Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Dít was my wêreld – 46 jaar gelede

’n Italiaanse vlootsoldaat voer die duiwe by die indrukwekkende katedraal van Santa Maria del Fiore, ook genoem die Duomo, in Florence. Foto’s: Sam J. Basch
Met Covid-19-beperkings wat die vooruitsig op ’n oorsese reis laat vervaag, kyk Sam J. Basch maar weer na sy kleurskyfies van ’n studentetoer na Europa laat in 1974.

Dis meer as ’n halwe leeftyd gelede.

Tog bring my Agfa-kleurskyfies van destyds vars herinnerings na vore, of ’n mens net nóú die dag nog met benoude opgewondenheid by Jan Smuts-lughawe (nou O.R. Tambo) teen ’n trap opklim in die Alitalia-vliegtuig. Daar was geen loopgang waardeur passasiers soos deesdae die vliegtuig betree nie.

Jy kon selfs ’n rookvry-sitplek kies. Dink net, passasiers kon tóé nog op die vliegtuig rook!

Jy kon selfs ’n rookvry-sitplek kies.

Dink net, passasiers kon tóé nog op die vliegtuig rook!

Vóór die tyd moes ons visums vir elke Europese land kry. Schengen-visums sou eers jare later ingestel word.

Werk met geld

Dit was ook ’n tyd van reisigerstjeks en vreemde geld in kontant – g’n kredietkaarte of kitsbanke nie. Vir Europa het jy Italiaanse lire en Franse frank, Duitse mark, Spaanse peseta en Nederlandse gulden saamgevat. Die euro was nog in die verre toekoms. Reistjeks kon jy oral wissel; in Pisa, München en Den Haag, Venesië en Toledo. Jy soek net die uithangbord wat lui “Cambio / Wechsel”.

Ons studentetoer, ’n inisiatief van die Potchefstroomse Universiteit (nou Noordwes-Universiteit) se kunsdosente, het ses lande ingesluit. Vir die 30 dae lange toer met vlugte, hotelverblyf, ontbyt en aandete ingesluit, asook besigtigingstoere en gidse, was die koste net meer as R800 per persoon!

Met die aandag op veral die kuns en argitektuur was ons eerste besoekpunte die ontsagwekkende St. Petrus-basilika in Rome en die Sixtynse kapel in die Vatikaan. Hier het die Florentyn Michelangelo Buonarroti vier jaar geswoeg om die kapel se plafon te beskilder – pous Julius II se opdragwerk waarin hy as beeldhouer erge teësin gehad het. In ’n boek, The Sistine Secrets, wys die kunskenner-outeurs Benjamin Blech en Roy Doliner hoe Michelangelo met verborge simboliek in sy fresko’s die korrupte pous bespotlik maak.

Michelangelo se ‘Dawid’ in die Galleria dell’Accademia in Florence.
Kuns van marmer

Ek kan nie onthou of sy aandoenlike Piëta van ’n te jong Maria wat die gestorwe Jesus vashou toe reeds herstel en weer in St. Petrus uitgestal is nie. ’n Berserker het die kunswerk twee jaar tevore, in 1972, met ’n hamer getakel, waarna dit permanent agter koeëlvaste glas geplaas is.

’n Uitstappie na Carrara het ons feitlik in die Renaissance-beeldhouer se stewels geplaas waar hy self die marmerblok gekies het vir sy bekende Dawid-beeld; steeds te sien in die Galleria dell’Accademia in Florence.

Geharde manne soos dié kap marmerblokke uit by Carrara.

By die Panteon, die besbewaarde Romeinse tempel van die antieke era, voltooi tydens die bewind van keiser Hadrianus, het ons verwonderd onder die koepel met sy oculus (oog) bly staan.

Dat Romeinse argitekte dit byna 2 000 jaar tevore kon bou! In grootte is dit eers in 1436 deur Filippo Brunelleschi met sy reusekoepel op die Duomo in Florence oortref.

’n Kunswerk van ’n heel ander aard was die tuine van Villa d’Este by Tivoli, buite Rome. Dié asemrowende Italiaanse villa en Renaissance-tuin is nou ’n Unesco-Wêrelderfenisterrein.

’n Kelner by die luukse Caffè Florian op die San Marco-plein in Venesië.
Vreemde Venesië

Ietwat geheimsinnig was Venesië met sy nou stegies en donker kronkelgange wat jou telkens by stil kanale bring, altyd met ’n bruggie en pikswart gondels voor anker.

Nowhere else has the past been laid to rest with such tenderness, such sadness of resignation and remembrance,” aldus die skrywer Henry James.

In Padua was dit een van ons musiekvriende se geluk om die orrel te bespeel in die St. Antonius-katedraal, wat in 1310 voltooi is.

Inkopies by ’n straatmark in Florence.

Florence was mooi. Jare later sou ek my eie gewaarwordinge opnuut raaklees in die joernalisskrywer André Pretorius se reissketse Italiaanse Intermezzi: “Die uitsig oor die Arnorivier en die terracottadakke, gekroon deur Brunelleschi se ikoniese koepel op die katedraal van Santa Maria del Fiore. Die pastelheuwels wat in die verte vervaag met wasige Renaissance-fasades tussen die skerp sipresse. En die stad: die Piazza della Signoria, die katedraal met sy groen, wit en pienk marmer, Giotto se kloktoring, Ghiberti se bronsdeure vir die doopkapel . . .”

Italië is so ryk aan kultuurgoedere dat jy in ’n week slegs ’n breë oorsig kry.

