Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Dis naweek, kom ons duik

Onderwater is almal gelyk – dis een van skubaduik se grootste aantrekkingspunte. Boonop kan jy van al jou sorge vergeet in ’n stil, kleurvolle onderwater-wonderwêreld.

’n Sout-en-peper-kleurige bontpaling loer by sy grotjie uit.Foto’s: Layla Edeling

‘Toe Adam en Eva uit die Tuin van Eden verban is, is die tuin nie vernietig nie. Die tuin is gesink.”

So sê ’n skubaduiker by die Coral Divers-duikkamp in Sodwanabaai.

Hoewel dié opmerking nogal dramaties is, is dit nie vergesog nie.

Dis juis hoekom miljoene mense passievol oor skubaduik as sport, stokperdjie en beroep is.

Die woord skuba is afgelei van die Engelse woord scuba (die afkorting vir self-contained underwater breathing apparatus). Skubaduik behels dat skubaduikers lang tye onderwater deurbring. Dis presies wat duisende duikers jaarliks by Sodwanabaai, aan die kus van KwaZulu-Natal, doen.

Om karetseeskilpaaie te sien tydens ’n duik is altyd ’n meevallertjie.Foto: Layla Edeling

Verbeel jou: ’n Plek waar ras, klas, geslag, gewig, sosio-ekonomiese status en politiek nie saak maak nie. ’n Plek waar almal op gelyke voet is met net een doel voor oë – om die seelewe te beleef, te bewaar en te bewonder. Dié verbeeldingsvlug is nie ’n lugkasteel nie, maar ’n werklikheid vir skubaduikers van oor die wêreld heen.

Neem vir Hanalie Burger as voorbeeld. Die baksteenhoogte buksie van Pretoria is musikaal, kunssinnig en besit haar eie oudio- en visuele produksiehuis én sy is een van die mees gerespekteerde duikers in die land.

Burger se klein statuur, velkleur, huwelikstatus, inkomste of geloof maak glad nie saak in die duikgemeenskap nie. Al wat saak maak is dat sy passievol en hoogs kundig oor en opgelei is in skubaduik. Daarom dien sy as direkteur op die National Association of Underwater Instructors (NAUI) se internasionale raad van direkteure. Sy is ook die mede-eienaar van die Scuba Studio-duikskool in Centurion.

’n Gespikkelde skoonheid – ’n koraalklipkabeljouFoto: Layla Edeling

Wat maak dit so spesiaal?

Jy sien Finding Nemo-tipe tonele voor jou afspeel en weet dat jy nêrens anders as onderwater dié tipe skoonheid gaan beleef nie.

Wonder jy of jy moet leer om te skubaduik? Burger sê as jy “lief is vir die natuur, avontuurlustig is, oor integriteit en selfdissipline beskik en respek vir die bewaring van ons oseane en planeet het”, is skubaduik uitgeknip vir jou.

Die voordele van dié stokperdjie is ontelbaar.

Die oseaan is een van die mees asembenemende skeppings met seevis-families, koraalriwwe en pelagiese spesies.

Die son, seelug en soutwater is goed vir jou gees en vir jou vlees. Navorsing deur die duik-organisasie PADI het bevind dat een duik tot 600 kalorieë kan verbrand. Dis in dieselfde klas as draf – net sonder die sweet en kortasem.

Bottelnekdolfyne baljaar in die water van Sodwanabaai. Foto: Layla Edeling

Burger verduidelik die wetenskap (wat heeltemal bo leke se vuurmaakplek is) agter skubaduik. Dit kom daarop neer dat skubaduik die vrylating van goedvoel-hormone bevorder.

“Dis voordelig vir ’n mens se geestesgesondheid.” sê sy.

’n Gevoel van samehorigheid, samesyn en geborgenheid heers onder die skubaduik-gemeenskap. Selfs al verskil die groep se lewens bo water drasties, is almal dit eens dat die lewe onder die water noemenswaardig is. En dis dan ook waaroor die duikers ná duike gesels.

“Duik is ’n sosiale sport sonder die druk van mededingendheid en waar jy baie nuwe vriende maak en ongelooflike mense ontmoet,” beaam Burger.

Skubaduikers word die geleentheid gegun om die wêreld vanuit ’n ander oogpunt te beskou. Om die waarheid te sê, ’n splinternuwe wêreld gaan vir jou oop sodra jy in die water afsak. Vergete is dokumentêre reekse van die seelewe – jy sien dit immers in lewende lywe.

Skubaduikers hoef geen jaarlikse fooi te betaal nie en kan duik wanneer en soos dit hul sakke pas.

Ongeag hoe ervare ’n skubaduiker is, daar is altyd meer dinge om te leer oor die seelewe. Het jy geweet seeperdjies kies net een lewensmaat in hul leeftyd, dus geen egskeidings onder die seeperdjiebevolking nie? Of dat haaie nie tandartse nodig het nie, want hul tande se oppervlakke bestaan uit 100% fluoried wat hulle basies immuun teen tandbederf maak?

’n Poumantisgarnaal kom sê hallo.

Daar is ook talle kursusse wat skubaduikers se ervarings onderwater selfs meer verryk. Jy voel werklik gewigloos.

En laastens, maar nie die minste nie, is die stilte wat om jou vou wanneer jy in die dieptes af sink. Dit is onmoontlik om onderwater te praat, wat skubaduik die ideale ontvlugting van skinderstories en babbelbekke maak.

So, jy wil duik?

