Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Dis bibberlekker in die Ysrivier

Aan die oostelike punt van die Baviaanskloof, knap anderkant Patensie, lê Kudu Kaya op die plaas Ysrivier met sy diep poele en welige inheemse woud waar Mariska Spoormaker gaan swem en klouter het.

Niekie Dorfling wys hoe om ’n bergpoel oor te steek. Foto: Mariska Spoormaker

Dit is ’n “rivierklim” wat jy nie maklik sal vergeet nie.

Weke ná die tyd kan ’n mens jou nog verbeel jy voel die fluweelsagte water van die Ysrivier en sien die vissies om jou heen swem en hoor die bobbejaan iewers bo die kranse roep. Hier hoor jy die wind se swwwwsssshh deur die inheemse bos en die Kaapse rietsangers tjierrr-tjierrr benoud terwyl die boomslang op hulle jag maak.

Boomslange of nie, ’n mens wil hier agterbly in Kudu Kaya, want hier in die Ysrivier se kloof vind jy die vrede wat alle verstand te bowe gaan. Dit is hier waar jy poel vir poel die Ysrivier “uitklim” tot heel bo.

Kudu Kaya is op Petrus en Heléne van der Wat se plaas Ysrivier in die Cambria-deel van die Baviaanskloof. Sowat 90% van die sitrus, tabak, koring en lusern wat op dié 230 hektaar verbou word, is onder besproeiing. Die duidelikste teken hiervan is die sementleivoor wat van die bolope van die Ysrivier krans- en berglangs na die lande loop.

Cara-Lee op die kampeergebied wat goed ingerig is en waar alles so natuurlik as moontlik gehou is. Daar is ook ses ten volle toegeruste chalets, sou jy nie wil kampeer nie. Foto: Mariska Spoormaker

Party besoekers het seker ook ander gebruike vir dié leivoor gevind, want plek-plek in die kampeerterrein is daar borde teen die bome aangebring. “Belangrike kennisgewing: Moet asseblief nie klippe in die sloot pak en daarin swem nie.”

In die Ysrivier se bergpoele mág jy swem, en dit is immers hoekom ’n mens hierheen kom.

Die fikses sê dis ’n tjoef-tjaf-storie om die Ysrivier se poele tot by die eskarp te volg, binne twee ure is jy bo. Dit is nou as jy net klim om te mik vir die eindpunt, maar die belewenis is veel groter as dit. Dis ’n geswem in die poele, die inheemse blaredak, die bobbejaan en die loerie se geroep, en die plaashonde wat swemmend en klimmend saamgaan. Dan kan dit jou die hele oggend neem om tot by die boonste plato te klim.

Die hondse se name is Bruno en Leila. Daar is nog Stompie ook, maar hy stap nie vandag saam nie. Die water se ysige temperature van laasjaar se November en Desember is seker nog vars in sy geheue.

Mense wat tóé hier was, meen ’n mens moet die water met ’n duikpak aandurf, maar ná Desember se kosfees het ’n mens mos ’n bietjie isolasie om jou lyf. Dis boonop makliker om die Ysrivier teen jou lyf te trotseer as om eers met ’n duikpak te stoei en dan deur ’n saamgeperste lyf te probeer asemhaal.

Cara-Lee Dorfling geniet die vrede wat net ’n kampvuur kan bied. Foto: Mariska Spoormaker

So volg vier van ons, op ’n Saterdagoggend in die tweede week van Januarie, die voetpad na die poele. Aan een kant kabbel die water in die ou sementvoor wat na die boorde en lande lei en aan die ander kant blink die kleiner poele in die Ysrivier. Twee loeries hop van tak tot tak in ’n groot geelhoutboom en hoog teen die kranse blaf die bobbejane se brandwag.

’n Mens wonder nog of die stories oor die plaashonde wat saamstap waar is, dan sit Leila, die bruin Labrador, reeds en wag. Sy is baie vet en lyk nie asof sy lank gaan bybly nie. (Dis glo omdat kampeerders haar vet voer met oorskiet en lekkernye.) Leila hou egter ligvoets by en waar die paadjie langs die ou leivoor loop, spring sy in en loop sluk-sluk verder.

