Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Dit is alles waar, dit is alles daar

'n Braai saam met jou werkmense of gholf saam met die baas is lankal nie meer genoeg om die moreel van werknemers te verbeter nie. Deesdae moet werkgewers buite die boks dink en millenniërs vermaak met helikopterverfbal en rofstoeisessies, skryf Carla Lewis.  

So ’n mooi uitsig sal ’n mens natuurlik van al jou werkspanning laat vergeet.

Die versoek klink soos iets waarmee Jordan Belfort, die “Wolf of Wall Street”, op sy hedonistiesste en uitspattigste vorendag sou kom.

“Ek en ’n klomp direkteure vlieg in vir ’n spanbou. Bou vir ons ’n rofstoeikryt en organiseer ’n span professionele vrouestoeiers om ons ’n bietjie rond te gooi.”

“Gelukkig is geen versoek te verregaande vir ons nie,” sê Taryn Lockhart, die bestuurder van Leobo Private Re­serve, ’n eksklusiewe wildplaas in die ­Waterberge, waar Fortune 500-maatskappye en JSE-genoteerde maatskappye kom spanbou, kop skoonmaak en bosberade hou.

Van die spanbousessies sluit ’n sterrekykervaring met hierdie monsterteleskoop onder leiding van ’n astrofisikus in.

“Ons het vir die kliënt ’n stoeikryt in ons boma gebou, en om dinge interessanter te maak, twee van Suid-Afrika se beste vrouerofstoeiers ingevlieg.”

Wanneer jy Taryn probeer pols vir nog ’n bietjie skindernuus, glimlag sy net. Saam met afgevaardigdes se streng dieetvoorkeure word daar dikwels ook ’n koeël­vaste snoerklousule deurgestuur.

By Leobo is die kliënte se privaatheid en diskresie van uiterse belang. Wat by Leobo gebeur, bly by Leobo.

“Al wat ek vir jou kan sê, is dat die mans tweede beste geëindig het!”

’n Ander korporatiewe leer

In ’n wêreld waar maatskappye soos Google en Airbnb se kantore klimmure en drafbane het, werknemers se lessenaars hangmatte is en jy kan wegsluip om gou ’n uiltjie in ’n spesiale slaapkokon te knip, moet bemarkingshoofde en korporatiewe geleentheidsbeplanners ook by al die ­uitspattigheid kan byhou.

As jou versoek wettig is, nie enige etiese reëls oortree nie en daar genoeg geld in die begroting is, kan hulle basies enigiets vir jou organiseer.

“Wanneer dit by spanbousessies en korporatiewe wegbreke kom, moet ons beslis buite die lyne inkleur wanneer ons ’n ­venue kies,” vertel Jeana Turner, ’n geleentheidsbeplanner by Event Inspira­tions, ’n maatskappy wat spesialiseer in korporatiewe geleenthede.

“Daar word al hoe meer klem geplaas op die spanbou of geleentheid se spyseniering, dekor, vermaak en die afgevaardigdes se aktiwiteite. Korporatiewe kliënte soek die jongste neigings en hulle dring daarop aan om ordentlike winsopbrengste te sien vir die geld wat hulle in die spanbou belê het.”

Benewens pret en ontspanning, moet daar ook aandag gegee word aan innovering en groei, en nuwe idees moet uit die soort geleenthede vloei.

“In Suid-Afrika veral is daar ’n groot vraag na venues wat vernuwende ervarings bied en die afgevaardigdes se breinkrag en kognitiewe prosesse stimuleer,” sê Michelle Abrahams, Suid-Afrikaanse bemarkings- en verkoopshoof van ’n internasionale maatskappy.

“Wanneer ek ’n spanbou reël, soek ek ’n venue wat uitstaan en iets anders bied as net nog ’n spabehandeling en ’n mooi uitsig. Suid-Afrikaanse maatskappye is somtyds traag om geld te bestee om hul werknemers te laat speel, maar dis wanneer die magic gebeur.

