Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Dié whisky se spoor lei na Goa in Indië

’n Liefde vir whisky en ’n nuwe besoekersentrum lei ons na die historiese stad Goa in Indië, maar dis nie waar die Suid-Afrikaanse verbintenis ophou nie.

Een van die sowat 650 kerke en tempels in Goa, is die indrukwekkende Our Lady of the Immaculate Conception-kerk. Foto: Clifford Roberts

’n Jaar of wat gelede beland daar ’n uitnodiging in my inboks vir ’n whiskyproe by die Bascule-kroeg, in die Cape Grace-hotel by die V&A Waterfront. Onbewus van die bestaan van Indië se enigste enkelmout-whisky, gaan ek om dié karamelkleurige hemelsheid te proe.

Die Paul John-whisky se meester-distilleerder, Michael D’Souza, lei die proesessie.

Hy vertel dat die Indiese hitte ’n voordelige uitwerking op hul whisky het: Die tropiese klimaat bespoedig geur-ekstraksie tot soveel soos vier keer vinniger as dié in Skotland.

Enkele weke later kom die uitslae van die Michelangelo International Wine and Spirits-pryse en die Paul John-whisky is weer daar, as wenner van die beste whisky.

Natuurlik was Indië nog altyd op ons emmerskoplys en toe ek boonop op sosiale media in ’n inskrywing van Indië se toerisme-agentskap, @IncredibleIndia, lees van die nuwe whisky-besoekersentrum wat buite Goa in die westekant van die land geopen het, is ons kaartjies bespreek.

Dis skuins ná 08:00 toe ons by die Chhatrapati Shivaji-lughawe in Mumbai land. Die vliegtuigsitplekke lê bestrooi met kussings, komberse, plastieksakkies waarin oorfone was en leë waterbottels. Dié toneel is ’n goeie aanduiding van hoe ons voel ná al die lang ure se vlugte, oorstaan en wag in rye.

In die klein agterstraatjies van Goa staan sulke skatte onder stof begrawe. Foto: Clifford Roberts

Toe ons bagasie op die waaierband verskyn, ontspan ek effens, want met verskeie binnelandse vlugte voordat ons by ons bestemming kom, is verlore bagasie altyd ’n redelike demper op ’n vakansie en iets waarvan ons genoeg ondervinding het.

By die inligtingsentrum kry ons die wagwoord vir die WiFi en lees vinnig na oor hoeveel ons behoort te betaal vir ’n taxi na die ander terminaal.

Ons stap oor na die toonbank wat vroulike taxibestuurders adverteer en betaal ons 200 roepees (ongeveer R40) en gaan soek buite na die taxi met die registrasienommer wat op ons kwitansie aangedui is.

Geen vroulike bestuurders in sig nie, maar ’n ronde oom kom aangestap.

Ons lig ons tasse om dit in die kattebak van die baie klein motortjie te laai, maar hy skud sy kop en haal tou uit en wys na die dakrak.

Dis eers heelwat later in ons reis wat ons uitvind die kattebak het ’n gaskan in, want baie taxi’s ry op saamgeperste natuurlike gas, om lugbesoedeling te verminder. By die uitgang van die lughawe staan drie amptenare in uniform by ’n baie klein, baie hoë tafeltjie waarop hulle met hul elmboë leun, terwyl hulle dik pakke note tel. Een knyp ’n groot pers sambreel onder sy arm en die ander twee staan knus teen hom om teen die fel son beskerm te word. Hulle samel parkeergeld in, besef ek toe ek die teken ’n entjie verder gewaar.

Die seewater is warm, maar steeds ’n lafenis in die erge hitte. Foto: Clifford Roberts

Skep asem in die swembad

Ons hang ses uur lank by die te klein lughawe in Mumbai rond voordat ons vlug na Goa vertrek. Ek sit langs ’n jong patentereg-prokureur en tydens ons vlug van 90 minute gesels sy onophoudelik oor haar land, politiek, haar siening oor besoedeling en vroueregte. Toe ons by die Dabolim-lughawe in Goa afklim, voel ek baie beter ingelig oor die land as ure tevore.

