Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Rondrits:
Dwaal af van pad in Bosnië

’n Misterieuse Bosniese kerkie het onverwags Salomé Delport se reis verryk.

Die Zavala-kerk is bedek met muurskilderye wat 400 jaar gelede geverf is. Ten spyte van die 1991-’95 oorlog het die binnekant goed behoue gebly. Foto’s: Salomé Delport

Wat is die fassinering met dié roetes wat wegbeweeg van die gebaande weë af? Wag daar regtig iets spesiaals aan die einde van die paadjies waar minder mense loop?

Ek weet nie. Ek het my al lelik vasgeloop in my soeke na daardie veronderstelde juwele – in so ’n mate dat een van my standpunte is dat die minder gewilde bestemmings juis ongewild is omdat daar niks daar is nie. Ander hét al gaan kyk en mos kom sê daar gaan min aan.

Maar ek bly hunker na daardie verre paadjies.

En toe vind ek dit in Bosnië-Herzegowina.

Die Zavala-klooster vandag. Die eerste kerk is rondom 300 n.C. gebou. Dit is verwoes deur aardbewings en oorloë, mooi herstel, en kry volgende jaar Wêrelderfenisstatus.

Zavala se misterie

So is daar toe ’n klein klooster naby die Kroatiese grens met ’n wonderlike storie en ’n kerk vol kuns wat meer na Marc Chagall se werk lyk as na die perfekte skilderye in die katedrale van Italië en Frankryk.

Zavala, swot ek vooraf op, is ’n Grieks-Ortodokse kerkie. Konstantyn, die eerste Christen-Romeinse keiser, het die area besoek, ’n Christengemeenskap hier gevind en aangebied om vir hulle ’n kerk te bou.

Die agbare keiser het ’n ikoon van Maria by hom gehad en dit op die Petkovica-heuwel geplaas om aan te dui waar hy die kerk opgerig wou hê.

Die volgende dag was die ikoon egter weg. Skoonveld.

Gelukkig is dit opgespoor – maar by die grot van Zavala, meer as 100 km daarvandaan. Die ikoon is teruggebring na die heuwel, net om weer te verdwyn en by die grot te verskyn. Ná die derde keer het die keiser die boodskap gesnap: Maria het elke keer haarsélf verplaas om hom te wys waar sý die kerk wou hê.

Konstantyn die Grote het die knie gebuig en die kerk is gebou op die staanplek wat die ikoon uitgekies het.

Wás dit ’n wonderwerk? In 300 n.C. was 100 km soos die kraai vlieg regtig ver. My verbeelding skets stories waarin ’n priester met ’n plan en ’n perd die toutjies trek.

Hoe ook al, die kerk is ongeveer 17 eeue gelede opgerig. Aardbewings en oorloë het dit verskeie kere met die grond gelyk gemaak, maar die getroues het dit telkens herbou. Die huidige kerkie het in die 1500’s herrys. Georgije Mitrofanovic, bekende reisende muurskilder, het die skilderwerk in 1619 gedoen, nou net mooi 399 jaar gelede. Zavala word volgende jaar, op sy 400ste verjaardag, tot Wêrelderfenisgebou verklaar. Met so ’n agtergrondstorie móét ’n mens gaan kyk.

By die streng Ortodokse klooster mag niemand se knieë wys nie.

Minute by Maria

Zavala is teen die hange van ’n berg. Ons parkeer en begin die taamlik steil paadjie na bo uitstap. Op pad hang ’n versameling verslonste bruin voorskote en T-hemde met gate daarin oor ’n draadheining. Vreemd. Ons stap verby. Omtrent dadelik kom ’n man uit die geboue bo ons aangedraf, met hande wat wild en verwytend na my man, Koos, se ordentlike boerekortbroek beduie. Dis heeltemal te wulps, snap ons. Die sedebewaker beduie na die voorskote, pluk een nader en begin my man toebind.

Sowat 50 m verder kom nog iemand na ons gestap – ’n opgeruimde jong man wat ons in gebroke Engels nooi vir ietsie om te drink, saam met die bruilofsgaste. Maar is ons gaste? Ons is nie. Hy lyk teleurgesteld. Ons is ook, want dit is warm. Hy beëindig die gesprek met ’n streng vermaning dat die troue oor 15 minute begin. Dan moet ons hulle asseblief hul privaatheid gun.

Ná die tweede teregwysing besef ons ons is indringers en moet maar vinnig maak. So jaag ons die kerkie binne. Dit is piepklein, en dus is ons oombliklik binne-in die hart daarvan – en tot stilstand geruk.

Dit is so stil. Heilig. Lig.

En pragtig. Daardie kleine ruimtetjie van 3 m by 10 m is volledig beskilder.

Jy kyk en sien meer as wat jy kan inneem. Daar is Maria, Maria se huis, Maria wat met die baba Jesus te perd Egipte toe vlug, Maria wat met ’n lans ’n gekettingde duiwel die doodsteek gee, Maria wat die gekruisigde Jesus vir oulaas teen haar hart vasdruk.

’n Bosniese gesin stap ook in. Al vier buig die knie en maak die teken van die kruis. Waar ons hier is om ons te vergaap, gaan dit vir dié mense om ’n pelgrimstog. Die pa en sy oudste seun stap vorentoe, na ’n kissie toe. Met toe oë soen hulle die kissie met sy twee sleutels daarin.

Skielik voel ek sinies en leeg – ons wat toekyk sonder om op te kyk.

Met die nalees ná die tyd vind ek uit die uitdeel van soene is een van die onderskeidende kenmerke van die Ortodokse Kerk. Hulle soen almal en alles. Mans soen vroue. Vroue soen mans. Vroue soen vroue en mans soen mans.

Álmal soen die ikone in die kerk, van die Bybels tot die kruise, beelde, sleutels, haarlokke, klede en als wat van heiliges af kom. Twee, drie keer.

Hulle doen dit al 2 000 jaar lank.

Ons tydjie is verby toe ’n priester met oë wat lyk asof hy oor eeue heen kyk saam met die bruid binnestap. Ons moet gaan, word ons beduie. Ons stap af na die restaurant sowat ’n kilometer daarvandaan. Die kos daar is heerlik en goedkoop. Hier is ons nie meer op die dwaalpaadjie nie.

Dit is reg so, want my missie is volbring.

Meer oor:  Reis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.