Die inheemse bos van onder meer waterboom, buig-my-nie, witstinkhout en bosvlier skep sy eie mikroklimaat, een wat ’n mens gemaklik aan die gang hou tot waar swempoel no. 1 donker op ’n draai van die Ysrivier in die skaduwee van die krans lê.

’n Algemene gesig: waterskoene wat ná ’n staptog droogword. Foto: Mariska Spoormaker

Leila plak haar grote lyf op ’n groot rots in die poel neer asof sy wil kyk wat die mense nou gaan maak. Die water lyk bitter koud. Hier kan jy nog rotslangs verby die poel hou, maar die klim oor rots is moeilik en dit is beter om deur die water te gaan. Die water is darem glad nie so koud as wat dit lyk nie. Dankie tog!

Leila besluit sy bly agter en wag vir ’n man en vrou, wat nog verder agtertoe is. Sy sal ons later inhaal wanneer hulle ná die derde swempoel terugdraai kampplek toe. Uit die bloute kom neem Bruno, die jaghond, haar plek.

Namate ’n mens poel vir poel met die Ysrivier op beweeg, raak die kranse hoër en die klimmery taaier – gelukkig is daar plek-plek klimtoue wat help.

Om deur die diep poele te swem terwyl jy met een hand jou sak bo jou kop hou om droog te bly, is makliker gesê as gedaan. Ek sak stadig, al dieper in die water af. My medestappers lag dat die kranse antwoord gee.

“Jy lyk soos ’n sinkende Statue of Liberty, ” roep Heilie Combrinck uit.

Dit is alles die moeite werd – die poele, die watervalle, die klim, die swem, die honde, alles. ’n Mens verkyk jou aan die ongerepte natuurprag wat geen skilder sal kan nateken nie. Woorde kan dit nie voldoende beskryf nie en ’n kamera kan dit nie behoorlik afneem nie. Dit maak ’n mens diep dankbaar dat Petrus en Heléne hierdie stuk natuur- en waterhemel met natuurliefhebbers deel. Hulle kon dit so maklik net vir hulself en hul naastes gehou het.

Besoekers word aangeraai om waterskoene wat goed kan vastrap, saam te bring. Daarsonder sal jy beslis sukkel om oor die rotse te klouter. Foto: Mariska Spoormaker

Niekie Dorfling som dit beste op: “Ek is mal oor die Baviaanskloof en ek gaan altyd diep in om die natuur te beleef, maar ek het nooit gedink dat ’n mens só baie mooi in die Baviaanskloof só naby aan Patensie sal kry nie.”

Dis ook Niekie wat Bruno gehoorsaam wanneer hy blaffend by gladde rots en waterval laat blyk hy wíl verder saamgaan, maar sy hondepote laat hom in die steek. Niekie neem vir Bruno onder sy blad, hou aan die tou vas en klim na die volgende poel waar sy vrou, Cara-Lee, vir Bruno oorneem.

Met die terugkomslag wag Bruno by dieselfde waterval om afgehelp te word en dié keer is dit Heilie se beurt om hom in die een arm te hou en al klouend aan die tou oor die rots af te sak na die volgende poel.

Al die swemmery en klimmery maak ’n mens honger en gelukkig is Niekie ’n sterk swemmer en kan hy die kossak hoog en droog deur die waterpoele hou. ’n Piekniek op rivierrotse was nog nooit so lekker nie. Bruno eet natuurlik saam.

Dit voel asof ’n mens te gou by poel no. 11 – amper soos ’n lang swembad – uitkom.

’n Dun ny­lontou teen die groot ronde rots aan die eindpunt is die enigste aanduiding dat jy nog verder rivier-op kán gaan, maar die klim lyk ’n bietjie gevaarlik.

Dit is beter om teen die een krans uit te klim en dan die rivier, al met die plato langs, tot by sy oorsprong te volg

Dít sal die doelwit vir ’n volgende keer moet wees; om te sien uit watter berg of bron hierdie yskoue, standhoudende water kom wat nie net ’n rivier nie, maar ook boorde en lande van water voorsien.

