Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Elvis en die Memphis Blues

Om op die koning van rock ’n roll, Elvis Presley, se spoor die strate van Memphis in te vaar en daarna ook Graceland en Tupelo (sy geboorte­plek) te besoek, is ’n onvergeetlike avontuur.

Oral is daar tekens van ’n vergange era – en Elvis. Foto: Mercia S. Burger

‘Saw the ghost of Elvis

On Union Avenue.

Followed him up to the gates of Graceland

Then I watched him walk right through.”

’n Standbeeld van Elvis Presley in Beale Street, Memphis. Foto: Mercia S. Burger

Dis dié woorde van die treffer “Walking in Memphis” (Cher se weergawe, natuurlik), wat ek neurie toe ons Memphis binnery. Nee, dis nie heeltemal waar dat jy deur Memphis agter Elvis kan aandwaal soos jy wil nie, word ek en my reisgenoot by ons hotel gewaarsku. ’n Mens moet straatslim en versigtig wees, want dié stad het ’n regte “sock ’em & rock ’em”-reputasie.

Memphis het ’n oproerige geskiedenis – slawerny en katoenvelde, Jim Crow-segregasiewette en die Ku Klux Klan; armoede, opstande, stakings en brutaliteit. Dit is die stad waar dr. Martin Luther King jr. in April 1968 sy laaste toespraak gelewer het en ’n dag later voor die Lorraine Hotel deur ’n sluipmoordenaar om die lewe gebring is. “I’ve been to the mountain­top . . .”

King se dood het Memphis soos ’n aardbewing getref – winkels het leeggeloop, strate en geboue het verwaarloos soos inwoners die stad verlaat het. Oral is vensters toegespyker. Toeriste het weggebly, hotelle en restaurante het stil geword, die lughawe ’n blink spookhuis. Memphis se misdaadsyfer het gestyg tot van die hoogste in Amerika.

Maar deur alles heen was daar heeltyd musiek. Memphis se klankbaan. Dit het begin met slawe wat op katoenvelde gewerk en saans met ’n huilende bekfluitjie en eenvoudige kitaarakkoorde die blues gespeel het. Vanaf die velde het die musiek na die kroeë, juke joints en straathoeke van Beale Street in die onderdorp beweeg. Soos die blues-legende Muddy Waters opgemerk het: “The blues had a baby and they called it rock ’n’ roll.” In Beale Street het die blues met ander musiekstyle deurmekaar geraak – honky tonk, country & western, rag­time, hillbilly, boogie woogie, gospel – en aan die ander kant uitgekom as ruk-en-rol en Elvis Presley.

In die museumkompleks oorkant Graceland kan ’n mens alles en nog wat van Elvis met jou eie oë sien. Foto: Mercia S. Burger

Van Tupelo na Beale Street

Aan die bopunt van Beale Street sien ek Elvis vir die eerste keer – ’n standbeeld van hom in gelukkiger dae. Hy is jonk en mooi teen ’n agtergrond van ’n sonsondergang, kitaar om die heupe.

Dié gedenkstene merk die geboorteplek van die Presley-tweeling. Foto: Mercia S. Burger

Elvis is gebore in ’n armoedige houtraamhuis in Tupelo, sowat 175 km vanaf Memphis.

’n Mens kan deur die oorspronklike huis stap – die slaapkamer waar hy gebore is, ’n kombuis/eetkamer, en dan is jy by die agterdeur uit, als vir $8 (sowat R120) en ’n nors toergids. Voor die huis is ’n gedenkklip met een geboortedatum en twee name: 8 Januarie 1935. Elvis Aron Presley. Jessie Garon Presley. Elvis se tweelingbroer, Jessie, is doodgebore.

Toe Elvis 13 was, verhuis die Presley-gesin na Memphis.

Die jong Elvis was ’n alleenloper, teruggetrokke en skaam. ’n Goedgemanierde mamma-se- seuntjie met sober gewoontes en te veel Royal Crown Cream in sy hare. Hy was altyd netjies en flambojant aangetrek. Lansky Brothers, die eksklusiewe winkel waar Elvis sy klere gekoop het, is steeds oop vir sake (126 Beale Street) met memorabilia van beroemde kliënte – van Johnny Cash tot Carrie Underwood – teen die mure. Ek stap deur, mompel dat ek net rondkyk, dankie, nadat ek die pryse gesien het.