Burger se Scuba Studio lei skubaduikers op verskillende vlakke op. Kies tussen ’n oopwater-, gevorderde, redding-, meesterduiker-, duikmeester-, instrukteurkursus en ook verskeie spesialiteitskursusse soos onderwaterfotografie.

’n Basiese oopwater-skubaduikkursus sal jou sowat R3 800 uit die sak jaag. Jy kan die leermateriaal elektronies ontvang en klas draf. Dit word gevolg deur ’n volle naweek van praktiese opleiding, en siedaar! Jy kan duik.

Duikers was verheug om in Desember ’n skeurtandhaai op te merk in Sodwanabaai. Foto: Layla Edeling

As jy dieper en meer gespesialiseerd wil duik, is daar ander opsies om later van te kies.

Stuur e-pos na info@scubastudio.co.za vir meer inligting.

Wat het jy nodig om te duik?

Skubaduik kan nie sonder die nodige toerusting gedoen word nie. Dis egter alles dinge wat jy kan huur waar jy ook al gaan duik.

Die volgende is nodig:

  • ’n Duikbril help om onderwater te sien;
  • ’n Silinder van staal of aluminium met ’n gasmengsel (gewoonlik gewone lug) sodat jy onderwater kan asemhaal;
  • ’n Reguleerder, wat aan die silinder gekoppel word, waardeur jy asemhaal;
  • ’n Dryfbeheertoestel (BCD of buoyancy control device) wat verseker dat duikers gewigloos in die water hang deur dit op of af te blaas. Jou silinder en reguleerder word ook hieraan gekoppel;
  • ’n Duikpak om jou warm te hou;
  • ’n Loodgordel (’n gordel waaraan gewigte geheg word) wat dit vir die duiker moontlik maak om af te sak in die water en onder te bly; en
  • Paddavoete om jou te help om vinniger onderwater te kan beweeg.

Jy hoef ook nie derduisende rande te bestee om al die toerusting te koop nie; jy sal al die toerusting kan huur by ’n duik­lodge wat sy sout werd is.

As jy egter beplan om gereeld te skubaduik, is dit die moeite werd om jou eie duikbril, duikpak en paddavoete aan te skaf.

Hanri Wondergem en Melissa Tighy geniet hulle gate uit tydens ’n opwindende skubaduik in Sodwanabaai in Desember 2020.Foto: Wikus Duvenhage
’n Tweestreepanemoonvis skuil tussen die seeanemone.Foto: Layla Edeling
’n Skool bloustreep-snappers.
’n Jong straal-vuurvis.Foto: Layla Edeling
’n Bontpaling se bek word skoongemaak.Foto: Layla Edeling

Hoeveel kos dit?

Skubaduik is goeie waarde vir geld in vergelyking met ander stokperdjies.

’n Stel beginner-skubatoerusting – wat bestaan uit ’n goeiegehalte-duikpak, -bril en paddavoete – sal jou sowat R3 000 uit die sak jaag. (’n Duikbril kos sowat R500, ’n duikpak R2 000 en ’n stel paddavoete tussen R300 en R500.)

Verblyf by duikkampe strek van tente en basiese A-raam-huisies wat ’n paar honderd rand per nag kos met gedeelde ablusies, tot vyfster-duiklodges so reg uit ’n glanstydskrif – en tariewe soortgelyk aan jou maandelikse huispaaiement. Dit hang alles natuurlik af hoe grênd jy wil bly.

In Suid-Afrika sal ’n duik jou sowat R500 kos, wat jou suurstoftenk insluit. As jy toerusting gaan huur, begroot sowat R100 ekstra.

Baie duikkampe en lodges bied ook duikpakkette, waar jy byvoorbeeld vyf duike teen ’n afslagtarief kan koop. Hoe meer jy duik, hoe goedkoper is dit dus per duik.

  • Scuba Studio het vir Wondergem opgelei as skubaduiker op gevorderde vlak.
’n Witspikkel-koffervis.
Ontvlug by Sodwanabaai

Die onafhanklike, internasionale skubaduik-webwerf, Scuba Travel, plaas Sodwanabaai in die noorde van KwaZulu-Natal 21ste op sy lys van die beste plekke ter wêreld om te duik.

Sodwanabaai skop seesand in die oë van skubaduik-bestemmings soos Castle Rock by Komodo in Indonesië, Mosambiek se Manta Reef in Guinjatabaai en die Rooisee se Sha’ab Rumi South.

Sodwana is nie die enigste duikplek in Suid-Afrika nie. Jy kan ook onder die water baljaar by ander plekke in KwaZulu-Natal, soos Aliwal Shoal of Protea Banks. Jy kan ook in die Wes-Kaap, Oos-Kaap en Noord-Kaap duik.

Daar is selfs varswaterduikplekke, soos dié van die Marico-oog in Noordwes, waar jy waterlewe kan beleef.

Wat Sodwanabaai egter spesiaal maak is die ligging – dis in die hartjie van die iSimangaliso-vleilandpark, ’n Unesco-wêrelderfenisgebied.

Dit beteken kleurvolle koraalriwwe en meer as 1 200 visspesies wat beskerm word. Dan is daar ook ongewerwelde diere, skilpaaie, mantarogge en haaie by die koraalriwwe te sien.

Boonop is daar heeljaar dolfyne in Sodwanabaai en skippers met valkoë wat seker maak jy kry die geleentheid om dolfyne op een van jou duike te sien.

Die Indiese Oseaan sorg vir warm water, tussen 19 en 29 grade Celsius (net soos die bababeer se pap – nie te warm nie, nie te koud nie, net mooi reg).


Meer oor:  Hanri Wondergem  |  Duik  |  Stokperdjies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.