“Vir ’n vorige maatskappy was ek die spanbestuurder om ’n driedimensionele korporatiewe identiteit vir die maatskappy se kantooromgewing te ontwikkel.

“Die boontjietellers het ’n stokkie voor my planne gesteek omdat dit te duur was, maar ek het die begroting gebruik om onvergeetlike konferensies te skep vir die werknemers en ons vennote.”

Die dekor by die Leobo Private Reserve is uitsonderlik. Daar’s onder meer ’n kandelaar gemaak uit ’n seekoei se skelet.

Millenniër-malheid

Die direksies van maatskappye word ook al hoe jonger, wat nog uitdagings aan ­venues en geleentheidsbeplanners stel.

Sommige millenniërs leef op sosiale media en elke avontuur, vakansie en loopbaanprestasie word kieskeurig uitgesoek en aan hul vriende en volgers opgedis. Ewe skielik is ’n dinkskrumsessie in ’n ­hotel se konferensiesaal, gevolg deur ’n buffetmiddagete en ’n trust fall nie meer genoeg nie.

“Millenniërs soek nie nog ’n formele ­gala-ete met ’n prysuitdeling ná die tyd nie. Hulle is op soek na tegnologies gevorderde ervarings. Dit kan informeler wees en iets insluit wat die adrenalien laat vloei. Dié mark is ook oopkop en bereid om te eksperimenteer. Dit is baie belangrik dat venues en korporatiewe beplanningsmaatskappye dit in ag neem.”

Jeana beaam ook dat millenniërs nie onderskat kan word nie.

“Omdat tegnologie so vinnig ontwikkel en millenniërs ’n groot deel van die arbeidsmag uitmaak, dring kliënte daarop aan dat tegnologie ’n groot deel uitmaak van ’n spanbou. Sosiale media speel beslis ’n belangrike rol in die spanboubedryf.

“Ons gebruik apps wanneer ons ’n spanbou vir ’n maatskappy se direksie hou of ’n korporatiewe konferensie beplan. Dit help om opwinding aan te wakker en dit skep ook so ’n klein bietjie van ’n ophef tydens die geleentheid,” sê Jeana.

Michelle meen as jy die rol van sosiale media ignoreer, maak jy ’n groot fout.

“Ek ontdek gereeld nuwe venues en kry nuwe idees wanneer ek my vriende se sosiale media dophou. Afgevaardigdes deel hul ervarings, uitstappies en korporatiewe geskenke op Facebook en Instagram.”

Die deelkultuur is voordelig vir sowel die venue as vir die maatskappy wat die spanbou aanbied.

“Dit hef ’n maatskappy se beeld en naam op, dis naambou en bemarking, ­gratis en verniet, want wie wil nié vir ’n maatskappy werk wat vernuwende, baanbrekersgeleenthede vir hul werknemers aanbied nie?”

Fantasievlug

Die span by Leobo weet ook goed wie hul nuwe kliënte is en dat elke spanbougeleentheid so fotogenies en Instagrambaar as moontlik moet wees. Selfs die wêreldwyse direkteur wat alles gewoond is, sal sukkel om nie beïndruk te wees deur die stukkie oordadige fantasie in die hartjie van die Bosveld nie.

Spanbou op steroîede: Helikopterverfbal. Almal kry ’n beurt om eers die prooi op die kwadfiets te wees, en later die jagter in die helikopter.

Die huis, toegerus met sy eie R1 miljoen-teleskoop, was eers die private vakansiehuis van Rory Sweet, ’n Britse entrepreneur en tegnomagnaat, maar dit is intussen omskep in ’n speelplek vir rykes en korporatiewe magnate.

In omtrent elke hoekie is daar ’n geleentheid vir ’n selfie of ’n Instagram-

oomblik.

Op die vloer van die voorportaal pronk ’n reusagtige krokodilvel. Sweet het duidelik ’n liefde vir kuns en dekor, met ’n goeie dosis aweregse humor.

