Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Fassinerende ‘draadsitter’

Istanboel se mengelmoes van kulture en leefstyle maak dié Turkse stad boeiend, skryf Bredine Kruger.

Dié brug oor die seestraat Bosporus verbind Asië en Europa. Foto’s: Bredine Kruger

’n Draadsitter is gewoonlik nie ’n goeie ding nie, maar in Istanbul se geval sorg dit vir ’n fassinerende reis.

Dié boeiende stad, met sy mengelmoes van oud en nuut, glans en puin, ryk en arm, is een van die enigste stede op ons planeet wat oor twee vastelande lê. ’n Blitsvinnige rit van vier minute in die ondergrondse trein los Europa agter jou en plaas jou in Asië. Maar afgesien van die verwagte kultuurverskille as aanduiding van dié eeue lange Europese én Asiese invloede, is Istanbul meer uiteenlopend as wat ’n mens ooit kan verwag.

In die middestad sny hipermoderne paaie en brûe, versier met geometriese tuine, deur die rye indrukwekkende wolkekrabbers, betowerende moskees, oeroue monumente, afgeskeepte ruïnes en groener as groen tuine. Om elke draai is daar iets anders om te sien – en nes jy dink daar kan nie nóg ’n soort boukuns wees nie, verras die stad jou met iets nuuts.

As dit by besienswaardighede kom, is daar amper te veel, maar gelukkig sorg die openbarevervoerstelsel dat jy maklik (en spotgoedkoop) binne 20 minute van die een kant van die stad na die ander kan kom. ’n Rit van tien minute vanaf my hotelkamer tot in die middestad het byvoorbeeld R10 gekos. Die busse, trems en treine is stiptelik en ry elke drie minute in albei rigtings.

Sodra jy dan in die stad is, is amper alles te voet bereikbaar. Pak maar net genoeg water, gemaklike skoene en ’n hoed in, want dit raak warm.

Nog tyd oor? ’n Rit op die Bosporus is ’n lekker manier om jou voete te laat rus en die stad van die water af te sien. Vanaf die water is dit maklik om te sien hoe die verskillende streke in Istanbul verskil, terwyl jy ook die natuurskoon bewonder.

Hagia Sofia-museum, die Blou Moskee, Topkapi-paleis, Basilika-reservoir

Dié vier historiese geboue is die grootste aantrekkings, en beslis ’n moet-sien.

Die Hagia Sofia, vandag ’n museum, was eers ’n heidentempel, toe in die sesde eeu ’n Christenkatedraal, en in 1453 is dit heromskep in ’n moskee. Die argitektuur van die gebou vertel stories uit sy eeue lange geskiedenis en is versier met die ongelooflikste kunswerke en meubels.

Die Sultan Ahmed-moskee, meer bekend as die Blou Moskee, word vandag nog aktief gebruik. Toegang is gratis, maar die moskee is tydens bid-ure gesluit.

Die Topkapi-paleis is vol weelde; dit was immers die sultan se woning. Besienswaardighede in die paleis sluit die harem, vier tuine, die kroonjuwele en die biblioteek in.

’n Heel unieke besienswaardigheid is die Basilika-reservoir, wat jare gelede as watertoevoer vir die stad gedien het. ’n Toer deur dié donker gange is insiggewend en fassinerend.

Die uitsig vanaf die Galata-toring.

Galata-toring en Taksim-plein

’n Vinnige treinrit oor die seestraat Bosporus bring jou tot in die inkopie- en naglewe-sentrum van die stad. Hier bied die Galata­toring, een van die oudste bouwerke in Europa, ’n 360°-uitsig oor die hele Istanbul.

Die bekende Taksim-plein gons behoorlik van die mense – een Turk het vir ons vertel dat daar tot vier miljoen mense per dag oor die Taksim-plein loop! Maar as toeris moet jy eenvoudig die kleiner straatjies en winkels te voet verken. Stop gerus vir Istanbul se bekende roomys of ’n tradisionele lekker wat hulle voor jou op ’n stokkie draai. Vars granaatsap les jou dors op ’n somersdag. Of bestel ’n Turkse lamspotjie, wat in ’n erdekruik berei en by jou tafel aan die brand gesteek en stukkend geslaan word om dié geurige dis op jou bord te kry – vreeslik indrukwekkend en smullekker!

Moderne straatkuns vermeng met antieke geboue maak Istanbul betowerend.

Groot Basaar en speserymark

Nog ’n hoogtepunt is die bekende Groot Basaar (Büyük Çarsi) – ’n mark waar jy enigiets van leerprodukte en klere tot porseleinborde en tapyte kan koop. Onthou om sterk te staan en die pryse te beding; die verkoopsmanne het gladde tonge en hou daarvan om die prys vir naïewe toeriste te verhoog.

Jy móét natuurlik rooslekkers eet as jy Turkye besoek.

Die speserymark is ’n mengelmoes van geure, kleure en smake, en ’n fees vir die oog en die tong. Vriendelike verkoopsmanne lok jou in deur jou aan alles te laat proe, en jou stories te vertel oor die soetgoed, speserye en vars produkte wat jou vir ure kan besig hou. Enigiets wat jy koop, kan vakuumverpak word, so koop gerus iets om huis toe te bring sodat jy tuis aan Turkse of rooslekkers (Turkish delight) kan smul en terugverlang na Turkye se kleure en geure.


Meer oor:  Istanboel  |  Turkye  |  Reis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.