Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
MY REISE: EMILE JOUBERT
Emile Joubert deel sy reiservarings
Emile toets nóg ’n bietjie Graham’s LBV Port by die Graham’s Port-kelder in Porto, Portugal.

Jou eerste vakansieherinnering?

As kleuter op my ouma se familieplaas, Swartboskraal, in die Sandveld naby Leipoldtville. Versengend warm. Blindevlieë wat jou aan die huil steek. Duwweltjies in kaal voete. Maar die ruimte van die veld, uitkyk oor die plaasdam teen sonsak en die koelte van die huis se misvloerkombuis het dit saam met die wonderlikste familiemense die beste vakansies gemaak.

Hoe gereeld reis jy oorsee?

Een tot drie keer per jaar, afhangende van werksgeleenthede en die gulhartigheid van lugdiens-prysvasstellers.

Waarheen was jou laaste reis?

Ek was in Mei vanjaar weer in die noorde van Portugal. Dis vir my ’n spesiale plek aangesien ek daar gewerk het tydens ’n jaar lange Europese rugsakreis ná skool. Porto is ’n lieflike ou stad en die gesig van die statige Port-kelders oor die Dourorivier bly een van my gunsteling-tonele uit alle lande wat ek al bevoorreg was om te besoek. Net dáárvoor sal ek terugkeer – tesame met ’n glas Graham’s LBV Port en ’n bord gebraaide sardiens. Niemand kan vis braai soos die Portugese nie.

Beste vakansie nóg?

Twee weke op ’n strand in Zanzibar. Son. See. Sand. Swem. Palmbome. Koue bier.

Wat het jy geleer uit jou reise?

Ek het geleer dat die Amerikaanse joernalis Ernie Pyle reg was toe hy geskryf het: “roving has taught me that, in general, all people are good.” Die mensdom se inherente goedheid oorskry alle kulturele grense, het ek ervaar.

Hoe lyk jou ideale reismaat?

Op sy besoek aan Portugal in Mei verduidelik Emile vir ’n plaaslike Portugees hoe ’n mens nou éintlik seekos moet braai.

Daar sal allerhande maniere gevind word om onder verdagte toestande van ’n reismaat sonder ’n humorsin ontslae te raak. Net die feit om jou in ’n ander land te bevind ten midde van ’n vreemde kultuur is op sigself klaar snaaks. Elke oomblik is ’n nuwe ontdekking, bied ’n vreemde situasie en die lekkerste is om daaroor te kan lag.

Beste blyplek ooit?

Mount Nelson Hotel, Kaapstad. Die beskawing van om werklik op die hande gedra te word, en die kwaliteit van die spek aan die ontbyttafel.

Gunsteling-doending?

Om te duik op die Great Barrier Reef buite Cairns in Australië. Ek het gedog ek ken die see, maar wat jy daar onder die water sien, is een asembenemende, nimmereindigende skildery.

Jou droombestemming?

Ierland. My oupa aan my ma se kant was ’n Ier, en ek het hom nooit geken nie. Ek sal graag daardie deel van die familie wil opsoek. WB Yeats en Guinness sal die pad oor die groen dale tussen ou kastele aanwys.

Jou gunsteling- buitelandse bestemming?

Beaune, die hoofstad van Boergondië in Frankryk. Dit is die tuiste van die beste wyn op aarde, en jy is nog vry om deur die wingerde te stap waar jy die antieke gees aanvoel wat van wyn die “mees beskaafde ding op aarde” maak, aldus Hemingway.

Waarheen sal jy almal stuur?

Almal moet leer hoe om van tyd te vergeet, te ontspan en die wonder van Afrika te beleef. Zanzibar is die plek hiervoor.

Waarheen sal jy niemand stuur nie?

Athene. Die bakermat van die beskawing, maar wie se huidige inwoners nie respek het vir wat die plek eens was nie.

Mees oorskatte bestemming?

Ek is nie ’n klakous-reisiger nie, maar New York se ego en grootbek doen dit nie. Om Yogi Berra liberaal aan te haal: “Ever since that place became so popular nobody wants to go there anymore.”

Beste raad aan reisigers?

As jy vreemdelinge met ’n glimlag aanspreek, hoef jy nie hul taal te praat om gehelp te word nie.

Wat pak jy altyd in?

’n Kurktrekker en wet-wipes.

Wat pak jy nooit in nie?

My kantoordagboek.

As geld nie ’n probleem was nie, sou ek . . .

Jeremy Clarkson gehuur het om my van New York na Los Angeles te ry in ’n Mustang. Helfte van die geld vir die reis, die ander helfte om skadevergoeding te betaal ná die tyd.

Slegste ervaring oorsee?

My destydse Viëtnamese vriendin is in die middel van die nag betas deur die hoteleienaar in wie se plek ons in Athene geslaap het. Spiros – of was dit Vasili? – het hom met haar kennis van die Oosterse gevegskuns misgis. Sy het sy kakebeen gebreek terwyl ek waagmoedige pogings gemaak het om om hulp te roep. Ons is in hegtenis geneem weens aanranding. ’n Griekse tronk is nogal onrusbarend eenders as die een in die rolprent Midnight Express.

Beste ervaring oorsee?

Om vir al drie my dogters Parys te kon wys, en te ervaar hoe die versotheid op hierdie stad skynbaar in ons DNS is.

Gunsteling- plaaslike bestemming?

Die promenade by Seepunt. Ek het my jeug hier as branderryer en perlemoenduiker deurgebring, en dit bly een van die mooiste en atmosfeerryke kuslyne op aarde.

Kyk jy of doen jy eerder goed oorsee?

’n Goeie kombinasie van al twee. Ek het al Kanada toe gevlieg om te gaan visvang, en is spesiaal na Parys net om die eerste versamelde tentoonstelling van Edward Hopper se skilderye te sien. Ek hou ewe veel van aksie as dinge wat mooi is.

Beste maaltyd oorsee?

Drie geslagte Jouberts eet al sedert die 1970’s by Chez Denise, ’n knus opdisser van Franse boerekos neffens Les Halles in Parys. Hier oortuig beesafval gestowe in Calvados (appelbrandewyn) my altyd dat die wêreld ’n baie besonderse plek is.

Beste kopie nog?

My eerste RM Williams-stewels in Sydney. Dra hulle ná 15 jaar.

Waarheen volgende?

Tahiti, as ek kon. Enige plek wat goed genoeg vir Paul Gauguin en Marlon Brando was, hoort die paal te haal.

Meer oor:  Emile Joubert  |  Portugal  |  Wenke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.