Onder ’n klokglas in die biblioteek is daar onder meer ’n antieke beursie van regte egte mensvel – “Ons het al die nodige permitte,” verseker Taryn my – en ’n sadomasochistiese rubbermasker.

In ’n nis is ’n beeldhouwerk van die Suid-Afrikaanse kunstenaar Michael MacGarry, ’n AK-47 oortrek met spykers. In die eetkamer hang ’n kandelaar gemaak van ’n seekoei se skelet. En dit is net die begin.

Die oorloopswembad kyk uit op ’n Bosveldlandskap wat Karen Blixen liriese paragrawe sou laat skryf het.

Die kamers waarin die afgevaardigdes tuisgaan, is ’n droomagtige verbeeldingsvlug, met massiewe eiervormige baddens en rusbanke wat aan toue van die dak sweef.

England Moeta, die butler, staan reg om vir jou ’n Dirty Martini of ’n Bloody ­Mary aanmekaar te slaan, afhangende van hoe hard daar die vorige aand gekuier is.

Die kroeg by Leobo bevat van die wêreld se eksklusiefste enkelmoutwhisky, ­jenewers van boetiekstokerye en ander interessante likeurs van oor die wêreld heen, alles tot die beskikking van die ­gaste.

Korporatiewe groepe het ook hul eie private sjef en ’n gids, wat seker maak selfs die puntenerigste glutenweerstandige veganis smul aan fynproewersgeregte.

Korporatiewe oorlog

Terwyl ’n mens maklik weggevoer kan word deur die hoofgebou, is dit maar net die oortjies van die seekoei.

Tydens ’n medianaweek by die eksklusiewe wildplaas in die Waterberge is daar vir ons gewys presies watter aktiwiteite afgevaardiges aan deelneem tydens ’n korporatiewe wegbreek.

Die eksklusiewe Leobo Private Reserve lê in die Waterberge. Hier ervaar maatskappye spanbousessies wat ’n mens gewoonlik net in flieks sal sien.

Die eintlike oordaad by Leobo lê by die spanbouaktiwiteite, wat verfbal op kwadfietse en uit helikopters insluit, sterre kyk deur Sweet se monsterteleskoop met jou eie persoonlike astrofisikus as gids, skemerkelkies op koppies (jou geleentheid soontoe en terug is in ’n helikopter), of kleiduif- en teikenskiet met Leobo se indrukwekkende arsenaal gewere.

Maar, soos Taryn dit stel, as jou versoek wettig is, nie enige etiese reëls oortree nie en daar genoeg geld in die “onthaalbegroting” is, kan hulle basies enigiets vir jou organiseer.

As dit egter by oordadige, niks-kan-dit-klop-spanbouaktiwiteite kom, sal jy ver soek vir iets wat met helikopterverfbal kan meeding.

Die idee is net so waansinnig soos

wat dit klink: Afgevaardigdes word verfbalbaadjies en ’n oorpak gegee. Dan kry almal ’n beurt om eers die prooi op die kwadfiets te wees, en later die jagter in die helikopter.

En min dinge is so opwindend soos om in ’n helikopter, bokant die geelgroen Bosveldlandskap van rooi seringe en vaalbome te sweef, terwyl sebras in die verte ­galop en jy vir Pieter van menslike hulpbronne of Sarah van bemarking ’n paar ekstra bloukolle toedien nie.

(Vat so, ­Pieter! Jy wou mos nie my ­verhoging goedkeur nie.)

En wanneer almal later skemerkelkies op die Jacuzzi-dek geniet en hul kneusplekke soos oorlogslittekens vertoon, dan dink jy, wel, hierdie is baie beter as ’n trust fall of ’n driebeenresies . . .

Selfs Jordan Belfort sou beïndruk ­gewees het.

  • Vir meer inligting oor Leobo se span­bouaktiwiteite en pakkette skakel 011 884 6990 of stuur ’n e-pos na ­reservations@leoboprivatereserve.com.
Meer oor:  Carla Lewis  |  Rondrits
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.