Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Ethiopië ‘bedwelm’ mens

Die een groot geologiese kenmerk wat Neil Armstrong en Buzz Aldrin, die twee ruimtevaarders wat op 20 Julie 1969 op die maan geland het, duidelik vanuit die ruimte kon sien, was die Groot Skeurvallei op die Afrika-vasteland. Dié vallei strek vanaf die Rooisee vir 6 000 km tot in die noorde van Mosambiek by die Zambezi-rivier. Armstrong en Aldrin het nêrens op aarde enigiets soortgelyk gesien nie.

Die leier van ’n trop gelada-bobbejane. Dié ouwêreldse bobbejane (of ape, soos wat sommige dierkundiges na hulle verwys) kom nét in die Simienberge in Ethiopië voor. Foto’s: JOHANN EN ELISE TEMPELHOFF

Geoloë sê oor ’n paar miljoen jaar sal Afrika hiér in twee skeur en sal die Groot Skeurvallei, waarvan die grootste deel in Ethiopië geleë is, met seewater gevul word. Die oostelike deel sal van die Afrika-vasteland afskeur om ’n nuwe vasteland te vorm. Net soos wat miljoene jaar gelede met Madagaskar gebeur het.

Voor ons in Oktober verlede jaar die Groot Skeurvallei met ’n 4x4 aangedurf het, het ons eers die Simien Nasionale Park in die Amhara-streek in Ethiopië besoek. Die samestellers van die boek 501 Must-visit Natural Wonders beskryf die Simien-berglandskap as een van die mooiste en aanskoulikste ter wêreld. Dit is wáár. Die natuurskoon slaan ’n mens se asem weg.

Dit bestaan uit dramatiese bergreekse, plato’s, diep klowe en watervalle. Op ’n helder dag kan ’n mens glo tot 100 km ver oor die reekse berge sien. Dié kompleks van bergreekse is miljoene jare gelede deur vulkaniese uitbars­tings gevorm. Dit is die habitat van uitsonderlike plante, die Ethiopiese wolf, die walia ibex (’n skaars bergbok wat skuins teen die steil rante van die berge oploop) en natuurlik die gelada-bobbejaan. Dierkundiges verwys na die geladas as ’n aapspesie. Gewone mense noem hulle die “bleed­ing heart”- (bloeiende hart-) bobbejane.

Ons het ongelukkig nie die ibex gesien nie, omdat daar glo net ’n paar honderd van hulle oor is. Boonop moet ’n mens ’n paar dae in die berge rondloop as jy hulle wil sien.

’n Fraksie van die Simien-berge. Aan die voet van die berge kan inheemse mense se landerye gesien word.
Dit wemel van die Nylkrokkodille op die Chamo-meer, een van die sewe reuse-mere in die Groot Skeurvallei.

Haile’AB Seyoum, ons gids, het ons die versekering gegee dat ons die gelada gaan sien. Nadat ons vir ’n paar uur op die plato rondgeloop en ons vergaap het aan die natuurskoon van die Simienberge, het ons die geladas gesien: sommer ’n hele groot trop. Ek sou skat seker 200. Dit was werklik ’n besondere ervaring om die geladas dop te hou. Hulle het ongestoord voortgegaan om graspolle uit trek en daaraan te smul, onderonsies met mekaar te hê, terwyl ons as ’t ware tussen hulle gesit en foto’s neem het.

’n Padlangse avontuur

Die Simien-berglandskap het in 1978 Unesco-wêrelderfenisstatus gekry. Van die Simien Nasionale Park het ons die pad van meer as 800 km binne-in die Groot Skeurvallei tot by die Omorivier aan die grens met Kenia gevat.

Daar is geen ander manier as om hierdie pad met ’n viertrekvoertuig te ry nie. Die paaie is baie swak, vol slote, modderig, onstabiel, klipperig en ’n mens kruis verskeie riviere. Hier is twee reënseisoene in dié gebied en die riviere is dikwels in vloed. Ons viertrekvoertuig se band het een keer pap geraak en die volgende dag het ’n band gebars. Gelukkig was dit nie noodlottig nie, omdat ’n mens baie stadig ry.