Dit was egter Elvis se rusteloosheid wat almal veel meer as iets anders opgeval het. Hy moes heeltyd beweeg – ’n ritme met sy vingers trommel, met sy hare vroetel, sy voet op en af wip, kriewel op sy stoel. Volgens skinderstories is dit juis hierdie senuweeagtige energie wat gelei het tot sy beroemde ritteldans.

Beale Street is deesdae ’n besige voetgangerstraat met ’n stewige polisieteenwoordigheid. Die juke joints is duurder, die neonligte skerper en die Elvis- nabootsers vrypostiger.

Elvis se geboortehuis in Tupelo, Mississippi. Foto: Mercia S. Burger

Almal weet dis ’n vangwip vir toeriste, maar met ’n bietjie verbeelding en sentiment kan jy steeds Howlin’ Wolf en Robert Johnson hoor, Bessie Smith en Ma Rainey, met tussendeur ’n bietjie Chuck Berry en Elvis.

Want dis steeds hier waar blues en rock mekaar gevind het.

Ons luister tot laatnag na die Debbie Bond Blues Band by die BB King Restaurant & Blues Club, een van die beste klubs vir musiek en kos in Beale Street. ’n Mens bestel geen ander kos as Memphis se spesialiteit nie: ’n stewige porsie gebraaide BBQ-ribbetjies, met as bykos tamaties en piekels in deeg, diepgebraai in olie. En jy drink die nasionale drankie van Tennessee, Jack Daniels en Coke.

Memphis verwelkom besoekers met musiek en nog musiek. Foto: Mercia S. Burger

Nadat ruk-en-rol sy oorsprong in Beale Street gehad het, is die musiek kommersieel die wêreld ingestuur deur Sam Phillips, die grootbaas van Sun Studio (706 Union Avenue). Hy wou ’n “bluesy” ruk-en-rol aan ’n Amerikaanse gehoor bekend stel, maar die oorgrote meerderheid van die mark (met ander woorde die wit mark) het nie in Afrika-Amerikaanse verhoogkunstenaars belang gestel of hul musiek gekoop nie.

Wat Phillips benodig het, was ’n wit sanger wat soos ’n Afrika-Amerikaanse sanger klink.

En daar was Elvis Presley, ’n vragmotorbestuurder met ’n snik in sy tenoorstem en ’n lyf wat nie kon ophou beweeg nie. Hy kon onderlangs gluur, sy lip lig, pruil, sy kougom uitspoeg en nog sing ook.

Ruk-en-rol was lank voor Elvis daar, maar hy was die osmose tussen swart en wit musiek, die gesig en verpersoonliking wat ruk-en-rol aanvaarbaar en bekend gemaak het.

In die ateljee merk ’n X op die houtvloer die presiese plek waar Elvis in Julie 1954 gestaan het vir sy eerste opname. Dis ook dieselfde mikrofoon wat hy destyds gebruik het.

Ek staan op die X met die mikrofoon en poseer vir ’n lawwe foto. Toe ’n jong Bob Dylan Sun Studio besoek het, het hy op sy knieë gesak en die X gesoen.

Foto: Mercia S. Burger
Memphis word verfraai deur tekens van die beroemde musiekbedryf. Foto: Mercia S. Burger
Die kamer waar dr. Martin Luther King jr. vermoor is, is nou die ingang na ’n museum. Foto: Mercia S. Burger

Elvis se Graceland

En nou, vir die oomblik waarop almal wag. Graceland. Dit is noodsaaklik om vooraf kaartjies te bespreek.

Vir $41 (R600) sal jy ’n toer deur die huis kry. As jy kan, koop eerder ’n Entourage VIP-kaartjie teen $99 (R1 460), wat jou red van lang rye en jou toegang tot alle uitstallings gee.

Die onvergeetlike Graceland. Foto: Mercia S. Burger

Die enigste goedkoop ding van Graceland, helaas, is gratis parkeerplek.

