Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Een, twee, drie blok myself

’n Blokhuis langs die R59 tussen Johannesburg en Vereeniging.
120 jaar ná die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog is blokhuise van die min tasbare herinneringe aan daardie tyd, ­skryf Johan Hattingh.

Meer as ’n eeu ná die Anglo-Boereoorlog is daar nog ongeveer 45 blokhuise in ’n redelik goed bewaarde toestand in Suid-Afrika oor. Hulle is die stille getuies van een van die merkwaardigste vestingwerke in die wêreld se geskiedenis.

Sekerlik een van die bekendste hiervan is die een naby Laingsburg langs die N1. Hierdie blokhuis is opgerig sodat die Kakies kon waghou oor die spoorwegbrug oor die Geelbekrivier. Ek het destyds in die Kaap gebly en geskiedenis in Bloemfontein gestudeer, so ek’s gemiddeld agt keer per jaar by die spesifieke blokhuis verby en elke keer het ek gewonder wat die storie daaragter is. Uiteindelik het ek my meestersgraad daaroor gedoen.

’n Rice-tipe-blokhuis wat by ’n brug oor die Modderrivier in die Noord-Kaap opgerig is.

Die rede vir blokhuise

Tydens die oorlog het die Kakies moeg geword vir die voortdurende sabotasie van spoorlyne en aanvalle op treine. Die spoorlyne was onontbeerlik vir die vervoer van voorrade na die front. Die beskerming van spoorlyne het noodsaaklik geword.

“Scarcely a bridge remained intact, while the presence of wandering bodies of the enemy in the neighbourhood necessitated the utmost caution and continual vigilance on the part of the companies,” lees ’n mens in Romer en Mainwaring se The Second Battalion Royal Dublin Fusiliers in the South African War (1908).

Die Britte het blokhuise opgerig om die treinspore teen aanvalle van die burgers te beskerm. Teen die einde van 1900 het die Boere in die Vrystaat en Transvaal nie meer kanonne oorgehad nie. Hulle kon dus nie blokhuise stukkend skiet nie.

Eers is blokhuise langs belangrike treinbrûe opgerig. Mettertyd is blokhuise ook langs treinspore tussen brûe opgerig en later was daar selfs blokhuislinies wat die platteland sou deurkruis.

Tipes blokhuise

Daar was twee tipes blokhuise: die van klip en sement en die van sink.

’n Wood-tipe blokhuis wat buite Wolseley langs die Breërivier staan.

Meerverdiepingblokhuise was gewoonlik twee of drie verdiepings hoog en óf vierkantig óf reghoekig. Die bekendste hiervan is die Wood-tipe blokhuis. Hierdie klipblokhuise is deur genl.maj. Elliot Wood ontwerp. Dit het drie maande geneem om op te rig en kon 25 tot 30 manskappe huisves. Die koste daaraan verbonde was tussen 800 en 1 000 pond. Voorbeelde hiervan kan vandag nog by treinbrûe in die Karoo, soos die een naby Laingsburg, gesien word. Verskeie ander tipes klipblokhuise is ook opgerig. Voorbeelde hiervan is in die Magaliesberge, naby Montagu, Vereeniging, Bela-Bela en Norvalspont.

Toe daar teen einde 1900 nog geen vooruitsig van vrede was nie, het die behoefte ontstaan aan ’n tipe blokhuis wat goedkoper, vinniger en makliker opgerig kon word. Dit het gelei tot die oprigting van die eerste sinkblokhuise in Januarie 1901.

Maj. S.R. Rice van die 23rd (Field) Company Royal Engineers het ’n eenvoudige reghoekige blokhuis ontwerp wat bestaan het uit mure van sinkplaat met openinge tussenin wat met gruis gevul is om te keer dat koeëls dit nie kon deurdring nie. Die watertenk was buite en die struktuur was met doringdraad omhein. Die skietgate is uit plaatmetaal gesny.

Vroeg in Februarie 1901 is daar begin om agtkantige sinkblokhuise op te rig. Hierdie blokhuise kon makliker en vinniger opgerig word en het bestaan uit vierkantige sinkpanele wat aan houtrame vasgespyker is. Die opening tussen die sinkplate is ook met gruis gevul.