In die Skeurvallei is ook enkele teerpaaie. Hier moet jy ook aankruie, omdat “als” op dié paaie gebeur: Mense droog hul mielies en tef op die teerpad uit. Die donkies, beeste en bokke deel die teerpad met mense wat houtkruiwaens stoot, water aandra en met hul tradisionele landbou-implemente rondloop.

Groot wit pelikane op die Hawasa-meer in die Groot Skeurvallei spring uit die water toe iemand ’n vis in hul rigting gooi.

Ons eerste besoek in die Groot Skeurvallei was aan die Hawassa-meer. Dié meer is 90 km² groot en die kleinste van die mere in die Skeurvallei. Vir ’n voëlkyker is dit ’n paradys. Hier is sowat 70 voëlspesies. Die grootste is die maraboe-ooievaar (Leptoptilos crumenifer).

Die groot, wit pelikane op die meer, dieselfde spesie as dié wat in Suid-Afrika aangetref word, is ’n fotograaf se droom.

Vanaf Hawassa is ons dieper die Skeurvallei in. Die plantegroei is iets besonders. Daar is byvoorbeeld ’n plant wat baie aan ons eie impalalelie herinner, maar dit is baie groter en lyk soos groot bome in blom. Die Ethiopiërs verwys (op Engels) daarna as die olifantvoet.

Maak kennis met die mense

Ná etlike honderde kilometers het ons etniese stamme besoek. Die eerste was dié van die 11 Konso- etniese groepe. Dié selfonderhoudende tradisionele groep beoefen landbou met behulp van terrasse. Hul leefwyse, tradisies en landboupraktyke is in 2011 deur Unesco (die Verenigde Nasies se organisasie vir onderwys, wetenskap en kultuur) as ’n buitengewone kulturele erfenisgebied erken.

Die volgende dag het ons die Moersi-stam besoek, waar die vroue, sodra hulle volwassenheid bereik, hul onderlip oopsny om gebakte kleiskywe daarin te sit. Selfs die “moderne” Ethiopiër beskou hierdie tradisie as “vreemd”.

Lede van die Geleb-stam woon op die oewer van die Omorivier in die Omorate-vallei op die grens met Kenia.

Ons het ook die Hamar- etniese groep besoek. Dit is seker van die mees fotogeniese mense in Afrika.

Dié besoeke het ons herinner hoe min ons eintlik van Afrika se tradisionele mense weet.

’n Klipgooi van Ethiopië se suidwestelike grens met Kenia het ons in die Omorate-gebied en die Omorivier aangekom om die Geleb-stam te besoek. Daar is ’n grenspos, so moenie vergeet om jou visum en paspoort byderhand te hou nie.

Elise Tempelhoff
Elise Tempelhoff

Om by die Gelebs uit te kom, vaar ’n mens in ’n “kabich”, ’n tradisionele boot wat van die hout van ’n wildevy gemaak is.

Hier het ons omgedraai en is ons terug Addis Abeba toe – maar nie sonder dat ons nóg argeologiese terreine besoek het nie.

Ek stem saam met Philip Briggs, skrywer van ’n reisgids oor Ethiopië, as hy sê dié land laat jou nie sommer los nie. “Die plek bedwelm ’n mens.”

  • Die Groot Skeurvallei in Ethiopië is tussen 48 en 60 km breed.
  • ’n Nadeel van ’n besoek aan van die stamme is dat ’n mens hulle moet betaal. Dit is egter baie goedkoop en ’n manier vir dié mense om te oorleef.
Geleb-vroue.
Die Hamar-mense is van die mees fotogeniese mense in Afrika. Hulle hare word gesmeer met ’n mengsel van oker en vet en hulle dra die mooiste klere.
’n Hamar-vrou en haar baba.
Bote gemaak van wildevyehout vervoer mense heen en weer oor die Omo-rivier. Die Geleb maak ook van hierdie bote gebruik.
Geleb-seuns verf mekaar se gesigte. Hierdie stam woon op die oewer van die Omo-rivier in die suide van Ethiopië.

Meer oor:  Elise Tempelhoff  |  Ethiopië  |  Vakansie  |  Reis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.