n tempelkompleks aan die voet van berg Phoe Chao, is ’n Unesco-wêrelderfenisterrein. Van die 6de eeu tot die 13de eeu was dit een van die belangrikste tempels in Suidoos-Asië. Dit is sowat ’n uur en ’n half se ry van Pakse af. Hier is wonderlike klipbeeldhouwerke. In die tyd van die Khmer-koninkryk was Wat Phou verbind aan die beroemde tempels by Angkor in Kambodja.

Ek klim met die steil kliptrappe by die tempelkompleks op tot heel bo vir ’n uitsig oor die landskap. Die wagtende ryslande is nog bruin, maar plek-plek tussenin is helder spatsels kleur, want sambreelvormige bome met bloedrooi blomme blom nou.

’n Monnik op pad na die klooster.

Boeddhiste

Die woonhuise in die landelike Laos is meestal van hout en staan op pale. In die oop leefvertrek sien ek bedags meestal rustige vroue: ma’s met kleuters en oumas of susters wat aanhoudend babas in wiegies heen en weer wieg.

Een laatmiddag gesels ons met ’n boer wat suiker uit die sap van twee palmbome by sy huis maak. Hy gee my ’n bamboesbekertjie palmsap om te drink. Dis verfrissend koel op die bloedige warm dag, maar die sap smaak erg na rook, want dit word drie uur lank op ’n houtvuur gekook tot ’n taai, harde massa bruin suiker.

Die meeste mense van Laos is Boeddhiste en hul geloof speel ’n baie groot rol in hul lewe. Hul geloof was glo nog altyd ’n stabiliserende faktor in dié kommunistiese land.

Alle jong mans moet minstens ’n paar maande lank ’n monnik wees, soos my gids ook was. ’n Mens sien talle monnike in hul oranje klede, sommige soggens op pad klooster toe. Die kloosters speel ’n belangrike opvoedkundige rol. Gratis onderrig, kos en huisvesting word hier verskaf. Baie mense kan nie hoërskool vir hul kinders bekostig nie en Laos se enigste universiteit is in die hoofstad Vientiane.

Tempels in die arm land word goed in stand gehou. In die dorp Thakhek, op die oostelike oewer van die Mekong, die grens tussen Laos en Thailand, is ’n historiese tempelkompleks.

Kewers om aan te smul.

Die Sikhottabong-stoepa hier is eeue oud. Dis ’n belangrike kulturele terrein in Sentraal-Laos.

Die laaste aand van my reis slaap ek weer in die Pakse-hotel, gebou onder toesig van die laaste koning van Tsjampasak. Buite die stad teen die berghang is ’n tempel en ’n groot, goue Boeddhabeeld. Hiervandaan sien ek vir oulaas die son oor die Mekong ondergaan.

Môre verlaat ek dié lank geïsoleerde land met sy vriendelike, sagmoedige inwoners waar ’n alleenreisiger nie bedreig hoef te voel nie.

Ek keer terug na die woelige weë van die Weste. Chop Jai (dankie), Laos. Ek neem jou bruisende watervalle, wats en wondergrotte in my kop en op my kamera met my saam.

So kom jy daar: Ek het met Emirates via Dubai na Bangkok gevlieg teen R11 454,68. Vanaf Bangkok is ek met Laos Airways verder tot in Pakse. Dit was ’n goeie, gladde vlug teen R4 209.

Dit was my tweede besoek aan Laos. Indien ’n mens die eerste keer gaan, moet jy myns insiens na die hoofstad, Vientiane, vlieg en ook Loeang Prabang en die omgewing besoek.

Wanneer om te gaan: Die beste tyd is tussen November en Februarie. Dis nooit koud nie; my gids sê hy het nog nooit ’n baadjie gedra nie.

’n Agent wat jy kan vertrou: My private toer met ’n voertuig, goeie gids en uiters ervare, versigtige motorbestuurder is gereël deur Diethelm Travel: www.diethelmtravel.com. Ontbyt en een ete per dag is ingesluit en ek het vir geen ander vervoerkoste en kaartjies betaal nie.

Kort jy ’n visum? Neem ’n paspoortfoto saam. Die visum word by die grenspos of lughawe uitgereik teen $30.

Eet en drink bekostigbaar: Drie mense kan gebraaide hoender en “sticky rice” eet teen net meer as R40. Wyn kos sowat R60 per glas en lao-lao (sterk rysbrandewyn) en Beerlao, stapeldrank, kos maar sowat R12 per bottel. Coke en lekker vrugtesapskommels kos net R17.

Meer oor:  Laos  |  Besoek  |  Reis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.