Die behoefte aan ’n baie eenvoudige tipe blokhuis het toe sterk na vore getree. In Maart 1900 het Rice volgens oorlewering gestaan en kyk hoe ’n masjien sinkdamme uitrol.

Dit het by hom die idee laat ontstaan dat hy die ronde sinkplate kon gebruik om goedkoper blokhuise op te rig. Die Rice-tipe-blokhuis het bestaan uit twee rolle ronde sinkplaat – die een binne die ander - wat dan met ’n dak bedek is. Die dak was eers van seil, maar later ook van sink en hout gemaak. Skietgate is in die sinkplate gesny en die opening tussen die twee lae sink ook met gruis gevul. Die eerste van die nuwe tipe blokhuise is in Maart 1901 by Gun Hill naby Middelburg, Transvaal, opgerig. Hierdie tipe blokhuis was danksy sy lae koste van 16 pond goedkoop genoeg om orals op te rig. Dit was die blokhuis wat die meeste opgerig is. Ses manskappe het gewoonlik in so ’n blokhuis gebly.

Dan was daar ook die minder bekende mobiele blokhuise. Dit het meestal bestaan uit 2,7 cm dik staalplate wat op ossewaens opgerig is, alhoewel ’n konstruksie soos die Rice-tipe-blokhuise ook soms gebruik is. Eersgenoemde sou ongeveer 1,4 ton weeg, terwyl laasgenoemde tussen 2 en 3 ton geweeg het. Dit was natuurlik baie swaar om te beweeg.

Die blokhuis by Laingsburg wat Johan Hattingh gemotiveer het om sy meestersgraad daaroor te doen.

Eentonige bestaan

Die lewe in die blokhuise was uiters vervelig. Rudyard Kipling het dit goed verwoord in sy gedig “Bridge Guard in the Karoo”:

“So we return to our places / As out on the bridge she rolls; / And the darkness covers our faces, / And the darkness re-enters our souls. / More than a little lonely, / Where the lessening tail-lights shine. / No – not combatants – only / Details guarding the line!”

Daar’s baie gewag. Jy’t óf gewag op jou wagdiens óf op die weeklikse trein wat rantsoene sou bring.

Soms het daar ’n geveg uitgebreek wanneer burgers probeer het om die blokhuislinies te kruis. Eers is loopgrawe rondom die blokhuise gegrawe. Daarna is doringdraadversperrings tussen die blokhuise opgerig. Daaraan is leë blikkies met klippies in gehang wat geraas sou maak as daar met die draadversperrings gepeuter word. Mettertyd is ligfakkels, alarmgewere en selfs chemiese alarms gebruik.

Op 12 Mei 1902 het kapt. R. Harvey ’n tabel van bestaande blokhuise opgestel: 441 klipmesselwerk-blokhuise, minstens 6 883 Rice- en soortgelyke sinkblokhuise en 555 veldskanse. Altesame minstens 7 879 vestingwerke dus.

Teen gemiddeld 25 tot 30 soldate in ’n klipblokhuis, sewe in ’n Rice-blokhuis en vyf in veldskanse en poste was daar dus na raming amper 60 000 soldate betrokke by die bewaking van die blokhuise.

Was die blokhuise suksesvol?

Meestal ja. Die eintlike sukses van die blokhuise het gelê in die beperking van burgers se vrye beweging. Dit het Brittanje se kans om die oorlog te wen verhoog en die Kakies se moreel verhoog.

Tesame met die dryfjagte Z groot kolonnes Britse soldate wat in linies van ’n punt af begin het en vegtende burgers teen die blokhuislinies vasgedryf het om gevange te neem Z was dit redelik suksesvol.

Die blokhuisstelsel het ook daarin geslaag om die sabotasie van die spoorlyne te beperk.

Bronne: Hattingh, J.L., Wessels, A. Britse Fortifikasies in die Anglo-Boereoorlog 1899 – 1902. Bloemfontein, 2000.

Pretorius F. (red.). Verskroeide Aarde. Kaapstad, 2001

Meer oor:  Geskiedenis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.