Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Dis wraggies Vikings aan die suidpunt van Afrika!

Bid jou aan! ’n Viking-skip helder oordag in die vissershawe van Struisbaai! Dit blyk toe nie ’n hallusinasie te gewees het nie, kom Ilse Zietsman agter toe sy ondersoek gaan instel.

Die Midgard Herron van die Midgard-ekspedisie lê voor anker in die hawe van Struisbaai.

Op Sondag 2 Februarie het ’n houtseiljag langs die visserstjakkies (soos die vissersbote in die Overbergse volksmond bekend staan) voor anker gelê.

By die Catch Cook-restaurant op die hawe het manne met wilde baarde waarin sommige silwer kraletjies gevleg het, aan vis en tjips gesmul. Voor en agter op die mans, en enkele vroue, se T-hemde was geskryf: “Viking Crew”. Ook “The Vikings Are Coming . . .”

Wel, hierdie Vikings was nie op pad na die suidpunt van Afrika nie – hulle was reeds daar! En baie ingenome met waar hulle hulself bevind het ook.

Ek moes net meer uitvind! Gelukkig was dit net die manne se baarde wat wild en woes was; dié pseudo-Vikings – vier van die 12 bemanningslede – het entoe­siasties vir my vertel van die projek waarmee hulle besig is.

Die projek staan bekend as die Midgard-ekspedisie en word gelei deur Bjorn Heyerdahl, kleinseun van Thor Heyerdahl.

Laasgenoemde was ’n avonturier en ontdekkingsreisiger van Noorweë wat beroemdheid verwerf het nadat hy in 1947 die KonTiki-ekspedisie gelei het. Op dié ekspedisie het hy 8 000 km ver met ’n handgeboude vlot oor die Stille Oseaan geseil.

Met Heyerdahl se uitgebreide reise, insluitende die Kon-Tiki­ekspedisie, wou hy probeer illustreer dat kommunikasie tussen mense van verskillende vastelande lank gelede wel moontlik was, nog voordat Marco Polo of Columbus by hierdie vastelande aangedoen het. Soos hy, kon hulle die oseane met primitiewe vaartuie oorsteek, het hy geglo.

Bjorn Heyerdahl blyk van dieselfde stoffasie as sy oupa te wees.

Bjorn is die leier van die Midgard-ekspedisie wat met ’n navorsingsboot, die Midgard Herron, deur die wêreld reis.

Vier van die bemanning span uit in Struisbaai – André van der Walt, John All, Rob Torkildson en Caroline Lander.Foto’s: ILSE ZIETSMAN

Saam met hom reis ’n bemanning bestaande uit wetenskaplikes, ontdekkers en volhoubaarheidskundiges.

Soos hulle reis, ondersoek hulle wêreldwyd hoe op ’n intelligente en volhoubare manier geleef kan word.

Dít wat hulle leer, pas hulle op hul eie lewens, beroepe en gemeenskappe tuis toe, en hulle dra ook die kennis oor aan ander, wat dit dan op hul beurt kan toepas.

Die Midgard-reisigers is geïnspireer deur die doeltreffende manier waarop die Vikings se smal, vinnige sloepe (longboats) ontwerp is asook deur hul waagmoed en hoe hulle daarin geslaag het om geen afval tydens hul reise te genereer nie.

Waarom juis ’n Viking-boot? Dis ongetwyfeld die vraag op baie mense se lippe.

Op hul webtuiste begin die verduideliking met ’n passievolle uitroep: “Daar is niks wat naby (’n Viking-boot) kom nie!”

Volgens die Midgard-reisigers versinnebeeld ’n Viking-boot moed, avontuur, vakmanskap, vindingrykheid, eenvoud; die simbiose tussen die mens, vaartuig en oseaan.

As dié verandering van denke nie teweeggebring word nie, kan die mensdom binne die volgende 100 jaar uitsterf, aldus die Midgard-ekspedisie-ondernemers.

As ek aan my gesprek met vier van die bemanningslede terugdink, is ek dus nie verbaas nie dat hulle dadelik vir my gevra het of ek nie jaloers op hulle en die ervarings wat hulle beleef is nie.

Die antwoord was wel nee; in diepwater begeef ek my nie sommer nie, maar ek was wel uiters gefassineer met hul ekspedisie.

In die volgende asem wou hulle weet of ek weet dat daar ook klimaatsverandering was in die tyd toe die Vikings geleef het.

Die kennis wat die Midgard-reisigers opdoen, word toegepas in klimaatparke in Mianmar en Costa Rica; op plase, in gastehuise en private wonings in die Vrystaat en in Minnesota in Amerika; in dorpies in Italië; in hernuwingsprojekte in Johannesburg, op eilande aan die kus van Mosambiek en in Dubai. Só word op hul webtuiste verduidelik.

Die span se leuse kom op die volgende neer: die wetenskap van wéét, die towerkrag van doen en die mistiek van wéés (of leef).

Hulle streef daarna om te verken, leer, reis, skep en sáám met die natuur te werk, nie daarteen nie.

Deur hul reise met hul Viking-boot wil hulle “méér word, eerder as meer hê of meer besit”. Hulle wil terselfdertyd mense wat hulle teëkom, inspireer om dieselfde na te streef.

Op hul webtuiste verduidelik hulle verder dat die wêreld ’n nuwe soort leierskap nodig het. Die mensdom moet anders leer dink.

As dié verandering van denke nie teweeggebring word nie, kan die mensdom binne die volgende 100 jaar uitsterf, aldus die Midgard-ekspedisie-ondernemers.

Hulle beklemtoon verder dat hul Viking-ekspedisie nie ’n nostalgiese herlewing is van dít wat was nie. Dit gaan ook nie oor hul eie ego’s nie. Hulle wil – en ons moet – hedendaagse Vikings word; ons moet sorg dat ons lewens relevant is en bly, ons moet bydra tot wat om ons gebeur en ons moet ’n goeie invloed op mekaar hê. ’n Mondvol uit die mond van ’n groepie Vikings, as jy my vra.

’n Dag ná ons ontmoeting was ek opgewonde om op hul Facebook-blad, Midgard Expedition, te sien dat hulle om 12:00 op 3 Fe­bruarie om die suidpunt van Afrika geseil het. As ek ná een ontmoeting namens hulle opgewonde is, dink net hoe moes húlle gevoel het!

  • Lees meer by midgard­expedition.com.
  • Kyk op YouTube na ’n video van hoe die ekspedisie beplan is, hoe die Midgard Herron gebou is en die roete wat gevolg word.
  • Volg die ekspedisie op hul Facebook-blad.
  • Hul video-inskrywing op 1 Februarie wys hoe die Midgard Herron by Struisbaai-hawe die water ingly, met een van die pylsterte wat in die hawe woon wat rustig langsaan in die vlakwater swem. ) Kyk na die foto’s van die bemanningslede, toe die boot gebou is en waarheen hulle al gevaar het op Instagram.
Meer oor:  Afrika
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.