Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Egipte neem voortou met gestremde strandgangers
Rolstoelgebruikers op die platform wat dit vir hulle moontlik maak om die strand in Alexandrië, Egipte, te besoek. Foto: Reuters

Egipte het sy eerste openbare strand vir mense met gestremdhede in Alexandrië oopgemaak.

Reuters berig ’n derde van die strand is rolstoelvriendelik danksy ’n houtplatform wat tot by die water strek.

Daar is ook ’n span hulpwerkers wat gereed staan om hand by te sit sou enige van die strandgangers dit nodig kry.

“Ek is so gelukkig en bly dat ’n strand nou vir my toeganklik is. Ek het nie enigiemand se hulp nodig vir ’n stranddag nie,” het Abdelrahman Mohamed, ’n rolstoelgebruiker en inwoner van Alexandrië, aan Reuters gesê.

Alexandrië se stadsraad beplan om nog strande toegankliker te maak vir mense met gestremdhede as deel van ’n groter veldtog om ’n gemeenskap te skep wat gestremde mense meer betrek.

“Ons moedig strandtoerisme met hierdie inisiatief aan, spesifiek vir mense met gestremdhede.

“Ons hoop om mense met gestremdhede van oor die wêreld hierheen te lok om werklik vakansie te kan hou,” sê Gamal Rashad, hoof van Alexandrië se toerismeraad.

Marthe-Marie Kohne, stigter van Abilities Without Limits (’n organisasie wat hom beywer vir bewusmaking oor rolstoeltoeganklikheid en aanvaarding van mense met veral serebrale gestremdheid), sê Egipte het beslis ’n blink plan beraam. Sy sê die internasionale gemeenskap kan baie by mekaar leer oor dié tipe inisiatiewe.

Ons hoop om mense met gestremdhede van oor die wêreld hierheen te lok om werklik vakansie te kan hou.
Gamal Rashad

Sy sê hoewel daar soortgelyke inisiatiewe op ’n paar plaaslike strande is, is daar nog baie werk wat gedoen moet word om alle strande toeganklik te maak vir mense met gestremdhede.

Muizenberg se strand maak byvoorbeeld gebruik van ’n Mobi-Mat, ’n mat waarop rolstoele gemaklik kan beweeg wat op die strand uitgerol word.

  • Strand-rolstoele beweeg gemaklik oor sand en is toegerus met armleunings en wiele wat kan dryf sodat mense met gestremdhede in die water kan kom.

“Dis elke persoon met ’n gestremdheid se reg om gelyke toegang tot geriewe soos strande te hê,” sê Kohne.

Alan Downey, stigter van Disability Info South Africa (DiSA), sê egter daar is veel meer om in ag te neem as blote toegang tot die strand en see self. “Ander areas soos badkamers, aantrekkamers, hotelle, sypaadjies en parkeerterreine moet ook toeganklik wees – nie net vir gewone rolstoele nie, maar ook vir looprame, gemotoriseerde rolstoele, dienshonde, mense wat blind en doof is, asook mense met verstandelike gestremdhede,” sê hy.

Eers as al hierdie aspekte in ag geneem en met kenners se hulp ontwikkel word, sal daar werklik gelyke toegang wees, sê hy. – Hanri Wondergem

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.