Goa het ’n baie gewilde strand en ons hotel was teen die water. Foto: Clifford Roberts

En natuurlik het die rede vir ons besoek ook onder bespreking gekom en haar lojaliteit jeens Paul John-whisky is ongeëwenaar.

Toe ons later in ons taxi sit, hoor ek haar weer: “Daar is een goue verkeersreël in Indië wat jy nooit mag vergeet nie: Daar is nie reëls nie!” En ook dat die toeter in Indië die flikkerlig vervang het. Ek is so dankbaar ons bestuur nie hier nie . . .

Die moegheid sit stram in my bene en spiere toe ons by die Caravela Beach Resort by Varca­strand in Salcete aankom. Die hitte buite die verkoelde taxi is versengend en ons gly deur die stort en toe af na die swembad voor ons kamer.

Die water is so warm soos badwater by die huis, maar snaaks genoeg, dit bied lafenis om deur die swembad te stap na die versonke kroegie in die middel van die water.

Hier maak ons kennis met die Indiese jenewers Stranger & Sons, Hapusa en Greater Than. So onder die palmbome met dik skywe lemmetjie en tonikum voel dit soos ware vakansie.

Aandetes is by die Beach Hut op die strand, waar ons smul aan Goaanse kerrie, spierwit rys en allerhande tuisgemaakte atjars.

Die twee sjefs, Saurabh Puri en Amitava Paul, kom vra gereeld of ons gelukkig is.

Hulle tevredenheid dat Suid-Afrikaners hul kos geniet, is in groot glimlagte oor hul gesigte gesprei.

Ná ete gaan stap ons op die strand met ons voete in die louwarm water, terwyl die windjie liggies deur die palmtakke speel.

Suid-Afrikaners wat die nuwe besoekersentrum besoek, poseer trots vir ’n foto. Foto: Clifford Roberts

Bekroonde whisky

En so breek die kuier en oorhandiging van die trofee toe uiteindelik aan. Ons ry vroeg die volgende oggend van die hotel na die sentrum, verby verskeie rys- en boontjievelde waarin mense gebukkend werk en beeste staan en herkou.

Die nuwe sentrum bring hulde aan die omgewing se ryk Portugese geskiedenis. Foto: Clifford Roberts

Die streek het ’n ryk Portugese geskiedenis en die meeste van die reuse-villas weerskante van die pad is meer as 200 jaar oud en dateer toe af. Om jou huis elke maand of ses te verf, is blykbaar deel van die kultuur.

Die nuwe besoekersentrum vir John Distilleries is die enigste van sy soort in die land en het in Desember verlede jaar geopen.

Teen die gangmuur hang ry op ry pryse. Ek kan nie glo die distilleerdery het skaars sewe jaar gelede hul eerste whisky uitgereik nie – en nou spog hulle met meer as 232 internasionale toekennings. Dis ’n baie emosionele oomblik toe die twee Suid-Afrikaners Tommy Larkan en Brett Jacob van die maatskappy Valotone, wat Paul John-whisky in Suid-Afrika versprei, die Michel­angelo-whiskytrofee uit ’n rugsak haal en aan Michael oorhandig. Hulle het dit as handbagasie op die vliegtuig geneem.

Michael kon nie by die prysuitdeling in Johannesburg wees nie en Tommy en Brett se trots om dié gesogte Suid-Afrikaanse trofee te oorhandig is tasbaar. Dis vir die turfmos-infusie-whisky, Bold, toegeken. Die trofee kry ’n ereplek op die rak by die ingang na die sentrum.

Om die trofee amptelik aan Michael “namens Suid-Afrika” te oorhandig, is natuurlik ’n hoogtepunt met min gelyke.

