Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Dís wat ’n dag by Etosha Nasionale Park behels
Hierdie swartrenoster het ook bietjie afgekoel in die modder.

’n Dag in die natuur omring deur soveel verskillende diere doen wonders vir die siel. Danielle Daniëls gee meer insig oor wat jy by Etosha Nasionale Park kan verwag.

Vanaf Windhoek is dit ongeveer vier uur se ry, afhangend van hoe vinnig jy ry en hoeveel keer jy stop, na Etosha Village – dit klink lank, maar dis beslis die moeite werd.

Met ons aankoms by Etosha Village in Februarie 2020 is ek en Michelle Phillips, die bemarker van dié bylaag, begroet deur versengende hitte, maar ook ’n vriendelike, behulpsame hekwag. Dis net daar waar die natuur oorneem, ons van die lang rit vergeet en uitsien om bietjie agteroor te sit en die geriewe by die bestemming te geniet.

Kort voor lank maak ons al gereed vir aandete, want die volgende oggend is dit vroeg opstaan vir ons avontuur in die wildreservaat.

Die langverwagte olifant waarna daar gesoek was. Hier’s hy besmeer van die modder. Foto’s: DANIELLE DANIËLS

Voldagwildrit by die Etosha Nasionale Park

Dis 05:30 en pikdonker, maar ons is op pad om ontbyt te gaan eet. Om 06:30 is ons by ontvangs om voorafverpakte middagetepakkies (op eie koste) te ontvang en Eddie, die gids, te ontmoet. Verversings is ingesluit in die voldagwildrit-pakket, maar jy moet jou eie middagete saamvat.

Teen 06:45 is ons al in die ry private motors en maatskappy-wildritmotors voor die park se hekke sodat die gids die permit vir die dag kan afhaal. Jy kan slegs die park binnegaan met ’n permit, so daag maar vroeg op, want die ry kan nogal lank raak. Dis 07:00 en die hekke maak oop vir ons voldagwildrit.

Swartneusrooibokke in die pad besig om grond te eet as kalsiumaanvulling.

Soos ons deur die park ry, is van die eerste diere wat ons sien swartneusrooibokke. Hulle is oral in die park en kyk nuuskierig na die motors wat verbyry. Kameelperde se koppe steek hoog bo die bome uit soos hulle deur die takke beweeg en daar’s selfs jakkalse by ’n watergat. Eddie bring die voertuig tot stilstand by ’n interessante nes.

“Hierdie nes word deur die wewervoël gemaak. Julle sal sien dat dit lyk asof daar nie ’n ingang is nie, maar daar is een aan die onderkant om die ergste reën uit te hou en te keer dat slange nie so maklik by die nes kan inkom nie. Arende is ook lief daarvoor om bo-op die nes te sit, so die besondere ingang bied ekstra beskerming,” vertel hy.

Die witvlerkkorhaan is ook bekend as die “skoonma” omdat hulle geraasmakers is.

Volgende hoor en sien ons die witvlerkkorhaan langs die paadjie fluit. In die verte is volstruismannetjies en net ’n paar meter daarvandaan staan ’n gemsbokbul op sy eie. Volgens Eddie kan jy ’n gemsbokbul uitken aan die lengte van sy horings en is hulle geneig om alleen te loop.

Die gompou was ’n seldsame voël om te sien en ook om te hoor dit kan vlieg.

Volgende sien ons ’n gompou-mannetjie – glo die grootste vlieënde voël, en ook sebras, ’n groep blouwildebeeste, en springbokkies wat lyk asof hulle regstaan vir die kamera.

Meeste van die gidse ken mekaar en kommunikeer via radiotoestelle. Eddie verneem dat een van die ander gidse ’n leeu raakgesien het, en vinnig slaan ons koers in daardie rigting. Met ons aankoms lê die koning van die oerwoud rustig onder ’n boom, besig om aan ’n karkas te smul. Ons tuur vir ’n paar minute na hom in die hoop dat hy sal beweeg en omdraai vir die kameras, maar nee, hy’s te besig met sy middagete.

Sebras is volop in die park te sien tydens ’n wildrit.

Teen 13:00 het ons al meeste van die diere in die park gesien en is dit tyd vir middagete. Ons stop by een van die kampe om te eet, ’n bietjie af te koel, en die badkamers te gebruik voordat ons weer vort is. Olifante ontwyk ons nog.

Kort voor lank kruis ’n swartrenoster ons pad op pad na die watergat om in die modder te baljaar. Dié een was glad nie skaam vir die kameras nie.

Die blouwildebeeste was van die diere wat op verskeie plekke te sien was.

Ons is weer verby ’n groep swartneusrooibokke wat hierdie keer besig is om die grond te lek. Eddie laat hoor dat grond vir hulle ’n bron van kalsium is.

Hy ry verder aan na ’n paar olifantwatergate, maar steeds is daar geen olifant in sig nie.

Grondeekhorings jag nie ver van hul gate af nie. Hierdie mannetjie was vinnig op pad na sy gat.

’n Grondeekhoring skarrel vinnig na sy gat wanneer ons nader kom, maar ons is darem betyds om foto’s te neem.

Ons ry verder in die hoop dat ons olifante langs die roete sal sien, maar hulle bly ons ontwyk. Soos ons aanry op die uitkyk vir olifante, trek die wolke saam en begin dit reën. Ons gryp vinnig na die reënjasse, wat hulle vooraf verskaf het, om onsself te bedek – asook die kameras! Diegene wat nog nie Etosha besoek het nie, maak gereed vir al vier seisoene op een dag . . .

Ewe skielik is die reën verby en die son skyn weer. Dis nie lank nie of Eddie is weer op die radio en hoor daar is olifante in sig. Daar gekom, staan die ou grootte, vaal gesmeer van die modder en min gepla met ons. Hier het ons bietjie langer gestaan as vir die ander diere, want ons was al heeldag op soek na olifante. Ons tyd saam met die ou grote kom tot ’n einde toe hy voel dis tyd om aan te beweeg.

’n Jagluiperd wat die pad oorsteek agter ’n jakkals aan.

Op pad terug hek toe sien ons ’n rooihartebees, sy gesig ook besmeer van die modder. Hulle doen dit glo om vlieë weg te hou. Net toe ons dink die wildkyk is nou klaar, sien ons sowaar ’n jagluiperd en ’n jakkals wat saam die pad oorsteek.

Dis net na 17:00 en ons is deur die park se hek, uitgeput ná die dag se aktiwiteite, om weer die volgende oggend vroeg op te staan.

Wanneer jy op so ’n voldagwildrit wil gaan, onthou die park is groot. Jy moet maar geduld hê, want jy gaan nie noodwendig al die diere so agter mekaar sien nie. Soms sien jy hulle nie in die oggend nie, maar dalk eers in die middag, en sommige sien jy dalk glad nie.

Meer oor:  Namibië  |  Natuur  |  Vakansieoord  |  Vakansiebestemming  |  Reis  |  Namibie  |  Natuurreservaat
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.