Hoe kom ek daar?

Vanuit Port Elizabeth

  • Volg die N2-snelweg weswaarts (Jeffreysbaai se kant toe) en neem die afdraaipad na Hankey. Die pad loop verby die Loeriedam en verby die Koekepan-padstal.
  • Neem dan die R330 deur Hankey na Patensie waar dit die R331 word. Hou aan met dié pad deur Patensie en die omliggende sitrusboorde en onthou om by Tolbos Deli/Bistro, die Handelshuis en die Padlangs Padstal te gaan inloer.
  • Hou steeds reguit aan met die R331 tot jy by die Kudu Kaya aanwysingsbord in die Cambria-gedeelte van die Baviaanskloof kom.
  • Die afstand is nagenoeg 134 km uit Port Elizabeth.
  • Die goeie nuus is dat jy met ’n sedanmotor soontoe kan ry.

Wat kan ek nog daar doen? 

Jy kan swem, voëlkyk, staproetes gebruik, bergfietsry, In seisoentyd kan jy selfs help om vrugte te pluk en kyk hoe die tabak en aartappels gesorteer word.

Gaan sit tjoepstil in enige van die poele en voel hoe die rooivin-witvissie, endemies aan die Baviaanskloof, aan jou vel kom knibbel.

Waar bly ek? 

Die kamp se staanplekke is meestal tussen inheemse bome en sommige lê langs die kabbelende stroompie water.

Die eienaars het werklik groot moeite gedoen om alles so natuurlik moontlik te hou. Elke staanplek het sy eie waterkraan, kragpunt en braaigeriewe. Ablusiegeriewe is eenvoudig, maar skoon en heeltemal voldoende.

Die meeste staanplekke langs die stroom het hul eie houtdek. Staanplek 7 is ’n wenner.

Daar is ook ses ten volle toegeruste chalets van wisselende grootte met mooi name: Kudu Kaya, Swartland, Houthuis, Bobbejaan, Aalwyn en Geelhout. 

Wat moet ek saamneem?

  • ’n Waterbestande kamera
  • ’n Waterdigte sak of opblaasmatrassie om jou kos en/of kameras deur die waterpoele te vervoer
  • Waterskoene wat kan vastrap. (Dis baie belangrik)
  • ’n Verkyker en boom-, plant-, slang- en voëlboeke.
  • ’n Kierie of wandelstok (Hou maar jou oë oop vir slange)
  • ’n Duikpak (as jy nie kans sien vir die koue water nie)
  • Jou eie eet- en drinkgoed: Patensie, die naaste dorp, is sowat 45 km van Kudu Kaya.

Onthou:

  • Selfoon-ontvangs is wisselvallig.
  • Dagbesoekers en harde musiek word nie toegelaat nie.
  • Kontak 087 700 8195 of 060 424 4720, e-pos info@kudukaya.co.za of besoek www.kudykaya.co.za
Kampvuur. Foto: Mariska Spoormaker
Die ingang na die plaas Ysrivier. Foto: Mariska Spoormaker
Ysig. Foto: Mariska Spoormaker
Van links koel Cara-Lee en Niekie Dorfling en Heilie Combrinck af in ’n koue waterpoel. Leila, van die plaas Ysrivier, kyk toe. Foto: Mariska Spoormaker
Reëls. Foto: Mariska Spoormaker
Wasgoed. Foto: Mariska Spoormaker
Die poele raak diep, besef Mariska Spoormaker.
'n Poel. Foto: Mariska Spoormaker
Ná ’n stewige stap-en-klim-tog trotseer Heilie Combrinck die koue water en koel af in een van Ysrivier se bergpoele. Foto: Mariska Spoormaker
Hond. Foto: Mariska Spoormaker
Grafika
Grafika

Meer oor:  Patensie  |  Baviaanskloof  |  Reis  |  Oos-Kaap Naweek  |  Oos-Kaap  |  Ysrivier
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.