Oningelig soos ons as jeugdiges was, skaars uit die skool, sou ons indrukke nog méér oppervlakkig wees. Wat sou ons tog destyds verstaan het van die verruklike Bisantynse mosaïekkuns in die sesde eeuse Basilica di San Vitale in Ravenna? Daaroor het Pretorius ook sy jongmens-indrukke neergepen:

“Maar ek . . . het gekyk sonder om te begryp.”

Waardering vir dié – en soveel ander kuns – sou ook in my geval wel in later jare volg.

’n Bier in die hand

’n Kort vlug na Wes-Duitsland – onthou, daar was twee Duitslande – het ons in München gebring – net té laat vir Oktoberfest. Ons kon darem ’n bier in die Hofbräuhaus geniet; daar waar ’n mooi Fräulein in tradisionele Beierse uitrusting vier literbekers skynbaar moeiteloos in elke hand aandra!

Wat my bybly is die uitermate dekoratiewe rococo-styl in wit, goud en pastelkleure in ’n kerk daar naby en die mal koning Ludwig II se Neuschwanstein-kasteel in ’n sneeubedekte landskap.

Twee mismoedige kunstenaars in Place du Tertre in Parys se Montmartre-buurt.

Daarteenoor was Parys nat en koud; nie net die strate en geboue nie, maar ook sommige Parysenaars. Tog het mens die gevoel gehad hul hovaardigheid is ’n front – dalk om hul trots op Frankryk se ryk geskiedenis en kultuur te beklemtoon. En op hul sin vir mensewaarde, regte en vryheid: Liberté, égalité, fraternité. Daarmee het hulle immers die uitspattige Franse konings met hul prag en praal, soos ons in Versailles gesien het, verwerp.

In die Boulevard Saint-Michel het Peter Sarstedt se popliedjie “Where Do You Go To” van 1969 in my kop gemaal. Hy sing oor die pragtige Marie-Claire met haar Balmain-uitrustings, pêrels en diamante in die hare, en ’n pragwoonstel daar naby. Sy, ’n bedelaarkind van die agterstrate van Napels. In Parys kon sy uitstyg, maar dalk ten koste van ’n gebroke innerlike.

Moederland?

Indien ons verwag het om ’n sterk verbintenis met Suid-Afrika in Nederland te vind, was daar ontnugtering. Dit was – dalk steeds – ’n vreemde moederland.

Gesproke Nederlands klink ietwat soos Afrikaans, maar was haas onverstaanbaar. ’n Lewenswyse geheel anders: haring en jenewer; sokker; maer, aaneengeskakelde verdiepinghuise met stug, geslote deure op die gragte; die Walletjes-bordeelbuurt; ou boothuise – ’n lewe op water.

Selfs vir die bekroonde Afrikaanse skrywer Karel Schoeman, wat lank daar gewoon het, was dit moeilik om dié land se kenmerke vas te vang. In Afskeid van Europa, wat in 2017 verskyn het, vra hy weliswaar wat beteken Nederland vir die gemiddelde besoeker? “Nog altyd windmeulens, tulpe en klompe, vermoed ek, en verder miskien fietse en kaas . . .”

Ook wat Schoeman beskryf as die “ligval uit troebel of bewolkte lug . . . en Amsterdam ten slotte met sy brûe en draaiorrels en fietse en trems . . .”

Ongetwyfeld besoek jy Nederland om veral die kuns van sy Goue Eeu te ervaar, dalk spesifiek Rembrandt se barok-skildery De Nachtwacht in die Rijksmu­seum. Hierdie werk onthou ek om sy gróótte en die impak op my gemoed.

Rembrandt het dit in 1642 geskilder.

Onlangse hoëresolusie-skanderings wys Rembrandt het ’n verfpigment met arseen gebruik vir die goudborduursel van sommige soldate se uniforms. Hy het ook veretooisels op die helms toegeverf; iets wat nie met die blote oog sigbaar was nie.

’n Londense “cabbie” het die stad soos die palm van sy hand geken.

Weliswaar sigbaar was die tydlose, rooi Routemaster-busse en bonkige swart cabs in Londen se strate. Die verrassing was groot om so vertroud te wees met die alledaagse; die taal en kos; selfs geboue; en die straatverkeer wat “links hou”.

Sigbaar ook in die groen landskap van Hertfordshire was die monumentale beeldhouwerke van Henry Moore, een van die 20ste eeu se groot kunstenaars.

Hoe die dosente dit bewimpel het dat ons die ateljee op sy plaas Hoglands kon besoek, bly ’n raaisel. Daar het ons Moore se voorstudies vir sy modernistiese bronsbeelde gesien – ’n sonderlinge voorreg, al was die beroemde man self buite sig.

Wát onthou ek 45 jaar ná daardie toer? ’n Malse kaleidoskoop van die ongewone. Anderste mense, kultuur, kos, lewenswyse. En ja: Kennis en insig gekry vir ’n leeftyd. En liefde, ’n lewensmaat.

Ons het die kinders jare later teruggeneem na Italië. Dat hulle ook ’n munt in Rome se Trevi-fontein kon gooi; waar drie paaie, of weë, ontmoet het (tre vie).

Oor die foto’s

“Al hierdie foto’s is oorspronklike 35 mm-kleurskyfies wat ek in die jaarwisseling na 1975 geneem en nou geskandeer het. Stof en krapmerkies is digitaal verwyder en ek moes geringe aanpassings maak in kontras en kleur. Tog bly die ooglopende tegniese gebreke – veral kamerabewing (camera shake), tesame met die ou film se degenerasie – as afstandmerkers van ’n reis van vergange jare.”

Meer oor:  Oorsese Reis  |  Covid-19  |  1974  |  Studentetoer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.