Die huis is kleiner en minder oordadig as wat ek gedink het. Die toerleier neem ons deur die art deco-voorportaal met poue teen die loodglasvensters, die eetkamer waar Lisa Marie, sy dogter, elke jaar sedert sy dood Kersfees met haar gesin vier, ’n geel-en-swart televisiekamer met ’n kroeg en ’n snoekerkamer waar Elvis en sy Memphis-Mafia uitgehang het.

Natuurlik ook die Jungle Room met plastiekplante en opgestopte speelgoeddiere, die einste kamer waarvan gesing word: “A pretty little thing, waiting for the King, down in the Jungle Room.”

Die toer word teen ’n streng marspas aangebied, een groep ná die ander word verby mekaar gereguleer en behoede jou as jy uit pas val omdat jy nie kan ophou foto’s neem nie.

Niemand mag die tweede vloer besoek nie. Dit is Elvis se slaapkamer, sy kantoor en badkamer. Die toer eindig in die meditasietuin langs die swembad, waar die grafte van Elvis, sy ouers en sy ouma in ’n halfmaan rus. En natuurlik, ’n gedenksteen vir sy tweelingbroer, Jessie.

Graceland se art deco-voorportaal met poue teen die loodglasvensters. Foto: Mercia S. Burger
Elvis se gunsteling – ’n toebroodjie met grondboontjiebotter, piesang, spek en heuning tussen twee snye witbrood gebraai in botter. Foto: Mercia S. Burger

’n Mens kan op jou eie tyd deur die museumkompleks oorkant Graceland stap. Alles wat Elvis ooit besit het, word hier uitgestal. Van sy swart leerbroeke tot sy barokkostuums, sy mantels en opgeboude skoene, aandenkings van sy militêre diensplig, sy versameling Cadillacs en Harley Davidsons en sy private vliegtuig.

Mercia S. Burger

In die restaurant eet ons Elvis se gunsteling wat sy ma, Gladys, altyd gemaak het – ’n toebroodjie met grondboontjiebotter, piesang, spek en heuning tussen twee snye witbrood gebraai in botter. Vir ’n paar uur daarna voel jy effens gelerig.

Op 16 Augustus 1977 was Elvis Presley se dood die nuus waarmee die wêreld wakker geword het. Dadelik was daar diegene wat van beter geweet het. Nee, Elvis is nie dood nie, hy het net van adres verander.

Aanhangers van samesweringsteorieë vier vanjaar wat hulle 42/42 noem – Elvis was 42 jaar oud toe hy oorlede is en hierdie jaar, 2019, is die 42ste jaar wat hy incognito leef. Hulle sweer daarby.

As jy hom wil opsoek – hy gebruik die naam van sy tweelingbroer, Jessie.

Goed om te weet
  • Daar is nie regstreekse vlugte tussen Suid-Afrika en Memphis nie. Die beste is om via New York te vlieg.
  • Jy het ’n visum nodig om die VSA te besoek. Dit kos sowat R2 400 (afhangende van die wisselkoers). Besoek za.usembassy.gov/visas/ vir meer inligting.
  • Bly gerus in die onderdorp tussen Union Avenue en Beale Street. Dit is binne stapafstand van die beste musieklokale en restaurante. Beale Street is omring deur billike kettinghotelle en die area is veilig en lewendig.
  • Begeleide toere deur Sun Studio is 45 minute lank teen $24 (sowat R355), en daar is ’n goeie aandenkingswinkel.
  • Daar is teen R1 500 dagtoere met ’n gids vanaf Memphis na Tupelo, Elvis se geboortedorp. As goedkoper opsie, doen dit op jou eie en gebruik die Greyhound-bus of treine.
  • Die Lorraine Hotel (480 Mulberry Street) waar dr. Martin Luther King jr. op die balkon voor kamer 306 geskiet is, is vandag die National Civil Rights Museum. Die ingang na die museum is deur die hotelkamer waar hy gebly het. 
  • Ons het nie een keer gedurende ons tyd in Memphis onveilig gevoel nie. Wees net straatslim, soos Suid-Afrikaners meestal is.

Meer oor:  Elvis Presley  |  Amerika  |  Reis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.