Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Dis goedkoop (en gratis!)

Dit word met goeie rede die Goudstad genoem - Johannesburg is nie die goedkoopste van stede nie. Dié lekker doendinge sal egter enige sak pas, skryf Alicia Vermeulen.

Jy gaan nie ’n beter uitsig oor Johannesburg kry as vanaf die Carltonsentrum se dak nie.

As jou idee van ’n goeie tyd nie is om winkelsentrums plat te loop op soek na ontwerpersklere, of om dié klere aan te trek vir ’n ete by ’n stywe Sandton-restaurant waar ’n bottel wyn jou ’n week se begroting kos nie, kan dit soms voel of jy in die minderheid is in die land se ekonomiese hoofstad.

Maar as jy weet hóé, kan jy die stad geniet én genoeg geld oorhê om in hom te woon.

Delf in die geskiedenis by die Apartheidsmuseum – een van die plekke waar City Sight­seeing se busse stop.

Ontdek die stad

* City Sightseeing se vrolike rooi busse is ’n maklike manier om die stad se grootste besienswaardighede vanaf die middestad en Rosebank tot by Soweto te besoek. Met ’n heeldagkaartjie (R180) kan jy by tot 20 plekke afklim en dan weer die volgende bus haal, of bly sit en net die uitsig geniet. Van die plekke waar die bus stilhou, sluit in Konstitusieheuwel, die Ditsong Militêre Museum, Gold Reef City, die Apartheidsmuseum, die Johannesburgse Dieretuin en kleurvolle Braamfontein.

  • Vanaf R160 vir volwassenes en R100 vir kinders by citysightseeing.co.za. Gratis vir kinders jonger as vyf.

* ’n 10 km-staproete in die hartjie van Johannesburg? Regtig! By Melville-koppies kan jy tot drie keer per maand by ’n begeleide staptoer aansluit waartydens jy meer oor die plante en diere in die omgewing sal leer en lieflike uitsigte oor die stad kan geniet. Daar is ook korter staptoere beskikbaar, en ’n honde-staproete op die eerste Saterdag van elke maand.

  • Alle staptoere kos R60 vir volwassenes en R40 vir kinders (geen kinders jonger as ses). Ontmoet in Marks­park se parkeerterrein. Honde-stappies kos R30 vir mense en is gratis vir viervoetiges. Gaan na mk.org.za en klik op “Calendar” vir meer.
Die Johannesburgse Dieretuin is een van verskeie plekke waar City Sightseeing se busse stop.

    Mark dag

    * Boetiekbier, pizzas met bros korse, die beste paella buite Spanje en soetgoed wat jou mond laat water. Market on Main is een van Johannesburg se gewildste markte en benewens vele kosstalletjies, is daar ook handgemaakte en unieke klere, bykomstighede en dekor te koop. Gaan vroeg, voor dit te besig raak, sodat jy ’n sitplek kan kry en die hele dag kan uitspan, peusel, en na die mense staar.

    • Die mark vind elke Sondag by 1Fox (Foxstraat 264) plaas en toegang is gratis. Gaan na marketonmain.co.za vir meer.

    * As winskopies jou oë laat glinster, sal jy in jou element wees by die Oriental Plaza. Daar is oor die 360 winkels en stalletjies wat enigiets van klere tot kos tot elektronika verkoop. Die mark bestaan al sedert die 1970’s en onderhandeling is deel van die kultuur hier – moet dus nie skaam wees om vir afslag te vra nie.

    • Die mark is van Maandae tot Vrydae van 09:00 tot 17:00 oop en Saterdae tot 15:00, by Lilian Ngoyi-straat 38, Fordsburg.
    By The Bioscope se buitelug-fliekaande kan jy jou aan die skerm óf die liggies verkyk.

      Vir kultuurdiere

      * Die James Hall-vervoermuseum huisves die grootste versameling voertuie in die land, van ossewaens tot stoomtreine en motors tot fietse, uit die jare toet tot nou. Toegang is gratis, maar donasies hou die deure oop.

      • Die museum, in Rosettenvillestraat, La Rochelle, is oop van 09:00 tot 17:00, Dinsdae tot Vrydae, en tot 12:00 oor naweke. Gaan na jhmt.org.za vir meer.

      * Fliekkaartjies is deesdae buitensporig duur – én dan kos die springmielies en koeldrank byna meer as die kaartjie. The Bioscope, Foxstraat 286, se kaartjies kos dalk R120, maar die springmielies is heelaand gratis. Bonus! Soms wys lokettreffers, en ander kere klassieke rolprente. Daar is ook buitelug-fliekaande en soms gratis dokumentêre op Sondae.

      Rekspronge is duur, maar daar is ook bekostigbare adrenalien-opsies by Soweto Towers.

        Vir avontuurlustiges

        * ’n Reksprong by Soweto Towers, teen tot R900, is dalk ’n duur spulletjie, maar jy kan ook die adrenalien aan die vloei kry met ’n strawwe muurklimsessie teen die torings vir net R60. Om die stad van die toppunt te bekyk, kos ook R80. En nou het dieselfde maatskappy ’n tweede avontuurlokaal in Fourways oopgemaak. By Play at Height kan jy ook klim en spring, maar die groot trekpleister is die “lugkroeg” (R50 toegang), waar jy tot 21:00 saans ’n glasie kan klink terwyl jy Johannesburg se liggies bekyk.

        * Nou dat die warmer weer Johannesburg (terloops, een van die stede met die meeste bome ter wêreld) weer groen verkleur, is die uitsig vanaf die Carltonsentrum se dak asemrowend. Dis dalk nie meer die hoogste gebou in die Suidelike Halfrond soos toe dit in 1973 gebou is nie, maar dit bied steeds ’n besonderse uitsig.

        • Commissionerstraat 150. Toegang tot die dak kos R15. Dis daagliks tot 18:00 oop en tot 14:00 op Sondae.
        Meer oor:  Johannesburg  |  Toerisme  |  Doendinge  |  Reis
        MyStem: Het jy meer op die hart?

        Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

        Ons kommentaarbeleid

        Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

        Stemme

        Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.