Ons doen die keldertoer, proe al hul whiskies en glimlag vir foto’s saam met ander besoekers, wat heeltemal oorbluf is met ons teenwoordigheid by “hul” gunsteling-whisky se besoekersentrum.

Op die keldertoer sien jy onder meer die pragtige koperketels waarin die whisky gedistilleer word. Foto: Clifford Roberts

’n Bietjie kultuur

Die res van die dag verken ons van Noord-Goa se 650 tempels en kerke; gooi ’n draai by die gedenktuin met die standbeeld van keiser Chhatrapati Shivaji na wie die lughawe in Mumbai vernoem is, voordat ons dankbaar in die hotel se swembad gly en weer die gin-en-tonic-ritueel van die vorige dag herhaal.

En toe kry ons kans om al die whiskies in die reeks te proe. Foto: Clifford Roberts

Die distilleerdery het vir ons ’n gids en taxibestuurder, Dominic Crasto, vir twee dae beskikbaar gestel. Hy wys ons die regtige Indië en gee ons insigte in die lewe daar. Oral om ons ry motorfietsryers sonder valhelms en ons vra Dominic daaroor uit. “Dis teen die wet, maar niemand steur hulle eintlik daaraan nie. Met die verkeer wat so swaar is, ry die motorfietse nooit vreeslik vinnig nie en mense dink hulle sal nie beseer word as hulle ’n ongeluk maak nie.”

Hy lag egter toe hy vorentoe in die pad twee amptenare met ’n boekie sien en wys hoe die motorfietsryers wat by die amptenare verbyry, almal skielik valhelms op het.

Ons gaan vir ’n voldag na die ou Wêrelderfenisgebied in Goa en Dominic gee raad oor die beste plek om aandenkings te koop en iets te eet, en vertel ons ook van die ateljee van die bekende Indiese spotprenttekenaar en kunstenaar Mario de Miranda, wat in 2011 oorlede is. Hy het ’n jaar ná sy dood Indië se tweede hoogste burgerlike prys, die Padma Vibhushan, vir sy uitsonderlike diens aan die land ontvang. Hy het immers solo-uitstallings in meer as 22 lande gehad. By die middagmarkie laatmiddag, gaan kyk ons na sy karikature teen die reuse-mure, terwyl mense daar alles onder die son verkoop.

In groter strate staan die motorfietse tot 260 in rye geparkeer. Oral is tekens teen geboue aangebring om parkering op die sypaadjies te verbied, maar heel dikwels is die “No” met ’n oulike plakker toegeplak en die motorfietse staan handvatsel teen handvatsel ingedruk.

Toe ons daardie aand weer kaalvoet in die seesand sit, klingel die ys in my whisky soos klokkies en ek dink weer aan die jong mans by die markie wat die hele dag geboë sit en blomme aan garing inryg sodat dit voor tempels neergesit kan word.

Die ongelooflike Indië slaan beslis jou voete onder jou uit, sonder dat jy dit besef.

Goed om te weet
  • Suid-Afrikaners se visums vir Indië is gratis en dis ’n aanlyn aansoek. Daar is baie vrae, maar die proses is vinnig en professioneel. Kry die webskakel by jou reisagent.

  • Bespreek jou distilleerderytoer by info@pauljohnwhisky.com en leer meer oor dié bekroonde whisky by https://pauljohnwhisky.com/en.

  • Ons reisagent vir hierdie reis was die Indiese spesialis Rashmi Raga van Travelicious SA.

Kontak haar by 021 797 2270 of 083 789 1789; rashmi@travelicious.xyz of www.travelicious.xyz.

Die distilleerdery gebruik Indiese gort vir hul produkte. Foto: Clifford Roberts
Ek glo daar is meer motorfietsies as mense in Indië . . . Foto: Clifford Roberts
Daar is vele klein dorpspleine in die ou deel van die stad, waar tannies sit en gesels of mense met hul honde kom sit. Foto: Clifford Roberts
Maryke Roberts

Meer oor:  Indië  |  Goa  |  Vakansie  |  Reis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.